PSALMS 105:2-7
PSALMS 105:2-7 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet sing vir Hom, julle moet musiek maak vir Hom, julle moet praat oor al sy wonderwerke. Julle moet Hom prys, Hy is heilig. Almal wat die Here dien, moet wys dat hulle bly is. Julle moet die Here kom dien, Hy is sterk, julle moet altyd naby Hom wil bly. Julle moet dink aan sy wonderwerke wat Hy gedoen het, julle moet dink aan sy tekens toe Hy sy vyande gestraf het. Julle is die nageslag van sy dienaar Abraham, die nageslag van Jakob wat Hy gekies het. Hy is ons God die Here, Hy oordeel al die mense.
PSALMS 105:2-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Sing, psalmsing tot sy eer, spreek van al sy wonders. Beroem julle in sy heilige Naam; laat die hart van die wat die HERE soek, bly wees. Vra na die HERE en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur. Dink aan sy wonders wat Hy gedoen het, aan sy wondertekens en die oordele van sy mond, O nageslag van Abraham, sy kneg, o kinders van Jakob, sy uitverkorenes! Hy, die HERE, is onse God; oor die hele aarde is sy oordele.
PSALMS 105:2-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Sing liedere, sing tot sy eer, vertel van al sy magtige dade. Roem sy heilige Naam, laat dié wat die teenwoordigheid van die Here soek, bly wees. Soek hulp en beskerming by die Here, soek gedurig sy teenwoordigheid. Julle moet dink aan die magtige dade wat Hy gedoen het, aan sy wonders, aan die reddingsdade op sy bevel, julle, nageslag van Abraham sy dienaar, nakomelinge van Jakob vir wie Hy uitverkies het. Hy, die Here, is ons God; sy reddingsdade strek oor die hele aarde.
PSALMS 105:2-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Sing vir Hom, besing Hom! Praat met oorgawe oor al sy wonderwerke. Beroem julle in sy •heilige Naam; laat die harte van hulle wat die HERE opsoek, bly wees. Soek die HERE en sy krag, soek voortdurend sy teenwoordigheid op. Roep die wonders wat Hy gedoen het in herinnering, sy tekens en die oordele van sy mond – nageslag van Abraham, sy dienskneg, kinders van Jakob, sy uitverkorenes! Hy is die HERE ons God; oor die hele wêreld geld sy beslissings.
PSALMS 105:2-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Sing tot eer van hom, psalmsing tot eer van hom; vertel van al sy wonderdade. Roem in sy heilige Naam; laat die hart van die wat die HERE soek, bly wees. Soek die HERE en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur. Dink aan sy wonderwerke wat Hy gedoen het; sy wonders en die oordele van sy mond; O nageslag van Abraham, sy kneg, kinders van Jakob, sy uitverkorene! Hy is die HERE onse God: sy oordele is op die hele aarde.
PSALMS 105:2-7 Die Boodskap (DB)
Sing liedere, maak die Here se Naam groot. Jubel oor al die groot dinge wat Hy elke dag doen. Bring lof en eer aan die Here se heilige Naam. Wees bly, almal wat daarna smag om by die Here te wees. Vra vir die Here om heeltyd by julle te wees met sy groot krag. Kruip by Hom weg. Moenie dat daar ’n dag verbygaan dat julle nie naby Hom is nie. Dink aan al die groot wonderwerke wat die Here gedoen het. Onthou sy magtige dade, hoe Hy mense in nood uitgered het. Julle is deel van die nageslag van Abraham, die kneg van die Here. Julle behoort aan Jakob wat deur die Here uitgekies is. Die Here is ons God! Die hele aarde is vol van al sy magtige dade.
PSALMS 105:2-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Sing vir Hom, sing tot sy eer! Vertel van sy wonderdade aan almal. Roem sy heilige Naam. Wees bly, dienaars van die HERE! Vra na die HERE en sy krag, hou aan om Hom te soek. Dink aan sy wonderdade, sy tekens en sy regspraak. Kinders van Abraham, sy dienaar, nakomelinge van Jakob, God se uitverkorenes. Hy is die HERE ons God. Sy uitsprake is oor die hele aarde.