PSALMS 100:1-5
PSALMS 100:1-5 Bybel vir almal (ABA)
'n Psalm. Om dankie te sê. Almal op die aarde, julle moet juig vir die Here. Julle moet bly wees en julle moet die Here dien, julle moet voor Hom kom sing. Julle moet weet dat die Here God is. Hy het ons gemaak, en ons is Syne, ons is sy volk, ons is die skape wat aan Hom behoort. Julle moet deur sy poorte inkom en vir Hom dankie sê, julle moet voor sy tempel kom staan en julle moet Hom prys. Julle moet vir Hom dankie sê, julle moet sy Naam prys. Want die Here is goed, Hy doen altyd wat Hy belowe het, Hy bly dieselfde vir elke geslag.
PSALMS 100:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N PSALM. By die lofoffer. Juig voor die HERE, o ganse aarde! Dien die HERE met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel. Erken dat die HERE God is: Hy het ons gemaak, en ons is syne, sy volk en die skape van sy weide. Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam. Want die HERE is goed; sy goedertierenheid is tot in ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag.
PSALMS 100:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Dankpsalm. Juig tot eer van die Here, almal op aarde! Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel! Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak en ons is Syne, ons is sy volk, sy eie kudde. Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam, want die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag.
PSALMS 100:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Psalm. Vir lofprysing. Juig tot eer van die HERE, o ganse aarde! Dien die HERE met blydskap, kom in sy teenwoordigheid met 'n gejubel. Erken dat die HERE God is; Hy het ons gemaak; aan Hom behoort ons, sy volk, die kleinvee wat Hy laat wei. Gaan sy poorte binne met lofprysing, sy voorhowe met 'n loflied; loof Hom, prys sy Naam. Want die HERE is goed, vir ewig duur sy troue liefde, van geslag tot geslag sy trou.
PSALMS 100:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maak 'n gejubel tot eer van die HERE, alle lande. Dien die HERE met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel. Weet julle dat die HERE God is; dit is Hy wat ons gemaak het, en nie ons self nie; ons is sy volk en die skape van sy weide. Gaan in sy poorte in met danksegging en in sy voorhowe met lof; wees Hom dankbaar en loof Sy Naam. Want die HERE is goed; sy goedertierenheid is ewig; en sy waarheid is van geslag tot geslag.
PSALMS 100:1-5 Die Boodskap (DB)
Die hele wêreld moet die Here loof en aanbid! Dien Hom met vreugde. Gaan na Hom toe. Sing vol blydskap en opgewondenheid. Jubel dit uit dat die Here die enigste God is. Die Here het ons gemaak. Elkeen van ons behoort aan Hom: ons is Syne. Ons leef elke dag uit sy hand. Die Here sorg vir ons net soos ’n skaapwagter sy skape versorg. Ons kan nie sonder die Here se goedheid klaarkom nie. Dien die Here. Loof Hom veral daar waar die gelowiges bymekaarkom. Sing lofliedere saam met almal wat die Here liefhet. Loof sy Naam. Luister mooi, die Here is ’n goeie God! Hy sal ons wat in Hom glo, nooit ophou liefhê nie. Hy is ’n goeie God, nou en vir altyd!
PSALMS 100:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Almal op aarde, juig tot eer van die HERE! Dien die HERE met blydskap. Kom voor Hom en sing met vreugde. Erken dat die HERE God is! Hy het ons gemaak, en ons is Syne, sy volk, die skape van sy weiveld. Gaan sy poorte in met dankliedere, sy hofsaal met lofgesange. Dank Hom en prys sy Naam. Want die HERE is goed. Sy troue liefde hou aan vir altyd, sy trou is van geslag tot geslag.