SPREUKE 9:1-18

SPREUKE 9:1-18 Bybel vir almal (ABA)

Die wysheid is soos 'n vrou wat haar huis gebou het, 'n huis wat sewe pilare het. Toe het sy skape geslag en sy het wyn gemeng met kruie en die tafel gedek. Sy het haar jongmeisies gestuur om op die hoogste plek in die stad te staan en hard te sê: “Almal wat baie min weet, julle moet hiernatoe kom.” Sy het vir die mense wat nog baie moet leer, gesê: “Julle moet by my kom eet en julle moet kom drink van die wyn wat ek gemeng het met kruie. Julle moet ophou om baie min te weet, sodat julle kan lewe, julle moet verstandig word.” Wanneer jy vir iemand iets wil leer, iemand wat altyd wil spot, dan sal hy miskien vir jou lag. Wanneer jy vir iemand wat verkeerd lewe, wil leer wat hy moet doen, dan sal hy miskien vir jou seermaak. Daar is mense wat altyd wil spot, jy moenie probeer om vir hulle te leer wat hulle moet doen nie, hulle sal jou haat. Wanneer jy vir 'n wyse mens wil leer wat om te doen, dan sal hy lief wees vir jou. Wanneer jy vir 'n wyse mens iets leer, dan kry hy meer wysheid. Wanneer jy vir 'n mens wat reg lewe, iets leer, dan weet hy nóg meer. Wanneer jy die Here respekteer en dien, dan begin jy wysheid kry. Wanneer jy die heilige God ken, dan is jy verstandig. As jy wysheid het, dan sal jy lank lewe, jy sal baie jare lank lewe. As jy wysheid het, dan sal jou wysheid altyd vir jou help. As jy iemand is wat altyd wil spot, dan sal niemand jou help nie. Die dwaasheid is soos 'n vrou wat hard praat, sy het nie mooi maniere nie, sy weet baie min, sy weet nie hoe om iets reg te doen nie. Sy sit by haar huis se deur, sy sit op haar stoel op die hoogste plek in die stad, en sy roep al die mense wat verbykom, die mense wat reguit verbyloop. Sy sê die mense wat baie min weet, moet na haar toe kom, sy sê vir die mense wat nog moet leer: “Water wat jy steel, smaak soet, kos wat jy skelm eet waar niemand jou sien nie, is lekker.” Maar hulle weet nie dat haar huis die plek is waar die dooie mense woon nie, hulle weet nie dat die mense wat na hierdie vrou toe gaan, in die doderyk is nie.

SPREUKE 9:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DIE Wysheid het haar huis gebou, haar sewe pilare uitgekap, haar slagvee geslag, haar wyn gemeng, ook haar tafel gedek. Sy het haar diensmeisies uitgestuur, sy nooi uit op die hange van die stadshoogtes: Wie eenvoudig is, laat hy inkom hierheen, wie verstandeloos is, vir hom sê sy: Kom, eet julle van my brood, en drink van die wyn wat ek gemeng het; laat staan die eenvoudigheid, dan sal julle lewe, en betree die weg van verstand. Hy wat 'n spotter teregwys, behaal vir homself skande, en hy wat 'n goddelose bestraf, vir homself 'n skandvlek. Bestraf 'n spotter nie, anders haat hy jou; bestraf 'n wyse, en hy sal jou liefhê. Deel mee aan die wyse, en hy sal nog wyser word, leer die regverdige, en hy sal insig vermeerder. Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE, en kennis van die Heilige is verstand. Want deur my word jou dae meer en word jare van lewe vir jou toegevoeg. As jy wys is, is jy wys tot jou voordeel, en is jy 'n spotter, dan moet jy dit alleen dra. Vrou Dwaasheid is onrustig, pure eenvoudigheid en heeltemal onkundig; en sy sit by die deur van haar huis, op 'n stoel op die hoogtes van die stad, om te nooi die wat op die weg verbygaan, die wat op hulle paaie reguit wandel: Wie eenvoudig is, laat hy inkom hierheen! En die verstandelose, aan hom sê sy: Gesteelde waters is soet, en brood in die geheim geëet, is lekker. Maar hy weet nie dat dáár skimme is, dat haar genooides in die dieptes van die doderyk is nie.

SPREUKE 9:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

Wysheid het vir haar 'n huis gebou met sewe klippilare. Sy het geslag en wyn reggesit, sy het haar tafel gedek en haar bediendes na die stad toe gestuur om van die hoogste plek af te roep: “Kom hiernatoe, almal wat nog moet leer!” En vir dié wat kennis kortkom, het sy gesê: “Kom eet by my, kom drink van die wyn wat ek reggesit het! Neem afskeid van die onkunde, dat julle kan lewe, kom op die pad van die insig!” Wie iemand so opvoed dat hy 'n ligsinnige mens word, moet die verwyt daarvoor dra; wie iemand so leer dat hy 'n goddelose word, doen dit tot sy eie skande. Moenie 'n ligsinnige mens probeer opvoed nie, hy sal jou daarvoor haat. Voed 'n wyse op, en hy sal lief wees vir jou. Gee jou aandag aan 'n wyse mens, en hy kry meer wysheid, leer 'n regverdige, en sy kennis vermeerder. Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig. As jy wysheid het, sal jy lank lewe, jou lewensjare sal vermeerder word. As jy wysheid het, het jy self die voordeel daarvan; as jy 'n ligsinnige mens is, dra jy alleen die las. Dwaasheid is soos 'n vrou wat luidrugtig bly klets, stadig van begrip en sonder kennis van sake. Sy sit by haar voordeur, haar stoel staan op die hoogste plek in die stad, en sy roep na dié wat verbykom, elkeen besig om sy gang te gaan: “Draai af hiernatoe, almal wat nog onervare is!” Sy sê vir dié wat kennis kortkom: “Gesteelde water is soet, kos wat stilletjies geëet word, is lekker!” Dié wat na haar luister, besef nie dat die dood self daar wag nie, dat dié wat hulle deur haar laat nooi het, klaar diep in die doderyk is nie.

SPREUKE 9:1-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Wysheid het haar huis gebou, sy het haar sewe pilare uitgekap. Sy het haar slaggoed geslag, haar wyn gemeng, en ook haar tafel voorberei. Sy het haar diensmeisies gestuur; sy roep uit vanaf die hoogste plekke in die stad: “Wie onkundig is, moet hierheen afdraai!” Vir dié sonder verstand, het sy gesê: “Kom, eet van my brood, en drink van die wyn wat ek gemeng het! Bly weg van onkundiges, en leef! Betree die weg van insig! “Wie 'n spotter vermaan, haal vir homself skande op die hals, en wie 'n goddelose teregwys, kry 'n klad op sy naam. Moenie 'n spotter teregwys nie, anders haat hy jou; wys 'n wyse tereg, en hy sal jou liefhê. Gee aan 'n wyse, en hy word nog wyser; deel kennis mee aan 'n regverdige, en sy geleerdheid neem toe. Die begin van wysheid is ontsag vir die HERE, en kennis van die Heilige is insig. “Ja, deur my, Wysheid, word jou lewensdae meer, word daar vir jou lewensjare bygevoeg. As jy wys is, is jy wys tot jou voordeel, maar as jy spot, dra jy alleen die gevolge.” Vrou Dwaasheid is luidrugtig, onbesonne, en weet niks. Sy sit by die ingang na haar huis, op 'n troon op die hoogste plek in die stad, om te roep na hulle wat op die pad verbygaan, wat reguit loop op hulle paaie: “Wie onkundig is, moet hierheen afdraai!” Vir dié sonder verstand, het sy gesê: “Gesteelde water is soet, en brood in die geheim geëet, is smaaklik.” Maar hy weet nie dat die skimme daar is nie; in die dieptes van die •doderyk is haar genooides.

SPREUKE 9:1-18 Die Boodskap (DB)

Wysheid het vir haar ’n mooi, groot huis gebou. Aan die agterkant was daar ’n groot onthaalarea met sewe pragtige pilare. Met die huis se inwyding het sy ’n groot partytjie gehou. Daar was baie kos. Die beste wyn is uit die kelders geneem, die tafels is pragtig gedek en met wonderlike kosse oorlaai. Toe alles gereed was, het Wysheid haar bediendes gestuur om die gaste te gaan haal. Veral by die woonbuurte waar baie mense gebly het, het hulle die mense genooi. Wysheid se uitnodiging was duidelik: “Kom, almal wat nie weet hoe om reg te leef nie. Kom, almal wat geen insig in die lewe het nie. Kom geniet in oorvloed die goeie dinge wat ek jou bied. Los jou dom manier van lewe. Laat ek jou leer hoe om gelukkig te leef.” Dink mooi hoe jy iemand wat met God spot, moet antwoord. As jy hom op sy foute wys, kan hy jou verneder. As jy hard met hom praat, kan hy jou seermaak. Hy kan jou begin haat, jou groot skade aandoen. ’n Gelowige is heeltemal anders. Wys jy hom mooi op sy foute, sal hy jou liefhê. Gee hom goeie raad, en hy verstaan die lewe beter. Leer hom om reg te lewe, en hy ken groot geluk. Om reg te leef moet jy eers die Here liefhê. As jy die Heilige ken, verstaan jy soveel meer van ’n gelukkige lewe. As jy reg optree, word jou lewe elke dag net lekkerder, jou lewensjare net gelukkiger. Dus, as jy elke dag op die regte manier leef, is die lewe wonderlik. Maar as jy die wysheid verwerp, is die lewe sleg. Anders as Wysheid is Dwaasheid ’n verskriklike verleentheid. Sy is dom. Raserig. ’n Regte flerrie. En van ’n gelukkige lewe weet sy net mooi niks nie. Haar huis is op die besigste plek in die stad. Lui-lui sit sy heeltyd voor haar huis. Elke man wat verbystap, roep sy nader. Ook goeie jongmans probeer sy verlei. Vir almal sê sy dieselfde ding: “My huis is net die regte plek vir dommes, vir mense wat niks van ’n gelukkige manier van leef weet nie. Dis tog so lekker om dinge te doen wat verkeerd is. Soos om water of brood te steel. Daarom is skelm verhoudings so lekker! Almal is in my huis welkom.” Wie Dwaasheid besoek, vernietig sy mooi lewe. Haar huis is soos die dood. By haar kry die dood ’n greep op jou, slaan sy haar aaklige kloue in jou in, sleep sy jou stadig maar seker die graf in.

SPREUKE 9:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Wysheid het vir haar ’n huis gebou, sy het sewe klippilare gekap. Sy het ’n feestelike ete gemaak. Sy het die wyn geskink en haar tafel gedek. Sy het toe haar bediendes na hoë plekke van die stad gestuur om van daar mense uit te nooi: “Almal wat nog moet leer, kom eet by my!” Dié wat nog onkundig is, het sy genooi: “Kom eet die kos wat ek gemaak het. Kom drink van die wyn wat ek ingeskink het! Laat staan julle onkunde, sodat julle kan lewe! Kom, begin met insig lewe!” Hy wat ’n spotter wil reghelp, sal afgejak word. Hy wat ’n goddelose mens op die regte pad wil help, sal seerkry. Moenie hom wat spot, teregwys nie. Hy sal jou daarvoor haat. Wys iemand tereg wat wys is, en hy sal lief wees vir jou. Gee jou raad vir ’n wyse mens, en hy sal groter wysheid kry. Onderrig ’n regverdige, en sy kennis sal vermeerder. Wysheid begin daar waar daar ontsag vir die HERE is. Hy wat die heilige God ken, het werklik insig. Wysheid verleng jou lewe, gee jou meer lewensjare. As jy wysheid kry, geniet jy self die voordeel daarvan. As jy dit verafsku, dra jy self die verantwoordelikheid. Dwaasheid is soos ’n luidrugtige vrou, stadig van begrip en sonder kennis. Sy sit by haar voordeur, op hoë plekke wat uitkyk oor die stad. Sy roep na elkeen wat verbykom en op die regte pad loop. Vir dié wat nog moet leer, sê sy: “Draai af hiernatoe.” Vir dié wat nog kennis kortkom, sê sy: “Water is soeter as dit gesteel is. Kos wat skelm geëet word, is baie lekker!” Hulle wat na haar toe gaan, besef nie dat die dooies daar bly nie. Hulle wat haar uitnodiging aanvaar, is al klaar in die doderyk.