SPREUKE 8:22-29
SPREUKE 8:22-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Die HERE, Hy het my geskep as die eerste van sy werke, voor sy dade van lank gelede. In die verre verlede is ek gevorm, aan die begin, voor die aarde. Daar was nog nie •oerwaters nie, toe is ek voortgebring; daar was nog nie fonteine ryk aan water nie. Voordat berge ingeplant is, voor heuwels daar was, is ek voortgebring, toe Hy nog nie grond en oop weivelde gemaak het nie – die eerste grondsoorte van die vasteland. Toe Hy die hemele gevestig het, was ek daar. Toe Hy die horison afgemerk het oor die oppervlak van die watermassa; toe Hy die wolkehemel daarbo gevestig, die fonteine van die oerwater sterk gemaak het; toe Hy vir die see sy grens vasgestel het, dat die water nie sy bevel sou oortree nie; toe Hy die fondamente van die aarde afgesteek het
SPREUKE 8:22-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Die HERE het my heel eerste gemaak. Ek was al daar voor Hy die res gemaak het. Ek is voor die tyd al gevorm, heel aan die begin, voor die aarde daar was. Ek is gebore toe die diep waters nog nie eers daar was nie, toe die fonteine nog nie water gegee het nie. Ek het reeds gekom voor die berge gevestig is en daar heuwels was. Ek was daar voor die HERE die aarde met sy vlaktes gemaak het, voor Hy selfs die eerste grond van die aarde gemaak het. Ek was al daar toe Hy die hemelkoepel op sy plek geplaas het, toe Hy die horison oor die see afgemerk het. Ek was al daar toe Hy die wolke daarbo gesit het en die fonteine onder die diep waters laat uitborrel het. Ek was alreeds daar toe Hy die see se grens bepaal het sodat dit nie die grens kan oorsteek wat Hy daarvoor gestel het nie. Ek was daar toe Hy die fondamente van die aarde afgemerk het.
SPREUKE 8:22-29 Bybel vir almal (ABA)
Die wysheid sê: “Die Here het my gemaak, Hy het my eerste gemaak. Ek is die eerste ding wat Hy gemaak het. Ek is lankal daar, van die begin af, voordat die aarde daar was. Ek was klaar daar toe die diep water nog nie daar was nie, toe daar nog nie fonteine vol water was nie. Ek het gekom voordat die Here die berge op hulle plekke gesit het, voordat daar heuwels was. Dit was voordat die Here die aarde en die veld gemaak het, voordat daar grond in die wêreld was. Ek was ook daar toe die Here die hemeldak gemaak het, toe Hy besluit het waar die diep water moet ophou en waar die lug moet begin, toe Hy vir die wolke daarbo 'n plek gemaak het en die sterk fonteine van die diep water oopgemaak het. Ek was daar toe Hy gesê het hoe ver die water van die see mag kom en toe Hy die fondamente van die aarde neergesit het.
SPREUKE 8:22-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE HERE het my berei as eersteling van sy weg, voor sy werke, van ouds af. Van ewigheid af is ek geformeer, van die begin af, van die voortyd van die aarde af. Toe daar nog geen wêreldvloede was nie, is ek gebore; toe fonteine, swaar van water, nog nie daar was nie; voordat die berge ingesink het, voor die heuwels is ek gebore; toe Hy die aarde en die velde en al die stoffies van die wêreld nog nie gemaak het nie. Toe Hy die hemele berei het, was ek daar; toe Hy 'n kring afgetrek het op die oppervlakte van die wêreldvloed; toe Hy die wolke daarbo bevestig het, toe die bronne van die wêreldvloed sterk geword het; toe Hy vir die see sy grens gestel het, dat die waters sy bevel nie sou oortree nie; toe Hy die fondamente van die aarde vasgelê het
SPREUKE 8:22-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Die Here het my geskep, Hy het met my begin; ek is die eerste wat Hy gemaak het, lank, lank gelede. Ek is lankal daar, van die begin af, voor die aarde daar was. Ek het gekom toe die groot waters nog nie daar was nie, toe daar nog nie fonteine vol water was nie. Voor die berge hulle plek gekry het, voor die rante het ek al gekom, voor die Here die aarde met sy vlaktes gemaak het, voor Hy selfs die eerste grond gemaak het. Ek was daar toe Hy die hemelgewelf opgerig het, toe Hy die horison oor die see afgemerk het, toe Hy die wolke daarbo gesit het, die fonteine onder die diep water laat uitborrel het. Ek was daar toe Hy vir die see sy grens vasgestel het, die waters aan sy wil onderwerp het, toe Hy die fondamente van die aarde afgesteek het.
SPREUKE 8:22-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die HERE het my in besit geneem in die begin van sy weg, voor sy werke van ouds af. Ek is opgerig van ewigheid af, van die begin af, of altyd die aarde was. Toe daar geen dieptes was nie, is ek gebore; toe daar geen fonteine was wat oorvloedig was van water nie. Voordat die berge gevestig was, voor die heuwels is Ek voortgebring; Terwyl Hy nog nie die aarde of die velde of die hoogste deel van die stof van die wêreld gemaak het nie. Toe Hy die hemel gereedgemaak het, was ek daar; Toe Hy die wolke daarbo bevestig het, toe Hy die fonteine van die wêreldvloed versterk het. Toe Hy sy bevel aan die see gegee het, dat die waters sy gebod nie sou oortree nie, toe Hy die fondamente van die aarde bepaal het.
SPREUKE 8:22-29 Die Boodskap (DB)
Wysheid is baie oud. Neem dit dus ernstig op. Voorskrifte vir die regte manier van lewe is baie oud. Dit kom uit die gryse verlede. Riglyne om reg te leef, die regte dinge op die regte tyd te sê, kom al van die skepping af. God het die wysheid heel aan die begin van die tyd gemaak, voordat Hy nog enigiets anders gemaak het: in die begin, nog voordat die aarde daar was, is die wysheid al netjies aanmekaargesit toe daar nog geen oseane was nie, toe daar nog geen fonteine was nie, was die wysheid al daar voordat die berge gemaak is, voordat die heuwels daar was, voordat Hy die aarde en die velde gemaak het, voordat die eerste stoffies van die aarde daar was, het die wysheid al bestaan. Toe Hy die hemelruim gevorm het, toe Hy die waters se grense bepaal het, toe Hy die wolke hulle vaste plek gegee het, toe Hy die fonteine onder die aarde geskep het, toe Hy vir die see grense gestel het (sodat die waters hulle plek sou ken), toe Hy die fondamente van die aarde bepaal het, was die wysheid al lankal daar.