SPREUKE 6:27-35
SPREUKE 6:27-35 Bybel vir almal (ABA)
As iemand kole vuur voor by sy klere ingooi, dan sal sy klere aan die brand raak, of wanneer hy op warm kole loop, dan sal sy voete brand. So sal dit gaan met iemand wat by 'n ander man se vrou slaap, die man wat aan haar raak, sal nie vry wegkom nie, haar man sal hom straf. Wanneer 'n dief steel, dan sal mense altyd dink hy doen verkeerd, ook wanneer hy steel omdat hy honger is. Wanneer mense uitvind dat hy gesteel het, dan sal hy sewe maal meer moet teruggee, hy sal alles moet gee wat daar in sy huis is. 'n Man wat egbreuk pleeg, is baie dom, hy is mal. Hy verwoes sy eie lewe wanneer hy dit doen. Hulle sal hom slaan en hulle sal hom verneder, die mense sal aanhou om hom te spot. Want wanneer daardie vrou se man kwaad is, dan is dit soos 'n vuur wat brand. Wanneer hy jou straf oor wat jy gedoen het, dan sal hy nie jammer wees vir jou nie. Hy sal nie geld van jou neem en jou los nie, hy sal nie jou geld neem nie, ook nie wanneer jy vir hom baie wil gee nie.
SPREUKE 6:27-35 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Kan iemand vuur in sy skoot dra sonder dat sy klere verbrand? Of kan iemand op gloeiende kole loop sonder dat sy voete brandwonde kry? So is dit met hom wat by die vrou van sy naaste ingaan; elkeen wat haar aanraak, sal nie ongestraf bly nie. 'n Dief word nie verag as hy steel om sy begeerte te bevredig nie, omdat hy honger het; en as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig vergoeding gee; al die goed van sy huis moet hy gee. Hy wat owerspel pleeg, is sonder verstand; hy wat sy eie lewe wil verwoes, hý doen so iets; slae en skande sal hy kry, en sy smaad sal nie uitgewis word nie; want jaloersheid is 'n toorngloed in 'n man, en op die dag van wraak verskoon hy nie; hy neem glad geen losprys in aanmerking nie, en hy willig nie in nie al maak jy die omkoopgeskenk nog so groot.
SPREUKE 6:27-35 Afrikaans 1983 (AFR83)
Kan jy kole vuur in die vou van jou klere inhark sonder dat jou klere aan die brand raak? Kan jy op brandende kole loop sonder dat jy jou voete verbrand? Net so min kan jy by 'n ander man se vrou slaap sonder om gestraf te word, jy sal nie vry kom as jy met haar lol nie. 'n Dief word verag as hy steel, ook al steel hy om sy honger te stil, en as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig teruggee, selfs al kos dit hom alles wat hy besit. Maar 'n man wat owerspel pleeg, moet van sy verstand af wees, iemand wat dit doen, verwoes sy lewe. Hy sal slae op die lyf loop en verneder word, sy skande sal nooit uitgewis word nie. Die woede van die vrou se man is 'n gloeiende vuur, sy wraak ken nie perke nie; hy laat hom nie afkoop nie, geen betaling is vir hom genoeg nie.
SPREUKE 6:27-35 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Kan 'n man vuur in die vou van sy kleed dra, maar sy klere raak nie aan die brand nie? As 'n man op gloeiende kole loop, sal sy voete dan nie verskroei nie? So gaan dit met hom wat by die vrou van sy medemens ingaan. Niemand wat haar aanraak, sal ongestraf bly nie. Verag mense nie 'n dief as hy steel nie, al is dit om sy eetlus te bevredig wanneer hy honger is? En word hy uitgevang, moet hy dit sewevoudig vergoed; al die besittings in sy huis moet hy dan oorhandig. Hy wat owerspel pleeg met 'n vrou, is sonder verstand; wie sy eie lewe wil verwoes, hy doen so iets. Slae en skande sal hy op die lyf loop, en sy bespotting sal nie uitgewis word nie. Want jaloesie wek 'n man se woede, en hy sal genadeloos wees op die dag van wraak. Hy sal nie geneë wees tot enige omkoopgeld nie, ook nie inwillig wanneer die afkoopsom verhoog word nie.
SPREUKE 6:27-35 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Kan 'n man vuur in sy boesem vat en sy klere nie verbrand word nie? Kan iemand op gloeiende kole gaan en sy voete nie verbrand nie? En hy wat by sy naaste se vrou ingaan; elkeen wat aan haar raak, sal nie onskuldig wees nie. Mense verag 'n dief nie as hy steel om sy siel te versadig as hy honger het nie; Maar as hy gevind word, moet hy sewevoudig teruggee; hy moet al die besittings van sy huis gee. Maar wie met 'n vrou owerspel pleeg, het 'n gebrek aan verstand; hy wat dit doen, vernietig sy eie siel. 'n Wond en oneer sal hy kry; en sy smaad sal nie uitgewis word nie. Want jaloersheid is die woede van 'n man; daarom sal hy nie spaar op die dag van wraak nie. Hy sal geen losprys ag nie; en hy sal nie tevrede wees nie, al gee jy baie gawes.
SPREUKE 6:27-35 Die Boodskap (DB)
Om by iemand te slaap met wie jy nie getroud is nie, is gevaarlik. Kan ’n mens ’n vlam teen jou druk sonder dat jou klere brand? Kan ’n mens oor gloeiende kole loop sonder dat jou voete verbrand? Wie ontoelaatbare seks met iemand anders se vrou het, speel met vuur. Iemand wat so iets doen, gaan in groot moeilikheid beland. As ’n dief steel om sy hongerkrampe te stil, dink hy hy het ’n goeie rede. Maar as hy gevang word, moet hy alles teruggee. Hy moet ook vir alle skade betaal. Geen man of vrou wat rondslaap, sal ook die skuld van hulle daad kan ontglip nie. Wie by iemand anders se vrou slaap, is baie dom. Hy vernietig homself en alles wat vir hom dierbaar is. Hy sal verneder word en groot skade ly. Niemand sal hom vergewe nie, veral nie die vrou se man nie. Haar man se jaloesie sal hom rasend maak. Hy sal wraak neem. Geen bedrag om die saak te skik of ’n groot geskenk sal hom tevrede stel nie.
SPREUKE 6:27-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Kan jy kole vuur in ’n voorskoot dra sonder dat jou klere aan die brand raak? Kan jy op brandende kole loop en nie jou voete skroei nie? Net so is dit met iemand wat by ’n ander man se vrou gaan slaap. Niemand wat met haar lol, sal ongedeerd daarvan afkom nie. ’n Dief kan verskoon word wanneer hy steel, want hy was honger. As hy betrap word, moet hy sewe maal meer teruggee, selfs al kos dit hom alles wat hy besit. Maar die man wat owerspel pleeg, is heeltemal dwaas. Iemand wat dit doen, verwoes sy hele lewe. Hy sal slae verduur en verneder word. Niks sal ooit weer sy skande kan uitwis nie. Die verontwaardiging wat die vrou se man ervaar, sal brand soos vuur. Daar sal geen einde aan sy wraak wees nie. Hy sal geen vergoeding aanvaar nie. Geen geskenk, hoe groot ook al, is vir hom genoeg nie.