SPREUKE 4:14-19
SPREUKE 4:14-19 Bybel vir almal (ABA)
Jy moenie op die pad loop van mense wat verkeerd doen nie, jy moenie saam met slegte mense loop nie. Jy moet daardie pad los, jy moenie daarop loop nie, jy moet wegdraai en jy moet op jou eie pad loop. Daardie mense kan nie slaap as hulle nie verkeerd gedoen het nie, hulle bly wakker as hulle nie sonde gedoen het nie. Hulle hou daarvan om verkeerd te doen en om mense seer te maak, dit is vir hulle so lekker soos om te eet en te drink. Maar mense wat reg doen, se pad is soos die oggendlig, dit word meer en meer helder totdat dit dag is. Mense wat verkeerd doen, se pad is soos die donker, hulle weet nie waaroor hulle sal val nie.
SPREUKE 4:14-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Kom nie op die pad van die goddelose en betree die weg van die slegtes nie. Vermy dit, gaan nie daarop nie, wyk daarvan af en gaan verby; want hulle kan nie slaap as hulle geen kwaad doen nie; en hulle slaap is weg as hulle nie tot 'n val bring nie. Want hulle eet brood van goddeloosheid en drink wyn van gewelddadigheid. Terwyl die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe, is die weg van die goddelose soos duisternis: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie.
SPREUKE 4:14-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Moenie agter die goddeloses aanloop nie, vermy die pad van slegte mense. Los dit, moenie daarop loop nie, draai weg, vermy die slegte mense; hulle kan nie slaap as hulle nie kwaad gedoen het nie; hulle lê wakker as hulle nie iemand se ondergang bewerk het nie. Misdaad is hulle kos, geweld hulle drank. Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is; die pad van die goddeloses is soos die donker: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie.
SPREUKE 4:14-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Op die pad van goddeloses moet jy nie kom nie; en moenie die weg van slegte mense betree nie. Vermy dit, moet dit nie eers oorsteek nie, draai weg daarvan en gaan verby. Want hulle kan nie slaap nie, behalwe as hulle kwaad doen; hulle slaap bly weg, tensy hulle iemand tot 'n val bring. Ja, hulle eet brood van goddeloosheid, en wyn van geweld drink hulle. Die pad van regverdiges is soos die helder oggendlig – dit verhelder geleidelik tot die volle dag. Die weg van goddeloses is soos die donker – hulle weet nie waaroor hulle struikel nie.
SPREUKE 4:14-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Moenie die pad van die goddelose betree nie, en gaan nie op die weg van die bose mense nie. Vermy dit, gaan nie daar verby nie, draai daarvan af en gaan verby. Want hulle slaap nie, tensy hulle onheil gedoen het; en hulle slaap word weggeneem, tensy hulle sommige laat val. Want hulle eet die brood van goddeloosheid en drink die wyn van geweld. Maar die pad van die regverdiges is soos die skynende lig wat meer en meer skyn tot die volmaakte dag. Die weg van die goddelose is soos duisternis; hulle weet nie waaroor hulle struikel nie.
SPREUKE 4:14-19 Die Boodskap (DB)
Moet tog nie soos slegte mense leef of soos hulle raak nie. Bly uit hulle pad uit. Draai weg van hulle en loop jou eie pad. Hulle kan mos nie vanaand slaap as hulle nie eers iets verkeerds gedoen het nie. Hulle lê wakker as hulle nie iemand vernietig het nie. Hulle is skoon slapeloos as hulle nie vandag iemand te kort gedoen het nie. Misdaad is vir hulle soos kos. Geweld is soos wyn waarna hulle smag. Hulle lewe is een groot donkerte. Hulle kan nie sien waar om te loop nie. Boonop val hulle hulle stukkend oor al hulle booshede. Totaal anders is die lewe van iemand wat die Here liefhet. Dit is soos ’n skerp lig wat almal kan sien en wat net al hoe helderder word totdat dit uiteindelik heeltemal dag is.
SPREUKE 4:14-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Moenie dieselfde pad loop as goddelose mense nie. Bly weg van die pad van boosdoeners. Los hulle pad uit, moenie daarop gaan nie. Draai daarvan weg en kies ’n ander koers. Hulle kan nie gaan slaap as hulle nie kwaad gedoen het nie. Hulle kan nie tot rus kom as hulle nie iemand anders ook laat struikel het nie. Misdaad is hulle kos. Geweld is hulle drank. Die pad van die regverdiges is soos die lig met dagbreek. Dit word al helderder totdat die volle dag aanbreek. Die pad van die goddeloses is soos stikdonkerte. Hulle weet nie eers waaroor hulle gestruikel het nie.