SPREUKE 3:3-12
SPREUKE 3:3-12 Bybel vir almal (ABA)
Jy moet altyd doen wat jy belowe het, jy moet jou belofte hou en dit nie verander nie, jy moet dit jou hele lewe lank onthou, jy moet dit nooit vergeet nie. Dan sal God en die mense van jou hou, en dit sal goed gaan met jou. Jy moet met jou hele hart glo dat God jou altyd sal help, jy moenie dink dat jy self weet wat om te doen nie. Jy moet vir God vra om jou te lei in alles wat jy doen, dan sal Hy jou altyd lei. Jy moenie dink jy het die wysheid nie, jy moet die Here dien en jy moenie verkeerd doen nie. Dan sal jy heeltemal gesond bly en jy sal elke dag nuwe krag kry. Jy moet die Here respekteer en Hom dien met alles wat jy het, met die beste van alles wat jy bymekaarmaak. Dan sal jou stoorkamers heeltemal vol wees, en daar sal so baie wyn wees dat jou parskuipe oorloop. My seun, die dinge wat die Here vir jou leer, moet vir jou belangrik wees, jy moenie opstandig wees wanneer Hy jou straf nie, want Hy straf jou omdat Hy lief is vir jou, Hy doen dit soos 'n pa wat lief is vir sy kind.
SPREUKE 3:3-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart, dan sal jy genade vind en 'n goeie insig in die oë van God en die mense. Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak. Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad; dit sal genesing wees vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente. Vereer die HERE uit jou goed en uit die eerstelinge van al jou inkomste; dan sal jou skure vol word van oorvloed en jou parskuipe oorloop van mos. My seun, verag die tug van die HERE nie, en laat sy kastyding nie jou weersin wek nie, want die HERE tugtig hom wat Hy liefhet, ja, soos 'n vader die seun in wie hy behae het.
SPREUKE 3:3-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Moenie dat liefde en trou by jou ontbreek nie; leef daarmee saam, maak dit 'n deel van jou lewe. So sal jy guns verwerf en byval vind by God en mens. Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat sleg is: dit is die geneesmiddel vir jou, die verkwikking vir jou liggaam. Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes, dan sal jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn. My seun, aanvaar die straf wat van die Here kom en moet jou nie teen sy teregwysing verset nie, want die Here straf die mens wat Hy liefhet net soos 'n vader doen met sy seun.
SPREUKE 3:3-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Troue liefde en waarheid moet jou nooit verlaat nie. Bind dit om jou nek, skryf dit op die tafel van jou hart, dan sal jy guns en goeie begrip vind in die oë van God en die mense. Vertrou op die HERE met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak. Moenie wys wees in jou eie oë nie. Jy moet ontsag hê vir die HERE, bly weg van die kwaad. Genesing sal dit bring vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente. Eer die HERE met jou rykdom, met die beste deel van jou volle oes; dan sal jou graanskure oorvol wees, en van •nuwe wyn sal jou parskuipe oorloop. Die vermaning van die HERE, my seun, moet dit nie verwerp nie, en moenie 'n afkeer hê van sy teregwysing nie. Want die een vir wie die HERE liefhet, wys Hy tereg, soos 'n vader die seun vir wie hy omgee.
SPREUKE 3:3-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Laat barmhartigheid en trou U nie begewe nie; bind hulle om u nek; skryf dit op die tafel van jou hart: So sal jy guns en goeie verstand vind in die oë van God en mense. Vertrou op die HERE met jou hele hart; en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie gelyk maak. Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE en wyk af van die kwaad. Dit sal gesond wees vir jou naeltjie en murg vir jou gebeente. Eer die HERE met jou goed en uit die eerstelinge van al jou opbrings. So sal jou skure vol word met oorvloed, en jou perse sal uitbars met mos. My seun, verag die tugtiging van die HERE nie; wees ook nie moeg vir sy teregwysing nie. Want die HERE tugtig hom wat Hy liefhet; soos 'n vader die seun in wie hy 'n welbehae het.
SPREUKE 3:3-12 Die Boodskap (DB)
Moet nooit ophou om die Here lief te hê nie. Hou aan om reg te leef! Hierdie spreuke sal jou daarmee help. Bind al die spreuke soos ’n kettinkie om jou nek. Skryf dit in jou hart sodat jy dit nooit vergeet nie. Dan sal die Here die goeie dinge van die lewe vir jou gee. En die mense sal ook van jou hou. Moenie dink jy weet altyd die beste nie. Begin eerder elke dag weer van voor af om die Here lief te hê. En los tog al die slegte en verkeerde dinge. Vertel die Here alles waaroor jy dink, alles wat jy wil doen. Dan sal jy sien hoe Hy jou help. So ’n lewenshouding sal jou baie gelukkig maak. Dit sal selfs vir jou liggaam wonders doen. Jy sal gesond voel en vol krag wees. Dien die Here met jou talente. Gee aan die Here ook ’n goeie deel van jou geld. Dan sal jy meer as genoeg hê om van te leef. Jou lewe sal vol vreugde wees. Soms ervaar jy hartseer en teleurstelling. Soms is jy kwaad vir die Here. Moet Hom egter nooit in jou woede vloek of verwyt nie. Soos ’n goeie pa soms met sy geliefde seun raas, so maak die Here ook met ons. Hy raas met ons omdat Hy ons so baie liefhet. So help Hy ons om met nog groter wysheid en vreugde te leef.
SPREUKE 3:3-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Moenie dat jy tekort skiet aan liefde en getrouheid nie. Koester dit soos iets waardevols wat jy om jou nek dra. Skryf dit op die tafel van jou hart. Jy sal guns en ’n goeie naam verkry by God en by mense. Vertrou op die HERE met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys. Moenie jou eie wysheid oorskat nie. Hou eerder die HERE voor oë en vermy wat sleg is. Dit sal jou liggaam gesond hou, jou lewe verkwik. Vereer die HERE met alles wat jy besit. Gee vir Hom die beste van jou oes. Hy sal jou opgaarplekke vol maak. Jou parskuipe sal oorloop van al die wyn. My seun, moenie dit verontagsaam wanneer die HERE jou reghelp nie. Moenie jou verset wanneer Hy jou teregwys nie. Die HERE bestraf immers hulle wat Hy liefhet net soos ’n pa sy seun teregwys.