SPREUKE 3:27-32
SPREUKE 3:27-32 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer jy iemand moet help en jy kan dit doen, dan moet jy nie wag nie. As jy dadelik kan help, dan moet jy dit doen. Jy moenie sê: “Gaan eers terug en kom môre weer, dan sal ek jou help” nie. Wanneer iemand naby jou is en hy voel veilig, dan moet jy nie sit en dink wat jy kan doen sodat dit sleg kan gaan met hom nie. Wanneer iemand onskuldig is en hy het niks sleg gedoen aan jou nie, dan moet jy nie sê dat hy skuldig is nie. Jy moenie probeer om te wees soos iemand wat ander mense altyd wil seermaak en doodmaak nie. Want die Here haat slegte mense, maar mense wat reg lewe, is sy vriende.
SPREUKE 3:27-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Hou 'n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom as dit in jou mag is om dit te doen nie. Sê nie vir jou naaste nie: Gaan en kom terug, dan sal ek môre gee — terwyl jy dit het. Bewerk geen onheil teen jou naaste terwyl hy vol vertroue by jou woon nie. Twis nie sonder oorsaak met 'n mens as hy jou geen kwaad gedoen het nie. Wees nie afgunstig op 'n man van geweld en verkies geeneen van sy weë nie. Want die verkeerde is vir die HERE 'n gruwel, maar sy verborgenheid is met die opregtes.
SPREUKE 3:27-32 Afrikaans 1983 (AFR83)
Moenie 'n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom, terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie. Moenie vir iemand sê: “Gaan eers terug en kom môre weer, dan help ek jou,” as jy nou reeds kan help nie. Moenie kwaad teen iemand beplan terwyl hy vol vertroue by jou woon nie. Moenie 'n man sommer aankla as hy jou nie kwaad aangedoen het nie. Moenie 'n man wat sy mag misbruik, beny nie en moenie self soos hy maak nie, want die Here het 'n afkeer van 'n slegte mens, maar neem mense wat reg lewe, in sy vertroue.
SPREUKE 3:27-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Moenie iets goeds weerhou van wie dit verdien, terwyl dit in jou mag is om op te tree nie. Moenie vir jou medemens sê, “Gaan en kom later weer – môre sal ek dit gee!” terwyl jy dit by jou het nie. Moenie teen jou medemens kwaad smee, terwyl hy in goeie trou by jou woon nie. Moenie onnodig 'n saak teen iemand begin, as hy jou geen kwaad aangedoen het nie. Moenie iemand wat geweld gebruik, beny nie, en moenie enige van sy paaie kies nie; want vir die HERE is iemand wat die spoor byster raak, afstootlik – maar opregtes geniet sy vertroue.
SPREUKE 3:27-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Weerhou die goeie nie terug van hulle aan wie dit toekom as dit in die mag van jou hand is om dit te doen nie. Sê nie vir jou naaste nie: Gaan en kom terug, en môre sal ek gee; wanneer jy dit by jou het. Bedink geen kwaad teen jou naaste nie, want hy woon veilig by jou. Moenie sonder oorsaak met 'n man twis as hy jou geen kwaad aangedoen het nie. Beny die verdrukker nie en kies nie een van sy weë nie. Want die verkeerde is vir die HERE 'n gruwel, maar sy geheim is by die regverdiges.
SPREUKE 3:27-32 Die Boodskap (DB)
Gee om vir die arme. As jy kan, moet jy nooit goed soos geld, klere en kos van die arme weghou nie. Help dadelik. Moenie vir jou naaste sê om liewer môre te kom as jy hom vandag al kan help nie. Bly altyd in ’n goeie verhouding met ander. Moenie kwaad teen jou vriend beplan terwyl hy jou vertrou nie. Moenie stry en baklei nie. Moenie rusie maak met iemand wat jou geen kwaad aangedoen het nie. Moet nooit iets wil hê wat aan ’n slegte mens behoort nie. Moet nooit soos hy word nie. ’n Mens wat liefdeloos teenoor ander optree, is vir die Here ’n gruwel. Met die opregtes is Hy goed bevriend.
SPREUKE 3:27-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Moenie wag om goed te doen vir iemand wat dit nodig het nie, veral as dit vir jou moontlik is om dit te doen. Moenie vir jou buurman sê: “Gaan nou weg en kom môre weer, dan sal ek jou help,” terwyl jy dit nou al kon gedoen het nie. Moenie ’n plan beraam teen iemand wat vol vertroue by jou woon nie. Moenie sommer rusie soek met iemand wat jou nie kwaad aangedoen het nie. Moenie jaloers wees op iemand wat geweld gebruik nie. Moenie ook maak soos hy nie. Die HERE het ’n afkeer aan skelms, maar neem mense wat reg lewe, in sy vertroue.