SPREUKE 26:1-28

SPREUKE 26:1-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

Soos sneeu in die somer en reën in die oestyd, so min pas dit dat 'n dwaas eer ontvang. Soos voëltjies wat verbyvlieg en nie gaan sit nie, so gaan 'n vervloeking by jou verby as jy dit nie verdien nie. 'n Sweep vir 'n perd, 'n toom vir 'n donkie, en 'n lat vir 'n dwaas. Moenie 'n dwaas se vraag op net so 'n dwase manier beantwoord nie; hy sal dink jy is soos hy. Beantwoord 'n dwaas se vraag op net so 'n dwase manier, anders dink hy hy het wysheid. As jy 'n dwaas met 'n boodskap stuur, kan jy net so wel nie 'n boodskap stuur nie en aanvaar dat daar moeilikheid kom. 'n Lam mens se bene hang nutteloos aan hom; net so nutteloos is 'n spreuk in die mond van 'n dwaas. Om 'n klip in 'n slingervel vas te bind, dit is wat dit beteken om aan 'n dwaas mag te gee. 'n Doring in 'n dronk man se hand, so is 'n spreuk in die mond van 'n dwaas. 'n Boogskutter wat nie omgee wie hy raakskiet nie, so is iemand wat 'n dwaas of sommer 'n verbyganger huur. Soos 'n hond wat na sy braaksel toe terugkom, so is 'n dwaas wat dieselfde dwaasheid weer begaan. Jy sien self: vir iemand wat dink hy het die wysheid in pag, is daar minder hoop as vir 'n dwaas. Die luiaard se verskoning is: “Daar is 'n leeu in die pad! Daar is 'n leeu in die straat!” 'n Deur bly op sy skarnier draai; 'n luiaard bly omdraai op sy bed. Die luiaard steek sy hand in die skottel, maar hy is te lui om dit terug te bring na sy mond toe. Die luiaard dink hy het meer wysheid as sewe mense wat verstandige antwoorde kan gee. Iemand wat 'n kwaai hond sommer aan die ore pak, so is iemand wat woedend instorm in 'n rusie wat hom nie aangaan nie. Soos 'n mal mens wat dodelike pyle rondskiet, so is iemand wat 'n ander bedrieg en sê: “Ek speel sommer.” Sonder hout bly 'n vuur nie brand nie; sonder 'n kwaadstoker hou 'n rusie nie aan nie. Daar is houtskool nodig vir gloeiende kole, hout vir 'n vuur, en 'n twissiek mens vir rusie stook. 'n Geskinder is soos lekker kos, mense sluk dit so maklik. Soos om 'n potskerf met silwer oor te trek, so is dit om slegte bedoelings agter mooi woorde weg te steek. Iemand kan sy haat verbloem met wat hy sê, maar binne hou hy by sy valsheid. As hy vriendelik praat, moet hom nie glo nie; hy is vol bose bedoelings. Hy verberg sy haat agter 'n valse skyn, maar van die onheil wat hy gaan doen, sal almal weet. Wie 'n gat vir 'n ander grawe, val self daarin; die klippe wat hy gooi, sal na hom toe terugkom. 'n Leuenaar haat dié wat hy seermaak; 'n vleier bewerk 'n ander se ondergang.

SPREUKE 26:1-28 Die Boodskap (DB)

Sneeu in die somer pas nie. Reën op die verkeerde tyd kan rampspoedig wees. So pas eerbetoon ook nie by iemand wat nie weet hoe om reg te leef nie. Al wens iemand jou slegte dinge toe, niks daarvan sal waar word nie. Soos verskrikte voëltjies wat wegvlieg, sal dit in die niet verdwyn. Soos ’n sweep ’n perd op die regte pad hou, so moet ’n dom mens die regte dinge op die harde manier leer. Dink baie mooi voordat jy ’n dom mens antwoord. Soms moet jy liewer stilbly. As jy iets sê, dink hy jy is ook dom. Ander kere moet jy weer praat, want hy moenie dink sy nonsens is reg nie. Wys hom dan reguit op sy domheid. Iemand wat ’n dom mens met ’n boodskap stuur, moet weet dat daar moeilikheid gaan kom. Soos ’n lam man se bene nutteloos hang, so is al hierdie spreuke in die mond van ’n dwaas. Dit beteken vir hom niks nie. ’n Geweer sonder koeëls beteken niks in ’n oorlog nie. So het dit ook geen sin om ’n dom mens te prys nie. Hy sal tog nie reg leef nie. ’n Dronk mens kom nie agter as ’n doring in sy hand steek nie. Almal sien dit en lag vir hom. So weet ’n dwaas ook nie eens as hy een van hierdie spreuke gebruik nie. Mense hoor dit, maar steur hulle nie daaraan nie. Moenie sommer enige een wat verbystap vir tuinwerk huur nie. Hy kan groot skade maak. Hy is soos ’n wag wat beheer verloor en op verbygangers skiet. Soos ’n hond wat na sy eie braaksel terugkeer, so is ’n dwaas wat dom dinge oor en oor doen. Ken jy ’n mens wat wys is in sy eie oë? Hy weet mos altyd beter. Wel, daar is ’n groter kans dat ’n dwaas sal verander as hy. ’n Lui mens dink die vreeslikste verskonings uit waarom hy nie wil gaan werk nie. ’n Leeu sal hom opvreet as hy dit sou waag om sy voete buite te sit. Of dalk vang die leeu hom op pad werk toe. Soos ’n deur aan ’n skarnier vas is, so is ’n lui mens aan sy bed vas. Soos ’n deur aan sy skarnier draai, so draai die lui mens om en om op sy bed. ’n Lui mens sal nog aan die tafel sit, maar is te lui om die kos in sy mond te sit. ’n Lui mens dink mos hy weet baie meer as selfs die slimste mense. Om in te meng by ’n rusie waarmee jy niks te make het nie, is dom. Jy sal groot moeilikheid kry. Dis soos om ’n kwaai hond aan sy ore te gryp. Iemand wat onverantwoordelik is met wapens, is dom. Hy kan mense doodmaak. Net so kan jy nie jou vriend seermaak en dan sê dit was ’n grap nie. As daar nie hout is nie, gaan die vuur dood. En as daar nie ’n kwaadstoker is nie, is daar ook nie rusie nie. Soos gloeiende houtskool ’n sukkelende vuurtjie aanhelp en fyn houtjies groot vlamme maak, so veroorsaak ’n rusiemaker oral moeilikheid. Brokkies skindernuus is soos lekkergoed. Almal wil dit hoor. Hulle glo ook alles wat aan hulle vertel word. Verf laat ’n goedkoop kleipot mooi lyk. So verbloem mooi praatjies en goeie maniere dikwels iemand se bose planne. ’n Huigelaar se haat en venyn word deur mooi woorde verberg. As hy praat, moet hom nie glo nie. Binne-in hom beplan hy die allerverskriklikste dinge. Hy sal alles doen om jou om die bos te lei. Eendag sal jy en die ander gelowiges sy boosheid uitvind. Dan sal julle weet dat wie ’n gat vir ander grawe, self daarin val. Wie ander wil vernietig, gaan self onder. Pas dus op vir die man met die gladde mond. Eintlik haat hy jou. En ’n vleier wil eintlik net mense se lewens verwoes.

SPREUKE 26:1-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Eer pas net so min by ’n dwaas soos sneeu in die somer en reën in oestyd. Ongeregverdigde vervloeking is soos dartelende voëltjies en ’n swaeltjie wat wegvlieg. Daar sal niks van kom nie. Stuur ’n perd met ’n sweep, ’n donkie met ’n toom en ’n dwaas met ’n lat vir sy rug. Moenie ’n dwaas antwoord volgens sy dwaasheid nie anders word jy net soos hy. Antwoord ’n dwaas volgens sy dwaasheid sodat hy nie homself as wys beskou nie. Om ’n boodskap saam met ’n dwaas te stuur, is net so goed as om jou voet af te kap of om gif te drink. ’n Spreuk uit ’n dwaas se mond is net so onbruikbaar soos die bene van ’n verlamde persoon. Om ’n dwaas te vereer, is soos om ’n klip in ’n slingervel vas te bind. ’n Spreuk uit ’n dwaas se mond is soos ’n doring in ’n dronk mens se hand. Iemand wat ’n dwaas of ’n verbyganger van die straat af huur, is soos iemand wat sommer blindelings ’n pyl afskiet. ’n Dwaas wat sy foute herhaal, is soos ’n hond wat terugkom na sy eie braaksel toe. Daar is meer hoop vir ’n dwaas as vir iemand wat dink hy is baie slim. ’n Luiaard se verskoning is: “Daar is ’n leeu op straat, ’n leeu is tussen die huise!” ’n Luiaard draai om en om op sy bed, soos ’n deur heen en weer swaai op sy skarnier. ’n Luiaard steek sy hand in die skottel, maar sy hand is te moeg om dit weer terug te bring na sy mond. Die luiaard dink hy weet meer as sewe ander mense wat goeie antwoorde kan gee. Om sommer in die verbygaan in te meng in ander mense se rusie is soos om ’n kwaai hond sommer aan sy ore te gryp. Soos ’n kranksinnige wat dodelike wapens afvuur, so is iemand wat ander bedrieg en sê: “Ek het net ’n grappie gemaak.” Soos ’n vuur uitbrand as jy nie hout opgooi nie, so hou ’n rusie op as daar nie skinderpraatjies is nie. ’n Bakleierige mens veroorsaak rusies, net soos gloeiende kole ’n vuur laat opvlam en soos droë hout ’n vuur laat vlam vat. Na skinderstories luister mense graag, maar dit word maklik deel van jou lewe. Glasuur oor ’n potskerf, so is vleiende woorde wat uit ’n bose hart kom. Iemand wat in sy hart haat en bedrog koester, steek dit weg agter sy woorde. Wanneer so iemand mooi dinge sê, moet jy dit glad nie glo nie. Hy is vol bose bedoelings. Al steek hy sy haat vernuftig weg, sy kwaad sal in die gemeenskap duidelik word vir almal. Iemand wat ’n vanggat vir ’n ander mens grawe, val self daarin. Die klippe wat hy in ’n ander se pad rol, sal na hom toe terugkom. Iemand wat leuens vertel, haat dié wat hy benadeel. ’n Persoon wat ander vlei, veroorsaak ellende.

SPREUKE 26:1-28 Bybel vir almal (ABA)

Niemand dink dat dit moet sneeu in die somer nie, niemand dink dat dit moet reën wanneer hy die ryp koring wil afsny nie, niemand dink dat mense 'n dwaas moet respekteer nie. As iemand jou vervloek wanneer jy niks verkeerd gedoen het nie, dan is dit soos voëltjies wat vlieg en nie gaan sit nie, dit gaan by jou verby. 'n Mens gebruik 'n sweep vir 'n perd, 'n toom vir 'n donkie, en 'n lat vir 'n dwaas. As 'n dwaas dom dinge sê, en jy antwoord hom nie, dan sal hy dink jy is ook dom. As 'n dwaas dom dinge sê, en jy antwoord hom, dan sal hy dink hy het wysheid. Wanneer jy 'n dwaas stuur om 'n boodskap te bring, dan sal hy nie die boodskap reg bring nie, en dan sal iemand vir jou wil seermaak. 'n Lam mens kan nie sy bene gebruik nie, dwase kan nie 'n spreuk gebruik wanneer hulle praat nie. Jy kan nie 'n klip met 'n slingervel gooi as jy die klip vasgebind het in die slingervel nie, jy kan ook nie vra dat mense 'n dwaas moet respekteer nie. Wanneer 'n dwaas 'n spreuk wil gebruik wanneer hy praat, dan is hy soos 'n dronk man wat 'n doringtak in sy hand het. Wanneer jy 'n dwaas huur of jy huur enige iemand wat by jou verbykom, dan is jy soos iemand wat almal rondom jou wil skiet. 'n Dwaas wat twee maal dieselfde dom ding doen, is soos 'n hond wat terugkom na die kos wat hy opgebring het. Wanneer jy iemand sien wat dink net hý het wysheid, dan sien jy iemand met wie dit slegter sal gaan as met 'n dwaas. 'n Lui mens sê: “Daar is 'n leeu daar buite. Hy sal my vang as ek uitgaan.” 'n Deur draai altyd op sy skarnier, 'n lui mens hou aan om op sy bed om te draai. 'n Lui mens steek sy hand in die kosbak, maar hy is te moeg om sy hand terug te bring na sy mond. 'n Lui mens dink hy het meer wysheid as sewe mense wat verstandig kan antwoord. Iemand wat kwaad word en saam twis wanneer ander mense stry, is soos iemand wat 'n kwaai hond se ore gryp. Iemand wat ander mense bedrieg en dan sê: “Ek het gespeel en 'n grap gemaak,” is soos 'n mal mens wat brandpyle skiet wat mense kan laat sterf. As daar nie hout is nie, dan kan 'n vuur nie brand nie, as niemand skinder nie, dan sal mense nie twis nie. Daar moet hout wees as jy wil vuurmaak, daar moet houtskool wees as jy warm kole wil hê, en daar moet iemand wees wat wil baklei as jy wil hê mense moet twis. Skinderstories is soos lekkers, mense glo graag skinderstories. Wanneer jy mooi dinge sê maar slegte dinge dink, dan is dit soos wanneer jy 'n stuk van 'n kleipot met silwer oortrek. 'n Mens wat vir jou haat, sê miskien mooi dinge, maar hy hou aan om te dink hoe hy jou kan bedrieg. Hy praat miskien vriendelik, maar jy moenie vir hom glo nie, want hy dink aan baie dinge wat jy sal haat. Hy sê nie dat hy jou haat nie, maar hy bedrieg jou. Almal sal weet dat hy slegte dinge wil doen. Iemand wat vir ander mense 'n gat grawe, sal self in die gat val. Die klippe wat hy gooi, sal na hom toe terugkom. Iemand wat lieg, haat die mense wat hy seergemaak het, hy sê mooi dinge, maar hy wil mense laat sterf.

SPREUKE 26:1-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

SOOS sneeu in die somer en soos reën in die oestyd, so pas eer nie by 'n dwaas nie. Soos die voëltjie wegfladder, soos die swaweltjie wegvlieg, so is 'n vervloeking sonder oorsaak: dit kom nie uit nie. 'n Sweep is vir die perd, 'n toom vir die esel en 'n roede vir die rug van die dwase. Antwoord 'n dwaas nie na sy sotheid nie, sodat jy ook nie net soos hy word nie. Antwoord 'n dwaas na sy sotheid, sodat hy nie wys is in sy eie oë nie. Hy kap sy voete af, hy ly onreg, wat 'n boodskap stuur deur middel van 'n dwaas. Soos die bene van 'n lamme slap afhang, so is 'n spreuk in die mond van die dwase. Soos een wat 'n klip in 'n slinger vasbind, so is hy wat eer gee aan 'n dwaas. Soos 'n doring wat in die hand van 'n dronkaard geraak het, so is 'n spreuk in die mond van die dwase. Soos 'n skutter wat alles in gevaar bring, is hy wat 'n dwaas huur, sowel as hy wat verbygangers huur. Soos 'n hond wat na sy uitbraaksel teruggaan, is 'n dwaas wat sy sotheid weer ophaal. Het jy 'n man gesien wat wys is in sy eie oë? Daar is meer hoop vir 'n dwaas as vir hom. Die luiaard sê: Daar is 'n leeu op die pad, 'n leeu op die pleine. 'n Deur draai rond op sy skarniere, so die luiaard op sy bed. Het die luiaard sy hand in die skottel gesteek, hy is te moeg om dit na sy mond terug te bring. Die luiaard is wyser in sy eie oë as sewe wat verstandig antwoord. Hy wat 'n verbylopende hond aan die ore gryp, is een wat hom vererg oor 'n twis wat hom nie aangaan nie. Soos een wat onverskillig vuurpyle, dodelike pyle afskiet, so is die man wat sy naaste bedrieg en sê: Ek speel sommer. Deur gebrek aan hout gaan die vuur dood, en as daar geen kwaadstoker is nie, bedaar die twis. Soos kole die gloed en hout die vuur laat opvlam, so is 'n twisgierige man om 'n twis aan te hits. Die woorde van 'n kwaadstoker is soos lekkernye, en dit gly af na die kamers van die binneste. Silwerskuim waarmee 'n potskerf oorgetrek is — so is gloeiende lippe en 'n slegte hart. Die hater veins met sy lippe, maar in sy binneste koester hy bedrog. As hy sy stem lieflik maak, vertrou hom nie; want sewe gruwels is in sy hart. Al verberg die haat homself in bedrog, sy boosheid word in die vergadering openbaar. Wie 'n kuil grawe, sal daarin val; en hy wat 'n klip rol, dit sal na hom terugkom. 'n Valse tong haat die wat hy verbrysel het, en 'n gladde mond bewerk ondergang.

SPREUKE 26:1-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Soos sneeu in die somer en reën in die oestyd, so is eer nie gepas vir 'n dwaas nie. Soos 'n voëltjie rondfladder, soos 'n swaeltjie wegvlieg, so is 'n onverdiende vervloeking – daar kom niks van nie. 'n Sweep is vir 'n perd, 'n toom vir 'n donkie, en 'n lat is vir die rug van dwase. Moenie 'n dwaas antwoord in ooreenstemming met sy sotheid nie, anders word jy ook dieselfde as hy. Antwoord 'n dwaas in ooreenstemming met sy sotheid, anders is hy wys in sy eie oë. Iemand wat sy eie voete afkap, geweld indrink, is hy wat boodskappe stuur met 'n dwaas. Die bene van 'n verlamde hang slap, so is 'n spreuk in die mond van dwase. Soos om 'n klip in 'n slingervel vas te bind, so is hy wat aan 'n dwaas eer bewys. 'n Doring wat in 'n dronk mens se hand gesteek het, so is 'n spreuk in die mond van dwase. 'n Boogskutter wat alles wond, so is hy wat 'n dwaas huur, wat verbygangers huur. Soos 'n hond wat terugkeer na sy braaksel, so is 'n dwaas wat sy sotheid herhaal. Sien jy 'n mens wat wys is in sy eie oë? Daar is meer hoop vir 'n dwaas as vir hom. Die luiaard sê: “Daar is 'n jong leeu in die pad, 'n leeu êrens tussen die dorpspleine!” 'n Deur draai op sy skarnier en 'n luiaard op sy bed. 'n Luiaard steek sy hand in die skottel, maar hy is te moeg om dit na sy mond terug te bring. 'n Luiaard is in sy eie oë wyser as sewe mense wat sinvol antwoord. Iemand wat 'n hond aan sy ore gryp, so is 'n verbyganger wat hom vererg oor 'n geskil wat hom nie aangaan nie. Soos 'n waansinnige wat brandpyle, dodelike pyle, rondskiet, so is iemand wat sy vriend bedrieg en dan sê: “Ek het maar net 'n grap gemaak.” Sonder hout gaan 'n vuur dood, en in die afwesigheid van 'n kwaadstoker raak 'n stryery stil. Gloeiende kole vir houtskool, hout vir 'n vuur, dit is 'n twissieke man by die aanblaas van 'n geskil. Die woorde van 'n kwaadstoker is soos lekkernye – dit gaan af na die binneste van die liggaam. Soos glasuur wat op 'n potskerf aangebring is, so is vurige lippe en 'n bose hart. Met sy lippe verbloem 'n hater hom, maar in sy binneste huisves hy bedrog. As hy sy stem innemend maak, moet jy hom nie vertrou nie; want daar is sewe afskuwelikhede in sy hart. Al word sy haat deur misleiding verberg, sy boosheid sal in die byeenkoms onthul word. Wie 'n vanggat grawe, val self daarin, en wie 'n klip rol, na hom kom dit terug. 'n Vals tong haat dié wat hy verpletter het, en 'n gladde mond bewerk 'n ramp.

SPREUKE 26:1-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Soos sneeu in die somer, en soos reën in die oestyd, so is eer nie vir 'n dwaas gepas nie. Soos 'n voël wat dwaal, soos 'n swaeltjie wat vlieg, so sal die vloek sonder oorsaak nie kom nie. 'n Sweep vir die perd, 'n toom vir die esel en 'n stok vir die dwaas se rug. Antwoord 'n dwaas nie volgens sy sotheid nie, sodat jy ook nie soos hy word nie. Antwoord 'n dwaas volgens sy sotheid, sodat hy nie wys word in sy eie verwaandheid nie. Hy wat 'n boodskap stuur deur die hand van 'n dwaas, kap sy voete af en drink skade. Die bene van die kreupele is nie gelyk nie; so is 'n gelykenis in die mond van die dwase. Soos hy wat 'n klip in 'n slinger vasbind, so is hy wat 'n dwaas eer gee. Soos 'n doring opgaan in die hand van 'n dronkaard, so is 'n gelykenis in die mond van dwase. Die groot God wat alles gevorm het, beloon die dwaas sowel as die oortreders. Soos 'n hond na sy uitbraaksel terugkeer, so keer 'n dwaas terug na sy sotheid. Sien jy 'n man wat wys in sy eie verwaandheid? daar is meer hoop op 'n dwaas as op hom. Die luiaard sê: Daar is 'n leeu op die pad; 'n leeu is in die strate. Soos die deur om sy skarniere draai, so draai die lui op sy bed. Die luiaard steek sy hand in sy boesem; dit bedroef hom om dit weer na sy mond te bring. Die luiaard is wyser in sy eie verwaandheid as sewe manne wat 'n rede kan gee. Hy wat verbygaan en hom bemoei met twis wat hom nie toekom nie, is soos iemand wat 'n hond aan die ore vat. Soos 'n mal man wat vuurpyle, pyle en dood werp, So is die man wat sy naaste bedrieg en sê: Is ek nie besig om te sport nie? Waar geen hout is nie, daar gaan die vuur dood; so waar daar geen lasteraar is nie, hou die twis op. Soos kole vir brandende kole en hout vir vuur; so is 'n twisgierige man om twis aan te wakker. Die woorde van 'n kwaadspreker is soos wonde, en dit gaan af na die binneste van die buik. Brandende lippe en 'n goddelose hart is soos 'n potskerf wat met silwer skuim bedek is. Hy wat haat, is met sy lippe onaangenaam en slaan bedrog in sy binneste op; Wanneer hy eerlik spreek, glo hom nie, want daar is sewe gruwels in sy hart. Wie se haat bedek is deur bedrog, sy boosheid sal voor die hele vergadering bekend gemaak word. Wie 'n kuil grawe, sal daarin val; en hy wat 'n klip rol, dit sal op hom terugkom. 'n Valse tong haat dié wat daardeur geteister word; en 'n vleiende mond bewerk 'n verderf.