SPREUKE 21:14-16
SPREUKE 21:14-16 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer jy 'n present gee vir iemand wat kwaad is vir jou, dan moet jy dit gee waar ander mense dit nie sien nie, dan sal daardie persoon nie meer kwaad wees nie. Ook wanneer hy baie kwaad is, sal hy weer goed word as jy die present gee waar julle alleen is. 'n Mens wat reg lewe, is bly wanneer hy reg kan doen, maar mense wat slegte dinge doen, sal sterf. Wanneer iemand ophou om verstandig te lewe, dan sal hy moet gaan woon waar die dooie mense is, hy sal sterf.
SPREUKE 21:14-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'n Geskenk in die geheim bring die toorn tot bedaring en 'n geskenk in die skoot die heftige woede. Vreugde is dit vir die regverdige om reg te doen, maar 'n verskrikking vir die werkers van ongeregtigheid. 'n Mens wat afdwaal van die pad van verstand, sal in die vergadering van die skimme rus.
SPREUKE 21:14-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Geskenk in die stilte paai 'n man wat kwaad is; as dit versigtig aangebied word, laat dit heftige woede bedaar. As daar reg geskied, is mense wat reg doen, bly, en staan dié wat onreg doen, verskrik. As iemand ophou om verstandig te lewe, beland hy tussen die dooies.
SPREUKE 21:14-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Geskenk in die geheim laat toorn bedaar, en 'n omkoopgeskenk uit die vou van 'n kleed, heftige woede. Dit is 'n vreugde vir die regverdige wanneer reg geskied, maar 'n verskrikking vir boosdoeners. 'n Mens wat afdwaal van die pad wat begrip kweek, sal in die samekoms van skimme tot rus kom.
SPREUKE 21:14-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
'n Geskenk in die verborge bedaar die toorn, en 'n beloning in die boesem sterk toorn. Dit is vreugde vir die regverdige om reg te doen, maar die werkers van ongeregtigheid sal vernietiging wees. Die man wat afdwaal van die weg van verstand, sal in die vergadering van die dooies bly.
SPREUKE 21:14-16 Die Boodskap (DB)
Soms help ’n geskenk om iemand se woede te laat bedaar. Geld wat ongemerk in ’n baadjiesak gesit word, help om ’n opvlieënde humeur te temper. ’n Gelowige is bly as goeie dinge gebeur en reg geskied. Slegte mense se verkeerde dade lei tot ongeluk en hartseer. Iemand wat nie reg wil leef nie het die lewe verloor. Stadig maar seker verloor hy al sy lewensvreugde. Uiteindelik gaan hy dood.
SPREUKE 21:14-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
’n Geskenk ongesiens gegee, koel die man wat kwaad is af. As ’n omkoopgeskenk onopsigtelik gegee word, laat dit driftige woede bedaar. Dit maak regverdige mense bly wanneer reg opgetree word. Dit maak dié wat kwaad doen, bang. As iemand wegdwaal van die verstandige weg, beland hy in die geselskap van die dooies.