SPREUKE 21:1-19
SPREUKE 21:1-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE stuur die koning soos Hy wil. Dit is soos ’n stroom water wat Hy afkeer waarheen Hy wil. ’n Mens dink dalk alles wat hy doen, is reg. Die HERE besluit egter oor die bedoeling daaragter. Die HERE hou meer daarvan dat iemand reg doen en regverdig optree as dat hy offers vir Hom bring. Hovaardige oë en hoogmoedige harte is ’n kenmerk van goddeloses, dit is hulle sonde. Getroue werk lewer wins op. Afskeepwerk lei tot gebrek. Skatte met leuens verwerf, beteken niks en bring net die dood. Die geweld van goddeloses sleur hulle mee. Hulle weier mos om te doen wat reg is. ’n Skuldige mens loop kronkelpaaie. ’n Mens wat opreg is, loop ’n reguit pad. Dit is beter om op die hoek van ’n platdak te bly, as binne-in ’n huis saam met ’n vrou wat oor alles stry. ’n Slegte mens wens ander net sleg toe. Hy het niks oor vir sy medemens nie. Wanneer jy iemand wat ander belaglik maak, laat boet vir sy dade, leer onervare mense wysheid daaruit. Wanneer jy iemand onderrig wat reeds wysheid het, leer hy nog meer daaruit. Die regverdige God sien wat gebeur in die huis van goddelose mense. Hy bring teëspoed oor die goddelose mense. Iemand wat sy ore toedruk vir die hulpkreet van ’n arme, sal self ook verniet roep as moeilikheid hom tref. ’n Geskenk ongesiens gegee, koel die man wat kwaad is af. As ’n omkoopgeskenk onopsigtelik gegee word, laat dit driftige woede bedaar. Dit maak regverdige mense bly wanneer reg opgetree word. Dit maak dié wat kwaad doen, bang. As iemand wegdwaal van die verstandige weg, beland hy in die geselskap van die dooies. Wie agter plesier aan loop, word ’n arm mens. Wie lief is vir wyn en weelde, word nooit ryk nie. Soms word ’n slegte mens geruil vir een wat reg doen, en die onbetroubare mens vir die eerlike persoon. Dit is beter om iewers in die woestyn te gaan bly as saam met ’n stryerige vrou wat oor alles neul.
SPREUKE 21:1-19 Bybel vir almal (ABA)
Die dinge wat die koning dink, is vir die Here soos 'n stroom water, die Here lei die stroom waar Hy wil. 'n Mens dink miskien dat alles wat hy doen, reg is, maar die Here weet wat 'n mens dink, Hy weet of dit reg is. Die Here hou meer van iemand wat reg lewe en reg doen as van iemand wat offer. Mense wat verkeerd doen, dink dat hulle belangrik is en dat hulle baie weet. Dit is hulle sonde. Wanneer flukse mense planne maak, dan word hulle ryk, maar almal wat te haastig is, sal arm word. Wanneer mense baie dinge het omdat hulle ander mense bedrieg het, dan verdwyn dit soos wind, en die mense sterf gou. Die mense wat verkeerd doen en wat ander mense wil seermaak en doodmaak, val in 'n vangnet wat hulle self styftrek omdat hulle nie reg wil doen nie. 'n Skelm mens loop op verkeerde paaie, maar 'n eerlike mens het 'n skoon lewe. Dit is beter om bo-op 'n huis se dak te woon as om in 'n huis te woon saam met 'n vrou wat aanhou kla. Die mens wat verkeerd doen, wil aanhou verkeerd doen, hy is nie jammer vir ander mense nie. Wanneer jy 'n persoon straf wat altyd wil spot, dan kry iemand wat baie min weet, wysheid. Wanneer jy vir 'n persoon leer wat wysheid het, dan leer hy nog meer. God doen reg. Hy sien wat gebeur in die huis van die mens wat verkeerd doen, en Hy laat dit sleg gaan met die mens wat verkeerd doen. As jy nie wil luister wanneer 'n arm mens vir jou vra om hom te help nie, dan sal die Here ook nie vir jou antwoord wanneer jy bid nie. Wanneer jy 'n present gee vir iemand wat kwaad is vir jou, dan moet jy dit gee waar ander mense dit nie sien nie, dan sal daardie persoon nie meer kwaad wees nie. Ook wanneer hy baie kwaad is, sal hy weer goed word as jy die present gee waar julle alleen is. 'n Mens wat reg lewe, is bly wanneer hy reg kan doen, maar mense wat slegte dinge doen, sal sterf. Wanneer iemand ophou om verstandig te lewe, dan sal hy moet gaan woon waar die dooie mense is, hy sal sterf. As iemand baie hou van plesier, dan sal hy arm word, iemand wat baie lief is vir wyn en olyf-olie, word nie ryk nie. 'n Mens sal maklik iemand wat verkeerd doen, omruil vir iemand wat reg lewe, of hy sal 'n ontrou mens omruil vir 'n eerlike mens. Dit is beter om in 'n woestyn te woon as om te woon saam met 'n vrou wat aanhou kla en wat jou laat swaarkry.
SPREUKE 21:1-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil. Elke weg van 'n mens is reg in sy oë, maar die HERE toets die harte. Om geregtigheid en reg te doen, is vir die HERE verkiesliker as offers. Hoogheid van oë en trotsheid van hart — die glans van die goddelose is sonde. Die planne van die vlytige is net tot voordeel, maar elkeen wat oorhaastig is, kom net tot gebrek. Die verwerwing van skatte deur 'n valse tong is 'n verwaaide asem — dodelike valstrikke. Die gewelddadigheid van die goddelose sleep hulle weg, want hulle weier om reg te doen. Gekronkeld is die weg van 'n skuldige mens; maar die reine — sy handeling is reg. Dit is beter om op die hoek van 'n dak te woon as by 'n twisgierige vrou en 'n gemeenskaplike huis. Die siel van die goddelose begeer die kwaad; sy naaste vind in sy oë geen genade nie. As 'n mens 'n spotter straf, word die eenvoudige bedagsaam; en as 'n mens 'n wyse onderrig, neem hy self kennis aan. Die regverdige let op die huis van die goddelose; Hy stort die goddelose in die ongeluk. Wie sy oor toestop vir die geskreeu van die arme, hy sal self ook roep en nie verhoor word nie. 'n Geskenk in die geheim bring die toorn tot bedaring en 'n geskenk in die skoot die heftige woede. Vreugde is dit vir die regverdige om reg te doen, maar 'n verskrikking vir die werkers van ongeregtigheid. 'n Mens wat afdwaal van die pad van verstand, sal in die vergadering van die skimme rus. Wie van vrolikheid hou, is 'n man van gebrek; hy wat van wyn en olie hou, sal nie ryk word nie. Die goddelose is 'n losprys vir die regverdige, en in die plek van die opregtes kom die ontroue. Dit is beter om in 'n woeste land te woon as by 'n twisgierige vrou en ergernis.
SPREUKE 21:1-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here; soos 'n stroom water lei Hy dit soos Hy verkies. In sy eie oë is alles wat 'n mens doen, reg, maar die Here toets die gesindheid. Die Here verkies dat 'n mens doen wat regverdig en reg is eerder as dat jy offers bring. Die sonde van goddeloses begin altyd met selfverheffing en eiewaan. Wat hardwerkende mense beplan, is nuttig, maar elkeen wat oorhaastig is, stuur af op gebrek. Skatte wat met bedrog versamel is, verdwyn in die wind en bring die dood. Die geweld van goddelose mense vernietig hulleself, want hulle weier om reg te doen. 'n Slegte mens loop krom paaie; 'n eerbare mens tree eerlik op. Liewer bo-op 'n dak woon as saam met 'n twisgierige vrou onder een dak. 'n Slegte mens smag na meer kwaad; hy het nie medelye met sy naaste nie. As jy 'n ligsinnige mens laat boet vir sy dade, leer onervare mense wysheid daaruit; as jy iemand onderrig wat wysheid het, leer hy self daaruit. Die regverdige God sien wat in die goddelose se huis aangaan en Hy bring die goddelose tot 'n val. As jy jou ore sluit vir die hulpgeroep van 'n arm mens, sal jý ook nie antwoord kry as jý roep nie. 'n Geskenk in die stilte paai 'n man wat kwaad is; as dit versigtig aangebied word, laat dit heftige woede bedaar. As daar reg geskied, is mense wat reg doen, bly, en staan dié wat onreg doen, verskrik. As iemand ophou om verstandig te lewe, beland hy tussen die dooies. Wie plesier voorop stel, word arm; wie lief is vir wyn en lekker kos, word nie ryk nie. Jy ruil maklik 'n slegte mens uit vir een wat reg doen en 'n onbetroubare vir 'n eerlike. Liewer in 'n woestyn woon as by 'n twisgierige vrou wat aanhou neul.
SPREUKE 21:1-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die koning se hart is waterstrome in die hand van die HERE: Hy lei dit waarheen Hy wil. Elke pad van 'n mens is reg in sy eie oë, maar die HERE toets harte. Om te doen wat reg en billik is, is vir die HERE verkieslik bo offers. Hoogmoedige oë en 'n verwaande hart – die lamp van goddeloses – is sonde. Die planne van 'n vlytige strek net tot voordeel, maar elkeen wat oorhaastig is, ervaar net gebrek. Die verkryging van skatte deur 'n vals tong is 'n vlugtige damp – dit is strikke van die dood. Die gewelddade van goddeloses sleep hulle weg, want hulle weier om te doen wat reg is. Verdraaid is die pad van 'n oneerlike man, maar 'n onbevlekte – sy optrede is reg. Om op die hoek van 'n dak te woon, is beter as om 'n huis te deel met 'n bakleierige vrou. Die sielsbegeerte van 'n goddelose is boosheid; in sy oë mag geen genade betoon word aan sy medemens nie. Wanneer mens 'n spotter beboet, word 'n onkundige wys; en as mens 'n wyse onderrig, aanvaar hy kennis. Die Regverdige hou 'n goddelose se huis dop; Hy stort goddeloses in die ongeluk. Wie sy ore sluit vir die hulpkreet van 'n arme, sal self ook roep en nie geantwoord word nie. 'n Geskenk in die geheim laat toorn bedaar, en 'n omkoopgeskenk uit die vou van 'n kleed, heftige woede. Dit is 'n vreugde vir die regverdige wanneer reg geskied, maar 'n verskrikking vir boosdoeners. 'n Mens wat afdwaal van die pad wat begrip kweek, sal in die samekoms van skimme tot rus kom. Wie van plesier hou, se voorland is gebrek; wie van wyn en salfolie hou, sal nie ryk word nie. 'n Goddelose word 'n losprys vir die regverdige, en 'n verraderlike mens neem die plek in van opregtes. Om in 'n woestyn te woon, is beter as by 'n vrou wat gedurig kyf en 'n ergernis is.
SPREUKE 21:1-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die hart van die koning is in die hand van die HERE soos waterstrome; Hy draai dit waarheen Hy wil. Elke weg van 'n mens is reg in sy eie oë, maar die HERE oordink die harte. Om reg en oordeel te doen is vir die HERE meer aanneemlik as offerande. 'n Hoë blik en 'n trotse hart en die ploeg van die goddelose is sonde. Die gedagtes van die vlytiges neig net tot oorvloed; maar van elkeen wat haastig is net om te gebrek. Om skatte te verkry deur 'n leuenagtige tong is 'n nietigheid wat heen en weer geslinger word van die wat die dood soek. Die roof van die goddelose sal hulle vernietig; omdat hulle weier om te oordeel. Die weg van die mens is verkeerd en vreemd, maar wat die reines betref, sy werk is reg. Dit is beter om in 'n hoek van die dak te woon as by 'n vrou wat twis in 'n wye huis. Die siel van die goddelose begeer die kwaad, sy naaste vind geen guns in sy oë nie. Wanneer die spotter gestraf word, word die eenvoudige wys; en as die wyse onderrig word, ontvang hy kennis. Die regverdige let met wysheid op die huis van die goddelose, maar God vernietig die goddelose weens hulle boosheid. Wie sy ore toestop vir die geroep van die armes, hy sal self ook huil, maar nie gehoor word nie. 'n Geskenk in die verborge bedaar die toorn, en 'n beloning in die boesem sterk toorn. Dit is vreugde vir die regverdige om reg te doen, maar die werkers van ongeregtigheid sal vernietiging wees. Die man wat afdwaal van die weg van verstand, sal in die vergadering van die dooies bly. Wie van genot hou, sal 'n arm man wees; wie van wyn en olie hou, sal nie ryk wees nie. Die goddelose sal 'n losprys wees vir die regverdiges en die oortreder vir die opregtes. Dit is beter om in die woestyn te woon as by 'n twisgierige en woedende vrou.
SPREUKE 21:1-19 Die Boodskap (DB)
’n Groot leier dink oor baie dinge, maar die Here rig sy denke. Hy beplan, maar God besluit wat sal gebeur. Elke mens dink hy doen altyd die regte ding. Die Here weet wat in elke mens se hart omgaan. Om die regte dinge te doen en te sê is vir die Here baie belangriker as ’n groot dankoffer. Dit is verkeerd om baie van jouself te dink en op ander neer te sien. Wie daarmee aanhou, kan later nie meer verander nie. Goeie beplanning bring sukses. Oorhaastige optrede kan jou duur te staan kom. Geld wat vinnig en oneerlik gemaak is, bring nie geluk nie. Wie dit doen, draai homself in die strikke van die dood vas. Mense wat heeltyd net verkeerde dinge doen, vernietig hulleself. En dit net omdat hulle weier om reg te leef. ’n Slegte mens se lewe is maar krom en skeef. Die gelowige weet hoe om reg te leef. Dit is beter om in die buitekamer te bly as in die huis by iemand wat heeltyd stry. ’n Slegte mens smag na alles wat verkeerd is. Hy gee niks vir ander mense om nie. ’n Wyse kan nooit genoeg van die lewe leer nie. Wanneer ’n slegte mens vir sy dade gestraf word, moet ’n wyse ’n les daaruit leer. Wanneer ’n wyse kennis van die lewe opdoen, moet hy dit dadelik sy eie maak. Die Here weet wat slegte mense doen. Hy kan hulle in ’n oogwink vernietig. Wie ’n arme se noodkreet ignoreer, sal eendag self in die moeilikheid wees. Maar dan sal niemand help nie. Soms help ’n geskenk om iemand se woede te laat bedaar. Geld wat ongemerk in ’n baadjiesak gesit word, help om ’n opvlieënde humeur te temper. ’n Gelowige is bly as goeie dinge gebeur en reg geskied. Slegte mense se verkeerde dade lei tot ongeluk en hartseer. Iemand wat nie reg wil leef nie het die lewe verloor. Stadig maar seker verloor hy al sy lewensvreugde. Uiteindelik gaan hy dood. Wie niks doen nie en net partytjie hou, sal nooit geld hê nie. Wie net lekker wil eet en drink, verwaarloos sy werk. Hy sal nooit ryk wees nie. Die Here straf slegte mense, maar help die gelowige. Hy vernietig die ongelowige, maar seën dié wat in Hom glo. Dis beter om eenkant en alleen te bly as by mense wat graag stry en aanhou neul.