SPREUKE 20:1-30
SPREUKE 20:1-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE wyn is 'n spotter, en sterk drank 'n lawaaimaker; en elkeen wat daardeur bedwelmd raak, is nie wys nie. Die dreiging van die koning is soos die gebrom van 'n jong leeu; wie hom vertoorn, verbeur sy lewe. Dit is 'n eer vir 'n man om van twis weg te bly, maar elke sot breek los. In die herfs ploeg die luiaard nie; en verlang hy iets in die oestyd, dan is daar niks nie. Die raad in die hart van 'n man mag diep waters wees, 'n man van verstand sal dit tog uitskep. Baie mense roem hulle eie welwillendheid, maar wie vind 'n betroubare man? Wie in sy regskapenheid wandel as 'n regverdige — gelukkig is sy kinders ná hom. 'n Koning wat op die regterstoel sit, wan met sy oë alles uit wat sleg is. Wie kan sê: Ek het my hart suiwer gehou, ek is rein van my sonde? Twee soorte gewig, twee soorte maat — hulle altwee is vir die HERE 'n gruwel. Die seun laat hom alreeds aan sy handelinge ken, of sy handelwyse suiwer en of dit reg is. 'n Oor wat hoor, en 'n oog wat sien — die HERE het hulle altwee gemaak. Moenie die slaap liefhê, sodat jy arm word nie; maak jou oë oop, dat jy jou met brood kan versadig. Sleg, sleg! sê die koper; maar as hy wegloop, beroem hy hom. Daar is goud en 'n menigte korale, maar 'n kosbare sieraad is die lippe van kennis. Neem sy kleed weg, want hy het vir 'n ander borg gestaan, en neem hom as pand vir die vreemdes. Soet is vir 'n mens die brood van bedrog, maar daarna word sy mond vol gruisklippertjies. Planne kom deur beraadslaging tot stand; voer dan oorlog met goeie oorleg. Wie met kwaadsprekery omgaan, maak 'n geheim openbaar; laat jou dus nie in met een wat sy lippe laat oopstaan nie. Wie sy vader of sy moeder vloek, sy lamp gaan in pikdonker dood. 'n Besit wat by die begin haastig bymekaargeskraap is — die einde daarvan sal tog nie geseënd wees nie. Moenie sê: Ek wil die kwaad vergelde nie! Wag op die HERE, dat Hy jou help. Twee soorte gewig is vir die HERE 'n gruwel, en 'n valse weegskaal is nie goed nie. Die voetstappe van 'n man hang van die HERE af: hoe sou 'n mens dan sy weg verstaan? Dit is vir die mens 'n strik dat hy onbedagsaam sê: Heilig! om dan eers ná die geloftes te oorweeg. 'n Wyse koning wan die goddelose uit en laat die dorswiel oor hulle draai. Die gees van die mens is 'n lamp van die HERE, dit deursoek al die kamers van die binneste. Liefde en trou behoed die koning, en deur liefde stut hy sy troon. Die sieraad van die jongmanne is hulle krag, en die versiersel van grysaards is grys hare. Bloedige wonde suiwer die kwaad uit en slae die kamers van die binneste.
SPREUKE 20:1-30 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer jy te veel wyn gedrink het, dan wil jy altyd spot. Sterk drank laat jou 'n mens word wat altyd wil raas. Niemand wat dronk is, sal wysheid kry nie. 'n Mens is bang vir 'n koning, so bang soos vir 'n leeu wat brul. As jy die koning kwaad maak, dan is dit gevaarlik, jy sal miskien sterf. Mense respekteer iemand wat nie wil twis nie, elke dwaas wil graag stry. Die lui mens ploeg nie wanneer hy moet ploeg nie, en wanneer dit tyd is om te oes, dan soek hy koring om af te sny, maar daar is niks. Wanneer iemand goed dink voordat hy vir ander mense sê wat hulle moet doen, dan is dit soos water in 'n diep put. Verstandige mense skep daaruit, hulle luister na wat hy sê. Daar is baie mense wat sê hulle sal doen wat hulle belowe, maar daar is min mense wat regtig doen wat hulle sê. 'n Mens wat reg lewe, lewe eerlik, en sy kinders wat ná hom kom, is gelukkig. Wanneer 'n koning op sy troon gaan sit om te oordeel, dan sien hy alles wat verkeerd is. Wie is daar wat kan sê: “Ek het my lewe skoon gehou, ek het nie sonde gedoen nie”? Niemand. Die Here haat mense wat oneerlik is wanneer hulle dinge weeg of meet. Jy kan sien hoe 'n jongmens is wanneer jy kyk wat hy doen, jy kan sien of hy skoon lewe en eerlik is. 'n Mens het ore wat kan hoor en oë wat kan sien, en die Here het hulle gemaak. As jy nie arm wil word nie, dan moet jy nie lief wees vir slaap nie, as jy vroeg opstaan, dan sal jy genoeg kos hê om te eet. Die persoon wat iets wil koop, sê die goed is sleg, maar wanneer hy weggaan, dan is hy baie tevrede met wat hy gekoop het. Goud en edelstene is kosbaar, maar wanneer iemand dinge weet, dan is dit nog meer kosbaar. Wanneer iemand borg gestaan het vir 'n mens wat hy nie ken nie, wanneer hy belowe het om te betaal wat iemand uit 'n ander land skuld, dan moet jy sy klere vat as jý iets van hom wil terugkry. As jy ander mense bedrieg het om kos te kry, dan smaak die kos miskien lekker in die begin, maar later sal dit voel of jy klippies kou. As jy eers goed dink voordat jy planne maak, dan sal jou planne slaag. Jy moet vra wat ander mense dink voordat jy besluit om oorlog te maak. Iemand wat skinder, sê dinge wat ander mense nie moet weet nie, jy moenie vriende wees met iemand wat nie oppas wat hy sê nie. Wanneer iemand sy ouers vervloek, dan sal hy sterf, dit sal donker wees rondom hom. Wanneer iemand later iets moet erf, maar hy vat dit voordat hy dit moet kry, dan sal daardie goed nie méér word nie. Wanneer iemand slegte dinge gedoen het aan jou, dan moet jy nie sê jy sal ook slegte dinge doen aan hom nie, jy moet wag vir die Here, Hy sal jou help. Die Here haat mense wat oneerlik is wanneer hulle dinge weeg, weegskale wat nie reg weeg nie, is nie goed nie. 'n Mens kan nie self weet wat met hom sal gebeur nie. Dit is die Here wat besluit wat met ons sal gebeur. 'n Mens trek 'n vangstrik styf vir homself wanneer hy iets wy maar nie dink wat hy belowe nie, hy besef later wat hy belowe het. 'n Koning wat wysheid het, kan uitvind wie skuldig is, en hy straf hulle baie swaar. Die mens se gees is die lamp van die Here, dit ondersoek alles wat 'n mens dink en doen. Wanneer 'n koning doen wat hy belowe en hy hou sy belofte, dan is hy veilig en hy hou aan om te regeer, want hy doen wat hy belowe. Jongmanne is mooi omdat hulle sterk is, oumense is mooi omdat hulle grys hare het. Wanneer iemand 'n pak slae kry, dan hou hy op om verkeerde dinge te doen, as jy hom slaan, dan hou hy op om te dink aan verkeerde dinge.
SPREUKE 20:1-30 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wyn maak jou ligsinnig, drank laat jou lawaai maak; niemand wat van dronkenskap slinger, is verstandig nie. Die koning wek net soveel vrees as die brul van 'n leeu; as jy die koning kwaad maak, is jou lewe in gevaar. Dit is eerbaar om 'n rusie te vermy; enige dwaas kan 'n rusie begin. 'n Luiaard ploeg nie in die saaityd nie en soek in die oestyd na iets wat nie daar is nie. 'n Oorwoë mening is diep waters; 'n verstandige mens skep daaruit. Baie gee te kenne dat hulle getrou is, maar wie kan 'n werklik betroubare mens vind? Wie reg doen en eerlik lewe, met sy kinders gaan dit goed. Wanneer die koning moet regspreek, sien hy ál wat verkeerd is, raak. Wie kan sê: “Ek is rein, ek is onskuldig, sonder sonde”? Die Here het 'n afsku van mate en gewigte wat nou sus en dan so is. Selfs 'n jongmens word geken aan wat hy doen, uit sy optrede blyk of hy eerlik en opreg is. Die oor wat hoor, die oog wat sien – die Here het altwee gemaak. As jy nie wil arm word nie, moenie lief wees vir slaap nie; staan vroeg op, en jy sal oorgenoeg hê om te eet. “Sleg! Sleg!” sê die koper, maar as hy weg is, spog hy met sy winskopie. Daar is goud, daar is edelstene, maar om met kennis van sake te praat, is nog kosbaarder. As 'n vreemde vir iemand borg staan, vat sy klere van hom af en hou dit as pand, want hy is 'n uitlander. Kos wat oneerlik verkry is, smaak miskien goed, maar agterna sal jy klippe kou. Planne wat op goeie raad steun, slaag; vra raad voor jy oorlog maak. Iemand wat loop en skinder, lap geheime uit; bly weg van iemand wat baie praat. As jy jou vader en moeder vervloek, is jou lewe daarmee heen en bly net die pikdonker oor. Besittings wat oneerlik verkry is, maak jou op die lang duur nie gelukkig nie. Moenie sê: “Ek wil my wreek oor die kwaad wat my aangedoen is” nie; vertrou op die Here, en Hy sal jou help. Die Here het 'n afsku van gewigte wat nou sus en dan so is; 'n skaal wat nie reg weeg nie, is vir Hom nie goed nie. Die Here bepaal 'n mens se koers; hoe sal 'n méns weet waarheen hy moet gaan? Jy stel vir jouself 'n strik as jy oorhaastig iets aan die Here wy en agterna eers besef wat jy belowe het. 'n Wyse koning sif die skuldiges uit en straf hulle genadeloos. Die Here gee aan die mens die lewe. Die Here sien deur die hele mens. Liefde en trou maak 'n koning veilig; deur liefde staan sy troon sterk. Die trots van jongmanne lê in hulle krag; die versiering van oumense is hulle grysheid. 'n Pak slae laat 'n mens ophou kwaaddoen; dit laat jou selfs ophou dink aan kwaad.
SPREUKE 20:1-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die wyn is 'n spotter, en sterk drank 'n lawaaimaker. Elkeen wat daarvan slinger, is nie wys nie. 'n Gebrul soos dié van 'n jong leeu, so is die angs wat 'n koning veroorsaak; wie hom kwaad maak, stel sy lewe in gevaar. Dit is 'n eer vir 'n mens om van 'n woordewisseling weg te bly, maar elke sot laat 'n stryery losbreek. In die winter ploeg 'n luiaard nie; soek hy iets in die oestyd, is daar niks. Diep water is die planne in die hart van 'n man, en 'n skerpsinnige mens sal daaruit put. Baie mense verklaar hulle lojaliteit, maar 'n werklik betroubare man – wie sal hom vind? Iemand wat onberispelik leef, 'n regverdige – gelukkig is sy kinders wat ná hom kom! 'n Koning wat op die regterstoel sit, sif met sy oë al wat sleg is, uit. Wie kan sê: “Ek het my hart skoon gehou, ek is rein van my sonde?” Twee soorte gewigte, twee soorte efas – dit is vir die HERE afstootlik. Reeds aan sy dade laat 'n jong man hom ken, of wat hy doen, suiwer en reg is. 'n Oor wat luister en 'n oog wat sien – die HERE het ook albei gemaak. Moenie lief wees vir slaap nie, anders verarm jy; as jy jou oë oophou, sal jy jou versadig eet aan brood. “Nikswerd! Nikswerd!” sê die koper; maar as hy wegstap, dan spog hy. Daar is goud en 'n oorvloed aan koraal, maar 'n kosbare versiering is lippe met kennis. Neem sy kleed, want hy het borg gestaan vir 'n vreemde, vir 'n vreemde vrou – neem 'n pand van hom! Aangenaam is vir 'n mens die brood verkry deur bedrog, maar daarna is sy mond vol gruis. Planne kom deur beraadslaging tot stand. Voer oorlog met goeie leierskap! Wie as 'n skindertong rondgaan, openbaar geheime; moet dus nie betrokke wees by iemand wat sy lippe oopsper nie. Wie sy vader en moeder vloek – sy lamp word uitgedoof in diepe duisternis. 'n Erfenis aanvanklik oorhaastig verkry, sal uiteindelik nie geseënd wees nie. Moenie sê, “Ek wil die kwaad vergeld” nie; wag op die HERE, sodat Hy jou help. Twee soorte gewigte is vir die HERE afstootlik, en 'n vals weegskaal is nie goed nie. Die HERE bepaal 'n man se treë; en 'n mens, hoe sal hy dan sy eie pad verstaan? Dit is 'n valstrik vir 'n mens as hy onnadenkend sê, “Heilig!” om dan eers ná die geloftes daaroor na te dink. 'n Wyse koning sif goddeloses uit en laat die dorswiel oor hulle loop. Die asem van die mens is die HERE se lamp; daarmee deursoek Hy al die kamers van die binneste. Troue liefde en waarheid beveilig 'n koning; ja, met troue liefde stut hy sy troon. Die roem van jong manne is hulle krag, en die luister van oumense is grys hare. Snye aan 'n kneuswond suiwer die kwaad uit, en slae die kamers van die binneste.
SPREUKE 20:1-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wyn is 'n spotter, sterk drank raas; en elkeen wat daardeur mislei word, is nie wys nie. Die vrees vir 'n koning is soos die brul van 'n leeu; wie hom terg, sondig teen sy eie siel. Dit is 'n eer vir 'n man om op te hou van twis, maar elke dwaas sal inmeng. Die luiaard sal nie ploeg vanweë die koue nie; daarom sal hy in die oes bedel en niks hê nie. Raad in die hart van 'n mens is soos diep water; maar 'n man van verstand sal dit uithaal. Die meeste mense sal elkeen sy eie goedheid verkondig, maar wie kan 'n getroue man vind? Die regverdige wandel in sy opregtheid; sy kinders is geseënd ná hom. 'n Koning wat op die troon van oordeel sit, verstrooi alle kwaad met sy oë. Wie kan sê: Ek het my hart gereinig, ek is rein van my sonde? Verskillende gewigte en verskillende mates, altwee is vir die HERE 'n gruwel. Selfs 'n kind word aan sy handelinge geken, of sy werk rein is en of dit reg is. Die oor wat hoor en die oog wat sien, die HERE het hulle altwee gemaak. Moenie die slaap liefhê nie, dat jy nie in armoede kom nie; maak jou oë oop, en jy sal versadig word van brood. Dit is niks, dit is niks, sê die koper; maar as hy weg is, dan spog hy. Daar is goud en 'n menigte robyne, maar die lippe van kennis is 'n kosbare sieraad. Neem sy kleed wat vir 'n vreemdeling borg is, en neem 'n pand van hom vir 'n vreemde vrou. Brood van bedrog is soet vir 'n mens; maar daarna sal sy mond vol gruis wees. Elke doel word deur raad bepaal, en met goeie raad oorlog voer. Hy wat rondgaan soos 'n kwaadspreker, openbaar geheime; bemoei jou daarom nie met hom wat vlei met sy lippe nie. Wie sy vader of sy moeder vloek, sy lamp sal in donker duisternis uitgedoof word. 'n Erfenis kan in die begin haastig verkry word; maar die einde daarvan sal nie geseënd wees nie. Sê nie: Ek sal kwaad vergelde nie; maar wag op die HERE, en Hy sal jou verlos. Verskillende gewigte is vir die HERE 'n gruwel; en 'n valse balans is nie goed nie. Die mens se weë is van die HERE; hoe kan 'n man dan sy eie manier verstaan? Dit is 'n strik vir die man wat heilig eet en na geloftes navraag doen. 'n Wyse koning verstrooi die goddelose en bring die wiel oor hulle. Die gees van die mens is die lamp van die HERE wat al die binneste van die buik deursoek. Barmhartigheid en trou bewaar die koning, en sy troon word deur barmhartigheid ondersteun. Die heerlikheid van jongmanne is hulle sterkte, en die skoonheid van ou mense is die grys kop. Die blou van 'n wond reinig die kwaad weg; so ook strepe in die binneste van die maag.
SPREUKE 20:1-30 Die Boodskap (DB)
Te veel wyn laat jou onsin praat. Sterk drank maak jou rumoerig. Dit is slim van jou om nie dronk te word nie. Die woedebuie van ’n regeerder is net so angswekkend soos ’n grommende leeu. Wie hom teëgaan, kan sy lewe verloor. ’n Wyse mens bly weg van rusies en ’n gestry. Dit is net ’n dwaas wat sy neus oral insteek. Lui mense gaan ook in die môre werk toe. Daar doen hulle net mooi niks, maar aan die einde van die maand wil hulle geld hê. Wat mense dink, is ’n geslote boek. Niemand weet wat in hulle koppe aangaan nie. Net iemand met ’n fyn aanvoeling vir mense verstaan iets daarvan. Egte vriendskap is skaars. Baie sê hulle is jou vriend, maar min sal jou deur dik en dun ondersteun. ’n Gelowige is ’n mens op wie jy kan reken. Hy doen wat hy glo. Sy kinders kan bly wees hieroor, want hulle het ’n voorbeeld om na te volg. ’n Leier met baie lewenswysheid sien verkeerde dinge maklik raak. Hy het die mag om verkeerde dinge te stop. Wie is sonder sonde? Wie kan sê dat hy altyd net aan die goeie dink? Wie doen altyd die regte dinge op die regte tyd? Die Here haat dubbele standaarde. Besighede wat mense kul of minderwaardige produkte verkoop, is vir die Here ’n gruwel. ’n Gelowige word aan sy vrugte geken. Dade spreek harder as woorde. Om te kan hoor en sien is gawes van die Here. Moenie lui wees nie. Moenie jou tyd met niksdoen verspil nie. Werk hard! Dan sal jy genoeg hê om van te leef. ’n Koper sal altyd oor die prys kla. Later spog hy dat dit ’n winskoop was. Kennis van die lewe is kosbaar. Geen geld kan dit koop nie. Wyse woorde is onbetaalbaar. Pas op vir vinnige finansiële transaksies. Sorg dat jy nie aan die kortste ent trek nie. Sorg vir waarborge, veral as die ander party vrot van die skuld is. Geld wat oneerlik verkry is, bring nie geluk nie. Dit is soos brood wat in jou mond grond word. Dit vernietig jou tande en veroorsaak pyn. Goeie planne kan ook op vergaderings gemaak word. Voordat jy iets aanpak, vra eers raad. Beplan dan fyn. Wie loop en skinder, lap ander se geheime uit. Vermy praatkouse en skinderpraatjies. Wie sy pa en sy ma seermaak of vloek, kwyn weg. God verwerp hom. Wie te vroeg op sy erfporsie aandring, het niks vir sy oudag nie. Moenie jou wreek oor kwaad wat jou aangedoen is nie. Los dit liewer vir die Here. Hy sal jou help. Die Here haat kullery, winkels wat swak produkte ten duurste verkoop, firmas wat mense uitbuit. Niemand weet wat môre gaan gebeur nie. Wie egter naby die Here leef, sal weet wat om te doen. Pas op wat jy vir die Here sê. Moenie in nood iets aan Hom beloof wat jy nie kan doen nie. ’n Sterk leier vat bedrieërs vas. Hy stop wanpraktyke en straf korrupsie. Denke is ’n gawe van die Here. Dit is soos ’n lig op ons pad. Dit help ons om onsself te verstaan. Dit help ons om die regte dinge te doen en te sê. Goedheid en getrouheid is ’n leier se behoud. So lank as wat hy vir ander omgee, sal hy regeer. Fisieke krag is ’n jongman se trots. ’n Gryskop se krag is sy kennis van die lewe. ’n Pak op sy tyd verrig wondere. Dit laat ’n kind besluit om sy nonsens te stop.
SPREUKE 20:1-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wyn maak jou tong los. Sterk drank maak jou lawaaierig. Hy wat hom aan drank vergryp, is nie verstandig nie. ’n Koning wek net soveel vrees as ’n leeu wat brul. Jy stel jou lewe in gevaar as jy hom kwaad maak. Dit is eerbaarder om op te hou met ’n rusie; dis net dwase wat rusie soek. ’n Luiaard ploeg nie wanneer dit saaityd is nie. Wanneer hy oestyd na iets soek, is daar niks om te oes nie. Wat ’n mens dink, is onpeilbare diep waters, maar verstandiges sal voordeel daaruit trek. Baie mense sal voorgee dat hulle lojale vriende is, maar waar is daar iemand wat regtig betroubaar is? Hy wat opreg en eerlik leef, se kinders is baie gelukkig. Wanneer die koning op sy troon sit om oor ’n saak te besluit, moet hy uitsorteer wat reg en wat verkeerd is. Wie is daar wat kan sê: “Ek het my hart gesuiwer, ek het my gereinig van al my sonde”? Die HERE het nie tyd vir dubbele standaarde en vals mate nie. Selfs ’n jongmens word beoordeel volgens wat hy doen; aan sy optrede word bepaal of dit suiwer en opreg is. Die oor wat hoor, die oog wat sien – die HERE het al twee gemaak. Moenie lief wees vir slaap nie; jy kan in armoede verval. Wees wakker, en jy sal genoeg hê om te eet. Die koper sê: “Nikswerd! Dis niks werd nie!” Wanneer hy weggaan, spog hy met sy winskopie. Woorde wat uit kennis kom, is kosbaarder as baie goud en edelstene. Vat klere as ’n pand van iemand wat borg staan vir ’n buitelander, kry by hom ’n waarborg wanneer hy instaan vir ’n vreemde se skuld. Kos wat gesteel is, proe aanvanklik lekker. Agterna word dit klippies in jou mond. Planne slaag wat op goeie raad gebaseer is. Kry eers raad voor jy oorlog maak. Iemand wat loop en skinder, lap geheime uit. Bly weg van iemand wat alte maklik praat. Wie sy pa en ma vervloek, se lewe eindig onverwags soos ’n lamp wat doodgaan in pikdonker. Besittings oneerlik verkry, maak jou op die lang duur nie gelukkig nie. Moenie sê: “Ek sal my wreek op die kwaad wat aan my gedoen is” nie. Wag eerder op die HERE. Hy sal jou saak hanteer. Die HERE verafsku twee stelle maatstawwe. ’n Skaal wat nie reg weeg nie, aanvaar Hy nie. Die HERE bepaal ’n mens se lewe. Hoe kan ’n mens verstaan wat met hom moet gebeur? Jy stel vir jouself ’n strik as jy ewe maklik iets aan die HERE belowe en eers agterna besef wat jy belowe het. ’n Wyse koning sorteer die skuldiges uit en laat dan sy straf oor hulle gaan. Die soeklig van die HERE val op die mens se lewe. Hy bring die diepste motiewe aan die lig. Liefde en lojaliteit hou wag oor ’n koning. Sy troon word versterk deur liefde. Jong manne se mooiheid lê in hulle krag. Dit is hulle grysheid wat oumense mooi maak. ’n Pak slae suiwer die kwaad. Straf maak die binnekant skoon.