SPREUKE 2:6-9
SPREUKE 2:6-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ja, net die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstandigheid. Vir die opregtes hou Hy vindingrykheid in bewaring, as 'n skild vir hulle wat onberispelik leef, deurdat Hy die paaie van die reg bewaak; die pad van sy getroue volgelinge beskerm Hy. Dan sal jy verstaan wat regverdig, billik en reg is – elke goeie pad.
SPREUKE 2:6-9 Bybel vir almal (ABA)
Want dit is die Here wat wysheid gee, Hy sal vir jou leer om te weet en te verstaan. Hy gee vir eerlike mense ware wysheid, Hy beskerm mense wat heeltemal reg lewe. Hy laat hulle altyd reg doen, Hy beskerm die lewe van die mense wat aan Hom behoort. As jy luister na my, dan sal jy verstaan wat dit is om reg te lewe en reg te doen en regverdig te wees, jy sal altyd op die regte pad loop en die regte dinge doen.
SPREUKE 2:6-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
(want die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand, en Hy bewaar hulp vir die opregtes, Hy is 'n skild vir die wat regskape wandel deurdat Hy die paaie van die reg bewaak en die weg van sy gunsgenote bewaar); dan sal jy geregtigheid en reg verstaan en regverdigheid — elke goeie pad.
SPREUKE 2:6-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit is die Here wat die wysheid gee, uit sy mond kom die kennis en die insig. Hy laat eerlike mense sukses behaal en Hy beskerm dié wat onberispelik lewe. Hy sien toe dat reg geskied, Hy hou wag oor die pad van sy troue dienaars. As jy aanneem wat ek jou sê, sal jy insig kry in wat regverdig en reg en billik is en sal jy op die goeie pad bly.
SPREUKE 2:6-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want die HERE gee wysheid; uit sy mond kom kennis en insig. Hy bêre gesonde wysheid vir die regverdiges; Hy is 'n skild vir die wat opreg wandel. Hy bewaar die paaie van reg en bewaar die weg van sy heiliges. Dan sal jy geregtigheid en reg en billikheid verstaan; ja, elke goeie pad.
SPREUKE 2:6-9 Die Boodskap (DB)
Onthou egter net een saak: wysheid om reg te leef kom net van die Here af. Kennis en insig is net by Hom te kry. Hy gaar arms vol wysheid vir die gelowige op. Dit is net vir ons bedoel vir wie die Here liefhet. Soos ’n skild sal dit ons teen slegte dade beskerm. Dit sal ons aanspoor om gelukkig te leef. Al die spreuke sal jou leer hoe om reg op te tree. Jy sal sommer lus wees om reg te leef. Dit sal vir jou lekker wees om daaroor na te dink. En jy sal weet hoe om met insig en begrip in elke situasie op te tree.
SPREUKE 2:6-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit is tog die HERE wat wysheid gee. Sy woorde gee kennis en insig. Hy laat hulle wat reg leef, sukses behaal. Hy is ’n skild vir hulle wat hulle pad suiwer hou. Hy beskerm hulle wat ’n reguit pad loop. Hy bewaak die pad van sy getroue dienaars. As jy aanvaar wat ek vir jou sê, sal jy insig hê in wat regverdig, reg en billik is. Jy sal op die goeie pad bly.