SPREUKE 2:1-22

SPREUKE 2:1-22 Bybel vir almal (ABA)

My seun, hoe sal jy vir God leer ken? As jy luister na my en onthou wat ek vir jou sê, as jy goed luister na wysheid en regtig probeer verstaan, ja, as jy sê jy wil verstaan, as jy vra hoe jy verstandig kan word, as jy dit so graag wil hê soos jy geld wil hê, en daarna soek soos jy na kosbare dinge sal soek, dan sal jy verstaan hoe jy die Here moet dien, dan sal jy vir God leer ken. Want dit is die Here wat wysheid gee, Hy sal vir jou leer om te weet en te verstaan. Hy gee vir eerlike mense ware wysheid, Hy beskerm mense wat heeltemal reg lewe. Hy laat hulle altyd reg doen, Hy beskerm die lewe van die mense wat aan Hom behoort. As jy luister na my, dan sal jy verstaan wat dit is om reg te lewe en reg te doen en regverdig te wees, jy sal altyd op die regte pad loop en die regte dinge doen. Die wysheid sal in jou kom woon en dit sal vir jou lekker wees om dinge te weet. As jy verstandig en versigtig is, dan sal jy veilig wees. Dit sal jou help om nie verkeerd te lewe nie, dit sal jou red van mense wat jou wil bedrieg, want hulle is mense wat opgehou het om die regte dinge te doen en wat in die donker loop. Dit is vir hulle lekker om verkeerd te doen, hulle juig wanneer 'n slegte mens iemand wil bedrieg. Hulle is mense wat nie op die regte pad kan loop nie, hulle hou aan om verkeerd te lewe. As jy luister na my, dan sal dit jou red van die slegte vrou, 'n ander man se vrou wat jou wil verlei, die vrou wat haar eie man gelos het en wat die ooreenkoms vergeet het wat sy voor haar God gemaak het. In haar huis is jy naby die dood. As jy saam met haar gaan, dan is jy al klaar op die pad na die mense wat dood is. Mense wat na haar toe gaan, kom nie terug nie, hulle kom nie weer op die pad van die mense wat lewe nie. Jy moet luister na my, sodat jy kan lewe soos goeie mense lewe, sodat jy kan lewe soos mense wat reg doen, want dit is die eerlike mense wat in die land sal woon. Die mense wat heeltemal reg lewe, sal aanhou lewe in die land. Maar die mense wat verkeerd doen, vir húlle sal God wegvat uit die land. Hy sal die mense wat ontrou is aan Hom, wegvat uit die land.

SPREUKE 2:1-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

MY seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar, sodat jy jou oor laat luister na wysheid, jou hart neig tot verstand; ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef, as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind (want die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand, en Hy bewaar hulp vir die opregtes, Hy is 'n skild vir die wat regskape wandel deurdat Hy die paaie van die reg bewaak en die weg van sy gunsgenote bewaar); dan sal jy geregtigheid en reg verstaan en regverdigheid — elke goeie pad. Want wysheid sal in jou hart kom, en kennis vir jou siel lieflik wees; oorleg sal oor jou wag hou, verstand sal jou bewaak, om jou te red van die weg van die slegte, van die mens wat valse dinge spreek; van die wat die paaie van opregtheid verlaat om op weë van duisternis te wandel; die wat hulle verheug in kwaaddoen, wat juig oor die valse streke van die slegte, van wie die paaie verkeerd is, en wat afwyk in hulle spore; om jou te red van die vreemde vrou, van die ontugtige wat met haar woorde vlei (wat die vriend van haar jeug verlaat, en die verbond van haar God vergeet; want haar huis sink weg na die dood en haar paaie na die skimme; almal wat by haar ingaan, kom nie terug nie en bereik die paaie van die lewe nie) sodat jy kan wandel op die weg van die goeies en die paaie van die regverdiges kan hou; want die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, maar die goddelose sal uit die land uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word.

SPREUKE 2:1-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

My seun, neem aan wat ek jou sê, maak wat ek jou voorskryf jou eie, hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan. Roep insig by, vra na gesonde begrip. Soek dit soos jy silwer sou soek, spoor dit op soos 'n verborge skat. Dan sal jy weet hoe om die Here te dien, sal jy ontdek wat dit is om God te ken. Dit is die Here wat die wysheid gee, uit sy mond kom die kennis en die insig. Hy laat eerlike mense sukses behaal en Hy beskerm dié wat onberispelik lewe. Hy sien toe dat reg geskied, Hy hou wag oor die pad van sy troue dienaars. As jy aanneem wat ek jou sê, sal jy insig kry in wat regverdig en reg en billik is en sal jy op die goeie pad bly. Die wysheid sal sy plek in jou lewe inneem, kennis sal vir jou iets aangenaams word, oordeelkundigheid sal oor jou wag hou en verstandigheid sal jou bewaak. Dit sal jou weghou van die verkeerde pad af en van mense af wat verkeerde dinge verkondig, van dié af wat die regte paaie verlaat om op donker paaie te loop. Hulle verheug hulle daarin om te doen wat sleg is en juig die wandade van die slegte mens toe; hulle paaie is krom en hulle koers is verkeerd. Die wysheid sal jou weghou van die slegte vrou af, die vrou met die verleidelike praatjies, wat haar eie man verlaat en die verbond van haar God vergeet het. Haar huis lei 'n mens na die dood toe, haar spore bring jou by die dooies uit. Mense wat na haar toe gaan, kom nie een terug nie; hulle kom nie weer op die paaie van die lewe nie. Loop jy liewer die pad van die goeie mense, bly op die paaie van die regverdiges, want die opregtes sal die land bly bewoon, dié wat onberispelik leef, sal ongehinderd gelaat word, maar slegte mense sal weggevee word uit die land, bedrieërs sal uitgeroei word.

SPREUKE 2:1-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

My seun, as jy my woorde aanvaar, my opdragte veilig by jou hou deur aandagtig te luister na wysheid, jou hart te rig op verstandigheid, ja, as jy om insig roep, hardop roep om verstandigheid, as jy dit nastreef soos silwer, dit soos 'n verborge skat naspeur, dan sal jy insig hê in ontsag vir die HERE, en kennis van God sal jy vind. Ja, net die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstandigheid. Vir die opregtes hou Hy vindingrykheid in bewaring, as 'n skild vir hulle wat onberispelik leef, deurdat Hy die paaie van die reg bewaak; die pad van sy getroue volgelinge beskerm Hy. Dan sal jy verstaan wat regverdig, billik en reg is – elke goeie pad. Want wysheid sal in jou hart inkom, en kennis sal vir jou aangenaam wees. Goeie oordeel sal oor jou wag hou, verstandigheid sal jou bewaak om jou te red van die pad van onheil, van iemand wat verdorwe uitsprake maak, van hulle wat reguit paaie verlaat om op donker weë te gaan, van hulle wat vreugde daarin vind om kwaad te doen, wat juig oor die verdorwenheid van die kwaad, hulle wie se paaie verdraai is, en wat die spoor byster is op hulle roetes, en om jou te red van 'n vreemde vrou, van die uitlander met haar vleitaal, wat die boesemvriend van haar jeug verlaat, die verbond van haar God vergeet. Ja, na die dood sak haar huis af, na die skimme haar spore. Almal wat na haar gaan – hulle keer nie terug nie, hulle bereik nie weer die paaie van die lewe nie. Dus, jy moet die pad van goeie mense loop, en die weë van regverdiges – daarby moet jy hou. Want opregtes sal die land bewoon, en wie onberispelik is, sal daarin agterbly. Maar die goddeloses sal uit die land uitgeroei word, en wie verraderlik optree, sal daaruit weggeruk word.

SPREUKE 2:1-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou verberg; Sodat jy jou oor tot wysheid neig en jou hart op insig wend; Ja, as jy na kennis roep en jou stem verhef tot begrip; As jy haar soek soos silwer, en na haar soek soos na verborge skatte; Dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind. Want die HERE gee wysheid; uit sy mond kom kennis en insig. Hy bêre gesonde wysheid vir die regverdiges; Hy is 'n skild vir die wat opreg wandel. Hy bewaar die paaie van reg en bewaar die weg van sy heiliges. Dan sal jy geregtigheid en reg en billikheid verstaan; ja, elke goeie pad. Wanneer wysheid in jou hart inkom en kennis vir jou siel aangenaam is; Besinning sal jou bewaar, verstand sal jou bewaar. Om jou te verlos van die weg van die bose mens, van die mens wat verkeerde dinge spreek; wat die paaie van opregtheid verlaat, om op die weë van duisternis te wandel; wat bly is om kwaad te doen, en hulle verlustig in die valsheid van die goddelose; wie se weë krom is, en hulle dwaal op hul paaie; om jou te verlos van die vreemde vrou, van die vreemdeling wat vlei met haar woorde; wat die gids van haar jeug verlaat en die verbond van haar God vergeet. Want haar huis neig na die dood en haar paaie na die dooies. Niemand wat na haar toe gaan, keer terug nie, en hulle gryp nie die paaie van die lewe nie. Sodat jy kan wandel in die weg van goeie mense en die paaie van die regverdiges kan bewaar. Want die opregtes sal in die land woon, en die volmaaktes sal daarin bly. Maar die goddelose sal van die aarde uitgeroei word, en die oortreders sal daaruit uitgeroei word.

SPREUKE 2:1-22 Die Boodskap (DB)

Jong vriend, indien jy na my wyse woorde oor die alledaagse lewe luister en my voorskrifte soos ’n kosbare skat binne-in jou bewaar,indien jy jou ore vir hierdie lewenswaarhede spits en goed oor alles nadink, indien jy na insig in die alledaagse lewe smag en meer kennis begeer oor hoe om te leef, indien jy heeltyd hierna soek soos ’n mens na kosbare silwer of na skatte soek, sal jy die Here se liefde begin verstaan. Jy sal weet hoe om wys en gelukkig te leef. Onthou egter net een saak: wysheid om reg te leef kom net van die Here af. Kennis en insig is net by Hom te kry. Hy gaar arms vol wysheid vir die gelowige op. Dit is net vir ons bedoel vir wie die Here liefhet. Soos ’n skild sal dit ons teen slegte dade beskerm. Dit sal ons aanspoor om gelukkig te leef. Al die spreuke sal jou leer hoe om reg op te tree. Jy sal sommer lus wees om reg te leef. Dit sal vir jou lekker wees om daaroor na te dink. En jy sal weet hoe om met insig en begrip in elke situasie op te tree. Wysheid sal jou van verkeerde dinge weghou en jou lewe verryk. Jy sal ook begin let op wat jy sê. Jy sal verstandig raak. Van sekere tipes mense sal jy wegbly, veral van diegene wat niks van lewensgeluk wil weet nie, hulle wat dit geniet om heeltyd verkeerde dinge te doen. Hulle loop op verkeerde paaie in die verkeerde rigting. ’n Wyse lewenshouding sal ’n jongman teen ’n los vrou beskerm, veral teen haar wat hy van geen kant af ken nie en wat hom met haar woorde wil probeer verlei. So ’n vrou het haar man en kinders verlaat en die huweliksooreenkoms voor God heeltemal vergeet. Wie haar besoek, ervaar iets van die dood. Wie met haar gemeenskap het, sink in ’n donker put weg. Hy sal geestelik sterf. Sy lewenskoers is hy vir altyd kwyt. Meng eerder met mense wat die Here liefhet, met mense wat weet hoe om gelukkig te leef. Opregte gelowiges sal die goeie van die aarde geniet. Hulle wat reg lewe, sal die lekker dinge van die lewe smaak. Dommes wat nie weet hoe om reg te leef nie, sal egter niks van hierdie goeie dinge ervaar nie. Hulle is ongelukkige mense.

SPREUKE 2:1-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

My seun, luister mooi na wat ek vir jou sê. Bewaar wat ek vir jou leer. Spits jou ore vir die wysheid. Span jou in om dit te verstaan. Roep na insig. Roep hardop vir begrip. Soek daarna soos jy na silwer sou soek. Spoor dit op soos ’n versteekte skat. Dan sal jy weet wat dit beteken om respek te hê vir die HERE. Jy sal leer om God te ken. Dit is tog die HERE wat wysheid gee. Sy woorde gee kennis en insig. Hy laat hulle wat reg leef, sukses behaal. Hy is ’n skild vir hulle wat hulle pad suiwer hou. Hy beskerm hulle wat ’n reguit pad loop. Hy bewaak die pad van sy getroue dienaars. As jy aanvaar wat ek vir jou sê, sal jy insig hê in wat regverdig, reg en billik is. Jy sal op die goeie pad bly. Wysheid sal jou denke bepaal. Jy sal lief wees vir kennis. Oordeelkundigheid sal jou beskerm, verstandigheid sal na jou omsien. Dit sal jou weerhou van ’n verkeerde lewenswyse. Dit sal jou weghou van mense wat besig is met verkeerde dinge. Hulle is die mense wat afdwaal van die regte paaie om op donker paaie te gaan loop. Hulle hou daarvan om te doen wat sleg is. Hulle juig oor verkeerde dinge. Hulle loop kronkelpaaie, slaan ’n verkeerde koers in. Die wysheid sal jou weghou uit die kloue van ’n slegte vrou. Dit sal jou spaar van die verleidelike woorde van ’n vreemde vrou. Sy het haar man gelos en vergeet van haar belofte aan haar God. Haar huis is die kortpad na die dood. Haar weg eindig tussen die dooies. Mense wat agter haar aangaan, kom nooit weer terug nie; hulle kom nooit weer op die paaie van die lewe nie. Loop jy liewer op die pad van goeie mense. Hou by die paaie van die regverdiges. Die opregtes sal in die land bly woon. Hulle wat eerbaar is, sal ongesteurd daar kan bly. Goddeloses sal verwyder word uit die land. Bedrieërs sal uitgeroei word.