SPREUKE 19:1-29

SPREUKE 19:1-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

Liewer arm wees en opreg lewe as 'n leuenaar en boonop 'n dwaas. Ywer sonder kennis deug nie; oorhaastigheid bring foute. Sy eie dwaasheid bring 'n mens op die verkeerde pad en dan is hy kwaad vir die Here. Rykdom vergader baie vriende; 'n arm mens word van sy enigste vriend vervreem. 'n Vals getuie bly nie ongestraf nie; wie leuens kwytraak, kom nie vry nie. Almal soek die goedgesindheid van 'n man met mag, elkeen is die vriend van iemand wat geskenke uitdeel. As 'n arm man se broers almal niks met hom te doen wil hê nie, bly sy vriende ook van hom af weg, en om hulle te soebat, help nie. Wie homself liefhet, sorg dat hy wysheid verwerf; hy stel prys op insig sodat hy voorspoed kan geniet. 'n Vals getuie bly nie ongestraf nie; wie leuens kwytraak, gaan tot niet. Weelde pas nie by 'n dwaas nie, nog minder behoort 'n slaaf oor mense van aansien te regeer. 'n Verstandige mens beteuel sy humeur en stel sy eer daarin om vergewensgesind te wees. 'n Koning se woede is soos die brul van 'n leeu, en sy goedgesindheid soos dou op die gras. 'n Dwase seun is sy vader se ondergang; die gekyf van 'n vrou is soos die gedrup uit 'n dak wat lek. Van sy ouers kan iemand 'n huis en besittings erf, maar 'n verstandige vrou is 'n geskenk van die Here. Luiheid laat 'n mens diep slaap; 'n lui mens ly honger. Wie prys stel op die gebod van die Here, stel prys op sy eie lewe; wie nie omgee hoe hy lewe nie, sterf. Wie hom oor 'n arm mens ontferm, gee 'n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed. Behandel jou seun streng, dan is daar hoop, maar moet jou nie te buite gaan en hom doodmaak nie. 'n Opvlieënde mens boet vir wat hy doen, maar as jy hom een keer help, sal jy dit elke keer weer moet doen. Luister na raad, aanvaar wat jou geleer word, sodat jy uiteindelik wysheid kan hê. Al maak mense hoeveel planne, wat die Here besluit, staan vas. 'n Mens wy sy lewe aan wat hy begeer, maar dit is beter om arm te bly as om te bedrieg. Wie die Here dien, se lewe is veilig; so 'n mens slaap rustig, geen ramp tref hom nie. 'n Luiaard steek sy hand in die skottel, maar bring dit nie terug na sy mond toe nie. As jy 'n ligsinnige mens klap, leer dié wat nog onervare is, daaruit; as jy 'n verstandige mens straf, word hy nog verstandiger. 'n Seun wat sy pa mishandel en sy ma verstoot, is skaamteloos en veragtelik. My seun, hou gerus maar op met luister na wat jou geleer word as jy jou nie wil steur aan verstandige raad nie. 'n Kwaadwillige getuie maak 'n bespotting van die reg; wat goddelose mense sê, bring onreg. Ligsinnige mense moet straf te wagte wees, en dwase moet slae verwag.

SPREUKE 19:1-29 Bybel vir almal (ABA)

Dit is beter om arm te wees en eerlik te lewe as om mense te bedrieg en ook 'n dwaas te wees. Dit is nie goed om dinge te probeer doen as jy nie weet hoe nie. As jy te haastig is, dan sal jy foute maak. Wanneer 'n mens dwaas is, dan doen hy verkeerde dinge, en dan sê hy dit is die Here se skuld. Wanneer iemand ryk is, dan het hy baie vriende, maar wanneer iemand arm is, dan sal die een vriend wat hy het, hom ook los. 'n Vals getuie sal sy straf kry, iemand wat lieg, sal nie vry wegkom nie. Daar is altyd baie mense wat wil hê dat 'n belangrike persoon hulle vriend moet wees, as iemand presente weggee, dan wil almal sy vriend wees. 'n Arm mens se broers hou nie van hom nie, nie een van sy broers nie, sy vriende hou ook nie van hom nie, sy vriende bly ver weg van hom. Wanneer die arm man met hulle wil praat, dan is hulle nie daar nie. Iemand wat wil leer om verstandig te wees, is lief vir sy lewe, dit gaan goed met iemand wat verstandig bly. 'n Vals getuie sal sy straf kry, iemand wat lieg, sal sterf. 'n Mens dink nie dat 'n dwaas lekker sal lewe nie, dit is nog meer verkeerd dat 'n slaaf oor leiers regeer. 'n Verstandige mens word nie gou kwaad nie, hy hou daarvan om nie iemand anders se foute te sien nie. Wanneer 'n koning kwaad is, dan moet jy vir hom so bang wees soos vir 'n leeu wat brul. Wanneer die koning vriendelik is, dan is hy so goed vir jou soos dou op gras. 'n Kind wat dwaas is, laat dit sleg gaan met sy pa. Wanneer 'n vrou aanhou kla, dan is dit soos wanneer water aanhou drup deur die dak van 'n huis. Jy erf 'n huis en rykdom van jou voorvaders, maar dit is die Here wat vir jou 'n verstandige vrou gee. 'n Lui mens wil nie ophou slaap nie, daarom het hy nie genoeg om te eet nie. Iemand wat doen wat die Here wil hê, sal aanhou lewe, iemand wat dink dit is nie belangrik om reg te lewe nie, sal sterf. Wanneer iemand goed is vir 'n arm mens, dan is dit dieselfde soos om vir die Here geld te leen. Die Here sal alles aan hom terugbetaal. Jy moet jou kind reg grootmaak, want dan sal hy reg lewe, jy moenie hom laat sterf omdat jy nie gedoen het wat jy moes doen nie. Iemand wat gou kwaad word, moet sy boete self betaal. As jy hom een maal help, dan sal jy dit weer en weer moet doen. As jy luister na wat mense vir jou sê en as jy leer van hulle, dan sal jy later self wysheid hê. 'n Mens kan baie planne hê, maar dit wat die Here besluit, sal gebeur. 'n Mens kan aanhou doen wat hy graag wil doen, maar dit is beter om 'n arm mens te wees as om 'n mens te wees wat lieg. Iemand wat die Here respekteer en Hom dien, sal aanhou lewe, hy sal genoeg eet en lekker slaap. Niks wat sleg is, sal met hom gebeur nie. 'n Lui mens steek sy hand in die kosbak, maar hy is te lui om sy hand terug te bring na sy mond. As jy 'n pak slae gee vir iemand wat altyd wil spot, dan sal 'n ander jongmens wat baie min weet, iets leer. As jy vir 'n verstandige mens sê hoe hy moet lewe, dan sal hy nog meer verstandig word. Dit is baie lelik wanneer 'n kind slegte dinge doen aan sy ouers en hy jaag hulle weg, 'n mens moet skaam wees daaroor. My seun, as jy aanhou om nie te leer nie, dan sal jy altyd dom bly. 'n Getuie wat 'n slegte mens is, spot wanneer mense reg wil doen. Iemand wat verkeerd doen, sê dinge wat mense slegte dinge laat doen. Mense wat altyd wil spot, sal hulle straf kry, dwase sal 'n pak slae kry.

SPREUKE 19:1-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

'N ARME wat in sy regskapenheid wandel, is beter as 'n verkeerde van lippe en daarby 'n dwaas. Selfs ywer is sonder kennis nie goed nie; en hy wat haastig is met die voete, trap mis. 'n Mens se sotheid bederwe sy weg, maar sy hart is vertoorn op die HERE. Goed bring baie vriende aan, maar die arme word deur sy vriend verlaat. 'n Valse getuie bly nie ongestraf nie, en hy wat leuens uitstrooi, sal nie vrykom nie. Baie soek die guns van die edele, en die man van geskenke het 'n hoop vriende. Al die broers van die arme haat hom; hoeveel te meer hou sy vriende hulle ver van hom af! Hy jaag agter hulle aan met woorde — weg is hulle! Wie verstand verkry, het sy lewe lief; hy wat insig bewaar, sal die goeie vind. 'n Valse getuie bly nie ongestraf nie, en hy wat leuens uitstrooi, kom om. Weelde pas nie vir 'n dwaas nie, hoeveel minder vir 'n kneg om oor vorste te heers! Die verstand van 'n mens maak hom lankmoedig, en dit is vir hom 'n eer om die oortreding te vergewe. Die grimmigheid van 'n koning is soos die gebrom van 'n jong leeu, maar sy welgevalle is soos dou op die plante. 'n Dwase seun is 'n ramp vir sy vader, en die gekyf van 'n vrou is 'n aanhoudende gedrup. Huis en goed is 'n erfenis van die vaders, maar 'n verstandige vrou is van die HERE. Luiheid laat in 'n diep slaap val, en een wat traag is, moet honger ly. Wie die gebod hou, bewaar sy lewe; hy wat sy weë nie ag nie, sal sterwe. Wie hom ontferm oor die arme, leen aan die HERE; en Hy sal hom sy weldaad vergelde. Tugtig jou seun, want daar is hoop; maar laat dit nie in jou opkom om hom dood te maak nie. Hy wat groot van woede is, sal die straf dra; want as jy wil red, dan maak jy dit nog erger. Luister na raad en neem tug aan, sodat jy in die vervolg wys kan wees. Baie planne is in 'n man se hart, maar die raad van die HERE, dié sal bestaan. Die kostelike besit van 'n mens is sy weldadigheid; en liewer 'n arme as 'n leuenagtige man. Die vrees van die HERE is tot die lewe; en versadig bring 'n mens die nag deur, sonder om deur 'n onheil besoek te word. Steek die luiaard sy hand in die skottel, dan bring hy dit nie eens na sy mond terug nie. Slaan jy die spotter, dan word die eenvoudige bedagsaam; maar bestraf jy die verstandige, dan sal hy kennis verkry. Hy wat sy vader geweld aandoen en sy moeder wegjaag, is 'n seun wat skande maak en skandelik handel. Hou op, my seun, om na tug te luister, terwyl jy tog afdwaal van die woorde van kennis. 'n Deugniet wat getuienis gee, spot met die reg, en die mond van die goddelose verslind onreg. Vir die spotters staan strafgerigte klaar en slae vir die rug van die dwase.

SPREUKE 19:1-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

'n Arme wat onberispelik leef, is beter as iemand met vals lippe wat boonop 'n dwaas is. Sonder kennis is selfs ywer nie goed nie, en wie oorhaastig met sy voete is, trap mis. Die sotheid van 'n mens gooi sy lewenspad omver, maar sy hart tier teen die HERE. Besittings maak vriende baie meer, maar 'n hulpelose word deur sy vriend verlaat. 'n Vals getuie bly nie ongestraf nie, en iemand wat leuens uitryg, sal nie vrykom nie. Baie soek die guns van 'n vooraanstaande persoon, en elkeen is die vriend van 'n vrygewige man. 'n Arme se hele familie het 'n weersin in hom; hoeveel te meer sal sy boesemvriend nie van hom af wegbly nie? Hy probeer hulle met woorde bereik, maar hulle is nie daar nie. Wie verstand verkry, het sy lewe lief; hy koester verstandigheid om die goeie te vind. 'n Vals getuie bly nie ongestraf nie, en wie leuens uitryg, gaan ten gronde. Weelde pas nie by 'n dwaas nie – hoeveel minder pas dit 'n slaaf om oor bevelvoerders te heers! Die skranderheid van 'n mens maak hom geduldig, en dit is vir hom 'n eer om 'n oortreding oor te sien. 'n Gebrul soos dié van 'n jong leeu, so is die onbeheersde woede van 'n koning; maar soos dou op die gras is sy welwillendheid. 'n Dwase seun is die ondergang van sy vader, en die gekyf van 'n vrou is soos 'n lekkende dak wat aanhou drup. 'n Huis en besittings is 'n erflating van ouers, maar 'n verstandige vrou is van die HERE. Luiheid laat iemand wegsink in diepe slaap, en 'n trae persoon ly honger. Wie gebooie nakom, beskerm sy lewe; wie die weë van die HERE minag, sal sterf. Wie hom oor 'n arme ontferm, leen aan die HERE, en Hy sal hom vergoed vir sy weldaad. Straf jou seun terwyl daar hoop is, maar moenie jouself opsweep, en so sy dood veroorsaak nie. Wie mateloos woedend word, betaal altyd die boete; as jy hom red, sal jy dit weer moet doen. Luister na raad en aanvaar vermaning, sodat jy uiteindelik wys kan wees. Daar is baie planne in 'n mens se hart, maar die raad van die HERE – dít kom tot stand. Wat van 'n mens verwag word, is sy troue liefde, en 'n arm mens is beter as 'n leuenaar. Ontsag vir die HERE lei tot lewe, en 'n mens gaan versadig slaap; deur 'n ramp word hy nie getref nie. Steek die luiaard sy hand in die skottel, bring hy dit selfs nie eers na sy mond terug nie. Slaan jy 'n spotter, dan word 'n onkundige slim; die teregwysing van 'n verstandige laat hom kennis verstaan. Wie 'n vader geweld aandoen en 'n moeder beseer, is 'n seun wat skande maak en skandelik optree. As jy ophou, my seun, om na vermaning te luister, dan is dit net om te dwaal – weg van die woorde van kennis. 'n Deugniet van 'n getuie maak 'n bespotting van die reg, en die mond van goddeloses verslind boosheid. Vonnisse is gereed vir spotters, en slae vir die rûe van dwase.

SPREUKE 19:1-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Die arme wat in sy opregtheid wandel, is beter as hy wat verkeerd is op sy lippe en 'n dwaas is. Ook dat die siel sonder kennis is, dit is nie goed nie; en hy wat haastig is met sy voete, sondig. Die dwaasheid van 'n mens verdraai sy weg, en sy hart is woedend teen die HERE. Rykdom maak baie vriende; maar die arme word van sy naaste geskei. 'n Valse getuie sal nie ongestraf bly nie, en hy wat leuens spreek, sal nie ontvlug nie. Baie sal die vors se guns smeek, en elkeen is 'n vriend vir hom wat geskenke gee. Al die broeders van die armes haat hom; hoeveel te meer gaan sy vriende ver van hom af? hy agtervolg hulle met woorde, maar hulle ontbreek hom. Hy wat wysheid verkry, het sy eie siel lief; hy wat verstand bewaar, sal die goeie vind. 'n Valse getuie sal nie ongestraf bly nie, en hy wat leuens spreek, sal omkom. Verlustiging is nie vir 'n dwaas gepas nie; veel minder vir 'n dienskneg om oor vorste te heers. Die verstand van 'n man stel sy toorn uit; en dit is sy heerlikheid om 'n oortreding oor te gaan. Die toorn van die koning is soos die brul van 'n leeu; maar sy welbehae is soos dou op die gras. 'n Dwase seun is die ellende van sy vader, en die twis van 'n vrou is 'n voortdurende druppel. Huis en rykdom is die erfdeel van vaders, en 'n verstandige vrou is van die HERE. Luiheid werp in 'n diepe slaap; en 'n ledige siel sal honger ly. Hy wat die gebod bewaar, bewaar sy eie siel; maar hy wat sy weë verag, sal sterwe. Hy wat hom oor die arme ontferm, leen aan die HERE; en wat hy gegee het, sal hy hom terugbetaal. Tugtig jou seun terwyl daar hoop is, en laat jou siel nie spaar vir sy geroep nie. 'n Man van groot toorn sal gestraf word, want as jy hom verlos, moet jy dit tog weer doen. Hoor raad en ontvang tug, sodat jy in jou einde wys kan wees. Daar is baie planne in 'n man se hart; nogtans sal die raad van die HERE bestaan. Die begeerte van 'n man is sy goedertierenheid, en 'n arm man is beter as 'n leuenaar. Die vrees van die HERE is geneig tot die lewe, en hy wat dit het, sal versadig bly; hy sal nie met kwaad besoek word nie. 'n Luiaard steek sy hand in sy boesem en sal dit nie soseer weer na sy mond bring nie. Slaan 'n spotter, en die eenvoudige sal oppas; en bestraf een wat verstand het, en hy sal kennis verstaan. Hy wat sy vader verkwis en sy moeder verdryf, is 'n seun wat skande maak en smaad bring. Hou op, my seun, om die tug te hoor wat laat dwaal van die woorde van kennis. 'n Goddelose getuie minag die oordeel, en die mond van die goddelose eet ongeregtigheid op. Oordele word voorberei vir spotters en slae vir die rug van dwase.

SPREUKE 19:1-29 Die Boodskap (DB)

Eerder ’n arme wat die Here ken, as ’n ryke sonder enige wysheid. Hy sê en doen die domste dinge. Dink voordat jy begin. ’n Haastige mens wat nie dink voordat hy optree nie, misluk. Eiesinnigheid kan mens se planne vernietig. Daarna blameer hy die Here vir sy ellende. Waar daar geld is, is daar altyd baie vriende. Baie geld maak baie vriende. ’n Arme word selfs deur sy beste vriend verlaat. Iemand wat doelbewus vals stories versprei, sal nie ongestraf bly nie. Elke leuenaar sal aan die pen ry. Jabroers kruip altyd by die baas. Hulle vra allerhande gunste. Almal is mos altyd ’n vriend van die een of ander belangrike persoon. Maar hulle dink net aan hulle eie belange. Iemand in ’n groot finansiële verknorsing staan alleen. Sy eie familie vermy hom. Sy vriende wil niks met hom te doen hê nie. Beloftes van hulp word gou vergeet. ’n Gelowige lewenstyl verryk ’n mens. Insig verleen kwaliteit aan die lewe. Onder kruisverhoor word ’n vals getuie gou vasgetrek. ’n Leuenaar sal nie maklik loskom nie. Rykdom pas darem nie by ’n dwaas nie. Ewe onvanpas is die verterende ambisie van ’n jongman om oor ander te heers. Iemand wat sy humeur in toom hou, is slim. Wie hulle vergewe wat hom beledig, word deur almal gerespekteer. ’n Woedende baas kan soos ’n brullende leeu wees. Almal om hom wil hy verskeur. As sy bui bedaar, is hy weer so mak soos ’n lammetjie. ’n Ongelowige seun wat nie weet hoe om reg te leef nie, kan sy ouers in ellende dompel. Iemand wat voortdurend karring, is so irriterend soos ’n dak wat op ’n reëndag drup. ’n Huis en baie geld kan ’n mens nog by jou ouers erf, maar ’n goeie lewensmaat kom net van die Here af. ’n Luielak doen niks nie. Hy slaap hom honger en eet hom weer vaak. Hy sal nooit sy ideale waar maak nie, nooit lekker kan leef nie. Wie die Here se wil ernstig opneem, is ’n gelukkige mens. Wie sy woord verag, gaan stadig maar seker dood. Wie goed is vir die arme, maak eintlik ’n lening aan die Here. Op sy eie tyd en manier sal Hy hierdie goeie daad beloon. Vat ’n kind vas terwyl hy nog jonk en in die ouerhuis is. Moet dit nie oordryf nie, want dan breek jy sy moed. Iemand met ’n verskriklike humeur moet jy aan sy eie lot oorlaat. As hy sy humeur verloor en in die moeilikheid kom, moet jy hom nie probeer help nie. As jy dit een maal doen, sal jy weer en weer moet help. Luister na mense wat die lewe ken. Aanvaar hulle raad. Dink goed oor hulle woorde na. Pas dit in jou eie lewe toe. Dan sal jy weet hoe om gelukkig te leef. ’n Mens maak baie planne en koester groot ideale. Maar nie alles word waar nie. Wat die Here egter beplan, dit gebeur. Die mooiste ding wat ’n mens kan doen, is om lief te hê. ’n Arme wat opreg is, is baie beter as iemand wat lieg en bedrieg. Wie die Here liefhet, het die lewe. So ’n mens ken baie vreugde. Hy smaak die lewe in sy volheid. Hy lewe rustig. ’n Luiaard is selfs te lui om te eet. Hy sit by die tafel, sien die lekker bord kos, sit dit op sy vurk, maar raak aan die slaap voordat dit in sy mond kom. Iemand wat baie van homself dink, moet eers hard aangespreek word voordat hy luister. ’n Ligte vermaning is vir ’n wyse genoeg. Hy weet wat om te doen. Wie sy pa sleg behandel en sy ma verneder, is ’n veragtelike en ’n verfoeilike mens. Jy kan net wysheid kry as jy bereid is om te leer, as jy jou voorneem om die regte dinge op die regte tyd te doen en te sê. ’n Vals getuie verdraai die waarheid doelbewus. Hy geniet dit om ander af te kraak. So ’n mens steur hom nie aan wat reg is nie. Wie wysheid verwerp, word ’n ongelukkige mens. ’n Domkop wat nie weet hoe om reg te leef nie, maak skandes en ly groot skade.

SPREUKE 19:1-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dit is beter om arm en eerlik te lewe as om met leuens te lewe en ’n dwaas te wees. Geesdrif sonder kennis help niks. Oorhaastigheid stuur jou in die verkeerde koers. ’n Mens se eie dwaasheid ontwrig jou lewe, dan verkwalik jy nog die HERE daarvoor. Rykdom bring baie mooiweersvriende. ’n Arm mens het geen vriende nie. ’n Vals getuie bly nie sonder straf nie. ’n Leuenaar sal die oordeel nie vryspring nie. Almal probeer om gewild te wees by ’n belangrike man. Almal is vriende met die man wat geskenke uitdeel. As ’n arm man se broers niks met hom te doen wil hê nie, hoeveel te meer sal sy naaste hulle nie aan hom steur nie? Hy smeek verniet by hulle. Hulle is weg. Iemand wat vir homself omgee, kry wysheid in die hande. Iemand wat insig vashou, geniet voorspoed. ’n Vals getuie kom nie vry nie. Iemand wat leuens rondstrooi, gaan tot niet. Weelde pas nie by ’n dwaas nie. ’n Slaaf behoort nog minder te regeer oor belangrike mense. ’n Verstandige mens hou sy humeur in bedwang. Hy stel sy eer daarin om ander se oortredings oor te sien. As ’n koning kwaad word, is dit soos ’n leeu wat brul. Sy goeie gesindheid is soos dou op die gras. ’n Dwase seun is ’n ramp vir sy pa. ’n Vrou wat bly neul, is soos water wat van die dak af drup. Van sy pa kan iemand ’n huis of rykdom erf, ’n verstandige vrou kry jy net by die HERE. Luiheid laat jou diep slaap. ’n Lui mens ly honger. Iemand wat vashou aan die gebod van die HERE, sal sy lewe behou. Iemand wat dit verag, gaan dood. Om na ’n arm mens om te sien, is ’n lening aan die HERE. Hy sal jou daarvoor vergoed. Voed jou seun streng op, dan is daar ’n toekoms. Moenie jou te buite gaan en hom skade aandoen nie. ’n Humeurige mens betaal self die prys daarvoor. As jy hom eers een keer oorsien, moet jy dit elke keer herhaal. Luister na raad. Wees bereid om tereggewys te word sodat jy die res van jou lewe daardeur wysheid kan hê. ’n Mens kan hoeveel planne maak, maar op die ou einde gebeur wat die HERE besluit het. ’n Mens se lojaliteit is prysenswaardig. Dit is beter om arm te bly as om te bedrieg. Iemand wat respek het vir die HERE se lewe is veilig. Hy kan rustig slaap. Geen ramp sal hom tref nie. ’n Luiaard steek sy hand in die skottel, maar hy is te lui om dit na sy mond te bring. As jy iemand wat spot, bestraf, leer jy dié wat nog onervare is. Wanneer jy ’n verstandige teregwys, word hy nog verstandiger. ’n Seun wat sy pa aanrand en sy ma uit die huis jaag, is ’n veragtelike en skandelike mens. My kind, wanneer jy ophou om te luister na teregwysing, draai jy jou rug op verstandige raad. ’n Nuttelose getuie maak van ’n hofsaak ’n bespotting. Goddelose mense verorber kwaad. Straf is opgeskryf vir mense wat ander belaglik maak, en slae wag vir die dwase.