SPREUKE 15:20-33

SPREUKE 15:20-33 Bybel vir almal (ABA)

'n Pa en ma is bly wanneer hulle kinders wysheid het, maar 'n dwaas dink sy ouers is nie belangrik nie. Iemand wat nie baie verstand het nie, is bly omdat hy dwaas is, 'n verstandige mens doen dinge wat reg is. As jy nie vra wat jy moet doen nie, dan sal jou planne nie slaag nie, maar as jy baie raadgewers het, dan sal jou planne slaag. Dit is lekker wanneer 'n mens weet wat om te antwoord, dit is die beste om die regte woord op die regte tyd te sê. 'n Verstandige mens loop op die pad van die lewe, daardie pad gaan boontoe. 'n Verstandige mens loop nie op die pad na die doderyk nie, daardie pad gaan ondertoe. Die Here breek die huis van hoogmoedige mense af, maar Hy beskerm die grond van die weduwee. Die Here haat dit wanneer mense planne maak om slegte dinge te doen, maar Hy hou van vriendelike woorde. Iemand wat altyd meer wil hê as wat hy moet kry, laat dit sleg gaan met sy huisgesin, maar iemand wat nie presente wil neem om verkeerde dinge te doen nie, sal lewe. 'n Mens wat reg lewe, dink eers goed voordat hy antwoord, maar mense wat verkeerd doen, hou aan om slegte dinge te praat. Die Here is ver van mense wat verkeerd doen, maar Hy hoor wanneer mense wat reg lewe, tot Hom bid. Wanneer iemand vriendelik is, dan maak hy mense bly. Goeie nuus laat mense goed voel. Iemand wat luister wanneer mense vir hom sê dat hy verkeerde dinge doen, sal saam met wyse mense kan woon. Iemand wat nie wil leer nie, dink dit is nie belangrik wat met hom gebeur nie, iemand wat luister wanneer mense vir hom sê wat hy verkeerd doen, word verstandig. As iemand wysheid wil leer, dan respekteer en dien hy die Here. 'n Mens moet nederig wees, dan sal ander mense hom respekteer.

SPREUKE 15:20-33 Die Boodskap (DB)

’n Gelowige kind maak sy ouers baie bly. ’n Kind wat die Here verwerp, maak hulle hartseer. ’n Ongelowige se dwaasheid maak hom gelukkig. Hy weet in elk geval nie van beter nie. ’n Gelowige weet hoe om gelukkig te leef. Sonder goeie beplanning loop alle planne skeef. Goeie raad verseker sukses. ’n Goeie antwoord is waardevol. Dit kan iemand help om die regte besluite te neem. Wat is wonderliker as die regte woord op die regte tyd. ’n Gelowige leefstyl bring baie geluk. Dit kan ons teen baie ellendes beskerm. Hoogmoediges wat op ander trap, word vernietig. Die Here sorg vir die armes en die swakkes. Die Here hou niks van die ongelowiges se slegte gedagtes nie. Maar Hy hou baie van gelowiges wat mooi praat met ander. Gulsigheid en geldgierigheid maak jou oneerlik. Dit vernietig jou gesin se lewe. Wie gelukkig is met wat hy het, probeer nie ander omkoop nie. ’n Gelowige dink mooi voordat hy antwoord. ’n Ongelowige sê sommer die eerste ding wat by hom opkom. Ongelowiges is ver van die Here af. Maar die Here luister na die gelowige se gebed. Vriendelikheid maak ’n mens gelukkig. Goeie nuus is goed vir jou gesondheid. Wie na lewenswysheid luister, is deel van die gelowiges. Tussen die gelowiges sal hy altyd tuis voel. Wie wysheid verwerp, gooi sy geluk weg. Wie na goeie raad luister, verstaan die lewe soveel beter. Liefde vir die Here lei tot groter kennis van die lewe. ’n Nederige manier van leef is belangriker as eer.