SPREUKE 15:1-33
SPREUKE 15:1-33 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Sagte antwoord keer woede weg, maar 'n krenkende woord laat toorn opvlam. Die tong van wyses maak kennis lofwaardig, maar die mond van dwase stort sotheid uit. Op elke plek is die oë van die HERE, hulle hou slegtes en goeies dop. Kalmte van die tong is 'n boom van lewe, maar verdorwenheid daarvan breek die gees. 'n Sot versmaai die vermaning van sy vader, maar hy wat teregwysing ter harte neem, is slim. In die huis van 'n regverdige is daar baie voorraad, maar in die opbrengs van 'n goddelose skuil daar teenspoed. Die lippe van wyses strooi kennis uit, maar die hart van dwase is nie so nie. Die offer van goddeloses is afstootlik vir die HERE, maar die gebed van opregtes geniet sy goedkeuring. Afstootlik vir die HERE is die pad van 'n goddelose, maar wie geregtigheid nastreef, vir hom is Hy lief. 'n Ernstige vermaning is gepas vir hom wat die pad verlaat; wie teregwysing haat, sal sterf. Die •doderyk en die onderwêreld lê oop voor die HERE – hoeveel te meer die harte van mensekinders! 'n Spotter hou nie daarvan as iemand hom teregwys nie; na wyses sal hy nie gaan nie. 'n Vrolike hart laat die gesig goed lyk, maar by kommer in die hart is die gees neerslagtig. Die hart van 'n verstandige soek kennis, maar die monde van dwase word gevoed met sotheid. Al die lewensdae van 'n magtelose is sleg, maar vrolikheid van hart is 'n voortdurende fees. 'n Bietjie, saam met ontsag vir die HERE, is beter as 'n groot skat met paniek daarby. 'n Porsie groente met liefde daarby is beter as 'n vetgevoerde bees met haat daarby. 'n Opvlieënde man sit 'n stryery aan die gang, maar 'n geduldige mens bring 'n geskil tot bedaring. Die pad van 'n luiaard is soos 'n doringheining vol dorings, maar die weg van opregtes is gebaan. 'n Wyse seun verbly sy vader, maar 'n dwase mens minag sy moeder. Sotheid is 'n vreugde vir iemand sonder verstand, maar 'n skerpsinnige mens loop 'n reguit pad. Planne misluk waar daar geen beraadslaging is nie, maar met baie raadgewers hou dit stand. 'n Mens ervaar vreugde met die gepaste antwoord uit sy mond; ja, 'n woord op sy tyd – hoe goed is dit nie! Die weg na lewe lei opwaarts vir 'n verstandige mens, om so die doderyk daar onder te ontwyk. Die HERE breek die huis van hovaardiges af, maar die gebied van 'n weduwee baken Hy af. Die planne van 'n bose mens is vir die HERE afstootlik, maar vriendelike woorde is suiwer. Wie onregverdige wins maak, stort sy huis in die ongeluk, maar hy wat omkoopgeskenke haat, sal leef. Die hart van 'n regverdige oorweeg hoe om te antwoord, maar die mond van goddeloses stort booshede uit. Die HERE is ver van goddeloses, maar die gebed van regverdiges hoor Hy. Helder oë verheug die hart, 'n goeie berig verfris die liggaam. 'n Oor wat luister na die teregwysing van die lewe, sal by wyses tuis wees. Wie vermaning in die wind slaan, verag sy eie lewe, maar wie na teregwysing luister, verkry verstand. Ontsag vir die HERE is 'n vermaning tot wysheid, en nederigheid gaan eer vooraf.
SPREUKE 15:1-33 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer jy vir iemand mooi antwoord, dan sal hy ophou om kwaad te wees, maar wanneer jy dinge sê wat iemand seermaak, dan maak jy hom kwaad. Wanneer wyse mense praat, dan leer 'n mens, en dit is lekker. Maar wanneer dwase praat, dan sê hulle net dom dinge. Die Here sien oral, Hy sien wat slegte mense doen en Hy sien wat goeie mense doen. Wanneer iemand praat om dit beter te laat gaan, dan laat hy mense lewe, maar wanneer hy dinge sê wat vals is, dan maak hy mense moedeloos. Dit is 'n dwaas wat dink dat die dinge wat sy pa vir hom leer, nie belangrik is nie, maar iemand wat onthou wat sy pa vir hom sê, is verstandig. Iemand wat reg lewe, word baie ryk, maar as 'n mens verkeerd doen, dan sal die goed wat hy kry, dit sleg laat gaan met hom. Wanneer wyse mense praat, dan leer hulle vir baie mense om dinge te weet, maar dwase dink net oor dinge wat nie reg is nie. Die Here haat die offers wat mense bring wat verkeerd doen, maar Hy aanvaar die gebede van eerlike mense. Die Here haat dit wanneer mense verkeerd doen, maar Hy hou van mense wat altyd probeer om reg te doen. Die Here sal die mens straf wat ophou om reg te lewe. Die mens wat dit haat wanneer iemand vir hom wil leer, sal sterf. Die Here ken die doderyk en die onderwêreld, maar Hy ken die harte van mense nog beter. Iemand wat altyd wil spot, hou nie daarvan dat jy vir hom sê hoe hy moet lewe nie, hy gaan vra nie vir wyse mense wat hy moet doen nie. Wanneer iemand bly is, dan sal sy gesig gelukkig lyk, maar wanneer hy hartseer is, dan sien jy hy is moedeloos. 'n Verstandige mens probeer altyd meer weet, maar dwase is tevrede om dom te bly. Dit gaan altyd sleg met iemand wat homself nie kan help nie, maar vrolike mense geniet altyd die lewe. Dit is beter om min te hê en die Here te respekteer en te dien, beter as om baie goed te hê en ook probleme te hê. Dit is beter om net groente te eet en te weet dat mense lief is vir jou, beter as om die vleis van 'n vet bees te eet en te weet dat mense jou haat. 'n Mens wat gou kwaad word, sal twis en stry, maar 'n geduldige mens maak vrede. 'n Lui mens se lewe is soos 'n pad vol dorings, eerlike mense se lewe is soos 'n goeie pad. 'n Pa en ma is bly wanneer hulle kinders wysheid het, maar 'n dwaas dink sy ouers is nie belangrik nie. Iemand wat nie baie verstand het nie, is bly omdat hy dwaas is, 'n verstandige mens doen dinge wat reg is. As jy nie vra wat jy moet doen nie, dan sal jou planne nie slaag nie, maar as jy baie raadgewers het, dan sal jou planne slaag. Dit is lekker wanneer 'n mens weet wat om te antwoord, dit is die beste om die regte woord op die regte tyd te sê. 'n Verstandige mens loop op die pad van die lewe, daardie pad gaan boontoe. 'n Verstandige mens loop nie op die pad na die doderyk nie, daardie pad gaan ondertoe. Die Here breek die huis van hoogmoedige mense af, maar Hy beskerm die grond van die weduwee. Die Here haat dit wanneer mense planne maak om slegte dinge te doen, maar Hy hou van vriendelike woorde. Iemand wat altyd meer wil hê as wat hy moet kry, laat dit sleg gaan met sy huisgesin, maar iemand wat nie presente wil neem om verkeerde dinge te doen nie, sal lewe. 'n Mens wat reg lewe, dink eers goed voordat hy antwoord, maar mense wat verkeerd doen, hou aan om slegte dinge te praat. Die Here is ver van mense wat verkeerd doen, maar Hy hoor wanneer mense wat reg lewe, tot Hom bid. Wanneer iemand vriendelik is, dan maak hy mense bly. Goeie nuus laat mense goed voel. Iemand wat luister wanneer mense vir hom sê dat hy verkeerde dinge doen, sal saam met wyse mense kan woon. Iemand wat nie wil leer nie, dink dit is nie belangrik wat met hom gebeur nie, iemand wat luister wanneer mense vir hom sê wat hy verkeerd doen, word verstandig. As iemand wysheid wil leer, dan respekteer en dien hy die Here. 'n Mens moet nederig wees, dan sal ander mense hom respekteer.
SPREUKE 15:1-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N SAGTE antwoord keer die grimmigheid af, maar 'n krenkende woord laat die toorn opkom. Die tong van die wyse getuig van grondige kennis, maar die mond van die dwase laat sotheid uitborrel. Op elke plek is die oë van die HERE, en hulle beskou opmerksaam die slegtes en die goeies. Sagtheid van tong is 'n lewensboom, maar valsheid daarin is verbreking in die gees. Die sot verag die tug van sy vader, maar hy wat op die teregwysing ag gee, word wys. In die huis van die regverdige is 'n groot skat, maar in die inkomste van die goddelose is verwarring. Die lippe van die wyse strooi kennis uit, maar die hart van die dwase is nie reg nie. Die offer van die goddelose is vir die HERE 'n gruwel, maar die gebed van die opregtes is Hom welgevallig. Die wandel van die goddelose is vir die HERE 'n gruwel, maar hom wat geregtigheid najaag, het Hy lief. 'n Strenge tugtiging is daar vir hom wat die pad verlaat; hy wat die teregwysing haat, sal sterwe. Die doderyk en die plek van vertering lê oop voor die HERE, hoeveel te meer die harte van die mensekinders! Die spotter hou nie daarvan dat 'n mens hom bestraf nie, hy gaan nie na die wyse toe nie. 'n Vrolike hart maak die aangesig bly, maar by verdriet van die hart is die gees neerslagtig. Die hart van die verstandige soek na kennis, maar die mond van die dwase gaan met sotheid om. Al die dae van die bedrukte is sleg, maar die vrolike van hart het gedurigdeur fees. Liewer 'n bietjie in die vrees van die HERE, as 'n groot skat en onrus daarby. Liewer 'n porsie groente waar liefde by is, as 'n vetgevoerde bees en haat daarby. 'n Driftige man verwek twis, maar die lankmoedige laat die geskil bedaar. Die weg van die luiaard is soos 'n heining van dorings, maar die pad van die opregtes is reggemaak. 'n Wyse seun verbly sy vader, maar 'n dwase mens verag sy moeder. Sotheid is 'n vreugde vir die verstandelose, maar 'n man van verstand wandel reguit. Planne misluk sonder beraadslaging, maar deur die veelheid van raadgewers kom dit tot stand. 'n Man het blydskap in die regte antwoord van sy mond, en hoe goed is 'n woord op sy tyd! Die pad van die lewe gaan vir die verstandige na bowe, sodat hy die doderyk daaronder ontwyk. Die HERE ruk die huis van die trotsaards om, maar die grenslyn van die weduwee stel Hy vas. Die planne van die slegte is vir die HERE 'n gruwel, maar vriendelike woorde is rein. Wie onregverdige wins maak, bring sy huis in beroering; maar hy wat geskenke haat, sal lewe. Die hart van die regverdige dink ná om te antwoord, maar die mond van die goddelose laat slegte dinge uitborrel. Die HERE is ver van die goddelose, maar die gebed van die regverdiges hoor Hy. Stralende oë verbly die hart; 'n goeie tyding maak die gebeente vet. Die oor wat na die teregwysing tot die lewe luister, sal onder die wyse vertoef. Hy wat die tug verwerp, ag sy eie lewe gering; maar hy wat na die teregwysing luister, verkry verstand. Die vrees van die HERE is die tug van die wysheid, en nederigheid gaan aan die eer vooraf.
SPREUKE 15:1-33 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Sagte antwoord laat woede bedaar; 'n krenkende woord laat woede ontvlam. Die woorde van wyse mense maak kennis iets begeerliks; dwase mense sê net dwase dinge. Die Here sien oral; Hy hou slegte en goeie mense dop. Kalmerende woorde bring lewe, skynheilige woorde breek mense. 'n Dwaas verag wat sy vader hom leer; wie hom laat teregwys, is verstandig. In die huis van die regverdige is daar groot rykdom; die inkomste van die goddelose is vir hom tot nadeel. Wyse mense versprei kennis met wat hulle sê; dwase het verdraaide opvattings. Die Here het 'n afsku van die offers van goddeloses, maar Hy aanvaar die gebede van opregtes. Die Here het 'n afsku van die lewenswyse van goddeloses; maar Hy het dié lief wat volgens sy wil lewe. Wie die regte pad verlaat, sal swaar gestraf word; wie teregwysing haat, sal sterf. Vir die Here is die doderyk en die onderaardse diepte nie verborge nie, hoeveel minder die gedagtes van mense. 'n Ligsinnige mens hou nie daarvan dat hy tereggewys word nie; hy word nie 'n wyse mens nie. Blydskap laat 'n mens se gesig straal; smart maak 'n mens terneergedruk. 'n Verstandige mens is op soek na kennis; 'n dwaas voed homself met dwaasheid. Dit gaan altyd sleg met 'n bedrukte mens; die blymoedige mens se hele lewe is 'n fees. Liewer min hê en die Here dien as groot rykdom en bekommernis daaroor. Liewer net 'n bietjie groente en liefde daarby as 'n vetgemaakte os en haat daarby. 'n Humeurige mens soek skoor; 'n verdraagsame mens maak rusies uit die wêreld. 'n Luiaard se pad is met dorings besaai; 'n opregte mens het 'n gelyk pad. 'n Wyse seun maak sy ouers bly, 'n dwase mens minag hulle. Iemand wat verstand kortkom, vind vreugde in sy dwaasheid; 'n mens met insig leef reg. Waar daar nie beraadslaging is nie, slaag planne nie; dit slaag wanneer daar baie raadgewers is. 'n Mens vind vreugde daarin as hy die antwoord het; wat is beter as die regte woord op die regte tyd? 'n Verstandige mens se pad loop boontoe, na die lewe toe; hy ontkom die doderyk daar onder. Die Here breek die hoogmoedige se huis af en beskerm die grond van die weduwee. Die Here het 'n afsku van bose planne; aangename woorde is vir Hom aanneemlik. Wie hom verryk ten koste van 'n ander, maak dat sy gesin verstoot word; wie omkoopgeskenke weier, sal lewe. 'n Regverdige mens dink voor hy antwoord; goddelose mense sê net slegte dinge. Die Here is ver van die goddeloses af, maar Hy hoor die gebed van die regverdiges. Stralende oë bring blydskap, goeie tyding verkwik 'n mens. Wie op 'n teregwysing ag slaan, sal lewe en 'n tuiste vind tussen mense wat wysheid het. Wie onderrig in die wind slaan, gee nie om vir homself nie; wie op 'n teregwysing ag slaan, kry insig. Om die Here te dien, is om onderrig te word in wysheid; nederigheid kom voor eer.
SPREUKE 15:1-33 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
'n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar krenkende woorde laat toorn wakker word. Die tong van die wyse gebruik kennis reg, maar die mond van die dwase giet dwaasheid uit. Die oë van die HERE is op elke plek en aanskou die slegte en die goeie. 'n Gesonde tong is 'n boom van die lewe, maar verdraaidheid daarin is 'n breuk in die gees. 'n Dwaas verag die tug van sy vader, maar hy wat teregwysing ag, is verstandig. In die huis van die regverdige is baie skatte, maar in die inkomste van die goddelose is moeilikheid. Die lippe van die wyse versprei kennis, maar die hart van die dwase doen dit nie. Die offer van die goddelose is vir die HERE 'n gruwel, maar die gebed van die opregtes is vir hom 'n behae. Die weg van die goddelose is vir die HERE 'n gruwel, maar Hy het hom lief wat geregtigheid najaag. Die teregwysing is swaar vir hom wat die weg verlaat, en hy wat teregwysing haat, sal sterwe. Die hel en vernietiging is voor die aangesig van die HERE; hoeveel te meer dan die harte van die mensekinders? 'n Bespotter het niemand lief wat hom teregwys nie, en hy sal nie na die wyse gaan nie. 'n Vrolike hart maak 'n vrolike aangesig, maar deur droefheid van die hart word die gees gebreek. Die hart van hom wat verstand het, soek kennis, maar die mond van die dwase voed met dwaasheid. Al die dae van die ellendige is sleg, maar hy wat vrolik van hart is, hou 'n voortdurende fees. Beter is min met die vrees van die HERE as groot skat en moeite daarmee. Beter 'n ete van kruie waar liefde is, as 'n stallige os en haat daarmee. 'n Toornige man verwek twis, maar hy wat lankmoedig is, bedaar twis. Die weg van die luiaard is soos 'n heining van dorings, maar die weg van die regverdiges is duidelik. 'n Wyse seun maak 'n vader bly, maar 'n dwase man verag sy moeder. Dwaasheid is vreugde vir hom wat wysheid ontbreek, maar 'n man van verstand wandel opreg. Sonder raad word doele beskaam, maar in die menigte van raadgewers word hulle vasgestel. 'n Man het blydskap deur die antwoord van sy mond, en 'n woord wat op sy tyd gespreek word, hoe goed is dit! Die weg van die lewe is bo vir die wyse, dat hy kan weggaan uit die hel daaronder. Die HERE sal die huis van hoogmoediges vernietig, maar die grens van die weduwee vasstel. Die gedagtes van die goddelose is vir die HERE 'n gruwel, maar die woorde van die reines is aangename woorde. Hy wat winsgewend is, stel sy huis in die knel; maar hy wat gawes haat, sal lewe. Die hart van die regverdige bestudeer om te antwoord, maar die mond van die goddelose stort slegte dinge uit. Die HERE is ver van die goddelose, maar Hy hoor die gebed van die regverdiges. Die lig van die oë verbly die hart, en 'n goeie gerug maak die gebeente vet. Die oor wat die teregwysing van die lewe hoor, bly onder die wyses. Hy wat tug verwerp, verag sy eie siel; maar hy wat teregwysing hoor, verkry verstand. Die vrees van die HERE is die tug van wysheid; en voor eer is nederigheid.
SPREUKE 15:1-33 Die Boodskap (DB)
’n Sagte antwoord laat die woede bedaar. Skerp woorde maak mense woedend. Gelowiges se woorde getuig van kennis. Dommes weet niks van die lewe nie. Hulle praat net onsin. Die Here weet wat mense doen. Hy sien al die goeie dinge en al die ongeregtighede raak. Iemand wat kalm oor probleme praat se woorde maak heel. Vlymskerp woorde kan mense breek. ’n Dwase mens verwerp sy ouers se opvoeding. ’n Slimme maak erns met dit wat hulle hom geleer het. ’n Gelowige se rykdom is sy gesin. ’n Slegte mens se skatte bring hom geen geluk nie. Na ’n wyse man kan jy altyd luister. Sy woorde is vol lewenskennis. Dommes dink net aan slegte dinge. ’n Slegte mens se godsdiens is oppervlakkig. Die Here haat sy skynheiligheid. ’n Gelowige se gebed is vir die Here wonderlik. Die Here haat die ongelowiges se slegte dade. Hulle wat opreg leef, het Hy sommer baie lief. Wie die Here verlaat, voel sy straf. Wie teregwysing haat, is al klaar dood. Die Here ken die lewe na die dood baie goed. Hy weet wat in die doderyk gebeur. So ken Hy ook alles wat ons beplan. Niks is vir Hom weggesteek nie. ’n Ongelowige hou niks daarvan dat ander hom op sy foute wys nie. Hy sal ook nooit die geselskap van gelowiges opsoek nie. Blydskap maak ons vrolik. Hartseer kan ons moed knak. ’n Gelowige smag heeltyd na nog meer kennis en insig. ’n Ongelowige is heeltemal tevrede met sy dwase woorde en gedagtes. As iemand altyd swartgallig is, is die lewe hel. Vir ’n blymoedige gelowige is die lewe een groot fees. Dit is baie beter om die Here lief te hê en eenvoudig te lewe as om baie geld te besit, maar tog bekommerd oor jou geld en diep ongelukkig te wees. Liewer ’n eenvoudige ete saam met mense wat mekaar liefhet as baie lekker kos waar mense mekaar haat. ’n Slegte humeur maak ander gou kwaad. Geduld en sagmoedigheid maak mense rustig en kalm. ’n Luiaard se lewe is sleg. Dit is soos ’n pad vol spykers en gate. Maar ’n gelowige se lewe is soos ’n gelyk pad. ’n Gelowige kind maak sy ouers baie bly. ’n Kind wat die Here verwerp, maak hulle hartseer. ’n Ongelowige se dwaasheid maak hom gelukkig. Hy weet in elk geval nie van beter nie. ’n Gelowige weet hoe om gelukkig te leef. Sonder goeie beplanning loop alle planne skeef. Goeie raad verseker sukses. ’n Goeie antwoord is waardevol. Dit kan iemand help om die regte besluite te neem. Wat is wonderliker as die regte woord op die regte tyd. ’n Gelowige leefstyl bring baie geluk. Dit kan ons teen baie ellendes beskerm. Hoogmoediges wat op ander trap, word vernietig. Die Here sorg vir die armes en die swakkes. Die Here hou niks van die ongelowiges se slegte gedagtes nie. Maar Hy hou baie van gelowiges wat mooi praat met ander. Gulsigheid en geldgierigheid maak jou oneerlik. Dit vernietig jou gesin se lewe. Wie gelukkig is met wat hy het, probeer nie ander omkoop nie. ’n Gelowige dink mooi voordat hy antwoord. ’n Ongelowige sê sommer die eerste ding wat by hom opkom. Ongelowiges is ver van die Here af. Maar die Here luister na die gelowige se gebed. Vriendelikheid maak ’n mens gelukkig. Goeie nuus is goed vir jou gesondheid. Wie na lewenswysheid luister, is deel van die gelowiges. Tussen die gelowiges sal hy altyd tuis voel. Wie wysheid verwerp, gooi sy geluk weg. Wie na goeie raad luister, verstaan die lewe soveel beter. Liefde vir die Here lei tot groter kennis van die lewe. ’n Nederige manier van leef is belangriker as eer.
SPREUKE 15:1-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
’n Vriendelike antwoord kalmeer die gemoedere, ’n dwars antwoord laat woede opspring. Die woorde van wyse mense maak kennis aanloklik. Dwase mense borrel oor van dwase dinge. Die HERE sien oral wat gebeur. Sowel slegte as goeie mense hou Hy dop. Vriendelike woorde bring lewe, bedrieglike woorde vernietig mense. ’n Dwaas praat smalend oor wat sy pa hom leer, iemand wat hom laat reghelp, is verstandig. In die huis van regverdiges is daar skatte. Wat die goddelose inbring, bring vir hom moeilikheid. Wyse mense versprei kennis met wat hulle sê. Dwase mense kan dit nie doen nie. Die HERE verafsku die offers van goddelose mense. Hy is bly oor die gebede van opregtes. Die HERE verafsku die manier waarop goddelose mense leef. Hy het die mense lief wat volgens sy wil lewe. Wie die regte pad verlaat, sal swaar gestraf word. Hy wat berisping haat, sal sterf. Die HERE weet wat gebeur in die doderyk en in die onderaardse dieptes. Hoeveel te meer weet Hy wat aangaan in mense se harte. ’n Spotter hou nie van die persoon wat hom teregwys nie. Hy vra nie raad by ’n wyse nie. Blydskap laat ’n mens se gesig straal. Hartseer maak ’n mens terneergedruk. ’n Verstandige mens soek ernstig na kennis. ’n Dwase mens teer op dwaasheid. Vir die bedrukte mens bring elke dag net probleme. Vir die blymoedige mens is die hele lewe ’n fees. Dit is baie beter om min te hê en ook respek vir die HERE, as om groot rykdom te besit met die onrus daarmee saam. Liewer net ’n skeppie groente saam met iemand vir wie jy lief is, as ’n lekker stuk beesvleis en haat daarmee saam. ’n Humeurige mens sit twis aan die gang. ’n Verdraagsame mens sit ’n stryery stop. ’n Luiaard se pad is met dorings besaai. ’n Opregte mens se pad is gelyk. ’n Verstandige seun maak sy pa bly. ’n Dwase seun het geen respek vir sy ma nie. Iemand sonder verstand put vreugde uit sy dwaasheid. Iemand met insig bly op die regte pad. Sonder beplanning loop planne skeef. Sukses is afhanklik van baie raadgewers. Daar is vreugde daarin om die regte antwoord te hê. Wat is beter as die regte woord op die regte tyd? Die lewenspad van ’n verstandige mens loop boontoe. Dit stuur weg van die doderyk daar onder. Die HERE vernietig die hoogmoedige se huis. Hy beskerm die grondgebied van die weduwee. Die HERE verafsku slegte planne. Hy hou van skoon gedagtes. ’n Gierigaard bring ongeluk oor sy huis. Wie omkoopgeskenke weier, sal lewe. ’n Regverdige mens dink eers voor hy antwoord. By goddelose mense se monde borrel daar slegte dinge uit. Die HERE luister nie na goddelose mense nie. Hy verhoor die gebed van die regverdige mens. Oë wat blink, bring vreugde. Goeie nuus bring gesondheid. Wie na kritiek luister, sal lewe. Jy sal tuis wees tussen mense met wysheid. Wie goedbedoelde raad ignoreer, doen skade aan homself. Iemand wat hom laat reghelp, ontwikkel sy insig. Om respek vir die HERE te hê, leer ’n mens wysheid. Nederigheid kom eerste, daarna volg eer.