SPREUKE 13:8-11
SPREUKE 13:8-11 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer iemand ryk is, dan moet hy homself miskien loskoop, maar niemand sê dat 'n arm mens iets moet betaal nie. Die lig van mense wat reg lewe, skyn vrolik, maar die lamp van mense wat verkeerd doen, gaan dood. 'n Hoogmoedige mens wil altyd twis. Iemand wat wysheid het, luister wanneer ander mense vir hom sê wat om te doen. Iemand wat skielik ryk geword het, word gou weer arm, iemand wat stadig en versigtig goed bymekaarmaak, word ryker en ryker.
SPREUKE 13:8-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Die losprys vir die lewe van 'n man is sy rykdom, maar die arme hoor geen dreigement nie. Die lig van die regverdige brand vrolik, maar die lamp van die goddelose gaan dood. Vermetelheid gee net getwis af; maar by die wat hulle laat raai, is wysheid. Goed wat uit niks verkry is, word minder; maar hy wat met die hand bymekaarmaak, kry altyd meer.
SPREUKE 13:8-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Met sy rykdom moet 'n ryk man hom soms loskoop; 'n arm man kom nie in so 'n gevaar nie. Die lewe van die regverdiges is vol vreugde; die lewenslig van die goddeloses word uitgedoof. Selfverheffing lei altyd tot twis; dié wat goeie raad aanneem, het wysheid. Rykdom wat sommerso gekom het, verminder maklik; wie bietjie vir bietjie bymekaarmaak, word ryk.
SPREUKE 13:8-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die losprys vir die lewe van 'n man is sy rykdom, maar 'n arme hoor nie sulke dreigemente nie. Die lig van regverdiges straal vreugde uit, maar die lamp van goddeloses word uitgedoof. Verwaandheid gee net rusie af, maar by hulle wat raad aanvaar, is daar wysheid. Besittings wat moeiteloos verkry word, sal verminder, maar wie met die hand bymekaarmaak, vermeerder dit.
SPREUKE 13:8-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die losprys van 'n man se lewe is sy rykdom, maar die arme luister nie na teregwysing nie. Die lig van die regverdiges is bly, maar die lamp van die goddelose gaan dood. Alleenlik deur hoogmoed kom twis, maar by die wat goed ingelig is, is wysheid. Rykdom wat deur nietigheid verkry is, sal verminder word, maar hy wat deur arbeid insamel, sal vermeerder.
SPREUKE 13:8-11 Die Boodskap (DB)
Rykdom help baie. As jy geld dringend nodig het, is dit beskikbaar. Armoede is sleg, want dit maak die arme weerloos. Hy is altyd aan ander se genade uitgelewer. ’n Gelowige se vreugde skyn soos ’n helder lig wat almal kan sien. Ongelowiges se bietjie blydskap verdwyn in die sand. Dit is soos ’n lamp wat al hoe dowwer brand. Mense wat altyd beter weet, beland maklik in rusies. Gelowiges luister graag na ander en neem hulle standpunte in ag. Kitsrykdom sonder harde werk hou nie lank nie. Wie bietjie vir bietjie spaar, word ryk.
SPREUKE 13:8-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die ryk man het geld om homself mee los te koop. Die arm man kan nooit afgedreig word nie. Die lewe van die regverdiges is vol vreugde. Die lewenslig van goddeloses word uitgedoof. Selfvoldaanheid lei altyd tot rusies. Hulle wat na ander luister, het wysheid. Rykdom wat maklik kom, verdwyn net so maklik. Wie bietjie vir bietjie bymekaarmaak, het naderhand baie.