SPREUKE 13:21-25
SPREUKE 13:21-25 Afrikaans 1983 (AFR83)
Teenspoed volg die sondaars op hulle pad; die regverdige word met voorspoed vergoed. 'n Goeie mens laat 'n erfenis na ook vir sy kleinkinders; die besittings van die sondaar kom in die hande van die regverdige. Grond wat die eerste keer geploeg is, lewer genoeg kos vir die armes, maar waar daar nie wet en orde is nie, word die kos van hulle af weggevat. Wie sy seun nie straf nie, het hom nie lief nie; as hy hom liefhet, sal hy hom straf wanneer dit nodig is. Die regverdige het meer as genoeg om te eet; goddelose mense bly honger.
SPREUKE 13:21-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Teëspoed lê op die hakke van die sondaars. Die regverdiges word met voorspoed beloon. ’n Goeie mens laat iets na vir kleinkinders. ’n Sondaar se besittings beland by die regverdiges. Wanneer armes se grond bewerk is, gee dit genoeg kos vir hulle; maar deur onreg word die kos van hulle af weggevat. Hy wat sy seun nie dissipline leer nie, het hom nie regtig lief nie. As hy hom liefhet, sal hy hom dissiplineer. Die regverdige mens het oorgenoeg om te eet. Goddelose mense bly altyd honger.
SPREUKE 13:21-25 Bybel vir almal (ABA)
Dit gaan altyd sleg met sondaars, maar dit gaan goed met mense wat reg lewe. 'n Goeie mens se kleinkinders kry sy goed wanneer hy sterf, maar die rykdom wat 'n sondaar bêre, gaan na iemand anders. Iemand wat reg lewe, kry dit. Wanneer arm mense hulle koringlande die eerste maal geploeg het, dan sal daar baie kos vir hulle op die lande wees, maar hulle verloor al die kos wanneer ander mense nie reg wil doen aan hulle nie. Wanneer iemand nie sy kind straf nie, dan is hy nie lief vir sy kind nie, as hy lief is vir sy kind, dan sal hy vir die kind reg leer. Mense wat reg lewe, het meer as genoeg kos om te eet, mense wat verkeerd doen, bly altyd honger.
SPREUKE 13:21-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Die onheil vervolg die sondaars, maar Hy sal die regverdiges met goed vergelde. 'n Goeie mens laat sy kindskinders erwe, maar die vermoë van die sondaar word vir die regverdige weggebêre. Die braakland van die armes lewer oorvloedig spys op, maar daar is wat deur ongeregtigheid verlore gaan. Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging. Die regverdige eet totdat hy versadig is; maar die maag van die goddelose ly gebrek.
SPREUKE 13:21-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Onheil agtervolg sondaars, maar regverdiges word deur die goeie beloon. 'n Goeie mens laat sy kleinkinders erf, maar 'n sondaar se eiendom word vir 'n regverdige weggebêre. Oorvloedige kos is op die braakland van armes, maar dit word weggedra deur onreg. Wie sy lat terughou, haat sy seun, maar wie hom liefhet, hou hom in die oog vir straf. 'n Regverdige eet tot sy honger gestil is, maar die maag van goddeloses bly leeg.
SPREUKE 13:21-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Kwaad jaag sondaars na, maar aan die regverdige sal goed vergeld word. 'n Goeie mens laat 'n erfdeel aan sy kindskinders na, en die rykdom van die sondaar word weggelê vir die regverdige. Baie voedsel is in die bewerking van die armes, maar daar is wat vernietig word weens gebrek aan oordeel. Hy wat sy roede spaar, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, tugtig hom betyds. Die regverdige eet tot versadiging van sy siel, maar die maag van die goddelose sal gebrek hê.
SPREUKE 13:21-25 Die Boodskap (DB)
Mense wat die Here verwerp se lewe is hel. Gelowiges ervaar intense geluk en voorspoed. Iemand wat verstandig met sy geld werk se kleinkinders sal nog eendag daarvan erf. Selfs goddeloses se geld beland dikwels in die hande van gelowiges. Arm mense se grond lewer genoeg op dat hulle kan eet. Maar as wet en orde nie gehandhaaf word nie, verloor hulle selfs die bietjie wat hulle het. Wie nooit met sy kinders raas nie, het hulle nie werklik lief nie. Iemand wat sy kinders regtig liefhet, sal hulle kortvat as dit nodig is. ’n Gelowige het genoeg om van te leef. Ongelowiges ly gebrek.