SPREUKE 13:1-12
SPREUKE 13:1-12 Bybel vir almal (ABA)
'n Kind wat wysheid het, luister wanneer sy pa vir hom leer, maar iemand wat altyd wil spot, luister nie wanneer sy pa met hom raas nie. Wanneer 'n mens die regte dinge sê, dan sal hy goeie dinge kry, maar mense wat ontrou is, wil altyd ander mense seermaak en doodmaak. As 'n mens versigtig is wanneer hy iets sê, dan sal hy aanhou lewe, maar 'n mens wat te veel praat, sal sterf. 'n Lui mens word honger en hy kry niks om te eet nie, maar mense wat fluks werk, kry meer as genoeg om te eet. 'n Mens wat reg lewe, haat leuens, maar die mens wat verkeerd doen, sê dinge waaroor almal skaam word. Iemand wat heeltemal reg lewe, is veilig omdat hy reg doen, maar 'n sondaar sterf omdat hy verkeerd doen. Party mense maak of hulle ryk is, maar hulle het niks, party mense maak of hulle arm is, maar hulle het baie. Wanneer iemand ryk is, dan moet hy homself miskien loskoop, maar niemand sê dat 'n arm mens iets moet betaal nie. Die lig van mense wat reg lewe, skyn vrolik, maar die lamp van mense wat verkeerd doen, gaan dood. 'n Hoogmoedige mens wil altyd twis. Iemand wat wysheid het, luister wanneer ander mense vir hom sê wat om te doen. Iemand wat skielik ryk geword het, word gou weer arm, iemand wat stadig en versigtig goed bymekaarmaak, word ryker en ryker. 'n Mens word moedeloos wanneer hy nie kry wat hy graag wil hê nie, maar hy is weer lus om te lewe wanneer hy kry wat hy wil hê.
SPREUKE 13:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N WYSE seun luister na die tug van die vader, maar 'n spotter hoor nie na berisping nie. Van die vrug van iemand se mond eet hy die goeie, maar die begeerte van die ontroues is 'n daad van geweld. Wie sy mond bewaak, bewaar sy lewe; wie sy lippe wyd oopmaak, vir hom is daar ondergang. Die siel van die luiaard begeer, en daar is niks nie, maar die siel van die vlytiges word versadig. Die regverdige haat leuentaal, maar die goddelose maak gehaat en handel skandelik. Geregtigheid bewaar die regskapene van wandel, maar goddeloosheid bring die sondaar tot 'n val. Daar is een wat hom ryk hou, en hy het glad niks nie; een wat hom arm hou, en hy het baie goed. Die losprys vir die lewe van 'n man is sy rykdom, maar die arme hoor geen dreigement nie. Die lig van die regverdige brand vrolik, maar die lamp van die goddelose gaan dood. Vermetelheid gee net getwis af; maar by die wat hulle laat raai, is wysheid. Goed wat uit niks verkry is, word minder; maar hy wat met die hand bymekaarmaak, kry altyd meer. 'n Uitgestelde hoop maak die hart siek; maar 'n wens wat uitkom, is 'n lewensboom.
SPREUKE 13:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Wyse seun laat hom leer deur sy vader, 'n ligsinnige slaan nie eens op dreigemente ag nie. 'n Mens kan voorspoedig word deur altyd die regte woorde te gebruik; onbetroubare mense is net uit op geweld. Wie sy mond in bedwang hou, behou sy lewe; wie sy mond nie kan hou nie, gaan sy ondergang tegemoet. Die luiaard se honger word nie gestil nie; hardwerkende mense het meer as genoeg om te eet. Die regverdige haat leuens; die goddelose maak hom gehaat en veragtelik. Die opregte bly behoue deur sy gehoorsaamheid aan die Here; ongehoorsaamheid laat die sondaar te gronde gaan. Party mense hou hulle ryk maar het niks nie; party doen hulle arm voor maar besit baie. Met sy rykdom moet 'n ryk man hom soms loskoop; 'n arm man kom nie in so 'n gevaar nie. Die lewe van die regverdiges is vol vreugde; die lewenslig van die goddeloses word uitgedoof. Selfverheffing lei altyd tot twis; dié wat goeie raad aanneem, het wysheid. Rykdom wat sommerso gekom het, verminder maklik; wie bietjie vir bietjie bymekaarmaak, word ryk. 'n Verwagting wat nie uitkom nie, maak 'n mens mismoedig; 'n begeerte wat vervul word, bring nuwe lewe.
SPREUKE 13:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Wyse seun aanvaar die vermaning van 'n vader, maar 'n spotter gee nie gehoor aan 'n dreigement nie. Van die vrug van iemand se mond kan hy iets goeds eet, maar verraderlike mense het 'n begeerte na geweld. Wie sy mond bewaak, beskerm sy lewe; wie sy lippe wyd oopmaak, vir hom wag daar ondergang. 'n Luiaard – sy keel begeer, en daar is niks, maar die keel van vlytiges geniet oorvloed. In vals woorde het 'n regverdige 'n weersin, maar 'n goddelose gedra hom stink en tree skandelik op. Geregtigheid bewaak 'n onberispelike leefwyse, maar goddeloosheid werp 'n sondaar omver. Daar is iemand wat hom ryk voordoen, maar heeltemal niks het nie, en iemand wat hom arm voordoen, maar baie besittings het. Die losprys vir die lewe van 'n man is sy rykdom, maar 'n arme hoor nie sulke dreigemente nie. Die lig van regverdiges straal vreugde uit, maar die lamp van goddeloses word uitgedoof. Verwaandheid gee net rusie af, maar by hulle wat raad aanvaar, is daar wysheid. Besittings wat moeiteloos verkry word, sal verminder, maar wie met die hand bymekaarmaak, vermeerder dit. Onvervulde hoop maak die hart siek, maar 'n vervulde wens is 'n boom van lewe.
SPREUKE 13:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
'n Wyse seun luister na die tug van sy vader, maar 'n spotter hoor nie teregwysing nie. 'n Mens sal goed eet uit die vrug van sy mond, maar die siel van die oortreders sal geweld eet. Hy wat sy mond bewaar, bewaar sy lewe; maar hy wat sy lippe wyd oopmaak, sal vernietiging hê. Die siel van die luiaard begeer en het niks nie, maar die siel van die vlytiges sal vet word. 'n Regverdige man haat leuens, maar 'n goddelose is 'n gruwel en kom tot skande. Geregtigheid bewaar hom wat op die pad opreg is, maar goddeloosheid vernietig die sondaar. Daar is wat homself ryk maak, maar niks het nie; daar is wat homself arm maak, maar tog groot rykdom het. Die losprys van 'n man se lewe is sy rykdom, maar die arme luister nie na teregwysing nie. Die lig van die regverdiges is bly, maar die lamp van die goddelose gaan dood. Alleenlik deur hoogmoed kom twis, maar by die wat goed ingelig is, is wysheid. Rykdom wat deur nietigheid verkry is, sal verminder word, maar hy wat deur arbeid insamel, sal vermeerder. Uitgestelde hoop maak die hart siek, maar as die begeerte kom, is dit 'n boom van die lewe.
SPREUKE 13:1-12 Die Boodskap (DB)
’n Slim jongmens vergeet nie sy ouers se opvoeding nie. ’n Domme laat hom deur niemand leer nie, selfs al dreig jy hom. ’n Gelowige se woorde kan baie vir ander mense beteken. Hy trek self ook voordeel daaruit. Slegte mense kan nie genoeg van geweld kry nie. Hy wat sy mond kan hou, bly uit die moeilikheid uit. ’n Kletskous praat maklik sy mond verby en beland in groot moeilikheid. ’n Luiaard smag na baie dinge, maar hy kry niks daarvan nie. Iemand wat hard werk, het kos en klere. Hy het oorgenoeg om van te leef. ’n Gelowige haat alles wat sleg is. ’n Slegte mens tree walglik op. Sy lewe stink van al die vieslikhede. Die regte manier van leef beskerm die gelowige teen verkeerde dinge. Sonde vernietig ’n booswig se lewe heeltemal. Baie mense maak asof hulle ryk is. Eintlik is hulle brandarm. Ander leef nederig terwyl hulle baie geld in die bank het. Rykdom help baie. As jy geld dringend nodig het, is dit beskikbaar. Armoede is sleg, want dit maak die arme weerloos. Hy is altyd aan ander se genade uitgelewer. ’n Gelowige se vreugde skyn soos ’n helder lig wat almal kan sien. Ongelowiges se bietjie blydskap verdwyn in die sand. Dit is soos ’n lamp wat al hoe dowwer brand. Mense wat altyd beter weet, beland maklik in rusies. Gelowiges luister graag na ander en neem hulle standpunte in ag. Kitsrykdom sonder harde werk hou nie lank nie. Wie bietjie vir bietjie spaar, word ryk. Drome wat nie waar word nie, bring hartseer. ’n Wens wat waar word, maak die lewe die moeite werd.
SPREUKE 13:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
’n Wyse seun laat sy pa toe om hom reg te help. Een wat met alles spot, steur hom nie eens aan dreigemente nie. Wat ’n mens sê, kan goeie dinge vir jou bring. Hulle wat afvallig is, soek net na geweld. Iemand wat op sy woorde let, bewaar sy lewe. ’n Eindelose gepratery kan alles ruïneer. Luiaards begeer baie dinge, maar hulle kry dit nie. Mense wat hard werk, kry alles wat hulle begeer. Regverdige mense haat leuens. Goddelose mense bring skade en skande oor hulleself. Geregtigheid bewaar dié wat onberispelik lewe. Goddeloosheid vernietig die sondaar. Sommige mense gee voor hulle is ryk, maar hulle het eintlik niks nie. Ander maak of hulle arm is, maar intussen besit hulle baie. Die ryk man het geld om homself mee los te koop. Die arm man kan nooit afgedreig word nie. Die lewe van die regverdiges is vol vreugde. Die lewenslig van goddeloses word uitgedoof. Selfvoldaanheid lei altyd tot rusies. Hulle wat na ander luister, het wysheid. Rykdom wat maklik kom, verdwyn net so maklik. Wie bietjie vir bietjie bymekaarmaak, het naderhand baie. Verwagtings wat nie realiseer nie, lei tot mismoedigheid. ’n Begeerte wat vervul word, is soos ’n boom wat lewe gee.