SPREUKE 10:24-28
SPREUKE 10:24-28 Bybel vir almal (ABA)
Die mens wat verkeerd doen, kry die dinge waarvoor hy bang is. Die Here gee vir die mense wat reg lewe, alles wat hulle wil hê. Wanneer daar 'n stormwind kom, dan waai dit die mense weg wat verkeerd doen. Mense wat reg lewe, staan altyd vas. Jy moenie 'n lui mens stuur om iets te doen nie, hy is soos asyn vir jou tande, soos rook vir jou oë. As iemand die Here respekteer en Hom dien, dan sal daardie persoon lank lewe. Mense wat verkeerd doen, se lewe is kort. Mense wat reg lewe, sal gelukkig wees, mense wat verkeerd doen, kan nie hoop dat dit later goed sal gaan nie.
SPREUKE 10:24-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Waar die goddelose bang voor is — dit kom oor hom; maar die begeerte van die regverdiges vervul Hy. Wanneer 'n stormwind verbygaan, is die goddelose nie meer nie; maar die regverdige is vir ewig gegrondves. Soos asyn vir die tande en soos rook vir die oë, so is die luiaard vir die wat hom stuur. Die vrees van die HERE vermeerder die dae, maar die jare van die goddelose word verkort. Die verwagting van die regverdiges is vreugde, maar die hoop van die goddelose vergaan.
SPREUKE 10:24-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wat die goddelose vrees, kom hom oor; wat die regverdige begeer, gee God hom. As die stormwind kom, is die goddelose daarmee heen, maar die regverdige bly altyd staan. Soos asyn teen die tande, soos rook in die oë, so is 'n lui mens vir iemand wat hom 'n opdrag gee. Wie die Here dien, lewe lank; wie sonder Hom lewe, se lewensjare is min. Vir die regverdiges lê daar vreugde voor; die goddeloses het geen toekoms nie.
SPREUKE 10:24-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wat 'n goddelose vrees, dit kom hom oor; maar wat regverdiges begeer, dit gee God. Wanneer 'n storm verbytrek, is 'n goddelose nie meer daar nie, maar 'n regverdige is 'n ewige fondament. Soos asyn vir die tande en rook vir die oë, so is 'n leeglêer vir die een wat hom stuur. Ontsag vir die HERE verleng die lewensdae, maar die jare van goddeloses word kortgeknip. Die verwagting van regverdiges is vreugde, maar die hoop van goddeloses vergaan.
SPREUKE 10:24-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die vrees vir die goddelose, dit sal oor hom kom, maar die begeerte van die regverdige word gegee. Soos 'n stormwind verbygaan, so is die goddelose nie meer nie, maar die regverdige is 'n ewige fondament. Soos asyn vir die tande en soos rook vir die oë, so is die luiaard vir die wat hom stuur. Die vrees van die HERE verleng die dae, maar die jare van die goddelose word verkort. Die hoop van die regverdiges is blydskap, maar die verwagting van die goddelose vergaan.
SPREUKE 10:24-28 Die Boodskap (DB)
Iemand wat nie die Here liefhet nie, se lewe is een groot stuk angs. Dit waarvoor hy bang is, word dikwels waar. Maar hulle wat die Here liefhet, se wense word waar. Wanneer die ellende soos ’n storm kom wat alles wil vernietig, kan ’n goddelose dit nie baasraak nie. Hy stort heeltemal in duie. Maar die gelowige kan enige krisis te bowe kom. Soos asyn jou op jou tande laat kners, soos rook jou oë laat brand, so irriterend is ’n luiaard vir sy baas. Liefde vir die Here maak die lewe die moeite werd. Ongelowiges se lewens is kort en vol angs. Dit waarop gelowiges hoop, word waar. Daar kom niks van ongelowiges se hoop nie.
SPREUKE 10:24-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Goddelose mense kom die dinge oor waarvoor hulle bang is. Die regverdige kry waarvoor hy gehoop het. Wanneer teëspoed kom soos ’n stormwind, is goddeloses daarmee heen, maar die regverdiges bly stewig staan. ’n Lui mens is ’n aanstoot vir dié wat hom werk gee. Hy is soos asyn tussen die tande, of soos rook in die oë. Hy wat ontsag het vir die HERE, maak sy lewe langer; die goddelose se lewe word kortgeknip. Die regverdiges kan vreugde verwag, maar goddeloses het geen hoop nie.