FILIPPENSE 4:4-13

FILIPPENSE 4:4-13 Bybel vir almal (ABA)

Julle behoort aan die Here. Daarom moet julle altyd bly wees! Ek sê dit weer, julle moet bly wees! Julle moet vriendelik en geduldig wees met al die mense, want die Here sal gou weer kom! Julle moenie bekommerd wees nie. Julle moet ernstig bid tot God, julle moet vir Hom sê wat julle nodig het en julle moet vir Hom dankie sê daarvoor. Julle behoort aan Christus Jesus. Daarom sal God vir julle vrede gee, vrede wat baie beter is as enige iets waaraan mense kan dink, vrede wat die dinge beskerm wat julle dink. Vriende, ek wil vir julle nog iets sê. Julle moet altyd dink aan die dinge wat waar is, wat mooi is, wat reg is, wat rein is, wat pragtig en goed is. Ja, julle moet dink aan alles wat mooi is, alles waarop 'n mens trots kan wees. Julle het geleer en gehoor en gesien hoe ek lewe. Julle moet dieselfde doen, dan sal God wat vrede gee, by julle wees. Die Here het my baie bly laat word toe julle nou weer begin wys het dat julle aan my dink. Ek weet julle het voorheen ook aan my gedink, maar julle kon dit nie wys nie. Ek sê dit nie omdat ek te min het nie. Ek het geleer om tevrede te wees met dit wat ek het. In my lewe het baie dinge met my gebeur. Partymaal het ek te min gehad en partymaal het ek baie gehad, en so het ek geleer om tevrede te wees. Partymaal het ek genoeg gehad om te eet en partymaal was ek honger. Ja, partymaal het ek baie gehad en partymaal het ek te min gehad. Christus gee vir my die krag om enige iets te doen

FILIPPENSE 4:4-13 Die Boodskap (DB)

Julle hart behoort oor te loop van blydskap omdat julle aan die Here behoort. Ek sê weer, julle moet baie bly wees. Moenie vergeet om almal mooi te behandel nie. Die Here kom mos binnekort terug. Moenie oor dinge sit en tob of jou bekommer nie. Gaan praat met God daaroor. Bespreek dit met Hom. Vertel Hom hoe jy daaroor voel. Sê dan vir Hom dankie dat jy met Hom daaroor kan praat en dat Hy die beste weet. Jy sal dan verlig en tevrede voel. Jy sal hierdie verligte gevoel nie altyd kan verklaar of wetenskaplik kan uitlê nie. Omdat jy egter weet dat jy aan Jesus behoort, sal jy nie meer omgekrap voel nie. Hierdie wete dat Jesus by jou is, sal keer dat die bekommernisse weer met jou emosies weghardloop of dat jy jou weer van voor af begin bekommer. Weet julle waaraan julle moet dink in plaas daarvan om julle te sit en bekommer? Dink aan dit wat vir God saak maak, dinge wat ordentlik en reg is, dinge waaraan God sal dink en waarvan Hy sal hou, dinge wat God sal sê goed is. Moenie julle tyd mors om aan allerhande nuttelose dinge te sit en dink nie. Hou julle besig met dinge wat die moeite werd is en wat God in ’n goeie lig stel. Ek stel mos vir julle ’n goeie voorbeeld. Ek het baie dinge vir julle vertel. Julle het baie by my geleer. Wat julle my gesien doen en gehoor sê het, moet julle net so doen en sê. God sal julle nie los nie. Hy sal by julle bly. By Hom sal julle veilig en gelukkig voel. Ek kan julle nie sê hoe bly ek is dat julle my nie vergeet het nie. Ek is saam met die Here daaroor bly. Vir ’n lang tyd het julle nie kans gehad om dit te wys nie. Maar ek weet dit het nie beteken dat julle nie vir my omgee nie. Daar was net nie vir julle ’n kans om iets te doen nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Dit is nie omdat dit met my so swaar gaan dat ek nie sonder julle hulp kon klaarkom nie. Die lewe het my al geleer om klaar te kom met wat ek het, maak nie saak wat gebeur nie. Ek weet hoe dit voel om arm, nee, brandarm te wees, maar ek weet ook hoe dit voel om genoeg of selfs te veel geld te hê. Maar ek laat nie toe dat sulke dinge my onderkry of met my weghardloop nie. Ek is en bly altyd tevrede, wat my ook al tref. Dit maak nie saak of ek sonder ’n krieseltjie kos gaan slaap of soveel kos het dat ek dit nie alles kan opeet nie. Of ek net die klere aan my lyf het en of ek ’n huis vol goed op my naam het, vir my is dit eintlik maar om’t ewe. Vir alles in die lewe, die goeie of die slegte, sien ek kans omdat Jesus my bron van krag is.

FILIPPENSE 4:4-13

FILIPPENSE 4:4-13 AFR83FILIPPENSE 4:4-13 AFR83