FILIPPENSE 4:4-12
FILIPPENSE 4:4-12 Bybel vir almal (ABA)
Julle behoort aan die Here. Daarom moet julle altyd bly wees! Ek sê dit weer, julle moet bly wees! Julle moet vriendelik en geduldig wees met al die mense, want die Here sal gou weer kom! Julle moenie bekommerd wees nie. Julle moet ernstig bid tot God, julle moet vir Hom sê wat julle nodig het en julle moet vir Hom dankie sê daarvoor. Julle behoort aan Christus Jesus. Daarom sal God vir julle vrede gee, vrede wat baie beter is as enige iets waaraan mense kan dink, vrede wat die dinge beskerm wat julle dink. Vriende, ek wil vir julle nog iets sê. Julle moet altyd dink aan die dinge wat waar is, wat mooi is, wat reg is, wat rein is, wat pragtig en goed is. Ja, julle moet dink aan alles wat mooi is, alles waarop 'n mens trots kan wees. Julle het geleer en gehoor en gesien hoe ek lewe. Julle moet dieselfde doen, dan sal God wat vrede gee, by julle wees. Die Here het my baie bly laat word toe julle nou weer begin wys het dat julle aan my dink. Ek weet julle het voorheen ook aan my gedink, maar julle kon dit nie wys nie. Ek sê dit nie omdat ek te min het nie. Ek het geleer om tevrede te wees met dit wat ek het. In my lewe het baie dinge met my gebeur. Partymaal het ek te min gehad en partymaal het ek baie gehad, en so het ek geleer om tevrede te wees. Partymaal het ek genoeg gehad om te eet en partymaal was ek honger. Ja, partymaal het ek baie gehad en partymaal het ek te min gehad.
FILIPPENSE 4:4-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus. Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is — watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit. En wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit, en die God van vrede sal met julle wees. EK het my grootliks verbly in die Here dat julle nou eindelik weer opgeleef het om aan my belange te dink; waaraan julle ook gedink het, maar julle het die geleentheid nie gehad nie. Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.
FILIPPENSE 4:4-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees. Ek was baie bly in die Here dat julle na so 'n lang tyd weer gewys het dat julle nog aan my dink. Nie dat julle my ooit vergeet het nie, julle het net nie die kans gehad om iets te doen nie. Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.
FILIPPENSE 4:4-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Verbly julle altyd in die Here! Ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in •Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak. Verder, broers, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop. Wat julle van my geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het: hou aan om dit te doen. En die God van vrede sal met julle wees. Ek is in die Here besonder bly dat julle nou uiteindelik opnuut aan my gedink het. Eintlik het julle wel aan my gedink, maar julle het net nie die geleentheid daarvoor gehad nie. Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees. Ek weet wat dit is om te min te hê, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê; ek is in elke opsig in al hierdie dinge ingewy: om versadig te wees, sowel as om honger te ly; om oorvloed te hê, sowel as om gebrek te ly.
FILIPPENSE 4:4-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wees altyd bly in die Here, en ek sê weer: Wees bly. Laat julle matigheid aan alle mense bekend wees. Die Here is byderhand. Pasop vir niks; maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en sinne bewaar deur Christus Jesus. Ten slotte, broeders, alles wat waar is, alles wat eerlik is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lofwaardig is; as daar enige deug is, en as daar enige lof is, dink aan hierdie dinge. Doen daardie dinge wat julle geleer en ontvang en gehoor en in My gesien het, en die God van vrede sal met julle wees. Maar ek was baie bly in die Here, dat julle nou op die laaste weer floreer het; waarin julle ook versigtig was, maar die geleentheid het julle ontbreek. Nie dat ek uit gebrek spreek nie, want ek het geleer om tevrede te wees in watter toestand ek ook al is. Ek weet om verneder te word, en ek weet om oorvloed te hê: oral en in alles is my opgedra om versadig te word sowel as om honger te ly, sowel om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.
FILIPPENSE 4:4-12 Die Boodskap (DB)
Julle hart behoort oor te loop van blydskap omdat julle aan die Here behoort. Ek sê weer, julle moet baie bly wees. Moenie vergeet om almal mooi te behandel nie. Die Here kom mos binnekort terug. Moenie oor dinge sit en tob of jou bekommer nie. Gaan praat met God daaroor. Bespreek dit met Hom. Vertel Hom hoe jy daaroor voel. Sê dan vir Hom dankie dat jy met Hom daaroor kan praat en dat Hy die beste weet. Jy sal dan verlig en tevrede voel. Jy sal hierdie verligte gevoel nie altyd kan verklaar of wetenskaplik kan uitlê nie. Omdat jy egter weet dat jy aan Jesus behoort, sal jy nie meer omgekrap voel nie. Hierdie wete dat Jesus by jou is, sal keer dat die bekommernisse weer met jou emosies weghardloop of dat jy jou weer van voor af begin bekommer. Weet julle waaraan julle moet dink in plaas daarvan om julle te sit en bekommer? Dink aan dit wat vir God saak maak, dinge wat ordentlik en reg is, dinge waaraan God sal dink en waarvan Hy sal hou, dinge wat God sal sê goed is. Moenie julle tyd mors om aan allerhande nuttelose dinge te sit en dink nie. Hou julle besig met dinge wat die moeite werd is en wat God in ’n goeie lig stel. Ek stel mos vir julle ’n goeie voorbeeld. Ek het baie dinge vir julle vertel. Julle het baie by my geleer. Wat julle my gesien doen en gehoor sê het, moet julle net so doen en sê. God sal julle nie los nie. Hy sal by julle bly. By Hom sal julle veilig en gelukkig voel. Ek kan julle nie sê hoe bly ek is dat julle my nie vergeet het nie. Ek is saam met die Here daaroor bly. Vir ’n lang tyd het julle nie kans gehad om dit te wys nie. Maar ek weet dit het nie beteken dat julle nie vir my omgee nie. Daar was net nie vir julle ’n kans om iets te doen nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Dit is nie omdat dit met my so swaar gaan dat ek nie sonder julle hulp kon klaarkom nie. Die lewe het my al geleer om klaar te kom met wat ek het, maak nie saak wat gebeur nie. Ek weet hoe dit voel om arm, nee, brandarm te wees, maar ek weet ook hoe dit voel om genoeg of selfs te veel geld te hê. Maar ek laat nie toe dat sulke dinge my onderkry of met my weghardloop nie. Ek is en bly altyd tevrede, wat my ook al tref. Dit maak nie saak of ek sonder ’n krieseltjie kos gaan slaap of soveel kos het dat ek dit nie alles kan opeet nie. Of ek net die klere aan my lyf het en of ek ’n huis vol goed op my naam het, vir my is dit eintlik maar om’t ewe.
FILIPPENSE 4:4-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wees altyd bly omdat julle weet dat julle aan die Here behoort. Ek sê dit weer: “Wees bly!” Laat almal sien hoe bedagsaam julle lewe. Onthou: Die Here kom binnekort! Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. En God se vrede, wat meer is as wat ’n mens dink, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou omdat julle aan Christus Jesus verbonde is. Ten slotte, broers en susters, vul julle gedagtes met alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is. En leef volgens alles wat julle van my geleer, oorgeneem, gehoor en gesien het. Dan sal die God wat vrede gee, by julle wees. Ek prys die Here met groot blydskap omdat julle weer ’n slag aan my kon dink. Ek weet julle het eintlik heeltyd aan my gedink, maar het net nie die geleentheid gehad om iets te doen nie. Ek sê dit nie omdat ek iets kortkom nie. Ek het regtig geleer om onder alle omstandighede reg te kom. Ek weet wat dit is om boomskraap te lewe, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê. Ek het lewenservaring opgedoen vir alle omstandighede, vir wanneer ek genoeg het om te eet én wanneer ek honger is, vir oorvloed én tekort.