FILIPPENSE 4:10-20

FILIPPENSE 4:10-20 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het my baie bly laat word toe julle nou weer begin wys het dat julle aan my dink. Ek weet julle het voorheen ook aan my gedink, maar julle kon dit nie wys nie. Ek sê dit nie omdat ek te min het nie. Ek het geleer om tevrede te wees met dit wat ek het. In my lewe het baie dinge met my gebeur. Partymaal het ek te min gehad en partymaal het ek baie gehad, en so het ek geleer om tevrede te wees. Partymaal het ek genoeg gehad om te eet en partymaal was ek honger. Ja, partymaal het ek baie gehad en partymaal het ek te min gehad. Christus gee vir my die krag om enige iets te doen, maar julle het die regte ding gedoen toe julle my gehelp het toe ek swaargekry het. Gemeente van Filippi, nadat ek weggegaan het uit die provinsie Masedonië en begin het om die goeie boodskap te bring, het ander gemeentes nie vir my gesorg nie. Julle weet dat net julle vir my gesorg het. Julle het ook 'n paar maal vir my die dinge gestuur wat ek nodig gehad het toe ek in die stad Tessalonika was. Maar dit is nie vir my belangrik dat ek iets van julle ontvang nie. Dit is vir my belangrik dat julle die seën moet ontvang wat mense kry wanneer hulle vir ander mense iets gee. Ek het alles gekry wat julle gestuur het en ek het nou genoeg. Epafroditos het vir my die goed gebring wat julle gestuur het, en nou het ek genoeg. Dit wat julle gestuur het, is 'n offer wat julle vir God gegee het, 'n offer wat Hy graag wil hê, 'n offer waarvan Hy baie hou. My God sal vir julle alles gee wat julle nodig het, want Hy het baie wonderlike dinge wat Hy vir ons wil gee, dinge wat van Christus Jesus kom. Ons prys God, ons Vader, altyd en altyd! Amen.

FILIPPENSE 4:10-20 Die Boodskap (DB)

Ek kan julle nie sê hoe bly ek is dat julle my nie vergeet het nie. Ek is saam met die Here daaroor bly. Vir ’n lang tyd het julle nie kans gehad om dit te wys nie. Maar ek weet dit het nie beteken dat julle nie vir my omgee nie. Daar was net nie vir julle ’n kans om iets te doen nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Dit is nie omdat dit met my so swaar gaan dat ek nie sonder julle hulp kon klaarkom nie. Die lewe het my al geleer om klaar te kom met wat ek het, maak nie saak wat gebeur nie. Ek weet hoe dit voel om arm, nee, brandarm te wees, maar ek weet ook hoe dit voel om genoeg of selfs te veel geld te hê. Maar ek laat nie toe dat sulke dinge my onderkry of met my weghardloop nie. Ek is en bly altyd tevrede, wat my ook al tref. Dit maak nie saak of ek sonder ’n krieseltjie kos gaan slaap of soveel kos het dat ek dit nie alles kan opeet nie. Of ek net die klere aan my lyf het en of ek ’n huis vol goed op my naam het, vir my is dit eintlik maar om’t ewe. Vir alles in die lewe, die goeie of die slegte, sien ek kans omdat Jesus my bron van krag is. Moet my asseblief nie misverstaan nie. Dit was baie mooi van julle om my te help toe dit maar sleg met my gegaan het. My liewe mede-Christene in Filippi, julle onthou mos nog hoe dit in die begin gegaan het. Ek het die goeie boodskap oor Jesus daar in die noordelike deel van Griekeland versprei. Nie ’n enkele gemeente wou my toe help nie. Maar julle was daar! Julle was bereid om te help. Ek was al in Tessalonika toe het julle my nog steeds gehelp. Sommer ’n paar maal het julle vir my iets gestuur toe ek dit regtig nodig gehad het. Tog is die geld wat julle vir my gestuur het nie die belangrikste nie. Wat belangriker is, is dat God vir julle ook wonderlike dinge gaan teruggee omdat julle so goed vir my was. Epafroditos het vir my alles gegee wat julle gestuur het. Nou het ek oorgenoeg, alles wat ek nodig het. God hou baie daarvan. Vir Hom is dit soos ’n wonderlike offer wat baie lekker ruik. Niemand is en kan ooit so ryk en belangrik wees soos God nie. Hy sal vir julle sorg deur vir julle te gee wat julle nodig het. Dit sal Hy doen omdat julle aan Jesus behoort. Al die eer en respek en belangrikheid in hierdie wêreld is God s’n, vir ewig en altyd. So is dit en so sal dit wees.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid