FILIPPENSE 4:10-18
FILIPPENSE 4:10-18 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het my baie bly laat word toe julle nou weer begin wys het dat julle aan my dink. Ek weet julle het voorheen ook aan my gedink, maar julle kon dit nie wys nie. Ek sê dit nie omdat ek te min het nie. Ek het geleer om tevrede te wees met dit wat ek het. In my lewe het baie dinge met my gebeur. Partymaal het ek te min gehad en partymaal het ek baie gehad, en so het ek geleer om tevrede te wees. Partymaal het ek genoeg gehad om te eet en partymaal was ek honger. Ja, partymaal het ek baie gehad en partymaal het ek te min gehad. Christus gee vir my die krag om enige iets te doen, maar julle het die regte ding gedoen toe julle my gehelp het toe ek swaargekry het. Gemeente van Filippi, nadat ek weggegaan het uit die provinsie Masedonië en begin het om die goeie boodskap te bring, het ander gemeentes nie vir my gesorg nie. Julle weet dat net julle vir my gesorg het. Julle het ook 'n paar maal vir my die dinge gestuur wat ek nodig gehad het toe ek in die stad Tessalonika was. Maar dit is nie vir my belangrik dat ek iets van julle ontvang nie. Dit is vir my belangrik dat julle die seën moet ontvang wat mense kry wanneer hulle vir ander mense iets gee. Ek het alles gekry wat julle gestuur het en ek het nou genoeg. Epafroditos het vir my die goed gebring wat julle gestuur het, en nou het ek genoeg. Dit wat julle gestuur het, is 'n offer wat julle vir God gegee het, 'n offer wat Hy graag wil hê, 'n offer waarvan Hy baie hou.
FILIPPENSE 4:10-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EK het my grootliks verbly in die Here dat julle nou eindelik weer opgeleef het om aan my belange te dink; waaraan julle ook gedink het, maar julle het die geleentheid nie gehad nie. Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. Nogtans het julle goed gedoen toe julle deel gehad het in my verdrukking. En julle, Filippense, weet ook dat in die begin van die evangelie, toe ek van Macedónië vertrek het, geen gemeente deel gehad het in my rekening van uitgawe en inkomste nie, behalwe julle alleen. Want ook in Thessaloníka het julle vir my behoefte meer as een maal iets gestuur. Nie dat ek die gawe soek nie, maar ek soek die vrug wat oorvloedig word op julle rekening. Maar ek het alles ontvang, en ek het oorvloed. Ek het dit volop noudat ek van Epafrodítus ontvang het wat deur julle gestuur is, 'n lieflike geur, 'n welgevallige offer, welbehaaglik by God.
FILIPPENSE 4:10-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek was baie bly in die Here dat julle na so 'n lang tyd weer gewys het dat julle nog aan my dink. Nie dat julle my ooit vergeet het nie, julle het net nie die kans gehad om iets te doen nie. Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Nietemin het julle goed gedoen deur my in my moeilike omstandighede by te staan. Julle in Filippi weet ook dat in die begin van my evangelieprediking, na my vertrek uit Masedonië, geen enkele gemeente behalwe julle 'n aandeel gehad het aan my rekening van inkomste en uitgawe nie. Ook toe ek in Tessalonika was, het julle meer as een maal iets vir my behoeftes gestuur. Dit gaan vir my egter nie om die gawe nie, maar om die vrug daarvan: daardeur word julle self ryker. Maar ek het alles ontvang en ek het meer as genoeg. Noudat ek van Epafroditos ontvang het wat julle gestuur het, het ek alles wat ek nodig het. Julle gawe is voor God 'n offer met lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig.
FILIPPENSE 4:10-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek is in die Here besonder bly dat julle nou uiteindelik opnuut aan my gedink het. Eintlik het julle wel aan my gedink, maar julle het net nie die geleentheid daarvoor gehad nie. Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees. Ek weet wat dit is om te min te hê, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê; ek is in elke opsig in al hierdie dinge ingewy: om versadig te wees, sowel as om honger te ly; om oorvloed te hê, sowel as om gebrek te ly. Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee. Nogtans was dit goed van julle om in my swaarkry te deel. Julle weet ook, Filippense, dat aan die begin van my evangelieverkondiging, toe ek van Macedonië vertrek het, geen •gemeente tot my rekening van inkomste en uitgawes bygedra het nie, behalwe slegs julle. Ook in Thessalonika het julle meer as een maal iets vir my behoeftes gestuur. Dit is nie dat ek van julle 'n bydrae verlang nie; ek verlang eerder dat die opbrengs op julle belegging toenemend sal groei. Ek is ten volle vergoed, en het meer as genoeg; ek is ten volle versorg, noudat ek van Epafroditus ontvang het wat van julle af kom: 'n geurige offer, 'n aanneemlike offergawe wat God behaag.
FILIPPENSE 4:10-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar ek was baie bly in die Here, dat julle nou op die laaste weer floreer het; waarin julle ook versigtig was, maar die geleentheid het julle ontbreek. Nie dat ek uit gebrek spreek nie, want ek het geleer om tevrede te wees in watter toestand ek ook al is. Ek weet om verneder te word, en ek weet om oorvloed te hê: oral en in alles is my opgedra om versadig te word sowel as om honger te ly, sowel om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. Nieteenstaande het julle goed gedoen, dat julle met my ellende gekommunikeer het. Nou weet julle ook, Filippense, dat in die begin van die evangelie, toe ek uit Masedonië vertrek het, geen gemeente met my gekommunikeer het oor gee en ontvang nie, behalwe julle alleen. Want selfs in Tessalonika het julle keer op keer na my behoefte gestuur. Nie omdat ek 'n gawe begeer nie, maar ek begeer vrugte wat oorvloedig kan wees vir julle rekening. Maar ek het alles en is oorvloedig: ek is versadig, nadat ek van Epafroditus die dinge ontvang het wat van julle gestuur is, 'n geur van 'n lieflike geur, 'n welgevallige offer, aan God welgevallig.
FILIPPENSE 4:10-18 Die Boodskap (DB)
Ek kan julle nie sê hoe bly ek is dat julle my nie vergeet het nie. Ek is saam met die Here daaroor bly. Vir ’n lang tyd het julle nie kans gehad om dit te wys nie. Maar ek weet dit het nie beteken dat julle nie vir my omgee nie. Daar was net nie vir julle ’n kans om iets te doen nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Dit is nie omdat dit met my so swaar gaan dat ek nie sonder julle hulp kon klaarkom nie. Die lewe het my al geleer om klaar te kom met wat ek het, maak nie saak wat gebeur nie. Ek weet hoe dit voel om arm, nee, brandarm te wees, maar ek weet ook hoe dit voel om genoeg of selfs te veel geld te hê. Maar ek laat nie toe dat sulke dinge my onderkry of met my weghardloop nie. Ek is en bly altyd tevrede, wat my ook al tref. Dit maak nie saak of ek sonder ’n krieseltjie kos gaan slaap of soveel kos het dat ek dit nie alles kan opeet nie. Of ek net die klere aan my lyf het en of ek ’n huis vol goed op my naam het, vir my is dit eintlik maar om’t ewe. Vir alles in die lewe, die goeie of die slegte, sien ek kans omdat Jesus my bron van krag is. Moet my asseblief nie misverstaan nie. Dit was baie mooi van julle om my te help toe dit maar sleg met my gegaan het. My liewe mede-Christene in Filippi, julle onthou mos nog hoe dit in die begin gegaan het. Ek het die goeie boodskap oor Jesus daar in die noordelike deel van Griekeland versprei. Nie ’n enkele gemeente wou my toe help nie. Maar julle was daar! Julle was bereid om te help. Ek was al in Tessalonika toe het julle my nog steeds gehelp. Sommer ’n paar maal het julle vir my iets gestuur toe ek dit regtig nodig gehad het. Tog is die geld wat julle vir my gestuur het nie die belangrikste nie. Wat belangriker is, is dat God vir julle ook wonderlike dinge gaan teruggee omdat julle so goed vir my was. Epafroditos het vir my alles gegee wat julle gestuur het. Nou het ek oorgenoeg, alles wat ek nodig het. God hou baie daarvan. Vir Hom is dit soos ’n wonderlike offer wat baie lekker ruik. Niemand is en kan ooit so ryk en belangrik wees soos God nie.
FILIPPENSE 4:10-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek prys die Here met groot blydskap omdat julle weer ’n slag aan my kon dink. Ek weet julle het eintlik heeltyd aan my gedink, maar het net nie die geleentheid gehad om iets te doen nie. Ek sê dit nie omdat ek iets kortkom nie. Ek het regtig geleer om onder alle omstandighede reg te kom. Ek weet wat dit is om boomskraap te lewe, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê. Ek het lewenservaring opgedoen vir alle omstandighede, vir wanneer ek genoeg het om te eet én wanneer ek honger is, vir oorvloed én tekort. Ek kan alles doen deur Hom wat my krag gee. Nietemin, julle het goedgedoen deur my in my swaarkry by te staan. Julle, Filippense, weet wat in die beginjare met die uitdra van die Goeie Nuus gebeur het. Toe ek van Masedonië af vertrek het, het geen gemeente behalwe julle my finansieel ondersteun nie. Selfs toe ek in Tessalonika was, het julle meer as een keer iets gestuur om my te help. Nie dat ek ’n skenking soek nie; ek soek die resultaat daarvan: groter krediet op julle rekening! Op hierdie stadium het ek alles ontvang – en meer as genoeg! Met dit wat julle saam met Epafroditus gestuur het, het ek alles wat ek nodig het. Wat julle gestuur het, is ’n lieflike reukoffer waarvan God hou.