FILIPPENSE 4:1-5
FILIPPENSE 4:1-5 Bybel vir almal (ABA)
My vriende, ek is baie lief vir julle en ek verlang na julle. Julle maak my bly en ek is baie trots op julle. Ek wil hê julle moet aanhou glo in die Here. Euodia en Sintige, ek vra vir julle om saam te werk, want julle altwee behoort aan die Here. En jy wat altyd saam met my werk, ek vra ook vir jou om hierdie twee vroue te help. Hulle het altwee hard saam met my gewerk om vir ander mense die goeie boodskap te bring, soos Klemens en my ander helpers ook gedoen het. Hulle name is almal geskryf in die boek van die lewe. Julle behoort aan die Here. Daarom moet julle altyd bly wees! Ek sê dit weer, julle moet bly wees! Julle moet vriendelik en geduldig wees met al die mense, want die Here sal gou weer kom!
FILIPPENSE 4:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DAAROM, my geliefde broeders, na wie ek ook verlang, my blydskap en kroon, staan so vas in die Here, geliefdes. Ek vermaan Euódia en ek vermaan Síntiché om eensgesind te wees in die Here. En ek vra jou ook, opregte metgesel, wees hierdie vroue behulpsaam wat met my saam gestry het in die evangelie, ook saam met Clemens en my ander mede-arbeiders wie se name in die boek van die lewe is. Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby.
FILIPPENSE 4:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarom, my broers, moet julle vas staan en getrou bly aan die Here. Ek het julle baie lief en verlang na julle. Julle is my blydskap en my kroon. Ek vermaan vir Euodia en ek vermaan vir Sintige om eensgesind te wees in die Here. Ja, ek vra jou ook, getroue medewerker, wees hierdie vroue behulpsaam. Hulle het saam met my die stryd gevoer in diens van die evangelie, net soos Klemens ook en my ander medewerkers, wie se name in die boek van die lewe staan. Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby.
FILIPPENSE 4:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarom, my broers, julle vir wie ek lief is, en na wie ek verlang, my vreugde en my kroon – geliefdes, staan dan só vas in die Here. Ek vermaan Euodia en ek vermaan Sintige om in die Here eensgesind te wees. Ja, ek vra jou ook, getroue medewerker, help hierdie vroue. Hulle het saam met my vir die saak van die evangelie gestry, ook saam met Klemens en my ander medewerkers wie se name in die boekrol van die lewe staan. Verbly julle altyd in die Here! Ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby.
FILIPPENSE 4:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom, my geliefde broeders en wat na my verlang, my vreugde en kroon, staan so vas in die Here, my dierbare geliefde. Ek smeek Euodias en Syntige dat hulle eensgesind moet wees in die Here. En ek smeek jou ook, ware jukgenoot, help daardie vroue wat saam met my gewerk het in die evangelie, ook met Klemens en met ander my medearbeiders wie se name in die boek van die lewe is. Wees altyd bly in die Here, en ek sê weer: Wees bly. Laat julle matigheid aan alle mense bekend wees. Die Here is byderhand.
FILIPPENSE 4:1-5 Die Boodskap (DB)
Ai, broers en susters, ek verlang so na julle, want ek het julle lief. Julle maak my bly en laat my soos ’n koning voel. Daarom, my goeie vriende, is dit vir my so belangrik dat julle getrou op die pad sal bly wat die Here vir ons gewys het. Euodia en Sintige, ek vra julle baie mooi: los julle geskille op. Julle behoort mos al twee aan die Here. En ek vra by name vir jou, getroue vriend wat so lekker met my saamwerk, om hierdie twee vroue te help. Hulle het baie saam met my gedoen en verduur om vir mense van die goeie boodskap te vertel. Hulle kan in een asem genoem word met Klemens en van die ander wat saam met my gewerk het. Hulle name staan opgeteken in die boek waarin almal se name opgeskryf is wat vir ewig saam met God sal lewe. Julle hart behoort oor te loop van blydskap omdat julle aan die Here behoort. Ek sê weer, julle moet baie bly wees. Moenie vergeet om almal mooi te behandel nie. Die Here kom mos binnekort terug.
FILIPPENSE 4:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
My broers en susters, ek het julle lief en verlang baie na julle. Júlle maak my bly, ja, op júlle is ek baie trots. Geliefdes, bly dan nou regtig getrou aan die Here. Ek moedig sowel Euodia as Sintige aan om hulle meningsverskille op te los omdat hulle aan die Here verbonde is. En ek vra ook dat jy, getroue kollega, hulle sal help. Hulle het hard gewerk saam met my en ook saam met Klemens en die ander medewerkers om die Goeie Nuus uit te dra. Hulle almal se name staan opgeskryf in die Boek van die Lewe. Wees altyd bly omdat julle weet dat julle aan die Here behoort. Ek sê dit weer: “Wees bly!” Laat almal sien hoe bedagsaam julle lewe. Onthou: Die Here kom binnekort!