FILIPPENSE 3:5-11
FILIPPENSE 3:5-11 Bybel vir almal (ABA)
My ouers het my laat besny toe ek ag dae oud was. Ek behoort aan die volk Israel, ek behoort aan die Benjamin-stam, ek is 'n ware Jood, en ek was 'n Fariseër wat alles gedoen het wat die wette sê. Die Joodse godsdiens was vir my so belangrik dat ek die kerk van God wou verwoes. Ek het gedink God sal my vryspreek van my sonde, want ek het alles gedoen wat die wette sê. Ja, ek het gedink al hierdie dinge is baie belangrik, maar ek het in Christus begin glo, en toe het ek besef dit alles beteken niks! Ek weet nou die belangrikste ding in die lewe is om Christus Jesus, my Here, te ken! Al die ander dinge beteken niks. Christus is vir my so belangrik dat ek al die ander dinge gelos het, ek dink dit is alles gemors. Ek het iets gekry wat baie beter is as daardie dinge, ek het vir Christus gekry! Ek behoort nou aan Christus. God het my vrygespreek omdat ek in Christus glo, nie omdat ek doen wat die wette sê nie, maar omdat ek glo. Nou ken ek Hom en ek voel sy krag in my lewe, die krag wat Hom weer laat lewe het. Ek kry ook swaar, soos Hy swaargekry het. Ja, ek sterf soos Hy gesterf het, en ek glo dat God my ook weer kan laat lewe nadat ek gesterf het.
FILIPPENSE 3:5-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, 'n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, 'n Fariseër; wat ywer betref, 'n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik. Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik.
FILIPPENSE 3:5-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
ek is op die agste dag besny, van geboorte 'n Israeliet, uit die stam Benjamin, 'n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek 'n Fariseër, in my ywer 'n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik. Maar wat eers vir my 'n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat 'n mens in Hom glo. Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.
FILIPPENSE 3:5-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek is besny op die agtste dag, afkomstig uit die volk Israel, uit die stam van Benjamin, 'n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, 'n •Fariseër, wat ywer betref, 'n vervolger van die •kerk, wat •geregtigheid op grond van wetsbeoefening betref, onberispelik. Maar alles wat vir my wins was, reken ek nou as verlies, ter wille van Christus. Inderdaad reken ek alles as verlies, ter wille van die uitnemendheid daarvan om Christus Jesus, my Here, te ken. Ter wille van Hom, het alles vir my 'n verlies geword, en beskou ek dit as vullis, sodat ek Christus as wins kan verkry, en in Hom bevind kan word – nie met my eie geregtigheid op grond van die wet nie, maar met die geregtigheid deur geloof in Christus, die regverdiging wat van God kom, deur die geloof – en sodat ek Christus kan ken, die krag van sy opstanding, en die verbondenheid met sy lyding, deur aan sy dood gelykvormig te word, en ek so, hoe dan ook, die opstanding uit die dood kan bereik.
FILIPPENSE 3:5-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Op die agtste dag besny, uit die geslag van Israel, van die stam van Benjamin, 'n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, 'n Fariseër; Wat ywer betref, die vervolging van die gemeente; wat die geregtigheid aanraak wat in die wet is, onberispelik. Maar wat vir my wins was, dit het ek vir Christus skade geag. Ja, ongetwyfeld, en ek ag alles maar skade weens die voortreflikheid van die kennis van Christus Jesus, my Here; vir wie ek alles verloor het en dit as mis beskou, om Christus te wen, en in Hom gevind word, nie met my eie geregtigheid wat uit die wet is nie, maar wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof. Sodat ek Hom kan ken, en die krag van sy opstanding en die gemeenskap van sy lyde, wat aan sy dood gelykvormig gemaak word; As ek op enige manier die opstanding van die dooies kan bereik.
FILIPPENSE 3:5-11 Die Boodskap (DB)
is ek op die agtste dag besny. Dan is ek ook nog deel van die room van die Israeliete: ek is ’n Benjaminiet. Ek is vlot in die Hebreeus wat in die godsdienstige byeenkomste van die Jode gebruik word, en nie elkeen kan dit sê nie. Ek was ook ’n lid van die party van die Fariseërs, ’n groep wat die Joodse wet stiptelik nakom. In daardie tyd was ek so ernstig oor my Joodse godsdiens dat ek al wat Christen was, ywerig vervolg het. Ja-nee, volgens die Joodse wet het ek nie ’n voet verkeerd gesit nie. Al dié dinge was eers vir my ook baie belangrik. Maar Christus het my oë laat oopgaan. Dit het glad geen waarde meer vir my nie. Ek het besef hoe dit ’n mens se aandag kan aftrek van wat regtig belangrik is, en dit is dat ek Christus Jesus as my Here leer ken het. Dit het my laat besef dat al hierdie ander dinge eintlik niks in vergelyking daarmee is nie. Vandat my pad Jesus s’n gekruis het, het die hele manier waarop ek na dinge kyk, verander. Al daardie dinge wat eers vir my so belangrik was, is nou vir my minder as niks werd, want Jesus het vir my alles geword. Hy is nou vir my belangriker as alle ander dinge tesame. Daarom het ek alles gelos vir Hom. Wanneer God na my kyk, moet Hy sien dat ek in ’n intieme verhouding met Jesus staan. Jesus het mos my saak met God reggemaak. Dit was nie omdat ek so mooi na die wet geluister het nie, maar omdat ek Jesus vertrou. Vrede en goeie verhoudings tussen God en mens word ervaar deur almal wat in Jesus glo. God sorg daarvoor. Een ding wil ek nou regtig graag hê, en dit is om Jesus te ken. Daardie krag wat Jesus lewend uit die graf laat uitstap het, wil ek ook hê. Ek wil nie weghardloop vir lyding soos Jesus s’n nie, al beteken dit ook dat ek soos Hy moet sterf. Ek weet tog dat ek soos Hy eendag lewendig uit die kloue van die dood sal stap.
FILIPPENSE 3:5-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek is op die agtste dag besny. Ek is ’n gebore Israeliet, uit die stam van Benjamin. ’n Egte Hebreër! As lid van die Fariseërs het ek streng volgens Joodse wette gelewe. Ek was fanaties en het die kerk vervolg! Wat wetsgehoorsaamheid betref as metode om my saak met God reg te maak, was ek onberispelik! Alhoewel ek hierdie menslike dinge eers as ’n wins beskou het, beskou ek dit ter wille van Christus nou as ’n verlies. Ja, om Christus Jesus, my Here, te ken is só wonderlik dat ek alle ander dinge as ’n verlies beskou. Ter wille van Hom het ek alles as verlies afgeskryf. Ek beskou dit as gemors sodat ek Christus as wins kan verkry en een met Hom kan wees. Ek probeer nie langer my saak met God regstel deur die wet te gehoorsaam nie, maar deur in Christus te glo. Deur die geloof stel God ons saak met Hom reg. Op hierdie manier kan ek Christus ken en die krag beleef wat Hom laat opstaan het. Deur saam met Hom te ly kry ek deel aan sy dood in die hoop dat ek die opstanding uit die dood kan beleef!