FILIPPENSE 3:3-8
FILIPPENSE 3:3-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie. Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou. As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: ek is op die agste dag besny, van geboorte 'n Israeliet, uit die stam Benjamin, 'n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek 'n Fariseër, in my ywer 'n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik. Maar wat eers vir my 'n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry
FILIPPENSE 3:3-8 Bybel vir almal (ABA)
Ons het die regte besnydenis, want die Gees van God help ons om vir God te dien. Ons is trots op Christus Jesus, en ons het self dinge reggekry, maar ons weet daardie dinge sal ons nie red nie. Ek kan praat oor baie dinge in my lewe. Ander mense dink hierdie dinge kan 'n mens red. Hulle dink hulle kan praat oor baie dinge in hulle lewens, maar ek kan oor baie meer praat: My ouers het my laat besny toe ek ag dae oud was. Ek behoort aan die volk Israel, ek behoort aan die Benjamin-stam, ek is 'n ware Jood, en ek was 'n Fariseër wat alles gedoen het wat die wette sê. Die Joodse godsdiens was vir my so belangrik dat ek die kerk van God wou verwoes. Ek het gedink God sal my vryspreek van my sonde, want ek het alles gedoen wat die wette sê. Ja, ek het gedink al hierdie dinge is baie belangrik, maar ek het in Christus begin glo, en toe het ek besef dit alles beteken niks! Ek weet nou die belangrikste ding in die lewe is om Christus Jesus, my Here, te ken! Al die ander dinge beteken niks. Christus is vir my so belangrik dat ek al die ander dinge gelos het, ek dink dit is alles gemors. Ek het iets gekry wat baie beter is as daardie dinge, ek het vir Christus gekry!
FILIPPENSE 3:3-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie; alhoewel ek rede het om ook te vertrou op die vlees. As iemand anders meen dat hy op die vlees kan vertrou, ek nog meer. Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, 'n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, 'n Fariseër; wat ywer betref, 'n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik. Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry
FILIPPENSE 3:3-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Want ons is die besnydenis, ons wat God deur sy Gees dien, ons wat ons op •Christus Jesus beroem, en nie op die liggaamlike dinge vertrou nie, al het ek self rede om op menslike dinge te vertrou. As iemand anders dink dat hy op menslike dinge kan vertrou, ek nog meer – Ek is besny op die agtste dag, afkomstig uit die volk Israel, uit die stam van Benjamin, 'n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, 'n •Fariseër, wat ywer betref, 'n vervolger van die •kerk, wat •geregtigheid op grond van wetsbeoefening betref, onberispelik. Maar alles wat vir my wins was, reken ek nou as verlies, ter wille van Christus. Inderdaad reken ek alles as verlies, ter wille van die uitnemendheid daarvan om Christus Jesus, my Here, te ken. Ter wille van Hom, het alles vir my 'n verlies geword, en beskou ek dit as vullis, sodat ek Christus as wins kan verkry
FILIPPENSE 3:3-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want ons is die besnydenis, ons wat God in die gees aanbid en in Christus Jesus verheug en nie op die vlees vertrou nie. Al kan ek ook op die vlees vertrou. As iemand anders meen dat hy iets het waarop hy op die vlees kan vertrou, ek nog meer: Op die agtste dag besny, uit die geslag van Israel, van die stam van Benjamin, 'n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, 'n Fariseër; Wat ywer betref, die vervolging van die gemeente; wat die geregtigheid aanraak wat in die wet is, onberispelik. Maar wat vir my wins was, dit het ek vir Christus skade geag. Ja, ongetwyfeld, en ek ag alles maar skade weens die voortreflikheid van die kennis van Christus Jesus, my Here; vir wie ek alles verloor het en dit as mis beskou, om Christus te wen
FILIPPENSE 3:3-8 Die Boodskap (DB)
Ons, die Christene, weet mos wat regtig saak maak. Dit hang nie af van wat mense aan jou doen nie, maar wat God aan jou doen. God self (en nie mense nie) het sy hand op ons gelê. Dit is nie sommer net iets fisieks wat met ons gebeur (soos met die Joodse gebruike) nie, maar God se Gees verander ons hart. Wanneer ons met God praat en Hom dien, weet ons dat dit sy Gees is wat ons help. Moenie my misverstaan nie. Ek sê nie dit is ons wat so goed is nie. Nee, ek sê dit omdat Jesus dit vir ons moontlik gemaak het. As dit wat God aan jou doen iets is wat regtig saak maak, staan ek nie ’n duim vir die ander terug nie. Op menslike vlak kan ek ’n lang lys dinge opstel wat julle baie sal beïndruk. Luister net. Ek is deur en deur ’n Israeliet. Soos van elke goeie, gelowige Israeliet verwag word, is ek op die agtste dag besny. Dan is ek ook nog deel van die room van die Israeliete: ek is ’n Benjaminiet. Ek is vlot in die Hebreeus wat in die godsdienstige byeenkomste van die Jode gebruik word, en nie elkeen kan dit sê nie. Ek was ook ’n lid van die party van die Fariseërs, ’n groep wat die Joodse wet stiptelik nakom. In daardie tyd was ek so ernstig oor my Joodse godsdiens dat ek al wat Christen was, ywerig vervolg het. Ja-nee, volgens die Joodse wet het ek nie ’n voet verkeerd gesit nie. Al dié dinge was eers vir my ook baie belangrik. Maar Christus het my oë laat oopgaan. Dit het glad geen waarde meer vir my nie. Ek het besef hoe dit ’n mens se aandag kan aftrek van wat regtig belangrik is, en dit is dat ek Christus Jesus as my Here leer ken het. Dit het my laat besef dat al hierdie ander dinge eintlik niks in vergelyking daarmee is nie. Vandat my pad Jesus s’n gekruis het, het die hele manier waarop ek na dinge kyk, verander. Al daardie dinge wat eers vir my so belangrik was, is nou vir my minder as niks werd, want Jesus het vir my alles geword. Hy is nou vir my belangriker as alle ander dinge tesame. Daarom het ek alles gelos vir Hom. Wanneer God na my kyk, moet Hy sien dat ek in ’n intieme verhouding met Jesus staan. Jesus het mos my saak met God reggemaak. Dit was nie omdat ek so mooi na die wet geluister het nie
FILIPPENSE 3:3-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ons wat God deur sy Gees dien, het mos klaar die ware besnydenis. Ons beroep ons op wat Christus Jesus gedoen het en nie op menslike dinge nie. Nietemin sou ek ook op menslike dinge kon vertrou. As iemand meen om op menslike dinge te vertrou, ek nog méér! Ek is op die agtste dag besny. Ek is ’n gebore Israeliet, uit die stam van Benjamin. ’n Egte Hebreër! As lid van die Fariseërs het ek streng volgens Joodse wette gelewe. Ek was fanaties en het die kerk vervolg! Wat wetsgehoorsaamheid betref as metode om my saak met God reg te maak, was ek onberispelik! Alhoewel ek hierdie menslike dinge eers as ’n wins beskou het, beskou ek dit ter wille van Christus nou as ’n verlies. Ja, om Christus Jesus, my Here, te ken is só wonderlik dat ek alle ander dinge as ’n verlies beskou. Ter wille van Hom het ek alles as verlies afgeskryf. Ek beskou dit as gemors sodat ek Christus as wins kan verkry