FILIPPENSE 2:14-18
FILIPPENSE 2:14-18 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet dit alles doen, julle moenie daaroor kla en terugpraat nie. Dan sal julle heeltemal reg lewe, julle sal niks verkeerd doen nie. Julle lewe nou tussen mense wat baie sleg is en wat sonde doen, maar julle moet God se kinders wees, julle moet reg lewe. Julle moet soos ligte wees wat in 'n donker wêreld skyn en julle moet vas glo in die boodskap wat die ware lewe gee vir mense. Dan sal ek trots kan wees op julle op die dag wanneer Christus kom, want ek sal weet dat my harde werk met julle geslaag het. Julle geloof is 'n offer wat julle gee om God te dien. As ek moet sterf, dan sal my bloed wees soos 'n drank-offer wat iemand by julle offer uitgooi, maar ek sal bly wees daaroor. Ja, ek sal bly wees saam met julle. Julle moet ook bly wees, julle moet bly wees saam met my!
FILIPPENSE 2:14-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Doen alles sonder murmurering en teëspraak, sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van 'n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld, deurdat julle die woord van die lewe vashou, my tot 'n roem teen die dag van Christus, dat ek nie verniet geloop of verniet gearbei het nie. Maar al word ek as 'n drankoffer uitgegiet oor die offer en bediening van julle geloof, verbly ek my, ja, verbly ek my saam met julle almal; en om dieselfde rede moet julle ook bly wees en julle saam met my verbly.
FILIPPENSE 2:14-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Doen alles sonder kla of teëpraat. Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra. Dan sal ek op die dag van Christus se koms rede hê om trots te wees, omdat dit sal blyk dat ek my nie verniet ingespan het nie en nie verniet geswoeg het nie. Julle geloof is 'n offer in diens van God. Selfs al word my bloed daarby as drankoffer uitgegiet, is ek daaroor bly, ja, is ek saam met julle almal bly. Om dieselfde rede moet julle ook bly wees, ja, saam met my bly wees.
FILIPPENSE 2:14-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Doen alles sonder kla en teenpraat, sodat julle sonder blaam en onskuldig kan wees, kinders van God, smetteloos, te midde van 'n krom en ontaarde geslag. Julle skyn onder hulle soos sterre in die heelal, deurdat julle vashou aan die woord van die lewe. Op hierdie manier sal julle op die dag van •Christus my rede tot roem wees, sodat ek nie vergeefs gehardloop of my vergeefs ingespan het nie. Maar al word ek ook as •drankoffer uitgegiet oor die offer en bediening van julle geloof, verbly ek my, en verbly ek my saam met julle almal. Verbly julle ook so, ja, verbly julle saam met my.
FILIPPENSE 2:14-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Doen alles sonder murmurering en twis: Sodat julle onberispelik en onskadelik kan wees, kinders van God, sonder teregwysing, te midde van 'n krom en verdraaide nasie, onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld; Hou die woord van die lewe voor; dat ek my kan verbly in die dag van Christus, dat ek nie tevergeefs gehardloop en nie tevergeefs gearbei het nie. Ja, en as ek geoffer word deur die offerande en diens van julle geloof, verheug ek my en is ek bly saam met julle almal. Om dieselfde rede moet julle ook bly wees en saam met My bly wees.
FILIPPENSE 2:14-18 Die Boodskap (DB)
Doen alles sonder om te kla of te stry. Dan sal niemand julle kan beskuldig van agterbaksheid of verkeerde motiewe nie. Niemand sal oor julle as kinders van God kan kla nie - al bly julle tussen mense wat korrup en sonder gewete is. Juis tussen hulle moet julle soos helder ligte in ’n donker wêreld skyn. Vir hierdie mense in die geestelike donker moet julle van Christus vertel sodat hulle ook die ware lewe kan kry. Hoe trots sal ek dan nie op julle wees wanneer Christus weer kom nie! Dit sal wys dat ek nie alles verniet gedoen en my tyd gemors het nie. Selfs al word ek nou doodgemaak, sal dit my ook nie pla nie, want ek het dan iets om vir God te gee. My dood kan só selfs vir julle help om God nog beter te dien. Dit sal my baie bly maak, soos ook vir julle. Julle moet bly wees saam met my. Ja, my vreugde moet julle s’n wees en julle s’n myne.
FILIPPENSE 2:14-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Doen alles sonder kla of teëpraat. Dan sal julle as onberispelike kinders van God bo verdenking staan. Julle sal skoon lewe in ’n wêreld vol oneerlike en perverse mense. Skyn in hierdie donker wêreld soos helder sterre deur noukeurig te leef volgens die boodskap wat tot die lewe lei. Dan, wanneer Christus terugkom, sal ek tevrede wees dat ek nie verniet gejaag en geswoeg het nie. Selfs al word my lewe soos ’n drankoffer uitgegiet bo-op die offer van julle gelowige diens aan God, is ek bly daaroor en wil ek saam met julle almal bly wees daaroor. Laat my vreugde hieroor ook julle vreugde wees!