FILIPPENSE 2:1-8
FILIPPENSE 2:1-8 Bybel vir almal (ABA)
Julle behoort aan Christus en Hy maak julle geloof sterk. Julle is lief vir mekaar en julle help mekaar. Julle almal het die Heilige Gees in julle harte en daarom behoort julle aan mekaar. Julle is bekommerd oor mekaar en julle sorg vir mekaar. Daaroor is ek bly, maar julle moet my nog blyer maak: Julle moet dieselfde dinge dink, julle moet dieselfde liefde in julle harte hê, julle moet in julle harte dieselfde voel en dieselfde dinge wil doen. Wanneer julle iets doen, dan moet julle dit nie doen omdat julle selfsugtig is of omdat julle dink julle is baie belangrik nie. Julle moenie hoogmoedig wees nie, julle moet dink ander gelowiges is belangriker as julleself. Julle moenie net aan julleself dink nie, julle moet ook aan die ander gelowiges dink. Julle moet dink en doen soos Christus Jesus gedink en gedoen het: Hy was dieselfde soos God, maar Hy het nie gedink dat Hy altyd moet aanhou om so belangrik soos God te wees nie. Hy het Homself verneder en Hy het geword soos 'n slaaf, Hy het 'n mens geword soos ons. Toe Hy 'n mens geword het, het Hy Homself nog meer verneder, Hy was gehoorsaam en Hy het gesterf. Ja, Hy het aan die kruis gesterf.
FILIPPENSE 2:1-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
AS daar dan enige troos in Christus is, as daar enige vertroosting van die liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming is, maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin. Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s'n. Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.
FILIPPENSE 2:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.
FILIPPENSE 2:1-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarom, as daar enige aansporing in •Christus is, as daar enige troos uit die liefde is, as daar enige gemeenskap van die Gees is, as daar enige innige meelewing en ontferming is, maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees – een in liefde, een van gees, een in denke; deur nie iets uit selfsug of ydelheid te doen nie, maar in nederigheid die een die ander hoër te ag as homself; deur elkeen nie net na sy eie belange om te sien nie, maar ook na dié van ander. Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees: Hoewel Hy in die gestalte van God was, het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie, maar Hy het Homself daarvan leeggemaak, deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy in die vorm van 'n mens verskyn het, het Hy Homself verneder, deurdat Hy gehoorsaam geword het tot die dood toe, ja, die dood aan die kruis.
FILIPPENSE 2:1-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
As daar dan enige vertroosting in Christus is, as enige vertroosting van liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innerlike en barmhartigheid is, Vervul my blydskap, dat julle eensgesind is, dieselfde liefde het, eensgesind, eensgesind. Laat niks uit twis of ydelheid geskied nie; maar laat elkeen in nederigheid die ander beter ag as homself. Moenie elkeen na sy eie dinge kyk nie, maar elkeen ook na die dinge van ander. Laat hierdie gesindheid in julle wees wat ook in Christus Jesus was: wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie. Maar hy het geen aansien gemaak nie, en het die gestalte van 'n dienskneg aangeneem en aan mense gelyk geword. En toe Hy in gedaante gevind is as 'n mens, het Hy Homself verneder en gehoorsaam geword tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.
FILIPPENSE 2:1-8 Die Boodskap (DB)
As julle Christenskap vir julle enigiets beteken; as julle liefde vir mekaar julle deur moeilike tye gedra het; as die teenwoordigheid van die Gees enige verskil in julle lewe gemaak het; as julle weet wat dit beteken om iets vir mekaar te voel, ja, om vir mekaar om te gee, wil ek julle ’n groot guns vra. Moenie gedurig met mekaar stry en baklei nie. Konsentreer liewer op die dinge waaroor julle saamstem. Wees lojaal teenoor mekaar. Voel saam, streef saam, doen saam. As julle dit doen, sal julle my regtig baie bly maak. Moenie net aan julleself dink of heeltyd aandag soek nie. Wees liewer maar die minste sodat ander die meeste kan wees. Niemand moet net aan homself dink nie. Elkeen moet ook aan die ander om hom dink. Julle moet Christus Jesus se voorbeeld volg. Soos Hy oor dinge gedink en gevoel het, so moet julle ook daaroor dink en voel. Laat ek verduidelik wat ek bedoel. Jesus staan in status op gelyke voet met God. Hy was egter nie so vol van Homself dat Hy tot elke prys aan dié status wou vasklou nie. Toe die tyd ryp was, het Hy die status en eer wat Hy gehad het eenkant toe geskuif. Hy het ’n mens tussen mense geword. Asof dit nie genoeg was nie, het Hy sommer ’n gewone mens geword wat op die oog af nie uitsonderlik gelyk het nie, ja, iemand van wie baie ander mense niks gedink het nie. As mens onder mense het Hy die pad van vernedering nog verder geloop. Dit sou Hom uiteindelik by die dood aan die kruis uitbring. Wat ’n vernedering! God het dit egter van Hom gevra en Hy het die pad van vernedering gehoorsaam enduit geloop.
FILIPPENSE 2:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Julle is mos deur Christus bemoedig en deur sy liefde getroos! Julle het die gemeenskap beleef wat die Gees bewerk! Julle weet wat omgee en meelewing beteken! Maak my dan nou heeltemal bly deur eensgesind te wees – één in liefde, één in hart en één in doel. Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange. Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees: Alhoewel Hy self God was, het Hy nie vasgeklou aan die Goddelikheid wat Hom toekom nie, maar Hy het dit prysgegee: Hy het ’n slaaf geword en aan mense gelyk geword. En toe Hy as mens geleef het, het Hy Homself nog verder verneder deur tot die dood toe gehoorsaam te wees, ja, tot die kruisdood toe!