FILIPPENSE 1:2-21

FILIPPENSE 1:2-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie. Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. Dit is ook heeltemal reg dat ek so oor julle almal dink, omdat julle my na aan die hart lê. Julle deel immers almal saam met my in die genade wat God my gee, sowel in my gevangenskap as in my verdediging van die evangelie en die bevestiging van die waarheid daarvan. God is my getuie, Hy weet hoe ek na julle almal verlang met die liefde van Christus Jesus in my hart. Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer. Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek 'n gevangene is. Deur my boeie is die meeste broers ook in hulle vertroue op die Here gesterk, en hulle waag dit al hoe meer om die woord van God onbevrees te verkondig. Daar is wel party wat Christus verkondig omdat hulle jaloers op my is en iets teen my het, maar ander doen dit met opregte bedoelings. Laasgenoemdes verkondig Christus omdat hulle my liefhet en weet dat dit my taak is om die evangelie te verdedig; maar eersgenoemdes maak Christus bekend uit selfsugtige en onsuiwere bedoelings. Hulle oogmerk is om die gevangenskap vir my nog swaarder te maak. Maar wat maak dit saak? In elk geval, of dit met bybedoelings is of in opregtheid, op allerhande maniere word Christus bekend gemaak, en daaroor is ek bly. En ek sal my ook verder verbly, want ek weet dat alles op my redding sal uitloop omdat julle vir my bid en die Gees van Jesus Christus my bystaan. Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.

FILIPPENSE 1:2-21 Bybel vir almal (ABA)

Ek bid dat God ons Vader en die Here genadig sal wees vir julle en dat Hy vir julle vrede sal gee. Elke maal wanneer ek aan julle dink, dan sê ek vir my God dankie. Elke maal wanneer ek vir julle almal bid, dan word ek bly, want vandat julle die goeie boodskap die eerste maal gehoor het, tot nou toe, help julle my om daardie boodskap na ander mense toe te bring. God het begin om 'n goeie ding in julle harte te doen. Ek is baie seker dat Hy dit sal klaarmaak op die dag wanneer Christus Jesus weer kom. Dit is heeltemal reg dat ek so oor julle dink, want julle is lief vir my. Julle almal dink altyd aan my en julle weet hoe goed God vir my is terwyl ek nou 'n gevangene is en hier kan vertel dat die goeie boodskap reg en waar is. God weet hoe baie ek na julle verlang. Hy weet ek is so lief vir julle soos Christus Jesus lief is vir julle. Ek bid dat julle liefde meer en meer sal word sodat julle alles beter sal verstaan en sal weet watter dinge is die regte dinge om te doen. Dan sal julle harte heeltemal skoon wees wanneer Christus weer kom, en niemand sal kan sê dat julle vir hom probleme gegee het nie. Ja, Jesus Christus sal julle help om baie goeie dinge te doen, en so sal julle vir almal wys dat julle God prys en dien. Vriende, ek wil hê julle moet weet dat al die dinge wat met my gebeur het, gehelp het dat meer mense die goeie boodskap hoor. Want al die mense van die keiser wat my hier oppas en ook die ander mense weet nou dat ek 'n gevangene is omdat ek aan Christus behoort. Die meeste mense hier wat in die Here glo, glo nou nog meer vas dat die Here sal doen wat Hy gesê het, omdat hulle gehoor het dat ek 'n gevangene is. Hulle word nou meer en meer dapper, hulle is nie bang om die boodskap van die Here vir ander mense te bring nie. Party van die mense hier preek oor Christus omdat hulle jaloers is en daarvan hou om te stry. Maar ander mense preek oor Christus omdat hulle goed wil doen. Hulle preek omdat hulle lief is vir Christus en hulle weet ek is 'n gevangene omdat ek vertel dat die goeie boodskap oor Christus reg is. Maar die ander mense preek omdat hulle selfsugtig is. Ja, hulle is vals. Hulle wil hê dat ek nou nog swaarder moet kry terwyl ek 'n gevangene is. Party mense is vals wanneer hulle preek, en party mense wil goed doen wanneer hulle preek. Maar dit maak nie vir my saak hoekom hulle preek nie. Hulle preek almal oor Christus, en daaroor is ek bly. En ek sal aanhou om bly te wees, want julle bid vir my, en die Gees van Jesus Christus help my. Daarom weet ek dat God alles wat gebeur, sal gebruik om my te red. Ek hoop en ek weet seker dat God my sal help en dat Hy my nie sal los nie. Ja, ek wil altyd, soos voorheen, graag wys dat Christus die belangrikste is. Daarom maak dit nie saak of ek sal lewe en of ek sal sterf nie. As ek lewe, dan lewe ek vir Christus, en as ek sterf, dan is dit vir my nog beter.

FILIPPENSE 1:2-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus! EK dank my God elke maal as ek aan julle dink — en ek bid altyd in al my gebede vir julle almal met blydskap — oor julle gemeenskap aan die evangelie van die eerste dag af tot nou toe, omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat 'n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus; soos dit vir my reg is om dit van julle almal te dink, omdat ek julle in my hart dra, aangesien julle almal in my boeie sowel as in die verdediging en bevestiging van die evangelie my deelgenote in die genade is. Want God is my getuie hoe ek na julle almal verlang met die innige tederheid van Jesus Christus. En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring, om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand 'n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus, vervul met die vrug van geregtigheid wat daar is deur Jesus Christus tot heerlikheid en lof van God. En ek wil hê dat julle moet weet, broeders, dat wat my wedervaar het, eerder op bevordering van die evangelie uitgeloop het, sodat my boeie openbaar geword het in Christus onder die hele keiserlike lyfwag en by al die ander, en die meeste van die broeders wat in die Here deur my boeie vertroue gekry het, dit des te meer waag om die woord onbevrees te spreek. Sommige preek Christus wel ook uit afguns en twis, maar ander ook uit welwillendheid: die eerste verkondig Christus uit naywer, nie met suiwer bedoelinge nie, met die mening om aan my boeie verdrukking toe te voeg; maar die ander uit liefde, omdat hulle weet dat ek bestem is tot die verdediging van die evangelie. Maar wat maak dit? In alle geval, op allerlei wyse, of dit onder 'n skyn of in waarheid is, word Christus verkondig; en hierin verbly ek my en sal ek my ook verbly. Want ek weet dat dit deur julle gebed en die ondersteuning van die Gees van Jesus Christus my tot heil sal strek, volgens my reikhalsende verwagting en hoop dat ek in niks beskaam sal word nie; maar dat Christus met alle vrymoedigheid, soos altyd so ook nou, groot gemaak sal word in my liggaam, of dit deur die lewe of deur die dood is. Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.

FILIPPENSE 1:2-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus. Ek dank my God elke keer wanneer ek aan julle dink. Altyd, in elke gebed van my vir julle almal, bid ek met blydskap oor julle deelname aan die evangelie, van die eerste dag af tot nou, juis hiervan oortuig dat Hy, wat 'n goeie werk in julle begin het, dit sal voltooi tot op die dag van •Christus Jesus. Dit is immers vir my reg om so oor julle almal te dink, omdat ek julle in my hart hou. Wat my gevangenskap, sowel as die verdediging en bevestiging van die evangelie betref, deel julle almal saam met my in die genade. Want God is my getuie hoe ek met die innigheid van Christus Jesus intens na julle almal verlang. Ek bid juis dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in kennis en insig, om die dinge wat saak maak, te kan onderskei, sodat julle, met die oog op die dag van Christus, innerlik suiwer en onberispelik kan wees, gevul met die vrug van •geregtigheid deur Jesus Christus tot verheerliking en lof van God. Broers, ek wil hê julle moet weet dat wat met my gebeur het, in werklikheid tot bevordering van die evangelie gelei het. Sodoende het dit by die hele pretorium en al die ander bekend geword dat ek ter wille van •Christus in gevangenskap verkeer. Ook waag die meeste van die broers in die Here, omdat hulle as gevolg van my gevangenskap vertroue verkry het, dit baie meer om die woord vreesloos te verkondig. Sommige verkondig Christus wel uit jaloesie en twisgierigheid, ander egter uit goedgesindheid. Hulle doen dit uit liefde, omdat hulle weet dat ek bestem is om die evangelie te verdedig, maar die ander verkondig Christus uit selfsugtige ambisie – nie met opregte motiewe nie, maar met die bedoeling om vir my in my gevangenskap verdrukking te veroorsaak. Wat maak dit egter saak? In elke geval, of dit met bybedoelings of in waarheid is, word Christus verkondig – en daaroor is ek vol blydskap. Ja, ek sal voortdurend bly wees, want ek weet dat dit alles tot my verlossing sal lei, omdat julle vir my bid, en die Gees van Jesus Christus my ondersteun. Dit is immers my innige verwagting en hoop dat ek nie in enige opsig beskaam sal word nie, maar dat Christus met alle vrymoedigheid ook nou, soos altyd, deur my liggaam verheerlik sal word, of dit nou deur my lewe of deur my dood is. Want vir my is om te leef Christus, en om te sterf wins

FILIPPENSE 1:2-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Genade vir julle en vrede van God ons Vader en van die Here Jesus Christus. Ek dank my God by elke gedagtenis aan julle, Altyd in elke gebed van my vir julle almal wat met blydskap versoek, Vir julle gemeenskap aan die evangelie van die eerste dag af tot nou toe; Terwyl julle juis hierop vertrou, dat Hy wat 'n goeie werk in julle begin het, dit sal doen tot op die dag van Jesus Christus. Net soos dit vir my gepas is om dit van julle almal te dink, omdat ek julle in my hart het; in soverre beide in my boeie sowel as in die verdediging en bevestiging van die evangelie, julle almal my genade deelagtig is. Want God is my getuigskrif, hoe baie ek verlang na julle almal in die ingewande van Jesus Christus. En dit bid ek dat u liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en in alle oordeel; Sodat julle die voortreflike dinge kan goedkeur; sodat julle opreg en sonder aanstoot mag wees tot op die dag van Christus; word vervul met die vrugte van geregtigheid wat deur Jesus Christus is, tot eer en lof van God. Maar ek wil hê dat julle moet verstaan, broers, dat die dinge wat met my gebeur het, eerder tot die bevordering van die evangelie uitgeval het; Sodat my bande in Christus openbaar word in die hele paleis en op al die ander plekke; En baie van die broeders in die Here, wat deur my boeie vertroue word, is baie meer vrymoedig om die woord sonder vrees te spreek. Sommige verkondig Christus inderdaad selfs uit afguns en twis; en sommige ook van goeie wil: Die een wat Christus van twis verkondig, nie opreg nie, met die veronderstelling om verdrukking by my boeie te voeg. Maar die ander van liefde, omdat ek weet dat ek ingestel is om die evangelie te verdedig. Wat dan? nieteenstaande, op elke manier, hetsy in voorgee of in waarheid, word Christus verkondig; en daarin is ek bly, ja, en ek sal bly wees. Want ek weet dat dit tot my redding sal lei deur julle gebed en die voorsiening van die Gees van Jesus Christus, Volgens my ernstige verwagting en my hoop, dat ek in niks sal skaam nie, maar dat Christus met alle vrymoedigheid, soos altyd, nou ook in my liggaam groot gemaak sal word, of dit nou deur die lewe of deur die dood is. Want vir my is om te lewe Christus, en om te sterwe is wins.

FILIPPENSE 1:2-21 Die Boodskap (DB)

Ons groet julle met die wens dat God ons Vader en die Here Jesus Christus vir julle baie goed sal wees; mag julle die vrede beleef wat net God kan gee. Elke keer wanneer ek aan julle dink en met God oor julle praat, sê ek vir Hom baie dankie vir gelowiges soos julle. In geen gebed slaan ek oor om spesifiek aan julle te dink nie, en dit is ook baie lekker vir my om vir julle te bid. Julle staan mos soos een man saam agter God se goeie boodskap met nog presies dieselfde vuur en oortuiging as aan die begin. Van een ding is ek seker: dit is God wat al hierdie goeie dinge met julle laat gebeur. Hy sal dit vir julle bly doen tot op die dag wanneer Christus Jesus weer kom. Hy sal julle nooit in die steek laat nie, daarvan kan julle seker wees. Ek het rede om so oor julle almal te voel. Ek het nog altyd ’n baie besondere plekkie vir julle gehad. Julle was mos van die begin af aan my kant, soos nou nog steeds. Dit het vir julle nie saak gemaak of ek in die tronk gegooi is of soos ’n misdadiger in die hof moes veg en beledig is omdat ek vir mense van Jesus vertel het nie. God was egter deur dit alles goed vir my, en dit het julle die hele tyd saam met my ervaar. Ek verlang baie na julle, gaan vra maar vir God self; Hy sal julle kan sê hoe baie ek verlang. Julle weet hoe baie Christus vir julle omgee. Nou ja, ek gee net soveel vir julle om. Weet julle waarvoor bid ek? Ek bid dat julle al hoe nader aan Jesus sal leef. Dit is moontlik as julle bereid is om uit julle geestelike ervaring te leer. Dan sal julle altyd die beste keuses kan maak. Dit sal sorg dat wanneer Jesus weer kom, niemand ’n vinger na julle sal kan wys en julle van swakhede beskuldig nie. In alles wat julle doen, sal mense kan sien dat julle verhouding met God reg is. Jesus Christus sal julle help om reg te lewe. So sal mense aan julle kan sien hoe wonderlik God is. Dan sal hulle met opgewondenheid oor sy grootheid praat. My liewe vriende, ek wil julle graag iets vertel. Al die dinge wat so met my gebeur, lyk of dit sleg is, maar eintlik is dit goed. Hoekom is dit goed? Dit help die verkondiging van die evangelie aan. Nie net al die wagte in die paleis nie, maar ook al die ander mense sien duidelik dat ek hier in die tronk is net omdat ek ’n Christen is. Dit het bowendien ’n goeie invloed op die meeste ander mense wat ook die Here dien. Hulle sien dat daar selfs iets goeds van kan kom om in die tronk te sit. Dit laat hulle moed skep. Hulle is nie meer bang om oor Jesus te praat nie. Waar hulle vroeër maar stilgebly het omdat hulle te bang was, begin hulle nou al hoe meer oor Hom praat. Onder julle is daar party mense wat ook graag op die kansel klim. Hulle is egter jaloers op my en wil wys dat hulle beter as ek is. Hulle probeer dit vir my moeilik maak terwyl ek hier in die tronk is. Hulle wil net graag aandag trek en stel nie regtig in ander mense belang nie. Maar daar is gelukkig ook mense wat baie goed met my oor die weg kom. Hulle is lojaal teenoor my en het my lief. Hulle weet mos dat ek in die tronk is omdat die verspreiding van God se goeie nuus vir my baie, baie belangrik is. Maar wat maak dit nou alles saak? Vir my is die belangrikste dat mense van Christus moet hoor. Dit maak eintlik nie soveel saak of mense met skoon bedoelings ander mense van Jesus vertel of nie. Solank dit net gedoen word, maak dit my hart al klaar bly. En dit is nie al wat my bly maak nie. Ek weet dat julle vir my bid en dat die Gees van Jesus Christus vir my gee wat ek nodig het. Daarom het ek geen twyfel dat alles uiteindelik vir my goed sal afloop nie. Ek is seker dat ek nie skaam sal wees oor wat ek gedoen het nie. Ek maak Christus mos groot deur wat ek inderdaad doen, en ek doen niks skelms nie. Wat ek in die verlede gedoen het, bly ek steeds doen, maak nie saak of ek daarvoor moet sterf en of ek moet bly lewe nie. Om te lewe beteken vir my om vir Christus te lewe. Ek kan nog soveel goeie dinge vir Hom doen. Maar om te sterf sal aan die ander kant ook nie vir my sleg wees nie.

FILIPPENSE 1:2-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die genade en die vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus sal met julle wees. Elke keer as ek aan julle dink, dank ek God. Ek bid altyd in al my gebede met blydskap vir julle almal omdat julle, van die eerste dag wat julle die Goeie Nuus gehoor het, tot vandag toe saamgewerk het om dit verder uit te dra. Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi op die dag wanneer Jesus Christus terugkom. Dit is vanselfsprekend dat ek so oor julle almal voel omdat julle my na aan die hart lê. Julle almal deel saam met my in God se genade – wanneer ek in die tronk sit én wanneer ek die waarheid van die Goeie Nuus verdedig en bevestig. God kan getuig hoe ek na julle almal verlang. Ek gee vir julle om met die liefdevolle deernis van Christus Jesus! Ek bid dat julle liefde vir mekaar meer en meer sal word deurdat julle ’n al beter begrip en ’n fyn aanvoeling ontwikkel. Dit sal julle in staat stel om dié dinge te onderskei wat regtig saak maak. Dit sal julle ook help om skoon en onberispelik te lewe tot op die dag wanneer Christus terugkom. Dan sal julle hele lewe vol wees van die goeie gevolge van julle gehoorsaamheid aan die wil van God – goeie gevolge wat Jesus Christus bewerk het. God sal daarvoor geëer en geprys word! Julle moet weet, broers en susters, dat dit wat met my gebeur het, gelei het tot bevordering van die Goeie Nuus. Dit het vir almal hier, ook vir die soldate van die paleiswag, duidelik geword dat ek in die tronk is ter wille van Christus. En die meerderheid mede-gelowiges hier is só deur my gevangenskap in hulle vertroue in die Here versterk dat hulle dit al hoe meer waag om oor die boodskap van God te praat sonder om bang te wees. Daar is wel sommige wat dit doen omdat hulle jaloers is of iets teen my het, maar daar is ook ander wat Christus met goeie bedoelings bekendmaak. Hulle doen dit uit liefde omdat hulle weet dat ek hier is om die Goeie Nuus te verdedig. Maar dié wat in eiebelang Christus verkondig, doen dit met onsuiwer motiewe. Hulle bedoeling is om die swaarkry van my gevangenskap nog swaarder te maak. Maar wat maak dit saak? Of hulle motiewe nou onsuiwer of suiwer is – die feit is dat Christus op allerhande maniere verkondig word, en daaroor is ek baie bly! My blydskap sal ook voortduur, want ek weet dat deur julle voorbidding en die hulp van die Gees van Jesus Christus alles op my vrylating sal uitloop. Dit is my strewe en hoop dat ek nooit iets sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil eerder, soos nog altyd, ook nou in my hele bestaan – of ek bly leef en of ek moet sterf – Christus met volle vrymoedigheid verheerlik. Want vir my is die lewe Christus, en die sterwe wins.

FILIPPENSE 1:2-21

FILIPPENSE 1:2-21 AFR83FILIPPENSE 1:2-21 AFR83