NUMERI 14:6-10
NUMERI 14:6-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Josua, seun van Nun, en Kaleb, seun van Jefunne, twee van dié wat die land verken het, het hulle klere geskeur en vir die hele volksvergadering van die Israeliete gesê: “Die land wat ons deurkruis het om dit te verken, is 'n buitengewoon goeie land. As die HERE ons goedgesind is, sal Hy ons in hierdie land inneem en dit vir ons gee – 'n land wat oorloop van melk en heuning. Teen die HERE moet julle net nie in opstand kom nie. Julle moenie bang wees vir die volk van die land nie, want hulle is 'n maklike prooi vir ons. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die HERE is met ons. Moenie vir hulle bang wees nie.” Toe die hele volksvergadering dreig om hulle met klippe dood te gooi, het die heerlikheid van die HERE in die Tent van Ontmoeting aan al die Israeliete verskyn.
NUMERI 14:6-10 Bybel vir almal (ABA)
Josua seun van Nun en Kaleb seun van Jefunne was twee van die manne wat gaan kyk het hoe die land lyk. Hulle het hulle klere geskeur en hulle het vir die hele vergadering van die Israeliete gesê: “Ons het deur die land gegaan en ons het na die land gaan kyk. Dit is 'n baie goeie land, baie goed. As die Here goed is vir ons, dan sal Hy ons in hierdie land bring en Hy sal dit vir ons gee. Dit is 'n land waar daar baie melk en heuning is. Maar dan moet julle nie opstandig wees teen die Here nie en julle moenie bang wees vir die mense in die land nie. Ons sal hulle maklik oorwin. Niemand sal hulle kan beskerm nie. Die Here is by ons, julle moenie bang wees nie.” Die hele vergadering het toe gesê hulle gaan vir Josua en Kaleb doodgooi met klippe. Maar toe sien al die Israeliete dat die Here, die Koning, by die tent is waar Hy aan die Israeliete verskyn.
NUMERI 14:6-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Josua, die seun van Nun, en Kaleb, die seun van Jefúnne, twee van die wat die land verken het, het hulle klere geskeur en die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek en gesê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is 'n buitengewoon goeie land. As die HERE 'n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning. Wees net nie teen die HERE opstandig nie, en wees julle nie bevrees vir die volk van die land nie, want hulle is ons spys. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die HERE is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie! Toe sê die hele vergadering dat hulle gestenig moet word. Maar die heerlikheid van die HERE het in die tent van samekoms verskyn voor al die kinders van Israel.
NUMERI 14:6-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ook het Josua seun van Nun, en Kaleb seun van Jefunne, manne wat saam die land verken het, hulle klere geskeur, en vir die hele vergadering Israeliete gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is 'n buitengewoon goeie land. As die Here ons goedgesind is, sal Hy ons na hierdie land toe bring en dit aan ons gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning. Julle moet net nie teen die Here in opstand kom nie. Moet ook nie vir die mense van die land bang wees nie, want ons sal hulle maklik verslaan. Hulle gode sal hulle nie kan beskerm nie. Die Here is by ons. Moenie vir hulle bang wees nie!” Maar die hele vergadering het gedreig om vir Josua en Kaleb met klippe dood te gooi. Toe het die magtige teenwoordigheid van die Here by die tent van ontmoeting vir al die Israeliete sigbaar geword.
NUMERI 14:6-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Josua, seun van Nun, en Kaleb, seun van Jefunne, twee van dié wat die land verken het, het hulle klere geskeur en vir die hele volksvergadering van die Israeliete gesê: “Die land wat ons deurkruis het om dit te verken, is 'n buitengewoon goeie land. As die HERE ons goedgesind is, sal Hy ons in hierdie land inneem en dit vir ons gee – 'n land wat oorloop van melk en heuning. Teen die HERE moet julle net nie in opstand kom nie. Julle moenie bang wees vir die volk van die land nie, want hulle is 'n maklike prooi vir ons. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die HERE is met ons. Moenie vir hulle bang wees nie.” Toe die hele volksvergadering dreig om hulle met klippe dood te gooi, het die heerlikheid van die HERE in die Tent van Ontmoeting aan al die Israeliete verskyn.
NUMERI 14:6-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Josua, die seun van Nun, en Kaleb, die seun van Jefunne, wat was van die wat die land verken het, het hulle klere geskeur. En hulle het met die hele menigte van die kinders van Israel gespreek en gesê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is 'n uitermate goeie land. As die HERE 'n welbehae in ons het, dan sal Hy ons in hierdie land bring en dit aan ons gee; 'n land wat oorloop van melk en heuning. Wees net nie opstandig teen die HERE nie, en vrees nie die volk van die land nie; want hulle is vir ons brood; hulle verdediging is van hulle afgewyk, en die HERE is met ons; vrees hulle nie. Maar die hele vergadering het beveel om hulle met klippe te stenig. En die heerlikheid van die HERE het in die tent van samekoms verskyn voor al die kinders van Israel.
NUMERI 14:6-10 Die Boodskap (DB)
Maar Nun se seun Josua en Jefunne se seun Kaleb, twee van die leiers wat saam was Kanaän toe, het van hartseer hulle klere stukkend geskeur en vir die hele vergadering wat daar bymekaar was, gesê: “Dit is ’n ongelooflike mooi land waarna ons gaan kyk het. As die Here tevrede met ons is, sal Hy ons help om hierdie land in te neem en daar te gaan bly. Soos ons vroeër vir julle gesê het: dit is ’n land waar dit lyk of die melk en heuning oral in strome loop. Moet asseblief nie die Here se gesag nou uitdaag nie. Moet ook nie vir die land en sy inwoners bang wees nie, ons kan hulle maklik oorrompel. Hulle afgode waarop hulle staatmaak, sal hulle nie kan help nie, want die Here is aan ons kant. Moenie vir daardie spul bang wees nie!” Die hele vergadering was egter min beïndruk met wat Josua en Kaleb gesê het en wou hulle sommer daar op die plek met klippe doodgooi. Maar skielik het die verblindende glans van die Here se teenwoordigheid oor die tent sigbaar geword. Almal kon dit sien.
NUMERI 14:6-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Josua, seun van Nun, en Kaleb, seun van Jefunne, wat saam die land gaan verken het, het hulle klere geskeur. Hulle het vir die gemeenskap van die Israeliete gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is ’n besondere mooi land. As die HERE ons liefhet, sal Hy ons in die land laat kom en dit vir ons gee. Dit is ’n baie vrugbare land. Moenie teen die HERE in opstand kom nie! Moenie bang wees vir die mense van die land nie. Hulle is ons slagoffers. Hulle het geen beskerming nie. Die HERE is met ons. Moenie bang wees nie!” Die gemeenskap het egter gedreig om hulle met klippe dood te gooi. Die Israeliete het toe bewus geword van die HERE se magtige teenwoordigheid by die tabernakel.