NUMERI 1:47-54
NUMERI 1:47-54 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die Leviete is volgens afstamming ingedeel. Hulle is nie saam met die ander ingeskryf nie, want die HERE het vir Moses gesê: “Net die stam van Levi moet jy nie saam met die Israeliete inskryf of tel nie. Jy moet self die Leviete aanstel oor die •tabernakel met die Getuienis, en oor al die gereedskap en toebehore daarvan. Hulle moet die tabernakel en al die gereedskap dra, en hulle moet daarna omsien. Hulle moet rondom die tabernakel kamp opslaan. Wanneer die tabernakel verskuif word, moet die Leviete dit afbreek, en wanneer die tabernakel weer opgeslaan word, moet die Leviete dit oprig. 'n Onbevoegde persoon wat naby kom, moet doodgemaak word. “ Die Israeliete moet elkeen op sy kampplek en elkeen langs sy eenheid, volgens hulle leërafdelings, kamp opslaan, maar die Leviete moet rondom die tabernakel met die Getuienis kamp opslaan, sodat daar nie 'n oordeel uit toorn oor die volksvergadering van die Israeliete kom nie. Die Leviete moet die verpligtinge nakom by die tabernakel met die Getuienis.” Die Israeliete het dit toe gedoen – alles wat die HERE Moses beveel het, het hulle net so gedoen.
NUMERI 1:47-54 Bybel vir almal (ABA)
Moses-hulle het nie die manne van die Levi-stam saam met die ander Israeliete getel nie. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moenie die name van die Leviete in hierdie boek skryf nie, jy moet hulle nie saam met die ander Israeliete tel nie. Jy self moet vir die Leviete sê wat hulle moet doen. Hulle moet sorg vir die tempel-tent. Die kis waarin die tien gebooie is, is in die tempel-tent. Hulle moet ook sorg vir al die stukke wat by die tempel-tent moet wees. Hulle moet die tempel-tent dra en daarmee werk en hulle moet hulle tente rondom die tempel-tent opslaan. Wanneer hulle die tempel-tent na 'n ander plek moet neem, dan moet die Leviete dit afslaan, en wanneer die tempel-tent op 'n nuwe plek moet staan, dan moet die Leviete dit opslaan. Wanneer 'n ander persoon naby die tempel-tent kom, dan moet julle hom doodmaak. Elke stam van Israel moet hulle tente opslaan op hulle eie plek en by hulle eie vlag in hulle groepe. Maar die Leviete moet hulle tente opslaan rondom die tent waarin die kis en die tien gebooie is. Hulle moet dit doen sodat die Here nie kwaad word en die volk Israel straf nie. Die Leviete moet werk met die tent. Die kis waarin die tien gebooie is, is in die tent.” Die Israeliete het alles gedoen wat die Here vir Moses gesê het, hulle het dit presies so gedoen.
NUMERI 1:47-54 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar die Leviete, volgens hulle voorvaderlike stam, is onder hulle nie getel nie. Die HERE het naamlik met Moses gespreek en gesê: Net die stam van Levi moet jy nie tel nie en hulle volle getal onder die kinders van Israel nie opneem nie; maar stel jy die Leviete aan oor die tabernakel van die Getuienis en oor al sy gereedskap en oor alles wat daarby behoort. Húlle moet die tabernakel dra en alles wat daarby behoort, en húlle moet dit bedien en rondom die tabernakel laer opslaan. En as die tabernakel wegtrek, moet die Leviete dit afbreek; en as die tabernakel rus, moet die Leviete dit oprig; en die onbevoegde wat nader kom, moet gedood word. En die kinders van Israel moet laer opslaan elkeen op sy laerplek en elkeen by sy vaandel, volgens hulle leërafdelings. Maar die Leviete moet laer opslaan rondom die tabernakel van die Getuienis, dat daar geen toorn oor die vergadering van die kinders van Israel kom nie. So moet dan die Leviete die diens van die tabernakel van die Getuienis waarneem. En die kinders van Israel het dit gedoen; net soos die HERE Moses beveel het, so het hulle gedoen.
NUMERI 1:47-54 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Leviete is nie as afsonderlike stam bygetel nie. Die Here het naamlik vir Moses gesê: “Die stam Levi moet jy nie tel nie en hulle getal moet jy nie by dié van die Israeliete voeg nie. Jy moet die Leviete aanstel om toesig te hou oor die tabernakel met die getuienis, oor al sy gereedskap en al sy toebehore. Hulle moet die tabernakel en sy gereedskap dra; net húlle moet daarmee werk; en hulle moet hulle tente rondom die tabernakel opslaan. As die tabernakel verskuif moet word, moet die Leviete dit uitmekaarhaal; en as dit opgeslaan moet word, moet hulle dit opslaan. 'n Onbevoegde persoon wat nader kom om te help, moet doodgemaak word. “Die ander stamme van Israel moet hulle tente opslaan, elke stam op sy eie staanplek, rondom sy eie vaandel, ingedeel by sy eie leërafdeling, maar die Leviete moet hulle tente rondom die tabernakel met die getuienis opslaan, sodat my toorn nie oor die Israeliete kom nie. So moet die Leviete dan vir die tabernakel met die getuienis sorg.” Die Israeliete het alles presies gedoen soos die Here vir Moses beveel het.
NUMERI 1:47-54 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar die Leviete volgens die stam van hulle vaders is nie onder hulle getel nie. Want die HERE het met Moses gespreek en gesê: Jy mag net die stam van Levi nie tel nie, en die getal daarvan onder die kinders van Israel nie opneem nie. Maar jy moet die Leviete aanstel oor die tabernakel van die Getuienis en oor al sy voorwerpe en oor alles wat daarby behoort; hulle moet die tabernakel en al sy gereedskap dra; en hulle moet dit bedien en laer opslaan rondom die tabernakel. En as die tabernakel wegtrek, moet die Leviete dit afbreek; en as die tabernakel opgeslaan word, moet die Leviete dit oprig; en die vreemdeling wat naby kom, moet gedood word. En die kinders van Israel moet hulle tente opslaan, elkeen volgens sy laer en elkeen volgens sy vaandel, volgens hulle leërskare. Maar die Leviete moet laer opslaan rondom die tabernakel van die Getuienis, dat daar geen toorn oor die vergadering van die kinders van Israel kom nie; en die Leviete moet die diens van die tent van die Getuienis waarneem. En die kinders van Israel het gedoen net soos die HERE Moses beveel het, so het hulle gedoen.
NUMERI 1:47-54 Die Boodskap (DB)
Hierdie getalle het nie die Leviete ingesluit nie, want die Here het vir Moses gesê: “Moenie die Leviete bytel wanneer jy die Israeliete tel om te sien hoeveel soldate jy het nie. Jy moet hulle gebruik om toesig te hou oor die tabernakel, die spesiale tent wat die bewys van my teenwoordigheid by julle is. Hulle is ook verantwoordelik vir al die gereedskap en toebehore wat deel is van die tabernakel. Net hulle mag die tabernakel dra en met hierdie gereedskap werk. Daarom moet hulle hulle tente rondom die tabernakel opslaan waar julle ook al kamp. Wanneer die tabernakel verskuif moet word, is dit die Leviete se werk om dit op en af te slaan. Enigiemand anders wat dit naby die tent waag, moet onmiddellik doodgemaak word. Die res van die Israeliete moet hulle kamp volgens hulle verskillende leërafdelings opslaan. Elke afdeling het sy eie vlag. Die Leviete moet hulle tente rondom die tabernakel, wat sê dat Ek by julle is, opslaan. Hulle moet die tabernakel oppas. Dit dien as beskerming vir die res van die volk, sodat iemand nie per ongeluk daar inkom en Ek baie kwaad word vir die Israeliete nie.” Die Israeliete het toe alles presies volgens Moses se voorskrif gedoen.
NUMERI 1:47-54 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die Leviete was nie hierby ingesluit nie. Die HERE het vir Moses gesê: “Jy moenie die stam van Levi insluit by die res van Israel wanneer jy hulle tel nie. Jy moet die Leviete oor die tabernakel van die verbond aanstel. Plaas hulle in beheer van al sy meubels en toebehore. Hulle moet dit vervoer wanneer julle trek. Hulle moet ook vir sy toebehore sorg. Hulle moet die tabernakel versorg en daar rondom hulle tente opslaan. Wanneer julle verder trek, moet die Leviete dit elke keer afbreek en weer opslaan. “As enigiemand anders daar naby kom, sal hy doodgemaak word. Elke stam moet op sy bepaalde plek gaan staan onder die vaandel van sy afdeling. Die Leviete sal rondom die tabernakel van die verbond kamp opslaan om die Israeliete te beskerm teen die woede van die HERE. Die Leviete moet by die tabernakel wag staan.” Die Israeliete het presies net so gemaak soos die HERE vir Moses gesê het.