NEHEMIA 4:6-14

NEHEMIA 4:6-14 Bybel vir almal (ABA)

Ons het aangehou om die muur te bou. Die muur was die helfte so hoog soos hy moes wees, en die mense het fluks gewerk. Sanballat en Tobija en die Arabiere en die Ammoniete en die mense van Asdod het baie kwaad geword toe hulle hoor dat die Judeërs die muur regmaak en dat dit goed gaan met die werk. Hulle het gehoor dat amper al die stukkende plekke in die muur weer reg is. Hulle het saam planne gemaak om oorlog te maak teen Jerusalem en om alles in die stad deurmekaar te maak. Ons het gebid tot ons God en ons het elke dag en nag mense laat wagstaan om te kyk of ons vyande kom. Die Judeërs het gesê: “Die mense wat die klippe moet dra, word moeg, en daar is groot hope grond wat hulle moet wegdra. Ons sal nie die muur klaar kan bou nie.” Ons vyande het vir mekaar gesê: “Ons sal tussen die Judeërs wees en ons sal hulle doodmaak voordat hulle iets sal weet of sal sien. Dan sal die werk kan ophou.” Party Judeërs wat naby ons vyande gewoon het, het vir ons tien maal kom sê dat ons vyande van al die kante kom om ons aan te val. Ek het toe vir die mense gesê hulle moet gereedstaan agter die muur op die gelyk plekke, elke familie moet swaarde, spiese en pyl en boë hê. Ek het vir die belangrike mense, die leiers en die ander mense, gesê: “Julle moenie bang wees vir die vyande nie, julle moet onthou dat die Here by ons is. Hy is groot, en almal moet bang wees vir Hom. Julle moet veg vir julle broers, vir julle seuns, vir julle dogters, vir julle vroue en julle huise.”

NEHEMIA 4:6-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Ons het die stadsmuur opgebou. Die dele van die hele muur is saamgevoeg tot op die helfte van sy hoogte. Die volk se hart was in hulle werk. Toe Sanballat, Tobija, die Arabiere, Ammoniete en mense van Asdod hoor dat die herstelwerk aan die mure om Jerusalem vorder, dat die bresse begin toegaan, het hulle baie kwaad geword. Hulle het almal as 'n eenheid saamgesweer om teen Jerusalem te kom veg, en by my verwarring te veroorsaak. Ons het tot ons God gebid en dag en nag 'n wag teen hulle uitgesit. Juda het gesê: “Die krag van die draers gee in, die puin is te veel. Ons alleen is nie in staat om die muur te herbou nie.” Ons teenstanders het gesê: “Hulle sal nie weet nie, dit nie eers agterkom nie, totdat ons tussen hulle inbeweeg, hulle doodmaak en 'n einde aan die werk maak.” Wanneer die Judeërs, wat langs hulle gewoon het, by ons kom, het hulle seker tien keer van oral oor vir ons gesê: “Julle moet na ons toe terugkom.” Ek het toe by dié dele wat laer was as die ooreenstemmende plekke agter die muur, by die dele wat blootgestel was, wagte uitgesit. Ek het die manskappe volgens familiegroepe opgestel, met hulle swaarde, steekspiese en boë. Ek het sake deurgekyk, toe opgestaan en vir die hoëlui, die gesagsdraers en die res van die volk gesê: “Julle moenie bang wees vir hulle nie. Dink aan die groot en ontsagwekkende Heer! Veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vroue en julle huise.”