NEHEMIA 3:15-32 - Compare All Versions

NEHEMIA 3:15-32 ABA (Bybel vir almal)

Sallun seun van Kol-Gose het die Fontein-poort reggemaak. Sallun was die amptenaar wat regeer het oor Mispa, een van die dele van die stad. Hy het die mure van die poort gebou en hy het die dak opgesit en die deure ingesit, saam met die slotte en sluitbalke. Hy het ook die muur by die Kanaal-dam weer gebou, van die tuin van die koning tot by die trappe wat afkom uit die Dawidstad. Nehemia seun van Asbuk het die stuk muur reggemaak tot oorkant die Dawid-grafte en tot by die dam wat die mense gebou het. Dit was by die kamers waar die spesiale manne van die koning gewoon het. Nehemia was die amptenaar wat regeer het oor die helfte van Bet-Sur, een van die dele van Jerusalem. Die Leviete het die volgende stukke van die muur reggemaak. Regum seun van Bani het die eerste stuk reggemaak. Gasabja het die volgende stuk reggemaak. Dit was die stuk langs sy deel van die stad. Gasabja was die amptenaar wat regeer het oor die helfte van Keïla, een van die dele van die stad. Die Leviet Bawwai seun van Genadad het die volgende stuk reggemaak. Bawwai was die amptenaar wat regeer het oor die ander helfte van Keïla, een van die dele van die stad. Die Leviet Eser seun van Jesua het 'n tweede stuk reggemaak, die stuk van oorkant die plek waar 'n mens opgaan na die wapenkamer op die hoek van die muur. Eser was die amptenaar wat regeer het oor Mispa, 'n deel van die stad. Baruk seun van Sabbai het ook 'n tweede stuk reggemaak. Dit was die stuk van die hoek tot by die poort van die huis van Eljasib, die hoëpriester. Meremot seun van Urija seun van Kos het 'n tweede stuk reggemaak. Dit was die stuk van die poort voor die huis van Eljasib tot by die kant van Eljasib se huis. Die priesters wat daar naby gewoon het, het die volgende stuk van die muur reggemaak. Benjamin en Gassub het die stuk oorkant hulle huis reggemaak, en Asarja seun van Maäseja seun van Ananeja het die stuk oorkant sy huis reggemaak. Binnuï seun van Genadad het 'n tweede stuk van die muur reggemaak. Dit was van die huis van Asarja tot by die draai en die hoek van die muur. Palal seun van Usai het die stuk reggemaak oorkant die draai en die toring. Dit is die toring wat uitsteek bokant die boonste paleis wat by die binneplaas van die wagte is. Pedaja seun van Paros en die tempel-slawe wat op die Ofel gewoon het, het die stuk van die muur reggemaak tot by die Water-poort oos van die toring wat uitsteek. Die mense van Tekoa het ook 'n tweede stuk muur reggemaak, dit was van oorkant daardie groot toring tot by die muur van die Ofel. Die priesters het die stuk muur bokant die Perde-poort reggemaak, elkeen het die stuk muur oorkant sy huis reggemaak. Sadok seun van Immer het die stuk muur oorkant sy huis reggemaak. Semaja seun van Sekanja het die volgende stuk reggemaak. Semaja was die wag by die poort oos van die tempel. Gananja seun van Selemja en Ganun, die sesde seun van Salaf, het ook 'n tweede stuk muur reggemaak. Mesullam seun van Berekja het die stuk oorkant sy kamer reggemaak. Malkija, 'n goudsmid, het die stuk muur reggemaak tot by die woonplek van die tempel-slawe en die handelaars. Dit was die stuk muur langs die Wag-poort, tot by die bo-kamer op die hoek van die muur. Die goudsmede en die handelaars het die stuk van die muur tussen die bo-kamer en die Skaap-poort reggemaak.

NEHEMIA 3:15-32 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En die Fonteinpoort het Sallum, die seun van Kol-Hosé, owerste van die distrik Mispa, herstel; hy het dit opgebou en dit oordek, en hy het sy deure, sy sluitbalke en sy grendels ingesit, ook die muur van die dam van die waterleiding by die koning se tuin, en tot by die trappe wat van die Dawidstad afloop. Ná hom het Nehemía, die seun van Asbuk, owerste van die halwe distrik Bet-Sur, tot teenoor die Dawidsgrafte herstel en tot by die kunstig aangelegde dam en tot by die huis van die helde. Ná hom het die Leviete — Rehum, die seun van Bani, herstel; naas hom het Hasábja, die owerste van die halwe distrik Kehíla, vir sy distrik herstel. Ná hom het hulle broers, Bágwai, die seun van Hénadad, die owerste van die ander halwe distrik Kehíla, herstel. En naas hom het Eser, die seun van Jésua, die owerste van Mispa, 'n tweede stuk herstel teenoor die opgang na die wapenhuis, die Winkelhaak. Ná hom het Barug, die seun van Sábbai, 'n tweede stuk ywerig herstel; van die Winkelhaak af tot by die huisdeur van die hoëpriester Éljasib. Ná hom het Méremot, die seun van Uría, die seun van Hakkos, 'n tweede stuk herstel, van die huisdeur van Éljasib af tot by die end van Éljasib se huis. En ná hom het die priesters, die manne van die Jordaanstreek, herstel. Ná hom het Benjamin en Hassub teenoor hulle huis herstel; ná hom het Asárja, die seun van Maäséja, die seun van Anánja, langs sy huis herstel. Ná hom het Bínnuï, die seun van Hénadad, 'n tweede stuk herstel; van die huis van Asárja af tot by die Winkelhaak en tot by die Hoek. Palal, die seun van Úsai, teenoor die Winkelhaak en die boonste toring wat uit die huis van die koning uitsteek, by die voorhof van bewaking; ná hom Pedája, die seun van Parhos. En die tempelbediendes het gewoon op die Heuwel tot teenoor die Waterpoort, teen die ooste, en die toring wat uitsteek. Ná hom het die Tekoïete 'n tweede stuk herstel, van teenoor die groot toring af wat uitsteek, tot by die Heuwel-muur. Bokant die Perdepoort het die priesters herstel, elkeen teenoor sy huis. Daarnaas het Sadok, die seun van Immer, teenoor sy huis herstel; en ná hom het Semája, die seun van Segánja, die bewaker van die Oospoort, herstel. Ná hom het Hanánja, die seun van Selémja, en Hanun, die sesde seun van Salaf, 'n tweede stuk herstel; daarnaas het Mesúllam, die seun van Berégja, teenoor sy kamer herstel. Ná hom het Malkía, lid van die goudsmede, herstel tot by die huis van die tempelbediendes en die koopmans, teenoor die Wagpoort en tot by die bo-kamer op die Hoek. En tussen die bo-kamer op die Hoek en die Skaapspoort het die goudsmede en die koopmans herstel.

NEHEMIA 3:15-32 AFR83 (Afrikaans 1983)

Die Fonteinpoort is herstel deur Sallun, seun van Kol-Gose en gesagvoerder van die stadswyk Mispa. Hy het die poort herbou, die dak opgesit en die deure, skarniere en sluitbalke ingesit, en verder ook die muur van die Kanaaldam herbou, van die Koningstuin af tot by die trappe wat uit die Dawidstad afkom. Nehemia, seun van Asbuk en gesagvoerder oor die halwe stadswyk Bet-Sur, het die volgende stuk herstel, tot regoor die Dawidsgrafte en tot by die gemesselde dam en die kwartiere van die lyfwag. Die volgende stuk is herstel deur die Leviete, die eerste deur Regum seun van Bani, en die ander deel deur Gasabja, die gesagvoerder oor die halwe stadswyk Keïla, namens sy wyk. Die volgende stuk is herstel deur hulle ampsgenote, die eerste deur Binnuï, seun van Genadad en gesagvoerder oor die ander helfte van die stadswyk Keïla, en die ander deel deur Eser, seun van Jesua en gesagvoerder oor Mispa. Dit was die deel van regoor die ingang van die wapenkamer af tot by die draai in die muur. Die volgende deel is herstel deur Baruk seun van Sabbai, van die draai af tot by die ingang na die hoëpriester Eljasib se huis. Die volgende stuk, van die ingang na Eljasib se huis af tot aan die anderkant van die huis, is herstel deur Meremot seun van Urija, seun van Kos. 'n Volgende stuk is deur die priesters herstel, die eerste deur die manne van die omliggende gebied, die tweede deel deur Benjamin en Gassub, regoor hulle huise, die derde deel deur Asarja seun van Maäseja, seun van Ananeja, reg voor sy huis. Die volgende stuk, die deel van Asarja se huis af tot by die draai en verder tot in die hoek, is herstel deur Binnuï seun van Genadad. Palal seun van Usai het die stuk herstel van regoor die draai af, en ook die toring teen die boonste paleis by die Wagplein. Die volgende stuk is herstel deur Pedaja seun van Paros, en die tempelslawe wat op die Ofel gewoon het. Dit was die gedeelte tot regoor die Waterpoort aan die oostekant en die aangeboude toring. Die volgende deel, die stuk van regoor die groot aangeboude toring af tot by die Ofelmuur, is herstel deur die mense van Tekoa. Die stuk van bokant die Perdepoort af is deur die priesters herstel, elkeen die gedeelte regoor sy huis. Sadok seun van Immer het die volgende stuk, dié regoor sy huis, herstel, en Semaja, seun van Sekanja en opsigter van die Oospoort, die volgende stuk. Die volgende deel is herstel deur Gananja seun van Selemja, en Ganun die sesde seun van Salaf, en die volgende deur Mesullam seun van Berekja tot regoor sy kamer. Malkija, een van die smede, het die volgende stuk herstel, tot by die kwartiere van die tempelslawe en die handelaars, regoor die Inspeksiepoort en verder tot by die kamer bo-op die hoek. Tussen die kamer op die hoek en die Skaappoort het die smede en die handelaars die herstelwerk gedoen.

NEHEMIA 3:15-32 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Die Fonteinpoort is deur Sallun, seun van Kol-Gose, die bevelvoerder van die Mispa-distrik, herstel. Hy het dit self herbou, die dak opgesit en die deure, sokgrendels en sluitbalke ingesit; so ook die stadsmuur by die dam van die watervoor wat na die koningstuin loop, tot by die trappe wat afgaan vanaf die Stad van Dawid. Daar langsaan het Nehemia, seun van Asbuk, bevelvoerder van die helfte van die Bet-Sur-distrik, herstelwerk gedoen tot regoor die grafte van Dawid, en ook verder tot by die geboude dam en die Huis van die Helde. Daar langsaan het die Leviete onder Regum, seun van Bani, herstelwerk gedoen. Langs hom het Gasabja, die bevelvoerder van die helfte van die Keïla-distrik herstelwerk namens sy distrik gedoen. Daar langsaan het hulle stamgenote onder Binnuï, seun van Genadad, die bevelvoerder van die ander helfte van die Keïla-distrik, herstelwerk gedoen. Langs hom het Eser, seun van Jesua, die bevelvoerder van Mispa, herstelwerk gedoen aan 'n tweede afgemete deel teenoor die opdraande na die wapenhuis, by die hoek. Daar langsaan het Barug, seun van Sabbai, 'n tweede afgemete deel ywerig herstel, vanaf die hoek tot by die ingang na die huis van Eljasib, die hoëpriester. Daar langsaan het Meremot, seun van Urija, seun van Kos, 'n tweede afgemete deel herstel, van die ingang na die huis van Eljasib tot by die einde van die huis van Eljasib. Daar langsaan het die priesters, manne uit die onmiddellike omgewing, herstelwerk gedoen. Daar langsaan het Benjamin en Gassub herstelwerk gedoen, reg voor hulle huis. Daar langsaan het Asarja, seun van Maäseja, seun van Ananja, langs sy huis herstelwerk gedoen. Daar langsaan het Binnuï, seun van Genadad, 'n tweede afgemete deel herstel, vanaf die huis van Asarja tot by die hoek en tot by die draai van die stadsmuur. Palal, seun van Usai, was aan die bou teenoor die hoek en die boonste toring wat bo die koninklike paleis uittroon, by die binnehof van die paleiswag. Daar langsaan was dit Pedaja, seun van Paros. Die tempeldienaars het op die Ofel gewoon; hulle was besig tot regoor die Waterpoort aan die oostekant en die toring wat daar uittroon. Daar langsaan het die mense van Tekoa 'n tweede afgemete deel herstel, regoor die groot toring wat uittroon en verder tot by die muur van die Ofel. Bo die Perdepoort het die priesters herstelwerk gedoen – elkeen regoor sy huis. Daar langsaan het Sadok, seun van Immer, herstelwerk gedoen voor sy huis. Daar langsaan het Semaja, seun van Seganja, die wag by die Oospoort, herstelwerk gedoen. Daar langsaan het Gananja, seun van Selemja, en Ganun, die sesde seun van Salaf, 'n tweede afgemete deel herstel. Daar langsaan het Mesullam, seun van Beregja, herstelwerk gedoen regoor sy kamer. Daar langsaan het Malkija, 'n lid van die goudsmede, herstelwerk gedoen tot by die huis van die tempeldienaars en die handelaars, regoor die Poort vir die Monstering, tot by die bovertrek van die draai van die stadsmuur. Tussen die bovertrek van die draai en die Skaappoort het die goudsmede en handelaars herstelwerk gedoen.

NEHEMIA 3:15-32 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Maar die poort van die fontein het Sallun, die seun van Kolhose, die owerste van die deel van Mispa, herstel; hy het dit gebou en dit bedek, en sy deure, sy sluise en sy grendels, en die muur van die bad Siloag by die koning se tuin en tot by die trappe wat van die stad van Dawid afgaan, opgesit. Ná hom het Nehemia, die seun van Asbuk, die owerste van die halwe deel van Bet-Sur, herstel tot by die plek teenoor die grafte van Dawid en tot by die dam wat daar gemaak is, en tot by die huis van die helde. Ná hom het die Leviete herstel, Rehum, die seun van Bani. Naas hom het Hasábja, die owerste van die halwe deel van Kehíla, in sy deel herstel. Ná hom het hulle broers, Bawai, die seun van Henadad, die owerste van die halwe deel van Kehíla, herstel. En naas hom het Eser, die seun van Jesua, die owerste van Mispa, 'n ander stuk reggemaak teenoor die opgang na die wapenkamer by die draai van die muur. Ná hom het Barug, die seun van Sabbai, die ander stuk ernstig herstel, van die draai van die muur af tot by die deur van die huis van die hoëpriester Eljasib. Ná hom het Meremot, die seun van Uría, die seun van Kos, nog 'n stuk herstel, van die ingang van die huis van Eljasib af tot by die einde van die huis van Eljasib. En ná hom het die priesters, die manne van die Vlakte, herstel. Ná hom het Benjamin en Hassub reg teenoor hulle huis herstel. Ná hom het Asárja, die seun van Maäséja, die seun van Anánja, by sy huis herstel. Ná hom het Binnui, die seun van Henadad, nog 'n stuk herstel, van die huis van Asarja af tot by die draai van die muur, tot by die hoek. Palal, die seun van Usai, teenoor die draai van die muur en die toring wat uitsteek van die hoë huis van die koning af, wat by die voorhof van die gevangenis was. Ná hom Pedaja, die seun van Paros. Verder het die tempelbediendes in Ofel gewoon, tot by die plek teenoor die Waterpoort na die ooste, en die toring wat uitsteek. Daarna het die Tekoïete nog 'n stuk herstel, teenoor die groot toring wat uitsteek, tot by die muur van Ofel. Van bo af het die perdepoort die priesters herstel, elkeen teenoor sy huis. Ná hulle het Sadok, die seun van Immer, reg teenoor sy huis herstel. Ná hom het Semaja, die seun van Segánja, die bewaker van die Oospoort, ook herstel. Ná hom het Hanánja, die seun van Selemja, en Hanun, die sesde seun van Salaf, nog 'n stuk herstel. Ná hom het Mesullam, die seun van Beregja, teenoor sy kamer herstel. Ná hom het Malkía, die seun van die goudsmid, herstel tot by die plek van die tempelbediendes en van die handelaars, teenoor die poort Mifkad en tot by die opgang van die hoek. En tussen die opgang van die hoek na die Skaappoort het die goudsmede en die handelaars herstel.

NEHEMIA 3:15-32 DB (Die Boodskap)

Sallun die seun van Kol-Gose en hoof oor die gebied Mispa het die Fonteinhek reggemaak. Hy het die hek herbou, die dak opgesit en ook al die deure, skarniere en sluitbalke ingesit. Hy het ook die muur langs die Siloamdam herbou wat strek van die Koningstuin af tot by die trappe wat uit die Dawidstad afkom. Nehemia seun van Asbuk en hoof oor die gebied Bet-Sur, het van daar af die muur tot regoor die Dawidsgrafte herstel, tot so ver as die stad se wateropgaardam en die soldate se woonkwartiere. Die volgende deel van die stadsmuur is deur die Leviete opgebou. Regum die seun van Bani het ’n gedeelte reggemaak, en Gasabja, hoof oor ’n gedeelte van Keïla, ’n ander gedeelte namens al sy mense. Die volgende gedeelte is deur Binnuï seun van Genadad en hoof oor die res van Keïla, herstel.Langs hom het Eser die seun van Jesua en die hoof oor die gebied Mispa gewerk. Dit was die deel wat regoor die ingang van die wapenkamer begin het en gestrek het tot by die draai in die muur. Baruk die seun van Sabbai het die gedeelte van die draai af tot by die ingang na die hoëpriester Eljasib se huis herstel. Meremot die seun van Urija en kleinseun van Kos het die gedeelte vanaf die ingang na Eljasib se huis tot aan die ander kant van die huis opgebou. Die priesters van die omliggende gebiede het ook gedeeltes van die muur herstel. Benjamin en Gassub het die deel regoor hulle huise reggemaak, en Asarja die seun van Maäseja en kleinseun van Ananeja, die deel reg voor sy huis. Die volgende gedeelte, van Asarja se huis af tot by die draai in die muur en verder tot in die hoek, is deur Binnuï seun van Genadad opgebou. Palal die seun van Usai het die deel van regoor die draai af herstel tot by die toring van die boonste paleis by die Wagplein. Die volgende gedeelte is deur Pedaja seun van Paros en die tempelslawe wat op die Ofel gewoon het, herbou. Hulle het aan die deel van die muur gewerk tot regoor die Waterhek en die aangeboude toring aan die oostekant. Die mense van Tekoa het die muur van die groot aangeboude toring af tot by die Ofelmuur herbou; dit was al die tweede gedeelte waarmee hulle besig was. Van bokant die Perdehek af het die priesters elkeen die gedeelte regoor sy huis herstel. Sadok seun van Immer het ook die muur regoor sy huis herstel, en Semaja die seun van Sekanja en opsigter van die Ooshek, die volgende gedeelte. Gananja seun van Selemja en Ganun, die sesde seun van Salaf, het hulle deel herstel. Mesullam die seun van Berekja het die deel tot regoor sy blyplek reggemaak. Malkija, ’n goudsmid, het die muur tot by die blyplek van die tempelslawe en die handelaars, regoor die Inspeksiehek en tot by die kamer bo-op die hoek, herbou. Die goudsmede en handelaars het die laaste gedeelte van die muur, tussen die kamer op die hoek en die Skaaphek, herbou.

NEHEMIA 3:15-32 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Sallum seun van Kol-Gose was die hoof van die Mispadistrik. Hy het aan die Fonteinpoort gewerk. Hy het dit herbou, die dak opgesit, die deure gehang en die slotte en grendels aangesit. Daarna het hy die muur van die Siloampoel naby die koning se tuin herstel. Hy het die muur herbou tot by die trappe wat van die stad van Dawid af kom. Langs hom het Nehemia seun van Asbuk gewerk. Hy was die hoof van die helfte van die Bet-Surdistrik. Hy het aan die muur gewerk tot oorkant die koningsbegraafplaas en tot by die opgaardam en die soldate-kwartiere. ’n Groep Leviete onder die toesig van Regum seun van Bani was die volgende werkgroep. Langs hulle het Gasabja, die hoof van die helfte van die Keiladistrik, gewerk. Hy het namens sy distrik oor die herstel van die muur toesig gehou. Hulle familie was die volgende groep wat gewerk het. Hulle het onder leiding van Binnuï seun van Genadad, hoof van die res van die Keiladistrik, gewerk. Hulle is gevolg deur Eser seun van Jesua wat die hoof van die Mispagebied was. Hy het aan ’n gedeelte van die muur wat ’n hoek vorm, gewerk. Dit was reg oorkant die wapenkamer. Barug seun van Sabbai het aan die aangrensende deel van die muur gewerk. Die deel van die muur het vanaf die versterkte hoekgedeelte tot by die deur van die huis van die hoëpriester Eljasib gestrek. Meremot seun van Urija, kleinseun van Kos, het verder aan die muur gewerk wat gestrek het vanaf die deur van die huis van Eljasib tot aan die einde van die huis. ’n Volgende stuk van die muur is deur die priesters van die omgewing herstel. Langs hulle het Benjamin, Gassub en Asarja seun van Maäseja, kleinseun van Ananeja gewerk. Hulle het die gedeeltes van die muur reg voor hulle huise herstel. Die volgende stuk, die deel van Asarja se huis tot by die versterkte hoekgedeelte, het Binnuï seun van Genadad reggemaak. Palal seun van Usai het die gedeelte van regoor die hoekgedeelte herstel tot by die toring teen die boonste paleis by die Wagplein. Aan die gedeelte van die muur langs hom het Pedaja seun van Paros gewerk, asook die tempelslawe wat op die Ofelheuwel gewoon het. Hulle het die gedeelte van die muur tot regoor die Waterpoort aan die oostekant en die aangeboude toring herstel. Die mense van Tekoa het aan die volgende deel gewerk. Hulle het die stuk van die muur van regoor die groot aangeboude toring af tot by die Ofelmuur herstel. Die priesters het die volgende gedeelte van die muur bokant die Perdepoort herstel. Elkeen het aan die gedeelte regoor sy huis gewerk. Sadok seun van Immer het die volgende deel wat reg oorkant sy huis was, herstel. Semaja seun van Sekanja en opsigter van die Oospoort het die stuk van die muur wat gevolg het, reggemaak. Langs hulle het Gananja seun van Selemja en Ganun, die sesde seun van Salaf, aan die muur gewerk. Hulle is gevolg deur Mesullam seun van Berekja wat die deel regoor sy kamer herstel het. Malkija, een van die goudsmede, het die volgende stuk van die muur herstel. Hy het gewerk tot by die kwartiere van die tempelslawe en die handelaars, regoor die Inspeksiepoort en verder tot by die kamer bo-op die hoek. Die ander goudsmede en handelaars het aan die gedeelte van die muur tussen die kamer op die hoek en die Skaappoort herstelwerk gedoen.