NEHEMIA 2:1-8

NEHEMIA 2:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Vier maande later, nog in die twintigste jaar van koning Artasasta, was ek besig om wyn vir die koning te skink. Nooit tevore was ek so swaarmoedig in sy teenwoordigheid nie. Die koning vra my toe: “Hoekom lyk jy so hartseer? Jy is mos nie siek nie. Jy lyk diep bekommerd.” Toe het groot vrees my beetgepak, maar ek het geantwoord: “Mag die koning lank lewe! Ek het rede om hartseer te wees. Die stad waar my voorouers begrawe lê, is verwoes. ’n Vuur het ook die poorte afgebrand.” Toe vra die koning: “Hoe kan ek jou help?” Ek bid toe tot die God van die hemel, en antwoord die koning: “As dit reg is met u, en u is tevrede met my as u dienskneg, stuur my dan na Juda toe. Ek sal dan kan gaan na die stad waar my voorouers begrawe lê, en dit herbou.” Die koning, met die koningin wat langs hom sit, vra toe: “Hoe lank sal jy weg wees? Wanneer sal jy terugkom?” Nadat ek vir hom ’n aanduiding van die tyd gegee het, het die koning ingestem om my te stuur. Ek het ook vir die koning gesê: “As u dit goedvind, gee vir my briewe saam vir die goewerneurs van die provinsie wes van die Eufraatrivier. Beveel hulle om my veilig deur hulle gebiede te laat trek op pad na Juda toe. Gee my ook asseblief ’n brief vir Asaf, die toesighouer van die staatsbos. Beveel hom om hout aan my te voorsien. Ek het dit nodig vir die balke van die deure van die vesting wat by die tempel is, vir die stadsmure en die huis waarin ek sal woon.” Die koning het hierdie versoeke toegestaan, want God was my goedgesind.

NEHEMIA 2:1-8 Bybel vir almal (ABA)

Die beker wyn was voor die koning, en ek het dit opgetel en vir hom gegee. Dit was in die maand Nisan, in die twintigste jaar nadat Artasasta koning geword het. Ek het nooit voorheen vir die koning gewys dat ek sleg voel nie. Maar daardie dag het die koning vir my gesê: “Ek kan sien jy voel sleg. Is jy siek? Of is jy hartseer?” Ek was baie bang, maar ek het vir die koning gesê: “Ek bid dat die koning lank sal lewe! Ek ís hartseer, ek kan nie anders voel nie, want vyande het die stad verwoes waar my voorvaders se grafte is. Hulle het die poorte verbrand.” Die koning het vir my gesê: “Wil jy vir my iets vra?” Ek het gebid tot die God van die hemel en ek het vir die koning gesê: “As dit vir die koning goed is en as die koning goed wil wees vir my, jou amptenaar, dan moet jy my stuur na die stad waar die grafte van my voorvaders is, sodat ek die stad weer kan bou.” Toe vra die koning vir my: “Hoe lank sal jy loop om daar te kom? En wanneer sal jy terugkom?” Die koningin het langs die koning gesit. Die koning het besluit om my te stuur. Ek het vir hom gesê hoe lank ek weg sal wees en ek het vir hom gevra: “As die koning dink dit is goed, dan moet jy vir my 'n brief gee om vir die goewerneurs in die provinsie Wes-Eufraat te gee, sodat hulle my sal laat verbygaan om in die provinsie Juda te kom. Ek het hout nodig vir die balke van die poorte en vir die gebou by die tempel wat sterk mure moet hê, en vir die huis waar ek sal moet woon. Jy moet ook vir my 'n brief gee om vir Asaf te gee sodat hy vir my hout kan gee. Asaf is die amptenaar wat die houtbosse van die koning oppas.” Die koning het vir my die briewe gegee, want my God was goed vir my en Hy het sy hand oor my gehou.

NEHEMIA 2:1-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN in die maand Nisan van die twintigste jaar van koning Artasásta toe daar wyn voor hom was, het ek die wyn opgehef en aan die koning gegee; en omdat ek nooit voor hom bedroef was nie, het die koning my gevra: Waarom is jou aangesig so bedroef; jy is tog nie siek nie? Dit is niks anders as hartseer nie. En ek het baie bevrees geword en aan die koning gesê: Mag die koning ewig lewe! Waarom sou my aangesig nie bedroef wees nie, terwyl tog die stad waar my vaders begrawe is, woes lê en sy poorte deur vuur verteer is? Daarop vra die koning my: Wat is dan jou begeerte? En ek het tot die God van die hemel gebid en aan die koning gesê: As die koning dit goedvind en as u dienaar welgevallig is in u oë, stuur my dan na Juda, na die stad waar my vaders begrawe lê, dat ek dit kan opbou. Toe vra die koning my, terwyl die koningin langs hom sit: Hoe lank sal jou reis duur, en wanneer sal jy terugkom? En die koning het dit goedgevind om my te stuur. En ek het hom 'n bepaalde tyd aangegee en aan die koning gesê: As die koning dit goedvind, kan hulle vir my briewe saamgee aan die goewerneurs wes van die Eufraat, dat hulle my laat deurtrek totdat ek in Juda kom; en 'n brief aan Asaf, opsigter van die park van die koning, dat hy aan my hout lewer om die poorte van die vesting wat by die tempel behoort, met balke uit te lê, en vir die muur van die stad en vir die huis waar ek sal intrek. En die koning het my dit toegestaan volgens die goeie hand van my God oor my.

NEHEMIA 2:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dit was in die maand Nisan, die twintigste jaar van koning Artasasta. Die wyn was voor hom, en ek moes dit optel en aan hom gee. Ek was nooit bedruk voor hom nie, maar dié dag sê die koning vir my: “Hoekom lyk jy so bedruk? Is jy dalk siek? Nie? Hartseer dan?” Ek was baie bang, maar ek het vir die koning gesê: “Mag die koning baie lank lewe! Hoe sal ek dan nie bedruk lyk as die stad waar my voorvaders begrawe is, in puin lê en sy poorte verbrand is nie?” Toe sê die koning vir my: “Is daar iets wat jy my wil vra?” Ek het 'n skietgebed opgestuur na die God van die hemel en toe vir die koning gesê: “As die koning dit goedvind, as u dienaar op u goedgesindheid mag reken, stuur my na Juda toe, na die stad waar my voorvaders begrawe is, sodat ek die stad kan herbou.” Die koningin het langs die koning gesit. Hy het vir my gevra: “Hoe lank sal jou reis duur en wanneer sal jy terug wees?” Hy was die saak dus goedgesind, hy het my die opdrag gegee. Ek het vir hom 'n tyd aangedui en toe vir hom gevra: “As die koning dit goedvind, laat ek briewe kry aan die goewerneurs in Wes-Eufraat, sodat hulle my vrye deurgang kan gee tot ek in Juda aankom. Ek het ook 'n brief aan Asaf nodig, die opsigter oor die staatsbos, dat hy my kan voorsien van hout om die poorte van die vesting by die tempel te maak, en vir die stadsmuur en vir die huis wat ek sal bewoon.” My God het sy goeie hand oor my gehou, en die koning het my versoek toegestaan.

NEHEMIA 2:1-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In die maand •Nisan, in die twintigste regeringsjaar van koning Artasasta, het die wyn gereedgestaan voor hom. Ek het die wyn geneem en vir die koning aangebied. Ek was gewoonlik nie treurig voor hom nie. Die koning vra toe vir my: “Waarom is jou gesig so somber? Jy is tog nie siek nie. Dit kan niks anders as 'n treurige hart wees nie.” Ek het baie bang geword en vir die koning gesê: “Mag die koning vir ewig lewe! Waarom sou my gesig nie somber wees wanneer die stad, die plek van my voorouers se grafte, vervalle lê en sy poorte deur vuur verteer is nie? ” Toe vra die koning vir my: “Wat is dit wat jy wil hê?” Ek het tot die God van die hemel gebid en vir die koning gesê: “As die koning dit goedvind, en as u dienaar by u aanvaarding vind, moet u my na Juda stuur, na die stad van my voorouers se grafte, sodat ek dit kan herbou.” Die koning, met die koningin wat langs hom sit, het vir my gevra: “Hoe lank sal jou reis duur, en wanneer kom jy terug?” Die koning het dit goedgevind en my laat gaan. Ek het vir hom 'n bepaalde tyd gegee en vir die koning gesê: “As dit die koning geval, kan daar briewe aan my gegee word, gerig aan die •streekgoewerneurs anderkant die Rivier, sodat ek ongehinderd kan deurtrek totdat ek in Juda aankom; ook 'n brief aan Asaf, die opsigter by die koning se bos, dat hy hout vir my moet gee om as balke te gebruik vir die poorte van die vesting by die •tempel, vir die stadsmuur en vir die huis waarin ek sal tuisgaan.” Die koning het die briewe vir my gegee, omdat die goeie hand van my God oor my was.

NEHEMIA 2:1-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En in die maand Nisan, in die twintigste jaar van koning Artasasta, was daar wyn voor hom, en ek het die wyn opgeneem en dit aan die koning gegee. Nou was ek nie voorheen hartseer in sy teenwoordigheid nie. Daarom het die koning vir my gesê: Waarom is jou aangesig droewig, aangesien jy nie siek is nie? dit is niks anders as hartseer van hart nie. Toe was ek baie bang, En hy het aan die koning gesê: Laat die koning vir ewig lewe; waarom sou my aangesig nie bedroef wees as die stad, die plek van my vaders se grafte, woes lê en sy poorte deur vuur verteer word nie? Toe sê die koning vir my: Waarvoor vra jy? Daarom het ek tot die God van die hemel gebid. En ek het aan die koning gesê: As die koning dit goedvind, en as u dienaar guns in u oë gevind het, stuur u my na Juda, na die stad van my vaders se grafte, dat ek dit kan bou. Toe sê die koning vir my, (die koningin sit ook by hom): Hoe lank sal jou reis wees? en wanneer sal jy terugkom? Daarom het dit die koning behaag om my te stuur; en ek het vir hom 'n tyd bepaal. Verder het ek aan die koning gesê: As die koning dit goedvind, laat my briewe gegee word aan die goewerneurs oorkant die Eufraat, dat hulle my kan wegvoer totdat ek in Juda kom; En 'n brief aan Asaf, die bosbewaarder van die koning, dat hy my hout kan gee om balke te maak vir die poorte van die paleis wat aan die huis behoort het, en vir die muur van die stad en vir die huis waarin ek sal ingaan. En die koning het my gegee volgens die goeie hand van my God oor my.

NEHEMIA 2:1-8 Die Boodskap (DB)

Op ’n dag, vier maande later, in die twintigste regeringsjaar van koning Artasasta, was hy besig om te eet en ek het wyn aan hom bedien. Hy het my nog nooit voorheen bedruk gesien nie. Daarom het hy vir my gevra: “Wat is fout? Ek kan sien jy is nie siek nie! Maar dan moet jy baie hartseer wees oor iets, of hoe?” Ek was uit die veld geslaan dat die koning dit raakgesien het en sê toe vir hom: “Lank lewe die koning! Ek kan nie anders as om hartseer te wees nie. Die stad waar my voorouers begrawe is, is een groot puinhoop. Al die mure rondom die stad lê plat en die stad se hekke is verbrand.” “Hoe kan ek jou help?” wou die koning weet. Op daardie oomblik het ek ’n vinnige skietgebed opgestuur na die God van die hemel toe. Toe sê ek vir die koning: “As U Majesteit my toelaat om ’n guns te vra: laat my asseblief dan toe om na die landgebied van Juda terug te gaan sodat ek die stad waarin my voorvaders begrawe is, kan gaan herbou.” Die koningin het langs die koning aan tafel gesit. Hy vra toe vir my: “Hoe lank sal dit jou vat en wanneer sal jy terug wees?” Nadat ek hom geantwoord het, het hy vir my toestemming gegee om te gaan. Ek sê toe vir hom: “Ek sal bly wees as U Majesteit vir my briewe gee om vir die goewerneurs van die provinsies wes van die Eufraatrivier te verduidelik dat ek met u goedkeuring terugkeer. Dan kan ek sonder probleme deur hulle gebied na Juda toe reis. Ek het ook ’n brief nodig aan Asaf, die voorman van die staatsbos. Hy moet my van hout voorsien om balke te maak vir die hekke van die fort wat naby die tempel is en ook vir die muur rondom die stad en vir die huis waarin ek gaan bly.” Die koning het toe al hierdie dinge vir my gedoen omdat God in sy goedheid sy hand oor my gehou het.