NEHEMIA 12:44-47
NEHEMIA 12:44-47 Bybel vir almal (ABA)
Hulle het daardie dag manne gekies en aangestel om die stoorkamers op te pas, die kamers waar hulle die presente gebêre het en ook die eerste koring en gars en vrugte, en die tiendes. Hulle moes in die stoorkamers die deel van die dinge bêre wat in die grond rondom die stede gegroei het en wat die priesters en Leviete moes kry. Die wette sê die priesters en die Leviete moet dit kry. Die mense van Juda het dit graag gegee vir die werk wat die priesters en Leviete gedoen het. Hulle het die werk vir hulle God gedoen en hulle het mense en dinge gereinig. Die mense wat moes sing en die poortwagte het hulle werk gedoen soos Dawid en sy seun Salomo gesê het. Lank gelede, in die tyd toe Dawid koning was en toe Asaf gelewe het, was daar 'n leier van die mense wat moes sing om vir God te prys en dankie te sê. In die tyd toe Serubbabel en Nehemia goewerneurs was, het al die Israeliete elke dag gesorg vir die mense wat moes sing en vir die poortwagte. Hulle het die gewyde presente vir die Leviete gewy, en die Leviete het die deel gewy wat die priesters moes kry.
NEHEMIA 12:44-47 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN op dié dag is manne aangestel oor die kamers vir die voorrade, die offergawes, die eerstelinge en die tiendes, om daarin die wetlike aandele volgens die landerye van die stede vir die priesters en die Leviete te versamel; want Juda was bly oor die priesters en die Leviete wat in die diens gestaan het. En hulle het die ordening van hulle God en die reinigingsordening onderhou; ook die sangers en die poortwagters, volgens die bevel van Dawid en sy seun Salomo. Want in die dae van Dawid en Asaf, van die voortyd af, lê die oorsprong van die sangers en leiers van die lofsang en die danksegging aan God. En die hele Israel het in die dae van Serubbábel en in die dae van Nehemía die aandele van die sangers en van die poortwagters gegee, na die eis van elke dag; en hulle het die heilige gawes afgegee aan die Leviete, en die Leviete aan die seuns van Aäron.
NEHEMIA 12:44-47 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daardie dag is daar ook manne aangestel oor die voorraadkamers vir die offergawes, die eerstelinge en die tiendes, sodat daarin die deel opgeberg kon word wat volgens wet die priesters en die Leviete uit die boerderygebiede van die stede toekom. Die priesters en die Leviete wat diens gedoen het, het voordeel getrek uit die blydskap van Juda. Die priesters en die Leviete het die diensbeurte ter verering van hulle God en die diensbeurte om die reiniging te doen, waargeneem. Die werk van die sangers en die poortwagte is gereël volgens die voorskrif van Dawid en sy seun Salomo. Daar was reeds in die ou tyd, in die tyd van Dawid en Asaf, leiers van die sangers met die oog op die lof- en dankliedere ter ere van God. In die tyd van Serubbabel en Nehemia het die hele Israel vir die sangers en die poortwagte se onderhoud gesorg soos dit elke dag nodig was. Hulle het ook die offergawes vir die Leviete opsy gesit en die Leviete het dan weer dié van die priesters opsy gesit.
NEHEMIA 12:44-47 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Op dieselfde dag is manne as opsigters aangestel by die vertrekke wat as stoorkamers vir die •wydingsgeskenke, die eerste opbrengs en die tiendes moes dien, om daarin die rantsoen wat die priesters en die Leviete volgens wet moes kry uit die landerye rondom die dorpe, byeen te bring. Juda was immers verheug oor die priesters en oor die Leviete wat diens gedoen het. Hulle het die verpligtinge teenoor hulle God en die reinheidsvoorskrifte nagekom, ook die sangers en poortwagte, in ooreenstemming met die opdragte van Dawid en sy seun Salomo. Ja, van die vroegste tye af, reeds in die dae van Dawid en Asaf, was daar sangleiers en was daar lofliedere en danksegging ter ere van God. Die hele Israel het in die tyd van Serubbabel en in die tyd van Nehemia telkens die rantsoene aan die sangers en poortwagte verskaf, volgens die behoeftes van elke dag. Hulle het ook •heilige gawes vir die Leviete gegee, en die Leviete het dit vir die seuns van Aäron gegee.
NEHEMIA 12:44-47 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En in dié tyd is sommige oor die kamers aangestel vir die skatte, vir die offergawes, vir die eerstelinge en vir die tiendes, om uit die veld van die stede die dele van die wet vir die priesters en Leviete daarin in te samel; Juda was bly vir die priesters en vir die Leviete wat gewag het. En beide die sangers en die poortwagters het die wag van hulle God en die wag van die reiniging gehou volgens die bevel van Dawid en van sy seun Salomo. Want in die dae van Dawid en Asaf van ouds was daar owerstes van die sangers, en lofsange en danksange tot eer van God. En die hele Israel het in die dae van Serubbábel en in die dae van Nehemía die porsies van die sangers en die poortwagters gegee, elke dag sy deel; en hulle het heilige gawes aan die Leviete geheilig; en die Leviete het dit aan die kinders van Aäron geheilig.
NEHEMIA 12:44-47 Die Boodskap (DB)
Op daardie dag het hulle ook mense aangestel om in beheer te wees van die store waarin die bydraes vir die tempel gebêre is. Dit het die eerste offers van die oes en die tiendes ingesluit. Hierdie mense was verantwoordelik daarvoor om hierdie offers op die plase buitekant die stede te gaan haal sodat die priesters en die Leviete daarvan kon leef, soos die Here dit voorgeskryf het. Die mense het dit met vrymoedigheid gegee, want hulle was baie bly dat die priesters en die Leviete weer hulle werk kon doen. Hulle het hulle diensbeurte in die tempel getrou nagekom en ook die regte offers vir die volk se sondes gedoen, soos die Here verwag. Net so het die tempelsangers en die hekwagte ook hulle taak uitgevoer soos dit deur Dawid en sy seun Salomo voorgeskryf is. Dit was alreeds in die tyd van Dawid en Asaf die gebruik om musikante en sangers te hê wat die lofprysing in die tempel tot eer van God gelei het. In Serubbabel en Nehemia se tyd het die mense elke dag gesorg dat die sangers en die hekwagte genoeg kos gehad het. Hulle het ook vir die Leviete die deel gegee wat hulle toekom. Dié het weer op hulle beurt gesorg dat die priesters ook hulle deel kry.
NEHEMIA 12:44-47 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daardie dag het hulle mans aangestel oor die voorraadkamers vir die offergawes, die eerste deel van die oes en die tiendes. Dit was hulle verantwoordelikheid om die deel in te samel wat die wet bepaal het dat die priesters en die Leviete uit die landerye om die dorpe moes kry. Die mense van Juda was baie tevrede met die werk wat die priesters en die Leviete gedoen het. Die priesters en die Leviete het hulle beurte in diens van God gedoen. Hulle het ook die voorskrifte vir die reiniging nagekom. Die sangers en die poortwagte het ook hulle werk gedoen volgens die reëls wat Dawid en sy seun Salomo neergelê het. Die tradisie om koorleiers te hê wat die koor in lof- en dankliedere lei, het reeds in die tyd van Dawid en Asaf al bestaan. In die tyd van Serubbabel en Nehemia het die hele Israel vir die sangers en die poortwagte se onderhoud gesorg soos dit elke dag nodig was. Hulle het ook vir die Leviete die deel gegee wat hulle toekom. Die Leviete het op hulle beurt weer gesorg dat die priesters, die nageslag van Aäron, dié deel kry wat hulle toekom.