NEHEMIA 12:27-43

NEHEMIA 12:27-43 Afrikaans 1983 (AFR83)

Met die oog op die inwyding van die muur om Jerusalem is die Leviete oral in hulle woonplekke opgespoor en na Jerusalem toe gebring. Hulle moes die inwyding feestelik vier met lofliedere en met die musiek van simbale, harpe en liere. Die sangers is bymekaargebring uit die omgewing van Jerusalem, uit die Netofanedersettings, uit Bet-Gilgal en uit die boerderygebiede van Geba en Bet-Asmawet. Die sangers se nedersettings was almal om Jerusalem gebou. Die priesters en die Leviete het eers hulleself gereinig en daarna die volk, die poorte en die muur. Ek het die leiers van Juda op die muur laat klim en toe twee groot kore saamgestel. Die een het ek suid op die muur langs laat gaan tot by die Vullispoort. Agter hulle het Hosaja en die helfte van die gesagvoerders van Juda geloop, en verder Asarja, Esra, Mesullam, Juda en Benjamin, Semaja en Jeremia, 'n aantal priesters met trompette, Sagaria seun van Jonatan, seun van Semaja, seun van Mattanja, seun van Miga, seun van Sakkur, seun van Asaf, en sy ampsgenote Semaja, Asarel, Milalai, Gilalai, Maäi, Netanel, Juda en Ganani met die musiekinstrumente van Dawid, die man van God. Esra die skrifgeleerde was voor hulle. By die Fonteinpoort is hulle reguit op met die trappe na die Dawidstad toe, met die skuinste teen die muur bokant die paleis van Dawid langs tot by die Waterpoort aan die oostekant. Die ander koor het noord geloop. Ek en die ander helfte van die mense het gevolg al met die muur langs oor die Bakoondtoring tot by die Breë Muur, oor die Efraimspoort, die Ou Poort, die Vispoort, die Gananeltoring, die Toring-van-die-Honderd tot by die Skaappoort. By die Wagpoort het hulle gaan staan. Die twee kore het daarna in die tempel plek ingeneem, ek ook, en die helfte van die ampsdraers saam met my. Die priesters Eljakim, Maäseja, Mijamin, Miga, Eljoënai, Sagaria en Gananja het die trompette geblaas, en ook Maäseja, Semaja, Eleasar, Ussi, Joganan, Malkija, Elam en Eser. Die kore het gesing onder leiding van Jisragja. Daar is daardie dag baie offers gebring. Die mense was bly. God het hulle groot blydskap gegee. Ook die vrouens en kinders was bly. Jy kon die blydskap van Jerusalem ver hoor.

NEHEMIA 12:27-43 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Met die inwyding van die stadsmuur van Jerusalem is die Leviete in al hulle woonplekke opgespoor, met die doel om hulle na Jerusalem te bring vir die vreugdevolle viering van die inwyding met dankliedere en sang, met simbale, harpe en liere. Die sanggroepe is byeengeroep uit die omstreke van Jerusalem en uit die gehuggies van die mense van Netofa, uit Bet-Haggilgal en die gebied van Geba en Asmawet; want die sangers het vir hulleself gehuggies gebou om Jerusalem. Toe die priesters en Leviete hulleself gereinig het, het hulle ook die volk, die stadspoorte en die muur gereinig. Ek het die leiers van Juda op die muur laat klim, en twee groot kore vir dankliedere opgestel. Die een koor het op die muur in 'n suidelike rigting na die Ashooppoort beweeg. Hulle is gevolg deur Hosaja en die helfte van die leiers van Juda, ook Asarja, Esra, Mesullam, Juda, Benjamin, Semaja, Jeremia, en van die priestergroepe met trompette: Sagaria, seun van Jonatan, seun van Semaja, seun van Mattanja, seun van Miga, seun van Sakkur, seun van Asaf; en sy ampsgenote Semaja, Asarel, Milalai, Gilalai, Maäi, Netanel, Juda en Ganani, met die musiekinstrumente van Dawid, die man van God, met Esra, die skrifgeleerde, op die voorpunt. Hulle is reguit oor die Fonteinpoort en op met die trappe by die Stad van Dawid, met die steil deel van die muur langs, bo die huis van Dawid verby, tot by die Waterpoort aan die oostekant. Die tweede koor het in die teenoorgestelde rigting beweeg. Ek en die helfte van die volk het hulle op die muur gevolg, bo verby die Toring van die Oonde tot by die Breë Muur, oor die Efraimspoort, die Jesanapoort, die Vispoort en verby die Toring van Gananel en die Toring van die Honderd, tot by die Skaappoort. By die Poort van die Paleiswag het hulle tot stilstand gekom. Daarna het die twee kore vir dankliedere hulle plekke in die huis van God ingeneem, ook ek en die helfte van die gesagsdraers saam met my, en die priesters Eljakim, Maäseja, Minjamin, Miga, Eljoënai, Sagaria en Gananja, met trompette, asook Maäseja, Semaja, Eleasar, Ussi, Joganan, Malkija, Elam en Eser. Die sangers het toe begin sing. Jisragja was die koorleier. Op daardie dag het hulle vol vreugde 'n groot hoeveelheid offers geslag, want God het vir hulle 'n rede tot groot vreugde gegee. Ook die vroue en kinders was verheug, en die vreugde in Jerusalem kon van ver af gehoor word.

NEHEMIA 12:27-43 Die Boodskap (DB)

Met die inwyding van die nuwe muur van Jerusalem is die Leviete van oor die hele land gevra om te kom help met die feesviering. Hulle moes as deel van die feesviering dankliedere sing en musiek maak met hulle simbale, harpe en liere. Die sangers het uit die omgewing rondom Jerusalem gekom uit die dorpies Netofa en Bet-Gilgal. Ander het uit die boerderygemeenskappe van Geba en Bet-Asmawet gekom, want die sangers het vir hulleself dorpies rondom Jerusalem gebou. Die priesters en die Leviete het eers hulleself voor die Here skoongemaak. Daarna het hulle die volk, die hekke en die muur skoongemaak. Toe het ek die leiers van Juda op die muur laat klim en twee groot kore saamgestel wat om die stad moes loop terwyl hulle die Here loof en prys. Die een koor het in ’n suidelike rigting al op die muur langs geloop tot by die Mishek. Hosaja en die helfte van die leiers van Juda is gevolg deur Asarja, Esra, Mesullam, Juda, Benjamin, Semaja en Jeremia. Daar was ook priesters met trompette: Sagaria die seun van Jonatan, die seun van Semaja, die seun van Mattanja, die seun van Miga, die seun van Sakkur, die seun van Asaf, en sy kollegas Semaja, Asarel, Milalai, Gilalai, Maäi, Netanel, Juda en Ganani. Hulle het die musiekinstrumente bespeel wat Dawid, die man van God, voorgeskryf het. Esra het die optog gelei. By die Fonteinhek is hulle reguit met die trap op wat in die rigting van die Dawidstad gelei het. Hulle het verby Dawid se paleis geloop en van daar af is hulle ooswaarts na die Waterhek toe. Die ander koor het noord op die muur geloop. Ek en die ander helfte van die mense het hulle gevolg. Ons het by die Bakoondtoring verbygeloop tot by die Breë Muur. Van daar af het ons oor die Efraimshek geloop tot by die Ou Stadshek, verby die Vishek en die Toring van Gananel tot by die Toring van die Honderd. Daarvandaan is ons verder tot by die Skaaphek en het uiteindelik by die Waghek naby die tempel gaan staan. Die twee kore is toe van daar af tempel toe waar hulle op die plek wat vir hulle aangewys is, gaan staan het. Ek en die groep leiers saam met my het ook ons plekke ingeneem. Die priesters Eljakim, Maäseja, Mijamin, Miga, Eljoënai, Sagaria en Gananja het die trompette geblaas, gevolg deur Maäseja, Semaja, Eleasar, Ussi, Joganan, Malkija, Elam en Eser. Die koor onder leiding van Jisragja het uit volle bors tot eer van die Here gesing. Op daardie dag het hulle baie offers gebring. Die mense was opgeruimd en vrolik, want God het hulle in staat gestel om die bouprojek suksesvol af te handel. Almal, ook die vroue en kinders, het aan die feesviering deelgeneem. Jy kon die vrolike klanke en musiek van ver af hoor.

NEHEMIA 12:27-43 Bybel vir almal (ABA)

Toe hulle die muur van Jerusalem wou wy, het hulle die Leviete oral gesoek in die dorpe waar hulle gewoon het. Hulle het die Leviete na Jerusalem gebring. Die Leviete moes die muur wy en hulle moes feesvier, hulle moes die Here prys en musiek maak met simbale, met harpe en met liere. Hulle het die mense wat moes sing, bymekaar laat kom uit die plekke rondom Jerusalem, uit die woonplekke van die mense van Netofa, uit Bet-Gilgal en uit die velde rondom Geba en Asmawet. Die mense wat moes sing, het vir hulle woonplekke gebou rondom Jerusalem. Die priesters en die Leviete het hulleself gereinig, en daarna het hulle ook die ander mense, die poorte en die muur gereinig. Ek het gesê die leiers van Juda moet op die muur klim. Hulle moes in twee groot groepe staan om te sing. Die een groep moes op die muur na die suide toe loop tot by die Vullis-poort. Hosaja en die helfte van die leiers van Juda het agter daardie groep geloop, en ook Asarja, Esra, Mesullam, Juda en Benjamin, Semaja en Jeremia. Ná hulle het priesters geloop wat trompette geblaas het. Hulle was Sagaria seun van Jonatan seun van Semaja seun van Mattanja seun van Miga seun van Sakkur seun van Asaf, en die priesters Semaja, Asarel, Milalai, Gilalai, Maäi, Netanel, Juda en Ganani. Hulle het gespeel op die musiek-instrumente van Dawid, die man van God. Die sekretaris Esra het voor hulle geloop. By die Fontein-poort het hulle reguit opgegaan by die trappe van die Dawidstad, daar waar die muur boontoe gaan, en toe verby die paleis van Dawid tot by die Water-poort by die oostekant. Die ander groep mense wat moes sing, het na die ander kant geloop. Ek en die ander helfte van die mense het agter hulle geloop, op die muur oor die Bakoond-toring tot by die Breë Muur, oor die Efraim-poort, die Ou Poort, die Vis-poort, die Gananel-toring, die Toring-van-die-Honderd tot by die Skaap-poort, en by die Wag-poort het ons gaan staan. Daarna het die twee groepe wat moes sing, in die tempel gaan staan. Ek het ook daar gaan staan, en die helfte van die leiers het saam met my gaan staan. Die priesters Eljakim, Maäseja, Minjamin, Miga, Eljoënai, Sagaria en Gananja het die trompette geblaas, en ook Maäseja, Semaja, Eleasar, Ussi, Joganan, Malkija, Elam en Eser. Die groepe het gesing, Jisragja was hulle leier. Die mense het daardie dag baie offers gebring. Hulle was bly, God het hulle baie bly gemaak. Die vroue en kinders was ook bly. 'n Mens kon van ver hoor hoe Jerusalem feesvier.

NEHEMIA 12:27-43 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN by die inwyding van die muur van Jerusalem is die Leviete uit al hulle woonplekke gesoek, om hulle na Jerusalem te bring ten einde die inwyding te hou met vreugde en dankliedere en met gesang, simbale, harpe en siters. Toe het die seuns van die sangers byeengekom uit die streek rondom Jerusalem sowel as uit die dorpe van die Netofatiete, en uit Bet-Gilgal en uit die buiteveld van Geba en Asmáwet, want die sangers het vir hulle dorpe rondom Jerusalem gebou. En die priesters en die Leviete het hulleself gereinig, en die volk en die poorte en die muur gereinig. En ek het die owerstes van Juda bo-op die muur laat klim en twee groot kore opgestel en optogte, een na regs bo-op die muur na die Aspoort toe; en agter hulle aan het geloop: Hosája en die helfte van die owerstes van Juda, en Asárja, Esra en Mesúllam, Juda en Benjamin en Semája en Jeremia, en van die seuns van die priesters met trompette, Sagaría, die seun van Jónatan, die seun van Semája, die seun van Mattánja, die seun van Migája, die seun van Sakkur, die seun van Asaf, en sy broers Semája en Asáreël, Mílalai, Gílalai, Maäi, Netáneël en Juda, Hanáni, met die musiekinstrumente van Dawid, die man van God; en Esra, die skrifgeleerde, voor hulle uit. En by die Fonteinpoort het hulle, reg voor hulle uit, met die trappe van die Dawidstad opgegaan, waar die muur opgaan bo die huis van Dawid, tot by die Waterpoort teen die ooste. En die tweede koor het in teenoorgestelde rigting getrek, en ek met die helfte van die volk agteraan, bo-op die muur by die Bakoondtoring langs tot by die Breë Muur; verder by die Efraimspoort langs en die Ou Poort en die Vispoort en die toring Hanáneël en die toring Hamméa tot by die Skaapspoort; en hulle het bly staan by die Gevangenispoort. Toe het die twee kore in die huis van God gaan staan, en ek en die helfte van die leiers met my saam; en die priesters Éljakim, Maäséja, Mínjamin, Migája, Eljoënai, Sagaría, Hanánja met trompette, en Maäséja en Semája en Eleásar en Ussi en Jóhanan en Malkía en Elam en Eser. En die sangers het hulle laat hoor, en Jisrágja was die leier. En op dié dag het hulle groot offers gebring en was vrolik; want God het hulle groot vreugde verskaf, en ook die vroue en kinders was vrolik, sodat die vreugde van Jerusalem tot ver weg gehoor is.

NEHEMIA 12:27-43 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En by die inwyding van die muur van Jerusalem het hulle die Leviete uit al hulle plekke gesoek om hulle na Jerusalem te bring, om die inwyding te vier met blydskap, beide met danksegginge en met sang, met simbale, harpe en met siters. En die seuns van die sangers het bymekaargekom, beide uit die vlakte rondom Jerusalem en uit die dorpe van Netofati; Ook uit die huis van Gilgal en uit die veld van Geba en Asmawet; want die sangers het vir hulle dorpe rondom Jerusalem gebou. En die priesters en die Leviete het hulleself gereinig en die volk en die poorte en die muur gereinig. Toe het ek die vorste van Juda teen die muur laat optrek en twee groot menigte van die loflieds aangestel, waarvan een aan die regterkant op die muur na die mispoort gegaan het. En agter hulle aan het Hosaja en die helfte van die vorste van Juda gegaan, En Asarja, Esra en Mesullam, Juda en Benjamin en Semaja en Jeremia, En sommige van die seuns van die priesters met trompette; naamlik Sagaria, die seun van Jónatan, die seun van Semaja, die seun van Mattanja, die seun van Migaja, die seun van Sagur, die seun van Asaf; En sy broers, Semaja en Asarel, Milalai, Gilalai, Maai, Netáneël en Juda, Hanani, met die musiekinstrumente van Dawid, die man van God, en Esra, die skrywer, voor hulle uit. En by die Fonteinpoort wat teenoor hulle was, het hulle opgeklim met die trappe van die stad van Dawid, by die opgang van die muur, bokant die huis van Dawid, tot by die Waterpoort na die ooste. En die ander menigte van die lofsange het teen hulle oorgetrek, en ek agter hulle aan, en die helfte van die volk op die muur, van anderkant die oondtoring af tot by die breë muur; en van bo die Efraimpoort af en bokant die ou poort en bokant die Vispoort en die toring van Hananeel en die toring van Meag tot by die Skaappoort; en hulle het stilgestaan in die tronkpoort. So het die twee menigte van die loflieds in die huis van God gestaan, en ek en die helfte van die owerstes saam met my. En die priesters; Eljakim, Maäséja, Miniamin, Migaja, Eljoënai, Sagaria en Hanánja, met trompette; en Maäséja en Semája en Eleásar en Ussi en Jóhanan en Malkia en Elam en Eser. En die sangers het hard gesing, saam met Jísraja, hulle opsigter. En hulle het daardie dag groot offers gebring en hulle gejuig, want God het hulle met groot blydskap gemaak; ook die vroue en die kinders was bly, sodat die blydskap van Jerusalem tot ver gehoor is.

NEHEMIA 12:27-43 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Met die inwyding van die muur om Jerusalem het hulle die Leviete oral by hulle huise gaan soek en gevra om na Jerusalem toe te kom. Hulle moes met die seremonies help en met lofliedere en die musiek van simbale, harpe en liere aan die feesvierings deelneem. Hulle het sangers uit die omgewing van Jerusalem en uit die Netofanedorpies bymekaargebring. Verder ook uit Bet-Gilgal en uit die landelike gebiede van Geba en Bet-Asmawet. Die sangers het almal hulle blyplekke rondom Jerusalem gebou. Die priesters en die Leviete het eers hulleself gereinig en daarna die mense, die poorte en die muur. Ek het die leiers van Juda op die muur laat klim en toe twee groot kore saamgestel om lofliedere te sing. Ek het die een koor suid op die muur langs laat loop tot by die Vullispoort. Agter hulle het Hosaja en die helfte van die leiers van Juda geloop, en verder Asarja, Esra, Mesullam, Juda en Benjamin, Semaja en Jeremia. Daar het ook ’n aantal priesters met trompette geloop. Hulle was Sagaria seun van Jonatan, seun van Semaja, seun van Mattanja, seun van Miga, seun van Sakkur, seun van Asaf. Laastens het sy medewerkers Semaja, Asarel, Milalai, Gilalai, Maäi, Netanel, Juda en Ganani met die musiekinstrumente van Dawid, die man van God, gekom. Die skrifkenner Esra het die optog gelei. By die Fonteinpoort het hulle reguit met die trappe teen die skuinste van die muur opgestap na die Dawidstad toe. Hulle het bokant die paleis van Dawid langs gestap tot by die Waterpoort aan die oostekant. Die ander koor wat ook lofliedere gesing het, het noord geloop. Ek en die ander helfte van die ander mense het hulle op die muur langs gevolg, oor die Bakoondtoring tot by die Breë Muur, van daar af verder bokant die Efraimspoort verby na die Ou Stadspoort toe, verby die Vispoort en die Gananeltoring. Ons het aangehou verby die Toring van die Honderd tot by die Skaappoort en toe by die Wagpoort gaan staan. Die twee kore het daarna hulle plekke in die tempel ingeneem. Ek en die helfte van die leiers saam met my het dieselfde gedoen. Die priesters Eljakim, Maäseja, Mijamin, Miga, Eljoënai, Sagaria en Gananja het die trompette geblaas. Maäseja, Semaja, Eleasar, Ussi, Joganan, Malkija, Elam en Eser het dit ook gedoen. Die kore het onder leiding van Jisragja gesing. Hulle het daardie dag baie offers gebring. Die mense was bly, want God het hulle baie rede gegee om bly te wees. Die vroue en kinders was ook bly. ’n Mens kon die blydskap van die mense in Jerusalem ver hoor.