MARKUS 9:9-13
MARKUS 9:9-13 Bybel vir almal (ABA)
Jesus en sy dissipels het afgekom van die berg, en Jesus het vir hulle gesê hulle moet vir niemand vertel wat hulle gesien het nie. Hulle kon dit vertel nadat Hy, die Seun van die mens, weer begin lewe het. Die dissipels was gehoorsaam, maar hulle het met mekaar gepraat en gevra wat dit beteken om weer te begin lewe. Die dissipels het vir Jesus gevra: “Hoekom sê die skrifgeleerdes Elia moet kom voordat die Messias kom?” Jesus het vir hulle gesê: “ Elia moet eers kom om alles gereed te maak. Maar hoekom het die profete geskryf dat Ek, die Seun van die mens, baie swaar moet kry en dat die mense slegte dinge sal doen aan My? Ek sê vir julle: Elia het al klaar gekom, en die mense het met hom alles gedoen wat hulle wou doen. Dit het gebeur soos die profete oor hom geskryf het.”
MARKUS 9:9-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En onderwyl hulle van die berg afklim, gee Hy aan hulle bevel om aan niemand te vertel wat hulle gesien het voordat die Seun van die mens uit die dode opgestaan het nie. En hulle het die woord vir hulleself gehou en onder mekaar gevra wat dit beteken om uit die dode op te staan. En hulle vra Hom en sê: Waarom sê die skrifgeleerdes dat Elía eers moet kom? Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Dis waar, Elía kom eers om alles te herstel; en tog, hoe staan daar dan van die Seun van die mens geskrywe dat Hy baie moet ly en verag word? Maar Ek sê vir julle dat Elía al gekom het, en hulle het aan hom gedoen alles wat hulle wou, soos van hom geskrywe is.
MARKUS 9:9-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Terwyl hulle van die berg afkom, het Jesus hulle opdrag gegee om wat hulle gesien het, vir niemand te vertel voordat die Seun van die mens uit die dood opgestaan het nie. Hulle het hulle toe aan hierdie opdrag gehou, maar onder mekaar geredeneer oor wat dit beteken as Hy sê dat die Seun van die mens uit die dood sal opstaan. Hulle vra Hom toe: “Waarom sê die skrifgeleerdes dat Elia eers moet kom?” “Elia kom wel eers om alles weer reg te maak,” antwoord Hy hulle. “En hoe staan daar ook oor die Seun van die mens geskrywe? Hy moet baie ly en verag word. Maar Ek sê vir julle: Elia het reeds gekom, en die mense het met hom gemaak wat hulle wou, net soos daar oor hom geskrywe staan.”
MARKUS 9:9-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Terwyl hulle die berg afgaan, het Jesus hulle beveel om niemand te vertel wat hulle gesien het voordat die •Seun van die Mens uit die dood opgestaan het nie. Hulle het dié saak vir hulleself gehou, terwyl hulle onderling bespiegel het wat “uit die dood opstaan” beteken. Hulle vra Hom toe: “Waarom sê die skrifkenners dat Elia eers moet kom?” Hy het hulle geantwoord: “Elia kom inderdaad eers om alles te herstel. En waarom staan daar dan geskryf oor die Seun van die Mens dat Hy baie moet ly en verag word? Maar Ek sê vir julle: Elia het reeds gekom en hulle het aan hom gedoen wat hulle wou, soos daar oor hom geskryf staan.”
MARKUS 9:9-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe hulle van die berg afklim, het Hy hulle bevel gegee om vir niemand te vertel wat hulle gesien het totdat die Seun van die mens uit die dode opgestaan het nie. En hulle het daardie woord by hulleself gehou en onder mekaar gevra wat die opstanding uit die dode sou beteken. En hulle het hom gevra en gesê: Waarom sê die skrifgeleerdes dat Elía eers moet kom? En hy antwoord en sê vir hulle: Elía kom voorwaar eerste en herstel alles; en hoe daar geskrywe is van die Seun van die mens, dat Hy baie moet ly en verwerp word. Maar Ek sê vir julle dat Elía waarlik gekom het, en hulle het aan hom gedoen alles wat hulle wou, soos van hom geskrywe is.
MARKUS 9:9-13 Die Boodskap (DB)
Terwyl hulle so van die berg afstap, vra Jesus hulle mooi om vir niemand te vertel wat gebeur het voordat die Seun van die mens uit die dood opgestaan het nie. Hulle het niks gesê nie, maar lank met mekaar gesels oor wat Jesus bedoel met “opstaan uit die dood”. Hulle vra toe vir Jesus: “Waarom sê die slim mense dat Elia eers moet kom voordat die beloofde Redder sy opwagting gaan maak?” “Wel,” sê Jesus, “laat Ek dit so stel. Elia sal eers kom om alles reg te kry. Maar wat staan daar in die Skrif oor My? Daar staan dat die Seun van die mens eers moet swaarkry en dat mense Hom moet verneder en verwerp. Maar luister nou mooi wat Ek vir julle sê: Elia was al hier. Mense het met hom ook gemaak net wat hulle wou, presies soos ons in die Skrif oor hom lees.”
MARKUS 9:9-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe hulle van die berg af gaan, het Jesus hulle beveel: “Julle moet vir niemand vertel wat julle gesien het totdat Ek, die Seun van die Mens, uit die dood opgestaan het nie.” Hulle het dit toe vir hulleself gehou, maar hulle het onder mekaar bly redekawel oor wat hierdie “opstaan uit die dood” waarvan Jesus praat, beteken. Hulle het Hom toe uitgevra: “Waarom hou die skrifkenners vol dat Elia eers moet terugkeer voordat die Messias sal verskyn?” Jesus het geantwoord: “Elia kom inderdaad eers om alles weer in orde te kry. Hoe staan daar dan oor My, die Seun van die Mens, geskryf dat Ek baie moet ly en verneder moet word? Tog sê Ek vir julle, Elia het reeds gekom en hulle het met hom gemaak net wat hulle wou, presies soos daar van hom in die Skrif geskryf staan.”