MARKUS 8:31-38

MARKUS 8:31-38 Bybel vir almal (ABA)

Van toe af het Jesus vir sy dissipels begin verduidelik dat die familieleiers, die priesterleiers en die skrifgeleerdes baie slegte dinge sal doen aan Hom, die Seun van die mens. Hulle sal Hom nie aanvaar nie, hulle sal Hom doodmaak, maar ná drie dae sal Hy weer lewe. Jesus het reguit met die dissipels hieroor gepraat. Petrus het vir Jesus weggeneem van die ander dissipels en hy het met Hom geraas. Jesus het omgedraai en na die ander dissipels gekyk. Hy het met Petrus geraas en gesê: “Gaan weg van My, Satan. Jy dink nie aan wat God wil hê nie, jy dink aan wat die mense wil hê.” Jesus het toe al die mense wat daar was, saam met die dissipels na Hom toe geroep. Hy het vir hulle gesê: “As iemand saam met My wil kom, dan moet hy nie dink aan wat hy self graag wil hê nie. Hy moet lewe soos iemand wat weet hy sal aan 'n kruis sterf. Dit is hoe hy My moet volg. Want as iemand homself wil red, dan sal hy sy lewe verloor. Maar as iemand sy lewe verloor omdat hy lief is vir My en vir die goeie boodskap, dan sal hy sy lewe red. As jy alles in die wêreld kry maar jy verloor jou lewe, dan help dit jou niks. Hoeveel sal 'n mens betaal vir sy lewe? Die mense wat nou lewe, doen baie sonde. Hulle doen nie wat God wil hê nie. As iemand doen soos hulle en hy wil My nie ken nie en hy wil nie glo wat Ek sê nie, dan sal Ek, die Seun van die mens, hom ook nie wil ken nie. Ek sal hom ook nie wil ken nie wanneer Ek saam met die heilige engele kom en Koning is soos my Vader Koning is.”

MARKUS 8:31-38 Die Boodskap (DB)

Toe begin Hy met hulle oor Homself praat. Hy vertel hulle dat die Redder, die Seun van die mens, baie swaar gaan kry en dat al die belangrikste leiers van die Jode, of dit op politieke of godsdienstige gebied is, teen Hom gaan draai. Hulle gaan Hom doodmaak, maar na drie dae sal Hy weer lewendig word. Jesus het niks weggesteek nie. Petrus gaan staan toe eenkant met Jesus en sê vir Hom dat Hy nie so moet praat nie. Jesus het egter omgedraai en na sy volgelinge gekyk. Hy praat toe streng met Petrus: “Gee pad agter My, Satan!” sê Hy. “Al wat vir jou saak maak, is wat mense wil hê. Jy gee nie om wat God wil hê nie.” Jesus roep die ander mense ook na Hom en sy volgelinge toe en begin met hulle praat: “As iemand my volgeling wil wees, moet hy sy hele lewe vir My gee. Ek sal met niks minder tevrede wees nie. Om My te volg is nie altyd maklik nie. “Dit is soos om jou eie kruis na jou dood toe te moet dra as Ek dit van jou vra. Dit is soos om jou eie doodsvonnis te teken. As jy net vir jouself wil lewe, sal jy uiteindelik jou lewe vir ewig verloor. As jy egter bereid is om alles wat Ek vra vir My te gee, al is dit ook jou lewe, sal jy uiteindelik jou lewe vir ewig behou. Jy moet die keuse doen. Maar vra eers vir jouself die volgende vraag: Wat help dit as al die skatte in die wêreld joune is, maar daar is nie vir jou plek by God nie? ’n Mens kan nie vir jou ’n plek by God koop met al die geld in die wêreld nie. As iemand hom vir My of my boodskap skaam voor hierdie klomp goddelose, slegte mense in die wêreld, sal Ek My vir daardie persoon skaam wanneer Ek by my wonderlike groot Vader met al sy engele is.