MARKUS 8:30-33
MARKUS 8:30-33 Die Boodskap (DB)
Jesus vra hulle toe mooi om dit nie vir ander te sê nie. Toe begin Hy met hulle oor Homself praat. Hy vertel hulle dat die Redder, die Seun van die mens, baie swaar gaan kry en dat al die belangrikste leiers van die Jode, of dit op politieke of godsdienstige gebied is, teen Hom gaan draai. Hulle gaan Hom doodmaak, maar na drie dae sal Hy weer lewendig word. Jesus het niks weggesteek nie. Petrus gaan staan toe eenkant met Jesus en sê vir Hom dat Hy nie so moet praat nie. Jesus het egter omgedraai en na sy volgelinge gekyk. Hy praat toe streng met Petrus: “Gee pad agter My, Satan!” sê Hy. “Al wat vir jou saak maak, is wat mense wil hê. Jy gee nie om wat God wil hê nie.”
MARKUS 8:30-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar Jesus het aan hulle streng opdrag gegee om dit vir niemand te vertel nie. Jesus het toe by hulle begin tuisbring dat God bepaal het dat Hy, die Seun van die Mens, baie dinge moet ly: Hy sal deur die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifkenners verwerp word. Hy sal doodgemaak word, maar sal ná drie dae weer opstaan. Hy het dit reguit vir hulle vertel. Maar Petrus vat Hom toe eenkant toe en begin Hom ernstig bestraf. Jesus het Hom egter omgedraai, na sy dissipels gekyk en vir Petrus bestraf met die woorde: “Gee pad agter My, jou satan! Jy dink soos mense dink. Jy dink nie soos God dink nie.”
MARKUS 8:30-33 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het toe vir sy dissipels gesê hulle mag nie vir ander mense vertel dat Hy die Christus is nie. Van toe af het Jesus vir sy dissipels begin verduidelik dat die familieleiers, die priesterleiers en die skrifgeleerdes baie slegte dinge sal doen aan Hom, die Seun van die mens. Hulle sal Hom nie aanvaar nie, hulle sal Hom doodmaak, maar ná drie dae sal Hy weer lewe. Jesus het reguit met die dissipels hieroor gepraat. Petrus het vir Jesus weggeneem van die ander dissipels en hy het met Hom geraas. Jesus het omgedraai en na die ander dissipels gekyk. Hy het met Petrus geraas en gesê: “Gaan weg van My, Satan. Jy dink nie aan wat God wil hê nie, jy dink aan wat die mense wil hê.”
MARKUS 8:30-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Hy het hulle streng beveel om niemand van Hom te vertel nie. Toe het Hy hulle begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly en verwerp word deur die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes en gedood word en ná drie dae opstaan. En hierdie woord het Hy ronduit gespreek. En Petrus het Hom opsy geneem en Hom begin bestraf. Maar Hy het Hom omgedraai, en terwyl Hy sy dissipels aankyk, het Hy Petrus bestraf en gesê: Gaan weg agter My, Satan! Want jy bedink nie die dinge van God nie, maar dié van die mense.
MARKUS 8:30-33 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe belet Hy hulle om dit vir iemand anders te vertel. Jesus het hulle toe begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly, dat Hy deur die familiehoofde en die priesterhoofde en die skrifgeleerdes verwerp moet word en doodgemaak moet word, en drie dae later moet opstaan. Hy het met hulle hieroor reguit gepraat. Toe het Petrus Hom opsy geneem en Hom begin berispe. Hy het egter omgedraai, na sy dissipels gekyk en vir Petrus berispe. “Moenie in my pad staan nie, Satan,” het Hy gesê, “want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê.”
MARKUS 8:30-33 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jesus het hulle toe opdrag gegee om niemand van Hom te vertel nie. Hy het begin om hulle te leer dat die •Seun van die Mens baie moet ly, deur die familiehoofde, leierpriesters en skrifkenners verwerp en doodgemaak moet word, en ná drie dae moet opstaan. Hy het openlik hieroor gepraat. •Petrus het Hom eenkant toe geneem en Hom begin berispe. Maar Hy het omgedraai, na sy dissipels gekyk en Petrus berispe: “Gaan weg agter my, Satan! Want jy bedink nie die dinge van God nie, maar die dinge van mense.”
MARKUS 8:30-33 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy het hulle bevel gegee om vir niemand van hom te vertel nie. En Hy het hulle begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly en deur die ouderlinge en die owerpriesters en skrifgeleerdes verwerp moet word en gedood word en ná drie dae opstaan. En hy het daardie woord openlik gespreek. En Petrus het hom geneem en hom begin bestraf. Maar toe Hy omgedraai het en sy dissipels aanskou, het Hy Petrus bestraf en gesê: Gaan weg agter My, Satan, want jy geniet nie die dinge wat van God is nie, maar die dinge wat van die mense is.