MARKUS 8:14-21
MARKUS 8:14-21 Bybel vir almal (ABA)
Die dissipels het nie genoeg brood saamgeneem nie. Hulle het net een brood by hulle in die boot gehad. Jesus het sy dissipels gewaarsku en vir hulle gesê: “Julle moet oppas, julle moet versigtig wees vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van koning Herodes.” Die dissipels het daaroor met mekaar gepraat. Hulle het gedink Jesus sê dit omdat hulle nie brood gehad het nie. Jesus het geweet wat hulle dink en Hy het vir hulle gevra: “Hoekom praat julle oor die brood wat julle nie het nie? Weet julle nie, verstaan julle nog nie? Hoekom is julle so hardkoppig? “ Julle het oë, maar julle sien nie, en julle het ore, maar julle hoor nie. “Kan julle nie onthou nie? Toe Ek vyf brode gebreek het en vir die 5 000 mense kos gegee het, hoeveel mandjies vol stukkies het julle daarna opgetel?” Die dissipels het geantwoord: “Twaalf mandjies.” Jesus vra toe weer: “En toe Ek die sewe brode gebreek het en vir die 4 000 mense kos gegee het, hoeveel groot mandjies vol stukkies het julle toe opgetel?” Die dissipels het geantwoord: “Sewe mandjies.” Toe vra Jesus vir sy dissipels: “Verstaan julle nog nie?”
MARKUS 8:14-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En hulle het vergeet om brode saam te neem, en het net een brood by hulle in die skuit gehad. En Hy het hulle beveel en gesê: Pas op, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes. Toe redeneer hulle onder mekaar en sê: Dit is omdat ons geen brode het nie. En Jesus merk dit en sê vir hulle: Waarom redeneer julle dat julle geen brode het nie? Begryp julle nie en verstaan julle nie? Het julle nog jul verharde hart? Het julle oë en sien julle nie? En het julle ore en hoor julle nie? En onthou julle nie toe Ek die vyf brode vir die vyfduisend gebreek het, hoeveel mandjies vol brokstukke julle opgetel het nie? Hulle sê vir Hom: Twaalf. En die sewe vir die vierduisend — hoeveel mandjies vol brokstukke het julle opgetel? En hulle sê: Sewe. Toe sê Hy vir hulle: Hoe verstaan julle dan nie!
MARKUS 8:14-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die dissipels het vergeet om brood saam te vat; hulle het net een by hulle in die skuit gehad. Jesus het hulle toe gewaarsku: “Pas op, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes.” Hulle het toe vir mekaar gesê dit is omdat hulle nie brood het nie. Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: “Waarom praat julle daaroor dat julle nie brood het nie? Begryp en verstaan julle nog nie? Is julle nog steeds so traag van begrip? Julle wat oë het, sien julle dan nie? Julle wat ore het, hoor julle dan nie? Onthou julle nie, toe Ek die vyf brode vir die vyf duisend gebreek het, hoeveel mandjies vol stukke brood julle oorgehou het nie?” “Twaalf,” sê hulle vir Hom. “En sewe brode vir die vier duisend, hoeveel mandjies vol stukke het julle toe oorgehou?” “Sewe,” sê hulle vir Hom. Toe sê Hy vir hulle: “Verstaan julle dan nog nie?”
MARKUS 8:14-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hulle het vergeet om brode saam te neem. Behalwe 'n brood, het hulle niks anders by hulle in die boot gehad nie. Jesus het hulle gewaarsku: “Pasop, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die •Fariseërs en die suurdeeg van Herodes. ” Hulle het toe onder mekaar bespiegel dat dit is omdat hulle nie brood het nie. Bewus hiervan, sê Hy vir hulle: “Waarom redekawel julle daaroor dat julle nie brood het nie? Verstaan julle nie en begryp julle nie? Het julle steeds verharde harte? “Het julle oë, en sien julle nie? Het julle ore, en hoor julle nie? “En onthou julle nie toe Ek die vyf brode vir die vyfduisend gebreek het, hoeveel mandjies vol stukke julle opgetel het nie?” Hulle antwoord Hom: “Twaalf.” “En toe Ek die sewe brode vir die vierduisend gebreek het, hoeveel mandjies vol stukke wat oorgebly het, het julle toe opgetel?” Hulle antwoord Hom: “Sewe.” Hy sê toe vir hulle: “Begryp julle steeds nie?”
MARKUS 8:14-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die dissipels het vergeet om brood te neem, en hulle het nie meer as een brood saam met hulle in die skip gehad nie. En Hy het hulle bevel gegee en gesê: Pas op, pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs en vir die suurdeeg van Herodes. En hulle het onder mekaar geredeneer en gesê: Dit is omdat ons geen brood het nie. En toe Jesus dit weet, sê Hy vir hulle: Waarom redeneer julle, omdat julle geen brood het nie? bemerk julle nog nie en verstaan julle nie? het jy jou hart al verhard? As julle oë het, sien julle nie? en as julle ore het, hoor julle nie? en onthou julle nie? Toe ek die vyf brode onder vyfduisend gebreek het, hoeveel mandjies vol brokstukke het julle opgetel? Hulle sê vir hom: Twaalf. En toe die sewe onder vier duisend, hoeveel mandjies vol brokstukke het julle opgetel? En hulle sê: Sewe. En Hy sê vir hulle: Hoe is dit dat julle nie verstaan nie?
MARKUS 8:14-21 Die Boodskap (DB)
Sy volgelinge het vergeet om genoeg brood in te pak. Hulle het net een by hulle gehad. Jesus sluit toe daarby aan met ’n voorbeeld: “Wees baie versigtig vir die suurdeeg van die godsdienstige Jode wat hulleself die Fariseërs noem en ook vir die suurdeeg van Herodes.” Die dissipels wonder toe onder mekaar waarom Jesus nou juis dit sê. “Dit is seker omdat ons nie genoeg brood saamgebring het nie,” dink hulle toe. Jesus kom toe agter wat hulle besig was om te bespreek. “Julle misgis julle heeltemal,” sê Hy. “Waarom praat julle oor die brood wat julle vergeet het? Is julle so dom dat julle nie kan verstaan wat Ek bedoel nie? Of wil julle dalk nie verstaan nie? Julle het oë, maar sien niks nie en het ore, maar gaan soos dowes deur die lewe. Kan julle dan nie onthou hoe baie kos oorgebly het toe Ek met vyf brode vir die 5 000 mense kos gegee het nie?” “Twaalf houers vol,” antwoord hulle vinnig. “En toe Ek met sewe brode 4 000 mense genoeg gegee het om te eet, hoeveel kos was daar toe oor?” vra Jesus. Weer laat hulle nie op hulle wag nie: “Sewe houers vol.” Toe sê Jesus vir hulle: “Kan julle dan nog steeds nie insien dat dit nie brood is waarteen Ek julle waarsku nie?”
MARKUS 8:14-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die dissipels het vergeet om brood te koop. Hulle het net een brood by hulle in die skuit gehad. Jesus waarsku hulle toe: “Wees baie versigtig vir die suurdeeg van die Fariseërs en Herodes.” Hulle het toe onder mekaar geargumenteer: “Hy sê dit omdat ons geen brood by ons het nie.” Jesus het geweet wat hulle dink en sê toe vir hulle: “Waarom argumenteer julle onder mekaar omdat julle nie brood het nie? Sal julle nooit leer of verstaan nie? Is daar nog steeds soveel weerstand in julle harte? Julle het oë – kan julle dan nie sien nie? Julle het ore – kan julle dan nie hoor nie? Onthou julle dan glad nie? Toe Ek die vyf brode vir die 5 000 gebreek het, hoeveel mandjies vol oorskiet het julle opgetel?” Hulle antwoord Hom: “Twaalf.” “En toe Ek die 4 000 met sewe brode gevoed het, hoeveel mandjies vol oorskiet het julle opgetel?” “Sewe,” het hulle geantwoord. “Verstaan julle selfs nou nog nie?” het Hy hulle gevra.