MARKUS 6:7-16
MARKUS 6:7-16 Bybel vir almal (ABA)
Hy het ook die twaalf dissipels geroep en Hy het hulle na die mense toe gestuur. Hy het gesê hulle moenie alleen gaan nie, hulle moet twee-twee saam gaan. Hy het gesê Hy sal vir hulle krag gee om onrein geeste uit mense uit te jaag. Jesus het vir hulle gesê hulle mag niks saamneem wanneer hulle gaan nie. Hulle mag net 'n kierie saamneem, maar nie kos, of 'n rugsak, of geld in hulle beursies nie. Hulle mag sandale aantrek, en hulle moenie nog klere saamneem nie. Jesus het ook vir hulle gesê: “Wanneer mense julle nooi om in hulle huis te bly, dan moet julle daar bly totdat julle weggaan uit daardie stad. En wanneer die mense in 'n stad julle nie daar wil laat bly nie en nie vir julle wil luister nie, dan moet julle weggaan van daardie stad en julle moet die stof van julle voete afskud. So sal julle vir hulle waarsku dat God hulle sal straf.” Die dissipels het na die mense toe gegaan en gepreek. Hulle het vir die mense gesê hulle moet verander en lewe soos God wil hê. Die dissipels het ook baie duiwels uitgejaag uit mense, en hulle het baie siek mense gesalf met olyf-olie en hulle het die mense gesond gemaak. Al die mense het oor Jesus gepraat, daarom het koning Herodes ook van Hom gehoor. Party mense het gesê: “Jesus is Johannes die Doper. Johannes het gesterf, maar hy lewe weer. Daarom doen hy wonderwerke.” Party mense het gesê: “Hy is Elia.” Ander mense het gesê: “Jesus is 'n profeet, soos een van die profete wat lank gelede gelewe het.” Toe koning Herodes van Jesus hoor, het hy gesê: “Ek het Johannes die Doper se kop laat afkap, en nou lewe hy weer.”
MARKUS 6:7-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Hy het die twaalf na Hom geroep en hulle twee-twee begin uitstuur en het hulle mag gegee oor die onreine geeste, en hulle bevel gegee om niks vir die pad saam te neem nie as net 'n stok alleen — geen reissak, geen brood, geen geld in die beurs nie, maar skoene aan die voete; en: Julle moet nie twee kledingstukke aantrek nie. En Hy het vir hulle gesê: Waar julle ook al in 'n huis mag kom, bly dáár totdat julle daarvandaan vertrek. En almal wat julle nie ontvang of na julle luister nie, gaan daarvandaan weg en skud die stof onder julle voete af tot 'n getuienis teen hulle. Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir Sodom of Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad. En hulle het uitgegaan en gepreek dat die mense hulle moes bekeer. En hulle het baie duiwels uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak. TOE koning Herodes dit hoor — want sy naam het bekend geword — het hy gesê: Johannes die Doper het uit die dode opgestaan, en daarom werk dié kragte in Hom. Ander het gesê: Hy is Elía, en ander weer het gesê: Hy is 'n profeet of soos een van die profete. Maar toe Herodes dit hoor, sê hy: Johannes wat ek onthoof het, dit is hy; hy het uit die dode opgestaan.
MARKUS 6:7-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus het die twaalf nader geroep en hulle twee-twee begin uitstuur. Hy het aan hulle mag oor onrein geeste gegee. Verder het Hy hulle bevel gegee om niks vir die pad saam te vat nie, net 'n kierie – geen kos, geen reissak, geen geld in die beursie nie. Hulle moes wel skoene aantrek maar nie nog 'n kledingstuk saamvat nie. Daarby het Hy vir hulle gesê: “Waar julle in 'n plek kom en in 'n huis ontvang word, bly daar totdat julle van die plek af weggaan. En as 'n plek julle nie wil ontvang en die mense nie na julle luister nie, gaan dan daarvandaan weg en skud selfs die stof onderaan julle voete af as aanklag teen hulle.” Hulle het toe gaan verkondig dat die mense hulle moet bekeer. Daarby het hulle baie bose geeste uitgedrywe en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak. Koning Herodes het van Jesus gehoor, want sy Naam het bekend geraak. Party mense het gesê: “Johannes die Doper is uit die dood opgewek. Daarom werk die kragte in hom.” En party het gesê: “Dit is Elia.” Ander het gesê: “Hy is 'n profeet soos een van die ou profete.” Toe Herodes dit dan hoor, het hy gesê: “Die Johannes wat ek onthoof het, is uit die dood opgewek.”
MARKUS 6:7-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy het die twaalf nader geroep en begin om hulle twee-twee uit te stuur. Hy het vir hulle gesag oor die •onrein geeste gegee. Ook het Hy hulle beveel om niks vir die pad saam te neem nie, behalwe net 'n wandelstok – nie brood of 'n reissak of geld in die gordel nie. Hulle kon wel sandale dra, maar, het Hy gesê: “Julle moenie twee kledingstukke aantrek nie.” Hy het ook vir hulle gesê: “Waar julle in 'n huis ingaan, bly daar oor totdat julle weer daarvandaan vertrek. Maar as 'n plek julle nie verwelkom nie of die mense nie na julle luister nie, gaan daarvandaan weg en skud die stof van julle voete af as getuienis teen hulle. ” Hulle het toe uitgegaan en gepreek dat die mense hulle moet bekeer. Hulle het baie demone uitgedryf, en baie siekes met olyfolie gesalf en gesond gemaak. Koning Herodes het van Jesus gehoor, want sy Naam het bekend geword. Sommige het gesê dat Johannes die Doper uit die dood opgewek is, en dié kragte daarom in hom werk. Ander weer het gesê dit is Elia. Nog ander het gesê dat Hy 'n profeet is, soos een van die profete. Maar toe Herodes dit hoor, het hy gesê: “Johannes, wat ek laat onthoof het – dit is hy wat opgewek is.”
MARKUS 6:7-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy het die twaalf na hom geroep en hulle twee-twee begin uitstuur; en het hulle mag gegee oor onrein geeste; En hulle het bevel gegee dat hulle niks op hulle reis moes neem nie, behalwe net 'n staf; geen skroef, geen brood, geen geld in hulle beursie nie. Maar wees geskoei met sandale; en nie twee jasse aantrek nie. En Hy sê vir hulle: Waar julle ook al in 'n huis ingaan, bly daar totdat julle van daardie plek weggaan. En elkeen wat julle nie ontvang en na julle nie luister nie, as julle daarvandaan vertrek, skud die stof onder julle voete af tot 'n getuienis teen hulle. Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad. En hulle het uitgegaan en gepreek dat die mense hulle moes bekeer. En hulle het baie duiwels uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en hulle gesond gemaak. En koning Herodes het van hom gehoor; (want sy naam is in die buiteland versprei) en hy het gesê: Johannes die Doper is uit die dode opgewek, en daarom word kragtige werke in hom openbaar. Ander het gesê: Dit is Elia. En ander het gesê: Dit is 'n profeet, of soos een van die profete. Maar toe Herodes dit hoor, sê hy: Dit is Johannes wat ek onthoof het; hy het uit die dode opgestaan.
MARKUS 6:7-16 Die Boodskap (DB)
Sy dissipels het Hom gehelp. Jesus het hulle twee-twee saam na die dorpies toe gestuur en het aan hulle die mag gegee om bose geeste te verjaag. Jesus het hulle gevra om die volgende te doen: hulle kon ’n kierie vir die reis saamvat, maar niks anders nie - nie kos nie, ook nie ’n tas of geld nie. Hulle kon wel sandale dra, maar moes nie ekstra klere saamvat nie.As iemand in ’n dorp hulle uitnooi om daar te kom bly, moes hulle in dié huis bly tot hulle werk op die dorp klaar was en hulle verder moes gaan. Hulle moes nie rondval nie.As mense op ’n plek nie na hulle wou luister nie en hulle nie aan Jesus se volgelinge wou steur nie, moes hulle nie eens verder sukkel nie. Hulle moes omdraai en eenvoudig daar wegloop. Dit sou duidelik wys wat hierdie mense met die boodskap van God gemaak het. Die dissipels is toe daar weg en het mense gaan aanmoedig om terug te draai na God toe. Hulle het ook baie demone verjaag en siekes gesond gemaak deur ’n bietjie olie oor hulle te gooi. Nuus oor al hierdie dinge het by koning Herodes uitgekom, want oral het mense oor Jesus gepraat. Hy was baie gewild. Party het selfs gesê: “Johannes die Doper is terug uit die dood en daarom het hy die krag om al hierdie wonderlike dinge te doen.” Ander het daarvan verskil. “Nee, hy is Elia,” het party gesê, terwyl ander gespekuleer het dat Hy soos een van God se predikers van ouds was. Toe Herodes dit alles hoor, was sy reaksie: “Johannes, die man wie se kop ek afgekap het, het sowaar uit die dood teruggekom!”
MARKUS 6:7-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hy het sy twaalf dissipels nadergeroep en hulle twee-twee uitgestuur. Hy het ook aan hulle die gesag gegee om bose geeste uit te dryf. Verder het Hy aan hulle opdrag gegee om niks behalwe ’n kierie saam te neem nie – geen kos, geen rugsak, geen geld nie. Hulle kon wel sandale aantrek, maar moes klaarkom met die klere aan hulle lyf. Verder het Hy vir hulle gesê: “Wanneer julle in ’n bepaalde dorp in ’n huis ontvang word, bly in daardie huis totdat julle weer daarvandaan vertrek. Maar as ’n plek julle nie wil ontvang of na julle wil luister nie, skud sy stof van julle voete af wanneer julle weggaan. Dit sal dien as teken dat julle daardie plek aan sy lot oorlaat.” Hulle het gaan verkondig dat die mense tot inkeer moet kom. Hulle het ook baie bose geeste uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak. Herodes Antipas, die koning, het ook van Jesus gehoor, want almal het van Hom gepraat. Party het gesê: “Hy moet Johannes die Doper wees wat uit die dood opgestaan het. Dit verklaar waarom Hy sulke wonderwerke kan doen.” Ander het weer gesê dat Hy Elia is; nog ander dat Hy ’n profeet is en soos een van die groot profete uit die verlede optree. Toe Herodes egter daarvan hoor, het hy verklaar: “Johannes, die einste man wat ek onthoof het, het uit die dood teruggekom.”