MARKUS 6:37-44
MARKUS 6:37-44 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar Hy sê vir hulle: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Hulle antwoord Hom: “Moet ons met twee honderd mense se dagloon brood gaan koop om vir hulle iets te ete te gee?” Hy vra vir hulle: “Hoeveel brood het julle? Gaan kyk.” Nadat hulle gaan kyk het, sê hulle: “Vyf, en twee visse.” Hy het hulle opdrag gegee om al die mense klompies-klompies op die groen gras te laat sit om te eet. Die mense het in groepe van honderd en in groepe van vyftig gaan sit. Toe het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra. Daarna het Hy die brood gebreek en dit vir sy dissipels gegee om aan die mense voor te sit. Hy het ook die twee visse onder hulle almal verdeel. Al die mense het geëet en genoeg gekry. Hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood en die vis. Van dié wat van die brood geëet het, was net die mans vyf duisend.
MARKUS 6:37-44 Bybel vir almal (ABA)
Maar Jesus het gesê: “Dit is júlle wat vir hulle kos moet gee om te eet.” Die dissipels sê toe vir Hom: “As ons vir al hierdie mense kos moet koop, dan sal dit 200 silwer geldstukke kos. Wil U hê ons moet dit doen?” Jesus het vir hulle gevra: “Hoeveel brood het julle? Gaan kyk.” Die dissipels het gaan kyk en hulle sê toe vir Jesus: “Ons het vyf brode en twee visse.” Jesus het gesê hulle moet al die mense in groepe bymekaar op die groen gras laat sit om te eet. Die mense het gaan sit. In party groepe was daar 100 mense, en in ander groepe was daar 50 mense. Toe het Jesus die vyf brode en die twee visse geneem en Hy het opgekyk na die hemel. Hy het God geprys en dankie gesê vir die kos. Daarna het Hy die brood in stukke gebreek en Hy het dit vir sy dissipels gegee om vir die mense te gee. Hy het ook die twee visse verdeel en vir al die mense daarvan gegee. Almal het genoeg geëet. Toe die mense klaar geëet het, het die dissipels twaalf mandjies vol stukkies brood en vis opgetel wat oorgebly het. Daar was baie mense wat van die kos geëet het. Die mans was omtrent 5 000.
MARKUS 6:37-44 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar Hy antwoord en sê vir hulle: Gee julle aan hulle iets om te eet. En hulle sê vir Hom: Moet ons gaan en vir tweehonderd pennings brood koop en aan hulle gee om te eet? En Hy sê vir hulle: Hoeveel brode het julle? Gaan kyk. En toe hulle dit te wete gekom het, sê hulle: Vyf, en twee visse. En Hy het hulle beveel om almal klompies-klompies op die groen gras te laat sit. En hulle het gaan sit in groepe van honderd en van vyftig. Hy neem toe die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en dank; en Hy breek die brode en gee dit aan sy dissipels om dit aan hulle voor te sit. Ook die twee visse het Hy onder almal verdeel. En almal het geëet en versadig geword; en hulle het van die brokstukke twaalf mandjies vol opgetel, en van die visse. En die wat van die brood geëet het, was omtrent vyfduisend manne.
MARKUS 6:37-44 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar Hy het hulle geantwoord: “Gee julle vir hulle iets te ete.” Hulle sê toe vir Hom: “Moet ons dan met tweehonderd denarius gaan brood koop en vir hulle gee om te eet?” Maar Hy vra vir hulle: “Hoeveel brode het julle? Gaan kyk!” Hulle het gaan uitvind en kom sê: “Vyf, en twee visse.” Hy het hulle opdrag gegee om almal in groepe op die groen gras te laat sit om saam te eet. Hulle het in groepe van honderd en van vyftig gaan sit. Hy het toe die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seëngebed uitgespreek. Daarna het Hy die brode in stukke gebreek en vir sy dissipels gegee om vir die mense uit te deel. Hy het ook die twee visse onder almal verdeel. Almal het geëet en het versadig geword. Hulle het twaalf mandjies vol van die stukke brood en van die vis wat oorgebly het, opgetel. Daar was vyfduisend mans wat van die brode geëet het.
MARKUS 6:37-44 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hy antwoord en sê vir hulle: Gee julle vir hulle om te eet. En hulle sê vir hom: Sal ons gaan en brood koop vir twee honderd penninge en hulle om te eet? Hy sê vir hulle: Hoeveel brode het julle? gaan kyk. En toe hulle dit weet, sê hulle: Vyf en twee visse. En hy het hulle beveel om almal by groepe op die groen gras te laat sit. En hulle het in geledere gaan sit, by honderde en by vyftig. En nadat Hy die vyf brode en die twee visse geneem het, het Hy opgekyk na die hemel en geseën en die brode gebreek en dit aan sy dissipels gegee om voor hulle voor te sit; en die twee visse het hy onder almal verdeel. En hulle het almal geëet en versadig geword. En hulle het twaalf mandjies vol van die brokstukke en van die visse opgetel. En die wat van die brode geëet het, was omtrent vyfduisend man.
MARKUS 6:37-44 Die Boodskap (DB)
“Nee wat,” sê Jesus. “Gee julle sommer vir hulle iets om te eet.” “Om vir hierdie klomp mense kos te gee sal ’n fortuin kos, sowat agt maande se salaris. Wil U regtig hê ons moet soveel geld spandeer net om vir hulle kos te gee?” “Gaan kyk ’n bietjie hoeveel kos ons het,” vra Jesus toe. Hulle kyk toe rond. “Vyf brode en twee visse,” kom die antwoord. Jesus vra toe sy getrouste volgelinge om die mense in groepies, so tussen 50 en 100, op die groen gras te laat sit. Jesus vat die kos en sê vir God dankie daarvoor. Voor die mense begin Hy toe die kos deel, terwyl sy volgelinge dit vir hulle gee om te eet. Almal het geëet tot hulle genoeg gehad het. Daarna het sy volgelinge die kos bymekaargemaak wat oorgebly het, ’n hele twaalf mandjies vol. Daar was baie mense; net die mans wat saamgeëet het, was 5 000.
MARKUS 6:37-44 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hierop antwoord Jesus: “Gee julle vir hulle kos.” Hulle sê toe vir Hom: “Dit sal ’n yslike bedrag kos om brood te gaan koop om vir hulle te ete te gee!” Hy sê toe vir hulle: “Hoeveel brood het julle? Gaan vind uit.” Toe hulle dit vasgestel het, sê hulle: “Vyf brode en twee visse.” Daarna sê Jesus vir die mense om groepe te vorm en op die groen gras te gaan sit. Hulle het toe in groepe van 100 en 50 gaan sit. Jesus het die vyf brode en die twee visse gevat, na die hemel toe opgekyk en God gevra om die kos te seën. Toe breek Hy die brood en gee dit vir sy dissipels om aan die mense voor te sit. Hy het ook die twee visse onder almal verdeel. Hulle het almal geëet totdat hulle genoeg gehad het. Later het hulle twaalf mandjies vol oorskietbrood en -vis opgetel. ’n Volle 5 000 mans het van daardie vyf brode geëet!