MARKUS 6:17-29
MARKUS 6:17-29 Bybel vir almal (ABA)
Herodes het voor daardie tyd soldate gestuur om Johannes te vang en te boei en in die tronk toe te sluit. Herodes het getrou met Herodias, sy broer Filippus se vrou, en Johannes het aangehou om vir Herodes te sê hy mag nie met sy broer se vrou trou nie. Daarom het Herodes vir Johannes laat vang. Herodias het vir Johannes gehaat. Sy wou hom laat doodmaak maar sy kon nie, want koning Herodes was bang vir Johannes. Hy het geweet Johannes is 'n goeie en 'n eerlike man en hy lewe naby God. Daarom het koning Herodes vir Johannes beskerm. Herodes het baie maal na Johannes toe gegaan om te hoor wat hy sê, en dan het hy bekommerd geword. Maar hy het weer en weer gegaan, want hy wou graag na Johannes luister. Eendag het Herodias gesien sy kan nou vir Johannes laat doodmaak. Koning Herodes het verjaar en hy het 'n groot fees gehou vir al sy belangrike amptenare en offisiere en die belangrike mense van die provinsie Galilea. Herodias se dogter het ingekom om vir hulle te dans. Koning Herodes en al die mense wat daar was, het baie daarvan gehou. Die koning sê toe vir die meisie: “Jy mag vir my enige iets vra wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee.” Hy het weer en weer vir haar belowe: “Ek sal vir jou enige iets gee wat jy vir my vra. As jy vir my die helfte van my land vra, dan sal ek dit ook vir jou gee.” Die dogter het na haar ma toe gegaan en vir haar gevra: “Wat moet ek vra?” Herodias het geantwoord: “Jy moet sê jy wil die kop van Johannes die Doper hê.” Die dogter het haastig na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “Ek wil hê jy moet dadelik vir my die kop van Johannes die Doper in 'n skottel bring.” Die koning het baie hartseer geword, maar al die mense wat saam geëet het, het gehoor wat hy belowe het, en hy wou nie sy belofte breek nie. Die koning het dadelik 'n soldaat gestuur en vir hom gesê hy moet Johannes se kop bring. Die soldaat het na die tronk gegaan en hy het Johannes se kop afgekap. Hy het Johannes die Doper se kop in 'n skottel gebring en hy het dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar ma gegee. Toe Johannes se dissipels daarvan hoor, het hulle gekom en hulle het sy lyk weggeneem en begrawe.
MARKUS 6:17-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want Herodes self het gestuur en Johannes gevange geneem en hom in die gevangenis geboei, vanweë Heródias, die vrou van Filippus, sy broer, omdat hy met haar getrou het. Want Johannes het aan Herodes gesê: Dit is u nie geoorloof om u broer se vrou te hê nie. En Heródias het 'n oog op hom gehad en wou hom om die lewe bring en sy kon nie. Want Herodes was bang vir Johannes, omdat hy wis dat hy 'n regverdige en heilige man was, en hy het hom beskerm; en nadat hy hom gehoor het, het hy baie dinge gedoen en graag na hom geluister. En op die geskikte dag, toe Herodes op sy verjaarsdag vir sy groot manne en die owerstes oor duisend en die vernaamstes van Galiléa 'n maaltyd gegee het; en toe die dogter van dieselfde Heródias inkom en dans, en Herodes en die wat saam aan tafel was, behaag, sê die koning vir die meisie: Vra my net wat jy wil, en ek sal dit aan jou gee. En hy het vir haar gesweer: Net wat jy my vra, sal ek jou gee, al was dit ook die helfte van my koninkryk. Daarop gaan sy uit en sê vir haar moeder: Wat sal ek vra? Toe antwoord sy: Die hoof van Johannes die Doper. En dadelik gaan sy haastig in na die koning en vra en sê: Ek wil hê dat u my op die daad die hoof van Johannes die Doper op 'n skottel gee. Toe word die koning baie bedroef, maar ter wille van die eed en die wat saam aan tafel was, wou hy haar nie afwys nie. En die koning stuur dadelik een van sy lyfwag met die bevel om sy hoof te bring; en hy het gegaan en hom in die gevangenis onthoof en sy hoof op 'n skottel gebring en dit aan die meisie gegee, en die meisie het dit aan haar moeder gegee. En toe sy dissipels dit hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en dit in 'n graf neergelê.
MARKUS 6:17-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
Vroeër het Herodes self gestuur en Johannes laat vang. Hy het hom in die tronk opgesluit op aandrang van Herodias die vrou van sy broer Filippus. Herodes het met haar getrou, en Johannes het vir hom gesê: “U mag nie u broer se vrou vat nie.” Herodias het daarna 'n wrok teen hom gekoester en wou hom laat doodmaak, maar sy kon nie, want Herodes was bang vir Johannes omdat hy besef het dat hy 'n opregte en godvresende man is. Hy het vir Johannes onder sy beskerming geneem en elke keer wanneer hy hom aangehoor het, het hy in 'n ernstige tweestryd geraak. Tog het hy graag na hom geluister. Op 'n dag het Herodias 'n goeie kans gekry. Toe Herodes op sy verjaarsdag vir sy hoofamptenare en die opperbevelhebbers en die hoëlui van Galilea 'n feesmaal gegee het, het die dogter van Herodias daar ingekom en vir hulle gedans. Dit het groot byval by Herodes en sy gaste gevind. Die koning het toe vir die meisie gesê: “Vra my net wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee.” Daarby het hy dit herhaaldelik met 'n eed vir haar bevestig: “Net wat jy my vra, sal ek vir jou gee, tot selfs die helfte van my koninkryk.” Sy het toe uitgegaan en vir haar ma gesê: “Wat moet ek vra?” Dié het gesê: “Die kop van Johannes die Doper.” Sy het haastig reguit na die koning toe geloop en vir hom gevra: “Ek wil hê u moet vir my dadelik in 'n skottel die kop gee van Johannes die Doper.” Die koning was baie verslae, maar omdat hy dit voor die gaste met 'n eed belowe het, wou hy haar dit nie weier nie. Hy het dadelik iemand van sy lyfwag opdrag gegee en hom gestuur om Johannes se kop te gaan haal. Hy het hom in die tronk gaan onthoof, sy kop in 'n skottel gebring en dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar ma gegee. Toe Johannes se volgelinge daarvan hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en begrawe.
MARKUS 6:17-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Herodes self het immers vroeër mense gestuur en Johannes gevange laat neem, en hom in die tronk laat boei – en dit vanweë Herodias, die vrou van sy broer Filippus, omdat hy met haar getrou het. Want Johannes het herhaaldelik vir Herodes gesê: “Dit is nie vir u toelaatbaar om die vrou van u broer te vat nie.” Herodias het toe 'n wrok teen hom gekoester, en wou hom laat doodmaak, maar sy kon nie; want Herodes was bang vir Johannes, omdat hy besef het dat hy 'n •regverdige en heilige man is, en hom wou beskerm. Wanneer Herodes hom gehoor het, het hy telkens in groot vertwyfeling verkeer – tog het hy graag na hom geluister. 'n Geskikte geleentheid het hom voorgedoen toe Herodes op sy verjaarsdag 'n feesmaal vir sy hoë amptenare, die chiliarge en die vooraanstaande mense van Galilea aangebied het. Sy dogter Herodias het ingekom en Herodes en hulle wat aangeleun het vir ete vermaak deur te dans. Die koning sê toe vir die meisie: “Vra my net wat jy wil, en ek sal dit vir jou gee.” Hy het vir haar gesweer: “Wat jy my ook al vra, sal ek vir jou gee, selfs die helfte van my koninkryk.” Sy het toe uitgegaan en vir haar moeder gesê: “Wat moet ek vra?” En sy het geantwoord: “Die kop van Johannes die Doper.” Toe het sy haastig direk na die koning gegaan en hom versoek: “Ek wil hê dat u onmiddellik vir my die kop van Johannes die Doper op 'n skinkbord bring.” Die koning het toe baie bedroef geword, maar ter wille van sy eed en die gaste wou hy haar dit nie weier nie. Die koning het dadelik sy laksman gestuur en opdrag gegee om die kop te bring. Hy het gegaan en hom in die tronk onthoof. Hy het sy kop op 'n skinkbord gebring en dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar moeder gegee. Toe Johannes se dissipels hiervan hoor, het hulle gekom en sy liggaam weggeneem en dit in 'n graf neergelê.
MARKUS 6:17-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want Herodes het self uitgestuur en Johannes gegryp en hom in die gevangenis geboei ter wille van Herodias, sy broer Filippus se vrou, want hy het met haar getrou. Want Johannes het vir Herodes gesê: Dit is jou nie geoorloof om jou broer se vrou te hê nie. Daarom het Herodias 'n twis teen hom gehad en sou hom doodgemaak het; maar sy kon nie: Want Herodes was bang vir Johannes, omdat hy geweet het dat hy 'n regverdige en heilige man was, en hy het hom bewaar; en toe hy hom hoor, het hy baie dinge gedoen en hom met graagte gehoor. En toe 'n gerieflike dag aangebreek het, het Herodes op sy verjaarsdag 'n maaltyd gemaak vir sy here, hoë owerstes en owerstes van Galilea; En toe die dogter van genoemde Heródias inkom en dans en Herodes en die wat by hom sit, behaag, sê die koning vir die meisie: Vra my net wat jy wil, en ek sal dit aan jou gee. En hy het vir haar gesweer: Alles wat jy van my sal vra, sal ek jou gee tot die helfte van my koninkryk. En sy het uitgegaan en vir haar moeder gesê: Wat moet ek vra? En sy sê: Die hoof van Johannes die Doper. En sy het dadelik inderhaas by die koning ingekom en gevra en gesê: Ek wil hê jy moet vir my die kop van Johannes die Doper op 'n bakkie gee. En die koning was baie jammer; maar ter wille van sy eed en ter wille van hulle wat by hom gesit het, wou hy haar nie verwerp nie. En dadelik het die koning 'n laksman gestuur en bevel gegee om sy hoof te bring; en hy het gegaan en hom in die tronk onthoof. En hy het sy kop in 'n skottel gebring en dit aan die meisie gegee, en die meisie het dit aan haar moeder gegee. En toe sy dissipels dit hoor, het hulle gekom en sy lyk opgetel en dit in 'n graf neergelê.
MARKUS 6:17-29 Die Boodskap (DB)
Laat ek eers die verhaal vertel hoe Herodes Johannes se kop laat afkap het. Die einste Herodes het soldate gestuur om Johannes te vang en in die tronk te stop. Herodias het hom omgepraat om dit te doen. Sy was eers sy broer Filippus se vrou, maar Herodes het toe met haar getrou. Johannes het dit nie daar gelos nie en reguit vir Herodes gesê: “God hou nie daarvan dat jy jou broer se vrou gevat het nie.” Daaroor was Herodias natuurlik woedend en het begin planne maak om Johannes dood te maak. Maar sy kon dit nie regkry nie, want Herodes was lugtig vir Johannes. Hy het geweet dat Johannes ’n eerlike man was wat die Here gedien het. Daarom het hy ’n ogie oor Johannes gehou. Hy het graag geluister na wat Johannes alles sê, hoewel dit hom soms ongemaklik laat voel het. Herodias het haar kans gekry op Herodes se verjaarsdag. Hy het ’n groot partytjie gehou vir al die belangrike mense in Galilea. Al die hoë staatsamptenare was daar saam met die bevelvoerders van sy soldate en die leiers van die gemeenskap in Galilea. Die dogter van Herodias kom dans toe vir hulle. Sy was ’n treffer. Herodes en sy gaste was in ekstase. So meegevoer, sê Herodes vir haar: “Vra my net wat jou hart begeer en ek sal dit vir jou gee. Ek sweer, vra maar net en ek sal sorg dat jy dit kry, al is dit die helfte van wat ek besit.” Sy is toe daar weg, terug na haar ma toe: “Ma, wat moet ek vra?” Sonder om een oomblik te huiwer sê haar ma: “Vra dat hulle Johannes die Doper se kop afkap en vir jou gee.” Die dogter vlieg net daar om, terug na Herodes toe: “Ek wil Johannes die Doper se kop op ’n skinkbord hê, en sommer dadelik, asseblief.” Die koning was uit die veld geslaan en hartseer, maar hy moes sy woord hou. Hy het mos voor al sy gaste gesweer dat hy sou doen wat sy vra. Hy stuur toe een van sy soldate om Johannes se kop te gaan haal. Die man is daar weg en het Johannes se kop in die tronk gaan afkap. Hy het dit op ’n skinkbord vir die meisie gevat, wat dit weer vir haar ma gegee het. Toe die volgelinge van Johannes dit hoor, het hulle sy liggaam gaan haal en hom behoorlik begrawe.
MARKUS 6:17-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Herodes het voorheen, as ’n guns vir Herodias, soldate gestuur en Johannes laat arresteer en in die tronk opgesluit. Sy was na regte die vrou van sy broer Filippus, maar Herodes het haar as sy vrou gevat. Johannes het herhaaldelik vir Herodes gesê: “Dit is onwettig van u om u broer se vrou te vat.” Om hierdie rede het Herodias ’n wrok teen Johannes gekoester. Sy wou hom uit die weg ruim, maar sonder Herodes se toestemming was sy magteloos. Herodes het baie ontsag vir Johannes gehad, want hy het besef dat hy ’n goeie en ’n heilige man is. Hy het hom beskerm en graag na hom geluister, al het Johannes se woorde hom dikwels ongemaklik laat voel. Herodias se kans het uiteindelik gekom toe Herodes op sy verjaarsdag ’n geselligheid vir sy amptenare en die weermagoffisiere en die hoëlui van Galilea gereël het. Sy dogter, wie se naam ook Herodias was, het in die feessaal ingekom en vir hulle gedans. Dit het groot byval by Herodes en al die gaste gevind. “Vra my enigiets wat jy graag wil hê,” het Herodes vir die meisie gesê, “en ek sal dit vir jou gee.” Hy het herhaaldelik gesweer: “Ek sal enigiets wat jy van my vra vir jou gee, selfs tot die helfte van my koninkryk!” Sy het toe uitgegaan en vir haar ma gaan vra: “Waarvoor moet ek vra?” Daarna het haar ma gesê: “Vra vir die kop van Johannes die Doper!” Sy is dadelik na die koning toe en het hom gevra: “Ek wil dadelik die kop van Johannes die Doper op ’n skinkbord hê.” Die koning was baie ontsteld hieroor, maar omdat hy nie sy eed wou verbreek nie – dit boonop nog voor sulke belangrike gaste – wou hy die meisie nie weier nie. Hy het toe maar dadelik ’n soldaat gestuur met die opdrag om Johannes se kop te bring. Dié het Johannes toe in die tronk gaan onthoof en sy kop op ’n skinkbord gebring en vir die meisie kom gee. Sy het dit toe weer vir haar ma gegee. Toe Johannes se dissipels hiervan hoor, het hulle sy liggaam kom haal en dit begrawe.