MARKUS 6:1-6
MARKUS 6:1-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En Hy het van daar af vertrek en na sy tuisdorp gegaan. Sy dissipels het Hom gevolg. Toe die Sabbat aanbreek, het Hy die mense in die •sinagoge begin leer, en baie van hulle wat Hom gehoor het, was verwonderd. Hulle het gesê: “Waar kom hy aan hierdie dinge, en watter wysheid is aan hom gegee , dat sulke kragtige dade deur sy hande plaasvind? Is hy dan nie die skrynwerker, die seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? Woon sy susters dan nie hier onder ons nie?” Hulle het aan Hom aanstoot geneem. Jesus het toe vir hulle gesê: “'n Profeet is nie sonder eer nie, behalwe in sy tuisdorp , en binne sy familiekring en in sy huis.” En Hy kon nie 'n enkele kragtige daad daar verrig nie, behalwe dat Hy 'n paar siekes gesond gemaak het deur hulle die hande op te lê. Hy was verbaas oor hulle ongeloof.
MARKUS 6:1-6 Die Boodskap (DB)
Van Jaïrus se huis af is Jesus saam met sy dissipels terug na sy eie mense in Nasaret. Op die sabbat het Jesus die mense in die sinagoge meer van God gaan vertel. Baie van hulle was besonder beïndruk. Hulle het onder mekaar begin praat: “Waar het hy aan al hierdie dinge gekom? By wie het hy al hierdie kennis gekry? Om nie eens te praat van al die wonderlike dinge wat hy doen nie. Ons weet mos wie hy eintlik is. Is hy nie die houtwerker, die seun van Maria nie? Sy broers is mos Jakobus, Josef, Judas en Simon en ons ken sy susters ook goed.” Hulle wou maar net nie aanvaar dat Hy spesiaal is nie en het die neus vir Hom opgetrek. “So gaan dit maar,” het Jesus toe gesê. “Iemand wat deur God gestuur is om met mense oor God te praat word oral op die hande gedra, behalwe deur die mense onder wie hy grootgeword het.” Hy kon nie eintlik wonderlike dinge daar doen nie, behalwe om ’n paar siek mense gesond te maak. Dit het Jesus nogal verstom dat sy eie mense Hom nie wou vertrou nie. Jesus is toe na die dorpies in die omgewing toe om vir hulle van God te vertel.
MARKUS 6:1-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus het uit daardie omgewing vertrek en met sy dissipels in Nasaret aangekom waar Hy grootgeword het. Op die Sabbat het Hy in die sinagoge met onderrig begin. Baie van sy toehoorders was heeltemal uit die veld geslaan. Hulle het gevra: “Waarvandaan kry hy al hierdie dinge – hierdie besondere wysheid en die buitengewone krag om sulke wonders te verrig? Hy is tog maar net ’n blote timmerman, die seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon! En sy susters woon dan hier onder ons!” Hulle het ernstig aanstoot geneem aan sy optrede. Toe sê Jesus vir hulle: “’n Profeet word oral geëer behalwe in sy tuisdorp en deur sy familie en sy huisgesin.” Vanweë hulle vyandigheid kon Hy daar in Nasaret geen besondere wonder verrig nie, behalwe dat Hy sy hande op ’n paar siekes gesit en hulle gesond gemaak het. Hy was absoluut verstom oor hulle ongeloof.
MARKUS 6:1-6 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het weggegaan van daardie plek. Hy kom toe in Nasaret, die stad waar Hy grootgeword het. Sy dissipels het saam met Hom gegaan. Toe die Sabbatdag begin, het Hy vir die mense begin leer in die sinagoge. Baie mense het geluister na Hom. Hulle was baie verbaas en hulle het gesê: “Waar het hy al hierdie dinge geleer? Waar het hy hierdie wysheid gekry? Hoe kan hy hierdie wonderwerke doen? Ons weet Jesus is 'n man wat houtwerk doen. Hy is Maria se seun en hy is die broer van Jakobus en Joses en Judas en Simon. Sy susters is ook hier by ons.” Die mense het glad nie gehou van wat Jesus gesê en gedoen het nie. Jesus het vir hulle gesê: “Die mense in ander stede luister na 'n profeet en hulle respekteer hom. Maar die mense in sy eie stad, in sy eie familie en sy eie huisgesin respekteer hom nie.” Jesus kon nie een wonderwerk in Nasaret doen nie. Hy het sy hande net op 'n paar siek mense gesit en Hy het hulle gesond gemaak. Jesus was verbaas omdat die mense nie in Hom geglo het nie.
MARKUS 6:1-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Hy het daarvandaan weggegaan en in sy vaderstad gekom, en sy dissipels het Hom gevolg. En toe dit sabbat geword het, begin Hy in die sinagoge te leer, en baie wat Hom gehoor het, was verslae en sê: Waar kry Hy hierdie dinge vandaan, en watter wysheid is aan Hom gegee, dat ook sulke kragte deur sy hande plaasvind? Is Hy nie die timmerman, die seun van Maria, en die broer van Jakobus en Joses en Judas en Simon nie? En is sy susters nie hier by ons nie? En hulle het aanstoot aan Hom geneem. En Jesus sê vir hulle: 'n Profeet is nie ongeëerd nie, behalwe in sy vaderland en onder sy familie en in sy huis. En Hy kon daar geen krag doen nie, behalwe dat Hy 'n paar siekes die hande opgelê en hulle gesond gemaak het. En Hy was verwonderd oor hulle ongeloof. Daarop het Hy die dorpe rondom deurgegaan en geleer.
MARKUS 6:1-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus het daarvandaan weggegaan. Hy het in die dorp gekom waar Hy grootgeword het, en sy dissipels was saam met Hom. En toe die sabbatdag aanbreek, het Hy die mense in die sinagoge begin leer. Baie het na Hom geluister en is deur sy woorde aangegryp. Hulle het vir mekaar gesê: “Waar kom hy aan al hierdie dinge, en watter besondere gawe van wysheid het hy dat daar sulke kragtige dade deur sy hande plaasvind? Is hy dan nie 'n timmerman, 'n seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? En is dit dan nie sy susters wat hier by ons woon nie?” Die mense wou niks van Hom weet nie. Jesus sê toe vir hulle: “'n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring en sy gesin.” Hy kon daar geen enkele wonderwerk doen nie, behalwe dat Hy sy hande op 'n paar siekes gelê en hulle gesond gemaak het. Hy was verbaas oor die ongeloof van die mense. Daarna het Hy by die dorpies in die omtrek rondgegaan en die mense daar geleer.
MARKUS 6:1-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy het daarvandaan uitgegaan en in sy land gekom; en sy dissipels volg Hom. En toe die sabbatdag aangebreek het, het Hy in die sinagoge begin leer; en baie wat hom hoor, was verbaas en sê: Waarvandaan het hierdie man hierdie dinge? en watter wysheid is dit wat aan hom gegee word, dat selfs sulke magtige werke deur sy hande verrig word? Is dit nie die timmerman, die seun van Maria, die broer van Jakobus en Joses en van Juda en Simon nie? en is sy susters nie hier by ons nie? En hulle was aanstoot aan hom. Maar Jesus sê vir hulle: 'n Profeet is nie ongeëerd nie, maar in sy eie land en onder sy familie en in sy huis. En hy kon daar geen kragtige werk doen nie, behalwe dat hy sy hande op 'n paar siekes gelê en hulle genees het. En hy was verwonderd oor hulle ongeloof. En hy het in die dorpe rondgegaan en geleer.