MARKUS 5:39-43
MARKUS 5:39-43 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het ingegaan en vir hulle gesê: “Hoekom raas en huil julle so baie? Die kind is nie dood nie, sy slaap.” Maar die mense het gelag omdat Jesus gesê het sy slaap. Jesus het almal uit die huis gejaag. Toe neem Hy die pa van die kind en haar ma saam met Hom, en ook die drie dissipels wat by Hom was. Hulle het ingegaan in die kamer waar die kind was. Jesus neem toe die kind se hand en Hy sê vir haar: “Talita, koem!” Dit beteken “Dogtertjie, staan op!” Die dogtertjie het dadelik opgestaan en begin rondloop. Sy was twaalf jaar oud. Die mense was toe baie verbaas. Jesus het vir hulle gesê hulle mag glad nie vir iemand daarvan vertel nie. Hy het ook gesê hulle moet vir haar kos gee om te eet.
MARKUS 5:39-43 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe Hy binnegaan, sê Hy vir hulle: Waarom gaan julle so te kere en ween julle? Die kind is nie dood nie, maar slaap. En hulle het Hom uitgelag. Maar Hy het almal uitgedryf en die vader van die kind saamgeneem en die moeder en die wat by Hom was, en ingegaan waar die kind lê. Toe gryp Hy die hand van die kind en sê vir haar: Talíta, koemi! wat, as dit vertaal word, beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op! En die dogtertjie het dadelik opgestaan en begin rondloop, want sy was twaalf jaar oud. En hulle was uitermate verbaas. En Hy het hulle met nadruk beveel dat niemand dit moes weet nie, en gesê dat daar vir haar iets te ete gegee moes word.
MARKUS 5:39-43 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hy het ingegaan en vir hulle gesê: “Wat raas en huil julle so? Die kindjie het nie gesterwe nie, sy slaap net.” Hulle het Hom uitgelag. Hy het almal beveel om uit te gaan. Hy het net die pa en die ma van die kindjie en die drie dissipels wat by Hom was, saamgeneem en in die kamer ingegaan waar die kindjie was. Hy vat toe die kindjie se hand en sê vir haar: “Talita, koem!” Dit beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op! Dadelik het die dogtertjie opgestaan en begin loop; sy was al twaalf jaar oud. Die mense was stom van verbasing. Hy het hulle toe streng opdrag gegee om niemand anders daarvan te laat hoor nie en gesê hulle moet vir haar iets te ete gee.
MARKUS 5:39-43 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy gaan toe in en vra vir hulle: “Waarom gaan julle so tekere en huil julle? Die kindjie het nie gesterf nie, maar slaap net. ” Hulle het Hom egter uitgelag. Maar nadat Hy almal uitgejaag het, het Hy die vader van die kindjie, haar moeder en dié wat by Hom was, saamgeneem en ingegaan na waar die kindjie was. Hy neem toe die kindjie se hand en sê vir haar, “Talita koem!” wat, as dit vertaal word, beteken ‘Dogtertjie, Ek sê vir jou: Staan op!’ Dadelik het die dogtertjie opgestaan en begin loop. Sy was twaalf jaar oud. Hulle was stom van verbasing. Hy het hulle streng opdrag gegee dat niemand dit moes weet nie, en gesê dat hulle vir haar iets te ete moes gee.
MARKUS 5:39-43 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe Hy inkom, sê Hy vir hulle: Waarom maak julle so 'n raas en ween? die meisie is nie dood nie, maar slaap. En hulle het hom uitgelag. Maar nadat hy hulle almal uitgeroei het, neem hy die vader en die moeder van die meisie en die wat by hom was, en gaan in waar die meisie gelê het. En hy het die meisie aan die hand geneem en vir haar gesê: Talitha cumi! dit is, as dit vertaal word: Meisie, sê Ek vir jou, staan op! En dadelik het die meisie opgestaan en geloop; want sy was twaalf jaar oud. En hulle was verstom met 'n groot verbasing. En hy het hulle streng bevel gegee dat niemand dit moes weet nie; en het beveel dat iets vir haar gegee moes word om te eet.
MARKUS 5:39-43 Die Boodskap (DB)
Jesus gaan toe in en vra vir hulle: “Vir wat gaan julle so te kere? Die kind slaap net. Sy is nie dood nie.” Die mense bars toe uit van die lag asof Jesus nie weet wat Hy sê nie. Hy jaag toe al die mense uit die huis uit, behalwe die ouers en sy drie volgelinge. Saam is hulle na die bed van die dogtertjie toe. Jesus vat die dogtertjie se hand en sê: “Talita koem!” (Dit beteken: “Dogtertjie, Ek sê, staan op.”) Die dogtertjie het dadelik opgestaan en tussen hulle rondgestap. Sy was twaalf jaar oud. Jesus vra toe dat iemand vir haar kos moet gee. Die mense wat daar gestaan het, was totaal uit die veld geslaan. Jesus het hulle baie mooi gevra om nie vir enigiemand te vertel wat daar gebeur het nie.
MARKUS 5:39-43 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hy gaan toe in die huis in en sê vir die mense: “Waarom lawaai en huil julle so? Die kind is nie dood nie; sy slaap net.” Die klomp het Hom uitgelag. Maar Hy het almal buitentoe gestuur. Toe vat Hy die kindjie se pa en ma en die drie dissipels na die vertrek waar sy lê. Terwyl Hy haar hand vat, sê Hy vir die kind: “Dogtertjie, staan op!” Onmiddellik het die dogtertjie op haar voete gekom en begin rondstap – sy was immers al twaalf jaar oud. Haar ouers was absoluut in ekstase. Maar Jesus het hulle opdrag gegee om dit heeltemal stil te hou en vir haar iets te ete te gee.