MARKUS 5:21-34

MARKUS 5:21-34 Bybel vir almal (ABA)

Daarna het Jesus weer in die boot na die ander kant van die see gegaan. 'n Klomp mense het daar langs die see by Hom bymekaargekom. Jaïrus, een van die hoofde van die sinagoge, het daar aangekom. Toe hy vir Jesus sien, het hy voor Hom op die grond geval en vir Jesus gesoebat: “My dogtertjie is baie siek en sy gaan sterf. Kom sit asseblief u hande op haar sodat sy gesond kan word en kan lewe.” Jesus het saam met Jaïrus gegaan. 'n Klomp mense het ook saamgegaan en hulle was so baie dat hulle teen Jesus gedruk het. Daar was 'n vrou wat twaalf jaar lank siek was. Sy het aangehou bloei. Sy het baie swaar gekry. Sy was by baie dokters en sy het alles wat sy gehad het, gegee om hulle te betaal, maar dit het nie gehelp nie. Sy het nog sieker geword. Sy het van Jesus gehoor en sy het van agter gekom, tussen die klomp mense deur. Sy het aan Jesus se klere geraak. Sy het gedink as sy net aan Jesus se klere kan raak, dan sal sy gesond word. Sy het dadelik opgehou bloei en sy het geweet haar liggaam is gesond. Jesus het ook gevoel dat van sy krag uit Hom uitgegaan het. Hy het omgedraai tussen die klomp mense en gevra: “Wie het aan my klere geraak?” Sy dissipels sê toe vir Hom: “U sien daar is baie mense wat naby U staan en teen U druk. Hoekom vra U: ‘Wie het aan My geraak?’ ” Jesus het rondgekyk om te sien wie dit gedoen het. Toe die vrou sien wat met haar gebeur het, het sy gebewe, want sy was baie bang. Sy het gekom en voor Jesus gekniel en sy het vir Hom vertel wat gebeur het. Jesus sê toe vir haar: “Mevrou, jy het nou gesond geword, want jy het geglo. Gaan nou huis toe, dit sal goed gaan met jou, jou siekte is weg.”

MARKUS 5:21-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe Jesus weer in die skuit oorgevaar het na die ander kant, het 'n groot menigte by Hom vergader. En Hy was by die see. En daar kom een van die owerstes van die sinagoge met die naam van Jaïrus; en toe hy Hom sien, val hy aan sy voete neer en smeek Hom dringend en sê: My dogtertjie is op haar uiterste; kom lê haar die hande op, sodat sy gesond kan word, en sy sal lewe. En Hy het saam met hom gegaan. En 'n groot menigte het Hom gevolg en Hom verdring. En 'n sekere vrou wat twaalf jaar lank bloedvloeiing gehad het en veel onder baie geneeshere gely en al haar besittings uitgegee het sonder om enige baat te vind, maar eerder erger geword het, het van Jesus gehoor en onder die skare van agter gekom en sy kleed aangeraak; want sy het gesê: As ek maar sy klere kan aanraak, sal ek gesond word. En dadelik het die fontein van haar bloed opgedroog, en sy het aan haar liggaam bemerk dat sy van haar kwaal genees was. En dadelik toe Jesus in Homself die krag gewaarword wat van Hom uitgegaan het, draai Hy Hom om onder die skare en sê: Wie het my klere aangeraak? En sy dissipels antwoord Hom: U sien dat die skare U verdring, en U sê: Wie het My aangeraak? Toe kyk Hy rond om haar te sien wat dit gedoen het. Die vrou, wat gevrees en gebeef het omdat sy wis wat met haar gebeur het, kom toe en val voor Hom neer en vertel Hom die hele waarheid. En Hy sê vir haar: Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en wees van jou kwaal genees.

MARKUS 5:21-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jesus het daarna met die skuit teruggevaar oorkant toe en toe Hy nog daar by die see was, het 'n groot menigte om Hom saamgedrom. Een van die raadslede van die sinagoge, 'n man met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. Net toe hy vir Jesus sien, val hy op sy knieë voor Hom en smeek Hom dringend: “My dogtertjie lê op haar uiterste. Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe.” Hy het saam met hom gegaan. 'n Groot menigte het agter Hom aan gegaan en hulle het van alle kante af teen Hom gedruk. Daar was ook 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie; haar toestand het eerder vererger. Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was. Jesus het ook self onmiddellik geweet dat daar van Hom krag uitgegaan het. Hy het Hom in die gedrang omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?” Sy dissipels het Hom geantwoord: “U sien tog dat die mense van alle kante af teen U druk, en dan vra U nog: Wie het aan My geraak?” Hy het rondom Hom gekyk om te sien wie dit gedoen het. Die vrou het geskrik en gestaan en bewe, want sy het besef wat met haar gebeur het. Sy het toe voor Hom op haar knieë kom val en vir Hom haar hele geskiedenis vertel. Daarna sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!”

MARKUS 5:21-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Nadat Jesus weer met die boot na die oorkant gevaar het, het 'n groot skare om Hom saamgedrom waar Hy langs die see was. Een van die leiers van die •sinagoge, met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. En toe hy Hom sien, val hy voor sy voete neer en smeek Hom ernstig: “My dogtertjie lê op sterwe. Kom lê u hande op haar, sodat sy gesond kan word en leef.” Jesus het saam met hom vertrek. 'n Groot skare het Hom gevolg en teen Hom gedruk. Daar was 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Sy het erg gely onder baie dokters, en sy het al haar besittings daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie – dit het eerder slegter met haar gegaan. En toe sy van Jesus hoor, het sy in die skare van agter af gekom en aan sy bokleed geraak, want sy het gesê: “As ek maar net aan sy bokleed kan raak, sal ek gesond word.” Die oorsaak van haar bloeding het toe dadelik opgehou, en sy het aan haar liggaam gevoel dat sy van haar kwaal genees is. Jesus het onmiddellik agtergekom dat krag uit Hom uitgegaan het. Hy het in die skare omgedraai en gevra: “Wie het aan my bokleed geraak?” Maar sy dissipels het vir Hom gesê: “U sien dat die skare van alle kante af teen U druk, en tog vra U, ‘Wie het aan My geraak?’ ” Hy het om Hom bly rondkyk om die een te sien wat dit gedoen het. Toe die vrou besef wat met haar gebeur het, het sy bewend van vrees voor Hom kom neerval en Hom die volle waarheid vertel. Hy sê toe vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en wees genees van jou kwaal.”

MARKUS 5:21-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En toe Jesus weer per skip oorgevaar is na die oorkant, het baie mense by Hom saamgedrom, en Hy was naby die see. En kyk, daar kom een van die owerstes van die sinagoge met die naam van Jaïrus; en toe hy hom sien, val hy voor sy voete neer, En hy het hom baie gesmeek en gesê: My dogtertjie lê op die punt van die dood. Kom tog en lê jou hande op haar, dat sy gesond kan word; en sy sal lewe. En Jesus het saam met hom gegaan; en baie mense het Hom gevolg en Hom saamgedrom. En 'n sekere vrou wat twaalf jaar lank 'n bloedvloeiing gehad het, En het baie gely van baie geneeshere, en het alles wat sy gehad het uitgegee, en dit was niks beter nie, maar het eerder erger geword, Toe sy van Jesus hoor, het sy agter in die pers gekom en sy kleed aangeraak. Want sy het gesê: As ek maar sy klere mag aanraak, sal ek gesond word. En dadelik het die fontein van haar bloed opgedroog; en sy het in haar liggaam gevoel dat sy van daardie plaag genees is. Toe Jesus dadelik by Homself geweet het dat deug uit Hom uitgegaan het, het Hy hom in die pers omgedraai en gesê: Wie het my klere aangeraak? En sy dissipels sê vir Hom: U sien die skare wat U saamdrom, en U sê: Wie het My aangeraak? En hy het rondgekyk om haar te sien wat hierdie ding gedoen het. Maar die vrou wat vrees en bewe het, omdat sy geweet het wat in haar gebeur het, het gekom en voor hom neergeval en hom die hele waarheid vertel. En hy sê vir haar: Dogter, jou geloof het jou gesond gemaak; gaan in vrede en word gesond van u plaag.

MARKUS 5:21-34 Die Boodskap (DB)

Na die episode met die Geraseners is Jesus weer met die skuit terug na die oorkant toe. Toe Hy op die strand uitklim, het ’n massa mense om Hom saamgedrom. Onder die mense was Jaïrus. Hy was ’n belangrike man, want hy was die leier van die sinagoge waar die Jode bymekaargekom het. Toe hy Jesus sien, val hy voor Hom neer en gryp sy voete vas. Uit sy hart uit het hy Jesus begin smeek: “My dogtertjie is besig om dood te gaan. Asseblief, kom vat net aan haar en ek weet sy sal bly leef. Asseblief!” Jesus is toe saam met hom. Die mense is agter hulle aan en het rondom Jesus gedruk en gebondel. Onder die mense was daar ’n vrou wat twaalf jaar lank al vreeslik gebloei het. Sy het al baie swaargekry en het al wat ’n dokter was, besoek, maar niks wou help nie. Sy het net al hoe sieker geword. Sy het van Jesus gehoor en toe by haarself geredeneer: “As ek net aan hierdie Man kan raak, weet ek dat ek gesond sal word.” Toe Jesus so tussen die baie mense deurstap, kry sy haar kans. Sy kom van agter af en vat aan Hom. Sy kon aan haar liggaam voel hoe sy beter word en die pyn weggaan. Sy was gesond! Jesus het dadelik geweet dat iemand van sy krag gebruik het om gesond te word. Hy draai toe om en vra: “Wie’t aan My gevat?” Die dissipels was dadelik by: “U sien tog hoe druk en beur die mense hier om U. Hoe kan U nog vra: ‘Wie’t aan My gevat?’” Maar Jesus het Hom nie aan hulle gesteur nie, maar bly rondkyk om te sien wie dit was. Die vrou het besef wat met haar gebeur het. Vrees het haar beetgepak en sy het begin bewe. Sy val toe voor Jesus neer en vertel Hom alles. Jesus sê toe vir haar: “Jou dae van seerkry en swaarkry is verby. Omdat jy My so vertrou het, sal die siekte jou nooit weer pla nie. Gaan lewe voluit sonder die pyn en bekommernis.”

MARKUS 5:21-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daarna het Jesus weer per skuit die see oorgesteek. Daar het ’n groot skare op die strand om Hom saamgedrom. ’n Leier van die plaaslike sinagoge, ’n man met die naam Jaïrus, kom toe na Hom toe. Toe hy Jesus sien, val hy voor Hom neer en pleit ernstig by Hom: “My dogtertjie is op haar laaste. Kom sit tog u hande op haar sodat sy gesond kan word en bly lewe.” Jesus het toe saam met hom gegaan. ’n Groot klomp mense het agter Hom aan gekom en teen Hom saamgedrom. Daar was ’n vrou onder hulle wat vir twaalf jaar aan bloedvloeiing gely het. Sy het baie swaargekry onder die baie dokters wat haar behandel het, en om haar dokterskostes te dek het sy alles bestee wat sy gehad het. Tog het sy niks beter geword nie, maar eerder agteruitgegaan. Toe sy van Jesus hoor, het sy deur die skare gebeur en van agter aan sy klere geraak. Sy het gedink: “As ek net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.” Die bloeding het dadelik gestop en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy gesond is. Jesus het dadelik agtergekom dat daar genesingskrag van Hom uitgegaan het. Daarom het Hy so tussen die baie mense omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?” Sy dissipels protesteer toe: “U sien tog hoe die massa U verdring. Hoe kan U vra: ‘Wie het aan my klere geraak?’” Maar Jesus het bly rondkyk om te sien wie dit gedoen het. Onder die besef van wat met haar gebeur het, het die vrou, bewend van angs, voor Hom kom neerval en vir Hom alles openhartig vertel. Hy het vir haar gesê: “My dogter, omdat jy so vas geglo het, het jy gesond geword. Gaan in vrede en wees vir altyd genees van jou kwaal.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid