MARKUS 4:21-34

MARKUS 4:21-34 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het ook vir hulle gesê: “Niemand sit 'n lamp onder 'n emmer of onder 'n bed nie. Nee! 'n Mens sit 'n lamp op die lampstaander. God is Koning. Niemand kan hierdie geheim wegsteek nie. Almal sal daarvan weet en almal sal dit kan sien. Daar is dinge wat mense nou nie ken nie, maar God sal dit vir hulle wys. As iemand kan verstaan wat Ek sê, dan moet hy gehoorsaam wees!” Jesus het ook vir hulle gesê: “Julle moet goed luister na die boodskap van God. God sal luister na julle soos julle luister na Hom. Hy sal nog beter luister na julle. As iemand klaar die boodskap 'n klein bietjie verstaan, dan sal God hom help om nog beter te verstaan. Maar as iemand dit nie verstaan nie, dan sal God hom nie help nie, hy sal niks verstaan nie.” Jesus het gesê: “Wanneer God Koning is, dan is dit soos wanneer 'n man saad in die grond saai, en dan in die aand gaan slaap en in die oggend opstaan. Die saad begin groei en die plante word groter. Die man weet nie hoe dit gebeur nie. Die grond laat die koring self groei. Eers groei 'n klein plantjie, dan kom die koring-aar uit en daarna word dit 'n groot koring-aar. Wanneer die koring ryp is, dan sny die man dit dadelik af met 'n sekel, want dan is dit die tyd om dit te doen.” Jesus het gesê: “Hoe kan Ek vir julle verduidelik hoe dit is wanneer God Koning is? Watter gelykenis kan Ek gebruik? Dit is soos 'n mosterd-saad. Iemand plant dit, en dit is die kleinste saadjie op die aarde. Maar wanneer hy dit geplant het en die plant klaar gegroei het, dan is dit groter as al die ander plante in die tuin. Dit kry groot takke en die voëls maak neste in sy skaduwee.” Jesus het baie gelykenisse soos hierdie vertel wanneer Hy met die mense gepraat het. Hy het gelykenisse vertel wat hulle kon verstaan. Hy het altyd gelykenisse gebruik wanneer Hy met die mense gepraat het. Wanneer Hy alleen was saam met sy dissipels, dan het Hy vir hulle verduidelik wat die gelykenisse beteken.

MARKUS 4:21-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Hy het vir hulle gesê: Die lamp kom tog nie om onder die maatemmer of onder die bed gesit te word nie. Is dit nie om op die staander gesit te word nie? Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, en daar is niks weggesteek nie of dit moet in die lig kom. As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor. En Hy het vir hulle gesê: Pas op wat julle hoor; met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word, en daar sal bygevoeg word vir julle wat hoor. Want wie het, vir hom sal gegee word; en wie nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. EN Hy het gesê: So is die koninkryk van God, soos wanneer 'n mens die saad in die grond gooi; en hy gaan slaap en staan op, nag en dag, en die saad spruit uit en word groot — hoe, weet hy self nie. Want vanself bring die aarde vrug voort, eers 'n halm, dan 'n aar, dan die volle koring in die aar. En wanneer die vrug dit toelaat, steek hy die sekel dadelik in, omdat die oes daar is. EN Hy het gesê: Waarmee moet ons die koninkryk van God vergelyk, of met watter soort gelykenis moet ons dit voorstel? Dit is soos 'n mosterdsaad, wat die kleinste is van al die soorte saad op die aarde wanneer dit in die grond gesaai is; en wanneer dit gesaai is, kom dit op en word groter as al die groentesoorte en maak groot takke, sodat die voëls van die hemel onder sy skaduwee nes kan maak. En met baie sulke gelykenisse het Hy die woord tot hulle gespreek volgens wat hulle kon verstaan; en sonder gelykenis het Hy tot hulle nie gespreek nie; maar afsonderlik het Hy vir sy dissipels alles uitgelê.

MARKUS 4:21-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hy het vir hulle gesê: “'n Lamp kom mos nie onder 'n emmer of onder 'n bed nie? Is dit nie bedoel om op 'n staander gesit te word nie? Daar is geen geheim nie, of dit moet openbaar gemaak word; en daar word niks geheim gehou nie, of dit moet aan die lig kom. As iemand ore het en kan hoor, moet hy luister!” Hy het ook vir hulle gesê: “Gee aandag aan wat julle hoor! Want met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word en daar sal vir julle nog toegevoeg word. Wie het, vir hom sal daar nog meer gegee word; en wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.” Verder het Hy gesê: “Met die koninkryk van God gaan dit só: Iemand saai die saad op die land en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei – hóé weet hy self nie. Vanself bring die aarde die graan voort, eers 'n halm, dan 'n aar, dan die vol koringaar. En wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is.” Hy het ook gesê: “Hoe sal ons die koninkryk van God voorstel, of met watter gelykenis sal ons dit uitbeeld? Dit is soos 'n mosterdsaadjie. Wanneer dit in die land geplant word, is dit die kleinste van al die soorte saad daar in die land. Maar as dit eenmaal geplant is, kom dit op en word dit groter as al die tuinplante. Dit kry sulke groot takke dat die voëls in sy skaduwee kom nes maak.” Deur baie sulke gelykenisse het Jesus met die mense oor sy boodskap gepraat, vir sover hulle dit kon verstaan. Sonder 'n gelykenis het Hy nie met hulle gepraat nie, maar wanneer Hy met sy dissipels alleen was, het Hy vir hulle alles uitgelê.

MARKUS 4:21-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

En Hy het vir hulle gesê: “'n Lamp word tog nie gebring om onder 'n maatemmer of 'n bed gesit te word nie? Is dit nie bedoel om op 'n lampstaander geplaas te word nie? Want niks is verborge wat nie blootgelê sal word nie, en daar is niks weggesteek wat nie aan die lig sal kom nie. Laat dié wat ore het om te hoor, luister!” Hy het ook vir hulle gesê: “Gee ag op wat julle hoor! Met die maat waarmee julle meet, sal vir julle afgemeet word, en daar sal vir julle nog bygevoeg word. Want wie het, aan hom sal gegee word. En wie nie het nie, van hom sal ook dit wat hy het, weggeneem word.” En Hy het gesê: “Die •koninkryk van God is soos 'n man wat saad op die land uitstrooi, en nag ná nag gaan slaap, en dag ná dag opstaan, en die saad ontkiem en groei – hoe, weet hy self nie. Die land bring die graan vanself voort: eers 'n halm, dan 'n aar en dan die koring vol in die aar. Wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is. ” En Hy het gesê: “Hoe sou mens die •koninkryk van God uitbeeld, of deur watter gelykenis sou mens dit voorstel? Dit is soos die mosterdsaadjie wat, wanneer dit in die grond gesaai word, kleiner is as al die soorte saad op die land. Maar wanneer dit gesaai is, kom dit op en word dit die grootste van al die tuinplante, en maak sulke groot takke dat die voëls van die hemel in sy skaduwee kan nesmaak. ” Deur baie sulke gelykenisse het Hy die boodskap op so 'n manier aan hulle vertel dat hulle dit kon verstaan. Sonder 'n gelykenis het Hy nie met hulle gepraat nie, maar wanneer hulle op hulle eie was, het Hy alles vir sy eie dissipels uitgelê.

MARKUS 4:21-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En hy sê vir hulle: Word 'n kers gebring om onder 'n maatemmer of onder 'n bed te sit? en nie op 'n kandelaar gesit te word nie? Want daar is niks verborge wat nie geopenbaar sal word nie; ook is niks geheim gehou nie, behalwe dat dit na die buiteland sou kom. As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor. En Hy sê vir hulle: Pas op wat julle hoor; met watter maat julle meet, sal vir julle gemeet word; en aan julle wat hoor, sal meer gegee word. Want wie het, aan hom sal gegee word; en wie nie het nie, van hom sal geneem word ook wat hy het. En hy sê: So is die koninkryk van God, asof 'n mens saad in die grond gooi; en sou slaap en nag en dag opstaan, en die saad sou opspring en opgroei, hy weet nie hoe nie. Want die aarde dra uit haarself vrugte; eers die lem, dan die aar, daarna die vol koring in die aar. Maar as die vrugte gebore is, gooi hy dadelik die sekel in, want die oes het gekom. En hy sê: Waarmee sal ons die koninkryk van God vergelyk? of met watter vergelyking sal ons dit vergelyk? Dit is soos 'n mosterdsaad wat, wanneer dit in die aarde gesaai word, minder is as al die saad wat op die aarde is; Maar wanneer dit gesaai word, groei dit op en word dit groter as al die kruie, en dit skiet groot takke uit; sodat die voëls van die hemel in die skadu daarvan kan bly. En met baie sulke gelykenisse het Hy die woord aan hulle gespreek, soos hulle dit kon hoor. Maar sonder gelykenis het Hy nie met hulle gespreek nie; en toe hulle alleen was, het Hy alles aan sy dissipels uitgelê.

MARKUS 4:21-34 Die Boodskap (DB)

Jesus gesels toe verder: “Sal jy ’n lamp in die donker aanskakel en dit dan met ’n emmer of so iets toemaak of dit onder die bed inskuif? Sit ’n mens nie eintlik ’n lamp op die tafel om mooi lig te maak nie? Wat mense nie nou verstaan nie, sal hulle nooit verstaan nie. Wat hulle nog nie weet nie, sal vir hulle vertel word. Elkeen wat ore het om te luister moet mooi luister na wat Ek sê. “Luister mooi na hierdie dinge wat julle by My hoor,” gaan Jesus aan. “God sal kyk hoe goed julle luister. Hoe beter julle luister, hoe beter sal God julle help verstaan. Hy sal julle help om selfs meer te verstaan. Wat dit betref, sal die een wat baie het meer kry, maar die een wat niks het nie, sal verloor wat hy ook al het.” Jesus het nog ’n verhaal vertel: “God se nuwe wêreld kan vergelyk word met ’n man wat saad saai. Die saad kom op en groei vanself, terwyl die boer maar sy gewone gang gaan. Die boer self kan dit nie presies verklaar nie. Al wat hy weet, is dat dit gebeur. Die saad groei self uit die grond uit. Eers kom die plantjie uit. Daarna maak dit ’n klein vruggie en uiteindelik hang die ryp vrug daar. As die vrug ryp is, oes die boer dit af omdat die oestyd daar is. “Waarmee kan Ek God se nuwe wêreld nog vergelyk of met watter voorbeelde kan Ek dit nog verder vir julle verduidelik?” het Jesus gevra. “Dit is soos ’n mosterdsaadjie. Dit is seker die kleinste saadjie wat ’n mens kan saai. Tog, as ’n mens dit plant, word dit die grootste van al die plante in die tuin. Die takke is so groot dat die voëls dit tussen ander uitsoek om daar nes te maak.” Jesus het nog baie ander voorbeelde vir hulle gegee, meer as genoeg vir hulle om oor na te dink. Alles het Hy vir hulle met sulke voorbeelde uiteengesit. Wanneer Hy saam met sy dissipels alleen was, het Hy mooi vir hulle verduidelik wat Hy met die verhale bedoel.

MARKUS 4:21-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus het vir hulle gesê: “’n Lamp is tog sekerlik nie bedoel om onder ’n emmer of onder ’n bed gesit te word nie. Dis mos bedoel om op ’n lampstaander gesit te word waar dit sy lig kan versprei. “Alles wat nou geheim is, sal bekendgemaak word. Alles wat nou verborge is, sal aan die lig kom. Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê.” Hy het ook vir hulle gesê: “Maak seker dat julle goed aandag gee aan wat julle van My hoor. Hoe meer julle luister, hoe meer sal julle verstaan – en julle sal boonop nog meer ontvang. Wie hulle oopstel vir my onderrig – vir hulle sal nog meer gegee word. Maar wie dit nie doen nie – van hulle sal selfs die bietjie wat hulle het, ook nog weggeneem word.” Jesus het ook gesê: “God se koningsheerskappy is soos ’n boer wat saad op sy land saai. Dan gaan hy voort met sy ander daaglikse aktiwiteite. Intussen ontkiem en groei die saad – hoe, weet hy self nie mooi nie. Die grond produseer die graan vanself: eers kom die eerste blaartjie uit, dan vorm die aar en uiteindelik sit die volgroeide koringkorrel in die aar. En sodra die koring ryp is, steek die boer die sekel in, want die oestyd is daar.” “Waarmee kan Ek die koningsheerskappy van God vergelyk?” het Jesus gevra. “En met watter gelykenis sal ons dit toelig? “Dis soos ’n mosterdsaadjie wat wel die kleinste van alle sade is, maar nadat dit geplant is, skiet dit op en word groter as al die plante in die tuin. Dit maak takke wat so groot word dat die voëls veilig daarin kan kom nes maak.” Jesus het baie sulke gelykenisse gebruik om die woord aan die mense te bedien volgens wat hulle kon verstaan. Eintlik het Hy in sy openbare onderrig net gelykenisse gebruik, maar wanneer Hy agterna alleen was saam met sy dissipels, het Hy alles vir hulle verder verduidelik.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid