MARKUS 4:13-29

MARKUS 4:13-29 Bybel vir almal (ABA)

Jesus sê toe vir sy dissipels: “Verstaan julle nie hierdie gelykenis nie? As julle dit nie verstaan nie, dan sal julle die ander gelykenisse nog minder verstaan. Die saad wat die saaier saai, is die boodskap wat van God kom. Wanneer die saad op die voetpad val, dan is dit soos wanneer mense die woorde van die boodskap hoor, maar die Satan kom dadelik en hy vat die woorde weg wat God in hulle harte gesaai het. Wanneer die saad in vlak grond val waar daar klippe onder die grond is, dan is dit soos wanneer mense die boodskap hoor en dadelik bly is daaroor. Maar hulle is soos die plante wat nie diep wortels het nie en wat net 'n kort tydjie lewe. Hulle hoor die boodskap en hulle glo dit, maar wanneer die mense hulle daaroor verdruk, en hulle begin swaarkry, dan hou hulle op om te glo. Wanneer die saad tussen die dorings val, dan is dit soos wanneer mense die boodskap hoor maar hulle is bekommerd oor die dinge van hierdie wêreld. Hulle dink net aan geld en hulle wil baie ander dinge graag hê. Die dinge van die wêreld is soos die dorings wat die koringplantjies toegroei. Vir hierdie mense word ander dinge belangriker as die boodskap van God. Daarom kan die boodskap nie hulle lewe verander nie, soos die saad nie vrugte dra nie. Wanneer die saad in vrugbare grond val, dan is dit soos wanneer mense die boodskap hoor en dit glo, en dit verander hulle lewe. Dit dra vrugte, by party mense 30 maal meer as die saad wat die saaier gesaai het, by party mense 60 maal meer, en by party mense 100 maal meer.” Jesus het ook vir hulle gesê: “Niemand sit 'n lamp onder 'n emmer of onder 'n bed nie. Nee! 'n Mens sit 'n lamp op die lampstaander. God is Koning. Niemand kan hierdie geheim wegsteek nie. Almal sal daarvan weet en almal sal dit kan sien. Daar is dinge wat mense nou nie ken nie, maar God sal dit vir hulle wys. As iemand kan verstaan wat Ek sê, dan moet hy gehoorsaam wees!” Jesus het ook vir hulle gesê: “Julle moet goed luister na die boodskap van God. God sal luister na julle soos julle luister na Hom. Hy sal nog beter luister na julle. As iemand klaar die boodskap 'n klein bietjie verstaan, dan sal God hom help om nog beter te verstaan. Maar as iemand dit nie verstaan nie, dan sal God hom nie help nie, hy sal niks verstaan nie.” Jesus het gesê: “Wanneer God Koning is, dan is dit soos wanneer 'n man saad in die grond saai, en dan in die aand gaan slaap en in die oggend opstaan. Die saad begin groei en die plante word groter. Die man weet nie hoe dit gebeur nie. Die grond laat die koring self groei. Eers groei 'n klein plantjie, dan kom die koring-aar uit en daarna word dit 'n groot koring-aar. Wanneer die koring ryp is, dan sny die man dit dadelik af met 'n sekel, want dan is dit die tyd om dit te doen.”

MARKUS 4:13-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En Hy sê vir hulle: Begryp julle nie hierdie gelykenis nie? En hoe sal julle al die gelykenisse verstaan? Die saaier saai die woord. En dit is hulle wat langs die pad is — waar die woord gesaai word, maar sodra hulle dit gehoor het, kom die Satan dadelik en neem die woord weg wat in hulle harte gesaai is. Net so ook is hulle by wie op rotsagtige plekke gesaai word — wat, as hulle die woord hoor, dit dadelik met blydskap aanneem, maar geen wortel in hulleself het nie; hulle is net vir 'n tyd. Later as daar verdrukking of vervolging kom ter wille van die woord, struikel hulle dadelik. En hulle by wie in die dorings gesaai word — dit is hulle wat die woord hoor, en die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar. En dit is hulle by wie in die goeie grond gesaai is — hulle wat die woord hoor en aanneem en vrugte dra: een dertig- en een sestig- en een honderdvoudig. EN Hy het vir hulle gesê: Die lamp kom tog nie om onder die maatemmer of onder die bed gesit te word nie. Is dit nie om op die staander gesit te word nie? Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, en daar is niks weggesteek nie of dit moet in die lig kom. As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor. En Hy het vir hulle gesê: Pas op wat julle hoor; met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word, en daar sal bygevoeg word vir julle wat hoor. Want wie het, vir hom sal gegee word; en wie nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. EN Hy het gesê: So is die koninkryk van God, soos wanneer 'n mens die saad in die grond gooi; en hy gaan slaap en staan op, nag en dag, en die saad spruit uit en word groot — hoe, weet hy self nie. Want vanself bring die aarde vrug voort, eers 'n halm, dan 'n aar, dan die volle koring in die aar. En wanneer die vrug dit toelaat, steek hy die sekel dadelik in, omdat die oes daar is.

MARKUS 4:13-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hy sê toe vir hulle: “Julle begryp nie eens hierdie gelykenis nie. Hoe sal julle dan al die ander gelykenisse kan verstaan? “Die saaier saai die woord. Daar is mense by wie daar soos op 'n pad gesaai word: sodra hulle die woord hoor, kom die Satan en vat die woord weg wat in hulle gesaai is. Daar is mense by wie daar soos op klipbanke gesaai word: sodra hulle die woord hoor, neem hulle dit met blydskap aan. Hulle laat dit egter nie in hulle wortel skiet nie en hou nie lank uit nie. As hulle daarna ter wille van die woord verdruk of vervolg word, word hulle gou afvallig. Daar is mense by wie daar soos tussen die onkruid gesaai word. Dit is hulle wat die woord hoor, maar die sorge van die lewe en die verleiding van rykdom en die begeertes na allerhande ander dinge kom op en verstik die woord, en dit bly sonder vrug. Dan is daar die mense by wie daar soos op goeie grond gesaai is, wat die woord hoor en aanvaar en vrug voortbring, party dertig-, party sestig- en party honderdvoudig.” Hy het vir hulle gesê: “'n Lamp kom mos nie onder 'n emmer of onder 'n bed nie? Is dit nie bedoel om op 'n staander gesit te word nie? Daar is geen geheim nie, of dit moet openbaar gemaak word; en daar word niks geheim gehou nie, of dit moet aan die lig kom. As iemand ore het en kan hoor, moet hy luister!” Hy het ook vir hulle gesê: “Gee aandag aan wat julle hoor! Want met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word en daar sal vir julle nog toegevoeg word. Wie het, vir hom sal daar nog meer gegee word; en wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.” Verder het Hy gesê: “Met die koninkryk van God gaan dit só: Iemand saai die saad op die land en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei – hóé weet hy self nie. Vanself bring die aarde die graan voort, eers 'n halm, dan 'n aar, dan die vol koringaar. En wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is.”

MARKUS 4:13-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

En Hy sê vir hulle: “Begryp julle nie hierdie gelykenis nie? Hoe sal julle dan al die gelykenisse verstaan? Die saaier saai die woord. Die saad langs die pad is die mense by wie die woord gesaai word – sodra hulle dit hoor, kom Satan dadelik en neem die woord weg wat in hulle gesaai is. En die saad wat op die rotsagtige plekke gesaai is, is die mense wat die woord dadelik met blydskap aanneem wanneer hulle dit hoor; maar hulle het nie wortel geskiet nie en hou net 'n rukkie. As verdrukking of vervolging vanweë die woord plaasvind, struikel hulle dadelik. En ander weer is die saad wat tussen die dorings gesaai is. Hulle is diegene wat die woord hoor, maar die bekommernisse van hierdie wêreld, die verleiding van rykdom en die begeertes na allerlei dinge dring in en verstik die woord, en dit bly sonder vrug. Maar die saad wat op die goeie grond gesaai is, is daardie mense wat die woord hoor, dit aanneem en vrug dra, een dertig-, 'n ander sestig- en nog 'n ander honderdvoudig.” En Hy het vir hulle gesê: “'n Lamp word tog nie gebring om onder 'n maatemmer of 'n bed gesit te word nie? Is dit nie bedoel om op 'n lampstaander geplaas te word nie? Want niks is verborge wat nie blootgelê sal word nie, en daar is niks weggesteek wat nie aan die lig sal kom nie. Laat dié wat ore het om te hoor, luister!” Hy het ook vir hulle gesê: “Gee ag op wat julle hoor! Met die maat waarmee julle meet, sal vir julle afgemeet word, en daar sal vir julle nog bygevoeg word. Want wie het, aan hom sal gegee word. En wie nie het nie, van hom sal ook dit wat hy het, weggeneem word.” En Hy het gesê: “Die •koninkryk van God is soos 'n man wat saad op die land uitstrooi, en nag ná nag gaan slaap, en dag ná dag opstaan, en die saad ontkiem en groei – hoe, weet hy self nie. Die land bring die graan vanself voort: eers 'n halm, dan 'n aar en dan die koring vol in die aar. Wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is. ”

MARKUS 4:13-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Hy sê vir hulle: Ken julle nie hierdie gelykenis nie? en hoe sal julle dan al die gelykenisse ken? Die saaier saai die woord. En dit is hulle langs die pad, waar die woord gesaai word; maar as hulle dit hoor, kom die Satan dadelik en neem die woord weg wat in hulle harte gesaai is. En dit is ook hulle wat op klipperige grond gesaai is; wat, as hulle die woord gehoor het, dit dadelik met blydskap aanneem; En het geen wortel in hulleself nie, en verduur so behalwe vir 'n tyd; daarna, as daar verdrukking of vervolging opkom ter wille van die woord, neem hulle dadelik aanstoot. En dit is hulle wat tussen die dorings gesaai is; soos wat die woord hoor, En die sorge van hierdie wêreld en die bedrog van rykdom en die begeerlikhede van ander dinge wat inkom, verstik die woord, en dit word onvrugbaar. En dit is hulle wat in goeie grond gesaai word; wat die woord hoor en dit aanneem en vrugte dra, die een dertigvoudig, die ander sestig- en die ander honderdvoudig. En hy sê vir hulle: Word 'n kers gebring om onder 'n maatemmer of onder 'n bed te sit? en nie op 'n kandelaar gesit te word nie? Want daar is niks verborge wat nie geopenbaar sal word nie; ook is niks geheim gehou nie, behalwe dat dit na die buiteland sou kom. As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor. En Hy sê vir hulle: Pas op wat julle hoor; met watter maat julle meet, sal vir julle gemeet word; en aan julle wat hoor, sal meer gegee word. Want wie het, aan hom sal gegee word; en wie nie het nie, van hom sal geneem word ook wat hy het. En hy sê: So is die koninkryk van God, asof 'n mens saad in die grond gooi; en sou slaap en nag en dag opstaan, en die saad sou opspring en opgroei, hy weet nie hoe nie. Want die aarde dra uit haarself vrugte; eers die lem, dan die aar, daarna die vol koring in die aar. Maar as die vrugte gebore is, gooi hy dadelik die sekel in, want die oes het gekom.

MARKUS 4:13-29 Die Boodskap (DB)

Jesus sê toe verder vir hulle: “Julle verstaan nie eens hierdie verhaal van die man wat saai nie. Hoe sal julle dan enige verhaal verstaan wat Ek julle vertel? Laat Ek nou eers vir julle verduidelik hoe julle die verhaal moet verstaan van die boer wat gaan saai het. Die boer saai die boodskap van God. “Party mense is soos die saad wat op die voetpad geval het ... Hulle hoor die boodskap van God, maar dit sink nie in nie. Sodra hulle dit hoor, sorg Satan dat hulle dit baie gou vergeet. Satan pik as’t ware daardie woorde uit hulle gedagtes uit. “Ander mense is weer soos die saad wat op die rotse geval het ... Ook hulle hoor die boodskap van God en is dan baie opgewonde daaroor, maar net ’n rukkie. Sodra hulle geloof iets van hulle begin vra of hulle opofferings moet begin maak, is hulle skielik nie meer so opgewonde en oortuig van alles nie. Gou bly daar niks meer van hulle sogenaamde nuwe geloof oor nie. “Daar is ook mense wat soos die saad is wat in die doringbosse beland het  ... Hulle het ook die boodskap van God gehoor en dit gretig aanvaar. En tog, in die alledaagse lewe word die eise wat hulle beroep stel en al die ander dinge waarmee hulle besig is, ja, selfs die gejaag na geld, vir hulle belangriker as die geloof. Hulle het nie meer tyd of krag oor om vir die Here te werk nie. Later kan ’n mens nie eens meer agterkom dat dit iemand is wat God se woord so gretig aanvaar het nie. “Daar is ook mense wat soos die saad is wat in goeie grond geval het ... Hulle hoor die boodskap van God en word diep daardeur getref. Hulle begin in oorgawe reg leef en in alles wat hulle doen, borrel hulle Christenskap eenvoudig uit. Daar is geen keer aan hulle nie.” Jesus gesels toe verder: “Sal jy ’n lamp in die donker aanskakel en dit dan met ’n emmer of so iets toemaak of dit onder die bed inskuif? Sit ’n mens nie eintlik ’n lamp op die tafel om mooi lig te maak nie? Wat mense nie nou verstaan nie, sal hulle nooit verstaan nie. Wat hulle nog nie weet nie, sal vir hulle vertel word. Elkeen wat ore het om te luister moet mooi luister na wat Ek sê. “Luister mooi na hierdie dinge wat julle by My hoor,” gaan Jesus aan. “God sal kyk hoe goed julle luister. Hoe beter julle luister, hoe beter sal God julle help verstaan. Hy sal julle help om selfs meer te verstaan. Wat dit betref, sal die een wat baie het meer kry, maar die een wat niks het nie, sal verloor wat hy ook al het.” Jesus het nog ’n verhaal vertel: “God se nuwe wêreld kan vergelyk word met ’n man wat saad saai. Die saad kom op en groei vanself, terwyl die boer maar sy gewone gang gaan. Die boer self kan dit nie presies verklaar nie. Al wat hy weet, is dat dit gebeur. Die saad groei self uit die grond uit. Eers kom die plantjie uit. Daarna maak dit ’n klein vruggie en uiteindelik hang die ryp vrug daar. As die vrug ryp is, oes die boer dit af omdat die oestyd daar is.

MARKUS 4:13-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hy sê toe vir hulle: “As julle nie hierdie gelykenis verstaan nie, hoe sal julle al die ander begryp wat Ek vir julle gaan vertel? Die boer waarvan Ek julle vertel het, is die een wat die saad van die woord uitstrooi. Hulle by wie die saad op die voetpaadjie val, staan vir die mense wat die woord hoor, maar dan kom Satan dadelik en vat die woord wat op hulle lewens gesaai is, weg. En hulle by wie op klipperige grond gesaai is, staan vir die mense wat die woord hoor en dit dadelik vol blydskap aanneem. Maar soos dit met jong plantjies in sulke grond gaan, skiet hulle nie diep wortel nie. Hulle hou net vir ’n rukkie. Sodra daar probleme of vervolging ter wille van die Goeie Nuus kom, struikel hulle dadelik in die geloof. Daardie mense by wie tussen die dorings gesaai is, staan vir die mense wat die woord hoor, maar die bekommernisse van hierdie lewe en die lokstem van die rykdom en die hunkering na allerhande goed verstik gou die woord, en dit bly sonder vrug. Maar hulle by wie op die goeie grond gesaai is, is die mense wat die woord hoor en dit aanneem en ’n groot oes oplewer – party 30, party 60, party selfs 100 maal wat oorspronklik gesaai is.” Jesus het vir hulle gesê: “’n Lamp is tog sekerlik nie bedoel om onder ’n emmer of onder ’n bed gesit te word nie. Dis mos bedoel om op ’n lampstaander gesit te word waar dit sy lig kan versprei. “Alles wat nou geheim is, sal bekendgemaak word. Alles wat nou verborge is, sal aan die lig kom. Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê.” Hy het ook vir hulle gesê: “Maak seker dat julle goed aandag gee aan wat julle van My hoor. Hoe meer julle luister, hoe meer sal julle verstaan – en julle sal boonop nog meer ontvang. Wie hulle oopstel vir my onderrig – vir hulle sal nog meer gegee word. Maar wie dit nie doen nie – van hulle sal selfs die bietjie wat hulle het, ook nog weggeneem word.” Jesus het ook gesê: “God se koningsheerskappy is soos ’n boer wat saad op sy land saai. Dan gaan hy voort met sy ander daaglikse aktiwiteite. Intussen ontkiem en groei die saad – hoe, weet hy self nie mooi nie. Die grond produseer die graan vanself: eers kom die eerste blaartjie uit, dan vorm die aar en uiteindelik sit die volgroeide koringkorrel in die aar. En sodra die koring ryp is, steek die boer die sekel in, want die oestyd is daar.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid